sê Raj.
“Wat, soos in ’n bank?”
“Nie noodwendig nie,” antwoord Rajit.
“Kan ek vir jou inskep?” vra Moeder, en wys na die eenderse bakke, hoog gestapel met aartappels en broccoli, slaai en vleis. Baie vleis.
“Raj is ’n vegetariër,” laat ek van my hoor.
My pa verbleek en my moeder stoot geluidloos haar stoel terug.
“O aarde,” sê sy, en gee my ’n kyk wat ek goed ken. “Thea, kom help my asseblief in die kombuis. Dit lyk my ek het die sous vergeet.”
Ek volg haar gedwee.
“Dink jy nie jy moes dalk vroeër genoem het dat hy nie vleis eet nie?” sis sy toe sy my in die spens vaspen.
“Hy wou nie ’n bohaai maak nie.”
“Wel, nou maak ék ’n bohaai. Wat voer ek hom?” vra sy, terwyl sy die yskasdeur ooppluk, buk en ’n pakkie bruin sampioene uithaal.
“Moenie moeite doen nie, Moeder. Hy sal alles eet behalwe die vleis.”
“Probeer jy hierdie familie in die skande steek? Dring jy daarop aan om my te verneder? Is dit wat jy wil hê?”
“Jy wou hom nie eens hier hê nie, Moeder. Ek wou nie vir jou nog meer werk maak nie.”
“Alles aan jou is werk.” Moeder kap uie en knoffel, plak ’n pan op die stoofplaat neer en skakel dit aan. Sy gooi ’n klont botter in die pan. Sampioene. Suurlemoensap. Gemengde kruie. Ek kon die spanning in haar skouers sien. Sy was so styf soos ’n winkelpop, haar gesig van plastiek. Toe draai sy skielik om en stoot my vorentoe. “Gaan eetkamer toe en help jou pa. Ek kom nou.”
“Goed.”
In die eetkamer praat niemand nie. Toe ek inloop, vang ek Rajit se oog en trek my skouers op. Pa leun vooroor, sy elmboë op die tafel, en sluk die inhoud van sy wynglas met ’n enkele teug weg.
“Hoekom is jy nou eintlik hier?” vra Pa, en stoot die bottel na Raj toe, wat sy kop byna ongemerk skud.
“Ek hou van u dogter,” sê Raj baie sag.
“Ek ook,” sê Pa, “maar ek is nie so seker ek hou van jóú nie.”
“Pa!” sê ek.
“Stil, Thea – dis tussen my en hierdie jongman.”
“Ek sou nie so sê nie,” antwoord Raj. “Thea het die reg op ’n mening.”
My pa slaan met sy vuis op die tafel sodat die breekgoed ratel. “Ek weet wat goed is vir my dogter!”
“Miskien is ék goed vir haar,” sê Raj.
“Ek dink nie jy’t genoeg lewenservaring om dit te weet nie.”
Raj lig sy ken en kyk my pa vierkant in die oë. Dit is soos twee renosters wat reg staan om aan te val. My pa gluur Raj aan, maar Rajit kyk nie weg nie. Om die waarheid te sê, dit lyk asof hy effens vorentoe leun. Pa lyk verward, knip sy oë, en sit terug.
“Het jy broers en susters?” vra hy in ’n vriendeliker stemtoon.
“Twee jonger susters,” sê Raj en ontspan in sy stoel. “Layla is vyftien en Kesiree sestien.”
“En wat doen jou ouers?”
“My pa is ’n onderwyser. My ma is in litigasie.”
“’n Prokureur?” vra Pa, en byt hard op sy tande. Hy plas nog wyn in sy glas en sluk dit af.
“Ja.” Rajit teug aan sy Coke.
My moeder kom die vertrek binnegeskarrel. In een van haar beste borde is bruin sampioene op ’n laag koeskoes gestapel.
“Rajit,” vra sy, “eet jy sampioene?”
“Dankie, mevrou Malan. Dit sal heerlik wees.”
