van ons vriendskap wat ek werklik berou. Dit spreek vanself dat Sanusha sal sleg voel as ek dit sê. Sanusha ruk haar op vir die geringste ding; sy was nog altyd so vinnig op haar perdjie.
Sover ek kan onthou, het Rajit en Annie mekaar ontmoet by die een of ander interskoleredenaarskompetisie oor die Britse Koninklike Familie se reg op privaatheid ná die onlangse geboorte van prins William. Hulle het teen mekaar deelgeneem. Annie se span het gewen (natuurlik), maar Rajit was so ’n goeie verloorder dat sy hom die volgende naweek na ’n partytjie by haar huis in Rondebosch genooi het. Vanselfsprekend was ek ook daar. Ek het Rajit een kyk gegee en geglo ek is verlief. Hy was toe al iets vir die oog – digte wimpers, amandelvormige oë soos diep waterkuile, en langer as ek, wat ongewoon was in daardie dae. Daar was nie ’n enkele puisie op sy gesig nie, sy skouers was klaar breed, sy heupe smal en sy stem perfek vir die radio. Later, toe ons pas getroud was, sou ons in die bed lê en ek sou na die gedreun van sy diep bariton luister. Daardie stem was genoeg om my maag te laat draai en knoop, stywer as ’n Franse vlegsel.
Rajit het my onmiddellik raakgesien, soos Annie verwag het. Annie het graag Kupido gespeel, en die feit dat hy ’n Indiër was by ’n partytjie in die minder as liberale suidelike voorstede het dit selfs opwindender gemaak. Die blote gedagte aan hom het my ouers onmiddellik op hulle agterpote gehad en my vriende het my waagmoed bewonder.
“Dis nie dat ek rassisties is nie,” het Moeder gesê, “maar dink net aan die kultuurverskille! Wat van Kersfees?”
My pa het minder gesê, maar dit het meer beteken. Hy het gewoonlik nie geswyg oor sulke kwessies nie, veral nie as dit duidelik was hy stem met Moeder saam nie. Kort nadat ek met Rajit begin uitgaan het, het Pa eendag op die kontoerpad naby die Rhodes-gedenkteken morsdood neergeslaan. Hy en sy vriend Denzel het vir die Argus-fietstoer geoefen. Denzel het vir my gesê ek het Pa sy dood gekos – met my wilde maniere, my swak skoolpunte en my kafoefelry met daai kerrievreter.
Dit maak my seker skuldig aan vadermoord ook nog.
Dit was nie asof Rajit die enigste seun was met wie ek al ooit “gekafoefel” het nie. Seuns se tonge het uitgehang wanneer hulle my sien en ek het hulle ook nie te lank aan ’n lyntjie gehou nie. Ná ’n dag op die strand het ons na partytjies toe gegaan onder die dekmantel van oorslaap by vriende. (Ek het vir Pa gesê ek bly by Annie-hulle. Sy het weer vir haar ouers gesê sy is by ons huis.) Ek sou eenkant staan met my sigarette en my nuwe BIC-aansteker wat ek stilletjies by die Spar gekoop het. Terwyl ek my sigaret aansteek, sou ek aan my boob tube trek en ’n smeulende blik stuur in die rigting van die seuns wat in my belangstel.
Op daardie sterbesaaide aande sou almal dronk word op rum-en-Coke of bokswyn. Ek het wyn verkies, en dit vinnig afgesluk totdat my kop effens draai. Greg-Dave-Fabio-Adrian-Grant-Costa het gou sy arm om my gehad en my spesiaal laat voel. Hy sou goed sê soos: “Is sy nie stunning nie?” of: “Kyk wie’t ek raakgeloop, hoe lyk sý vir jou?” of: “Jirre, ek soek jou lyf.” Tydens daardie paar uur se gevroetel en terloopse, onbeskermde seks het ek nie so aan myself getwyfel nie. Dis nie maklik om selfvertroue te hê as jou ma jou altyd aansê om nie so vol van jouself te wees nie.
Ná al daardie seuns het ek op die ou end op agtien met Rajit getrou, in ’n rooi sari, versier met turkoois krale en met dik goue gare geborduur. Sy ma, Asmita, het dit tydens ’n reis na Jaipur gekoop.
Wat anders kon ek doen? My matriekpunte was so swak dat geen universiteit my sou aanvaar nie – nie dat ek belanggestel het nie. Op skool het ek in die klaskamer sit en droom van op reis gaan – na die Galápagos-eilande, Antarktika en Route 66. En wanneer ek nie daarmee besig was nie, het ek aan Rajit gedink en aan sy kaal lyf teen myne agter in sy pa se Honda Ballade. (Dis verstommend wat jy reg onder jou ouers se neuse kan regkry.) Ek het hoegenaamd geen begeerte gehad om my voorgeskrewe boeke te lees nie, en geen geduld om te sit en studeer nie. Geskiedenis was vervelig, wiskunde was onverstaanbaar, Afrikaans was sieldodend en ek het die biologie wat ek by Rajit geleer het baie meer geniet as enige bespreking van swamspore of amfibiese lewensiklusse. Aardrykskunde was my enigste redding.