Natuurlik kan niks wat Rajit doen my ouers beïndruk nie – nie eens die eet van die sampioene nie, wat hy al vantevore vir my gesê het slymerig smaak en hom aan swart slakke laat dink. As hy met gevoude bene bokant die tafel gesweef en vuurballe in die lug gehou het, sou Pa hom tien teen een net aangegluur het en Moeder sou op haar horlosie gekyk en opgemerk het hoe laat dit word.
Nie dat dit laat word nie. Teen die tyd dat ons klaar geëet het, is die Kaapse somerson nog nie onder nie en die atmosfeer is so gespanne dat ek ’n migraine voel aankom. Ek vryf met my handpalms teen my slape en wens, nie vir die eerste of die laaste keer in my lewe nie, Robbie is hier. Selfs die gewoonlik sjarmante Rajit kry sigbaar swaar. Onder die tafeldoek hou ek sy hand styf vas.
“Wel,” sê Moeder ná nog ’n pynlike stilte. “Wat van koffie?”
Rajit haal een van sy innemende glimlagte uit. “Nee dankie, mevrou Malan.”
“Gaan jy nou vir my sê jy drink ook nie koffie nie?” vra Pa. “Wat de hel is verkeerd met koffie? Drink ’n koppie, man. Dit sal jou borshare laat groei.”
Rajit lig sy wenkbroue. “Dis ’n wonderlike vooruitsig, meneer Malan, maar ek moet nog ’n opdrag gaan klaarmaak. Ek moet seker maar ry voor dit te donker word.”
“Laat jou ouers jou toe om in die donker op jou fiets te ry?” vra Moeder.
“Hulle werk soms laat.”
“Aaaa,” sê Moeder, asof dit alles verklaar. “Besige ouers.”
“Ja, seker.”
“Ek stap saam met jou deur toe,” sê ek, met die hoop op ’n soen weg van my ouers se afkeurende teenwoordigheid.
My pa staan op, maar dié keer steek hy nie sy hand uit nie. Hy knik net kortaf. “Rajit.”
“Meneer, mevrou Malan, baie dankie vir ’n heerlike ete.”
Buite die voordeur neem Rajit my in sy arms.
“Wel, dít het goed gegaan,” sê hy en begin lag.
“Ek is bly jy’t nog jou humorsin,” sê ek.
“Ek kan sien ek gaan dit nodig kry.”
En toe is sy lyf teen myne, en sy lippe gaan oop en sluit oor myne. “Ek wil vir jou iets gee voor ek gaan,” fluister hy. “Iets om jou aan my te laat dink.”
“Wat is dit?” vra ek, vol verwagting.
Hy sit ’n klein pakkie in my hand.
Dis sy servet, netjies toegevou. Binne-in is die meeste van sy sampioene.
*
En nou, net ’n paar maande later, voel dit vir my, is dit net ek en Moeder in die kombuis, met ander sampioene wat eenkant langs die opwasbak in ’n polistireenbakkie lê en wag om gaargemaak te word.
As my moeder my vir my pa se dood verkwalik, sê sy dit nie, maar haar dubbele verlies maak haar toenemend afsydig: twee sterftes in haar kerngesin. En al twee die oorledenes was belangriker as ek.
“Kan ek help met iets?” vra ek.
Sy kyk na my, ’n stywe glimlag om haar mond. “Hoe lyk dit met slaai?”
Ek knik en haal kropslaai, komkommer en tamaties uit die yskas.
Ek sien ’n glas whiskey, sonder ys. Sy drink alleen, want daar is niemand om saam met haar te drink nie.
“Wat eet ons?” vra ek.
“Risotto.”
“Lekker.”
Moeder het baie dinge laat gaan, maar haar kookvernuf is nie een daarvan nie. Deurskynende uie sis in die pan; in ’n borrelende pot verkleur aspersies na ’n helderder, dieper groen. Ons werk stelselmatig, in stilte. Kook is een ding wat ons saam kan doen sonder om te stry.
Moeder het ’n draadloos in die kombuis.