Op die wêreldkaart het ek my pad uit die klaskamer gevind, totdat ek in ’n doodloopstraat beland het.
*
Sanusha.
Die helfte van haar DNS is nou wel myne, maar sy lyk glad nie na my nie, nog minder tree sy soos ek op. Om maar een ding te noem: Sy is ongelooflik slim, nes haar pa, wie se briljante verstand ’n groot deel van sy aantrekkingskrag was totdat hy dit begin gebruik het om my te verkleineer. Toe sy klein was, was Sanusha effens mollig, en die kombinasie van ’n skerp intellek en ’n dikkerige lyfie het veroorsaak dat sy dikwels geboelie is deur die klein tewe wat saam met haar skoolgegaan het. Anders as ek, het Sanusha gelukkig nie omgegee wat mense van haar dink nie, of sy het ten minste voorgegee dat sy nie omgee nie.
Rajit het Sanusha se naam gekies. Ons het nie geweet wat dit beteken nie, maar hy het vir haar gesê dit beteken “prinses”. Fisiek het sy in elke opsig na sy ma gelyk – ’n kleiner, presieser weergawe van Asmita was moeilik denkbaar.
Ek het niks daarvan gehou nie. Ek wou hê my dogter moet ’n jonger, beter weergawe van my wees.
Vir Moeder was my swangerskap die laaste strooi. Sy het by die opwasbak in die kombuis staan en uie kap toe ek huis toe kom en haar die nuus meedeel. Ek en Raj het besluit ek sou dit alleen doen. Aangesien my moeder en pa sy blote teenwoordigheid verpes het, het hy maar selde sy gesig in Upper Torquay-laan gewys.
Die enigste gesinsaandete wat hy ooit bygewoon het – ’n jaar tevore, toe ons begin uitgaan het – was ietwat van ’n ramp. Ek onthou hoe my pa sy hand uitgesteek het om Rajit s’n te skud en toe sy handpalm agter aan sy jeans afgevee het, terwyl sy neusvleuels so effens oopgesper het die oomblik dat hulle mekaar se hande los. Pa het van ’n beenbreekgreep gehou, ’n teken van krag en manlikheid; Rajit was die soort ou wat sy naels gevyl het. Sy lang, sensitiewe vingers met hul goedversorgde naelvliesies was een van die redes waarom ek van hom gehou het.
“Pap handjie,” hoor ek my pa in die kombuis vir my moeder sê.
Ons gaan sit aan tafel. Vir die eerste keer in my lewe sien ek die vertrek deur iemand anders se oë – Rajit s’n. My moeder was behep met die familiegeskiedenis, selfs al was dit nie net haar familie nie. Op die buffet, in plaas van die gewone vrugtebak en verskeidenheid geurmiddels en souse, het my moeder ’n versameling familieportrette staangemaak. In silwer en goue rame word my voorsate uitgestal – wel, eintlik Robbie s’n – met hulle stywe boordjies en gladgepleisterde hare. Strak staar hulle na die kamera. Natuurlik is daar ’n glimlag hier en daar, een of twee spontane foto’s, mense wat onverhoeds betrap is, hulle emosies vir ewig vir die nageslag vasgevang (en ek was seker ek het my nie die veelseggende blik tussen my aansienlik jonger ouma en ’n man wat blykbaar my oupa se se ouer neef was verbeel nie). Maar selfs opmerkliker is hoe wít en hoe éénders almal lyk. Seker daarom dat my gunstelingfoto die een is van my moeder se oupa by ’n jaghuis in Rajasthan: Indiërmans met tulbande en sierlike snorre wat hulle haelgeweers ongeërg vashou, hulle jaghonde keffend om hulle voete. Ek het my graag verbeel ek is deel van daardie eksotiese toneel.
Moeder het die tafel gedek met haar beste breekgoed en die silwereetgerei wat die huishulp ure lank blink gevryf het – meestal met ’n vies gesig en ’n verlangende blik deur die venster na buite, waar die son geskyn het en die tuinier besig was om die gras te sny. Moeder het blomme en kerse uitgesit, maar in plaas van verwelkomend, lyk dit intimiderend, selfs vir my. Asof sy die onwelkome vryer probeer verdryf met tafellinne, Tsjeggiese kristalglase en skitterblink messegoed. Sy het selfs verklee sodat Rajit sleg afsteek in sy jeans en T-hemp.
Hovaardig bekyk my moeder Raj van oorkant die tafel, asof sy hom uitdaag om die verkeerde mes op te tel. My pa, wat sy ongemaklike bes doen in ’n netjiese broek en baadjie, deel sy enigste insig in die Indiese bevolkingsgroep: “Ek was nog altyd mal oor ’n lekker kerrie.”
Stilte.
“Ek is bly,” glimlag Rajit oplaas. “Ek geniet altyd ’n vindaloo. Hoe sterker, hoe beter.”
Ek tel die sarkasme in Raj se stem op en skop hom onder die tafel. Hy glimlag en knipoog vir my.
Stilte.