stem sê: “In die omstandighede gedra jou hart hom gelukkig nie te sleg nie, maar ek sal graag weer jou nierfunksie wil toets, Thea.”
Die meisie se oë gaan traag oop. “Waarom wil jy my niere toets, dokter? Is daar fout met hulle, of is jy maar net oorbesorg?” wil sy met ’n effens onvaste stem weet.
Hul huisdokter kyk haar verbaas aan en lyk merkbaar ontsteld toe hy vra: “Het jou ma jou dan nooit vertel nie? Jy het ’n presistoliese geruis in die hart en chroniese glomerulonefritis van die niere. Swangerskap is dus taboe vir jou. Jy mag net doodeenvoudig nooit ’n baba hê nie.”
Thea skud haar kop hartseer en sê met ’n gebroke stem: “Ek weet nie wat al daardie groot woorde beteken nie, dokter, maar my ma het my nooit van hierdie dinge vertel nie. Ook nie van die feit dat ek nooit swanger mag word nie. Wat beteken dit alles en waarom mag ek nooit kinders hê nie, dokter?”
“’n Presistoliese geruis in die hart,” sê die lewenservare man voor haar met deernis in sy stem, “beteken dat daar ’n klep is wat lek, en dit het jy opgedoen weens rumatiekkoors toe jy ses jaar oud was. Die glomerulonefritis van die niere het jy opgedoen as gevolg van septiese mangels op vierjarige ouderdom, daarna die rumatiekkoors en toe weer ’n ernstige geval van masels twee jaar na die rumatiekkoors. Al hierdie kindersiektes het jou hart en niere so erg aangetas dat jy nooit die geboorte van ’n baba sal oorleef nie, Thea.”
Etlike minute nadat die dokter haar kamer verlaat het, lê Thea met nikssiende oë na die plafon en staar. Sy is nog effens bleek, maar lyk tog rustig – soos iemand wat stil geword het omdat die pyn van die lewe haar nie meer kan raak nie. Dan raak sy eindelik aan die slaap van die inspuiting wat die dokter haar voor sy vertrek toegedien het.
Ouma Strassheim se hart ween saam met die moedige Thea oor al die hartseer in haar kleindogter se lewe en wat sy moontlik nog sal moet verduur.
“Ek het alles vir die begrafnis gereël en ook met ’n prokureur onderhandel om die boedel te beredder,” sê Thea se ouma die volgende oggend aan die ontbyttafel. “Ons moet nog net in jou ma se slaapkamer gaan kyk of sy miskien ’n nuwe testament opgestel het. Die prokureur sê hy het reeds ’n koper vir die huis, dus stel ek voor dat jy jou diens by die skeepsmaatskappy opsê en by ons op die plaas kom bly.”
“Ek sal later daaroor besluit, Oumie. ’n Vriendin het my onlangs genooi om saam met haar en haar tweelingneefs met hul seiljag na Engeland te reis en ek het haar uitnodiging aangeneem,” verduidelik Thea sonder veel belangstelling.
“Maar is dit nie gevaarlik om so ver met ’n seiljag te gaan staan en rondrits nie, my kind?” wil die ouer vrou onrustig weet. “Wat maak julle as daar nie wind is vir die seile nie of dalk ’n storm oor die see opkom?”
“Ek verstaan hulle neem brandstof en ’n motor saam vir ’n noodgeval. Ester, my vriendin, se neefs is ervare seiljagvaarders wat al baie seemyle afgelê het.”
“Wel, ek dink nog jy waag baie om saam met hulle te gaan seil,” spreek haar ouma haar eerlike mening uit. “Wat gaan so ’n lang vaart jou nogal kos?”
“Al wat ek moet betaal, is my reiskaartjie terug huis toe. Ons is genooi om by Peter en Ron Harding se ouers te bly solank ons in Engeland vertoef en dit sal stellig nie langer as twee weke wees nie.”
Na ete gaan kyk hulle of die oorledene ’n nuwe testament laat opstel het. Thea verwelkom hierdie voorstel, maar om heeltemal ’n ander rede. Sy is oortuig daarvan dat sy wel iets in haar ma se kamer sal vind wat sal toon dat dié haar tog liefgehad het. Maar hulle soek elke laai, handsak en tas deur en kry niks nie, afgesien van ’n baba-album waaruit elke foto verwyder en middeldeur geskeur is. Die geskeurde foto’s was saam met die leë album in ’n tas.
Oumie het dus nie aangedik nie – sy kon my nooit verdra nie, dink Thea met ’n hart wat loodswaar en bitter seer voel. Die gedagte dat haar ma haar gehaat het omdat haar pa sy lewe vir haar veiligheid gegee het, laat Thea nou sterk twyfel of haar ma geestelik gesond kon gewees het. Maar dan val dit haar weer by dat ’n sielkundige haar ma wel as normaal gesertifiseer het en sy moet eindelik erken dat daar geen verskoning is vir haar ma se hartelose optrede nie.
Dit voel vir Thea asof sy nooit weer sal kan glimlag nie toe sy die ontslapene se kamer verlaat en na ’n verlate deel van die strand vlug. Sy neem op ’n rots plaas en tuur ver oor die see waar ’n paar wolkies stil op die gesigseinder lê. Daar is geen ander geluid nie – net die geruis van die see. Sy is alleen, soos wat sy nog altyd was en stellig ook altyd sal wees. Sy besef dat sy hier langs die strand baie drome sal moet begrawe – mooi toekomsdrome wat elke jong meisie heimlik koester, drome oor liefde en geluk wat haar nooit beskore sal wees nie. Trane rol oor Thea se wange terwyl sy aan haar eensame verlede en die leë, doellose toekoms dink.
2
Thea lyk klein en eensaam waar sy op die perron staan en kyk hoe die Johannesburgse trein vertrek. Sy waai vir haar ouma totdat die trein buite sig is en keer dan terug na die leë, stil huis.
Haar ma is ’n week gelede begrawe en Thea het haar diens by die skeepsmaatskappy opgesê. Nou moet sy nog net die paar artikels uit die huis verwyder wat sy graag wil hou, dan kan sy haar tydelike intrek by die buurvrou neem en die huis se sleutel aan die prokureur oorhandig.
Vir Thea gaan die tyd nou vinnig verby en die dag van hul vertrek kom ook al nader. Almal gesels net oor die naderende seiljagvaart en die twee Harding-broers bring nou meer tyd by die kaai deur waar hulle die toerusting nagaan.
Die son is nog nie uit nie toe die vier jong mense die oggend van hul vertrek by die kaai aankom. Alles word in die jag gelaai en die reisigers voel opgewonde, want die weerburo voorspel geen stormwind die volgende vier en twintig uur nie. Alles is later ingelaai en die Seagull, met die seile nog vasgebind, wieg saggies op die water.
“Julle kan maar aan boord kom,” roep Ron die twee meisies.
Hulle groet Ester se ouers wat pas na hulle by die kaai aangekom het. Dan gaan al vier aan boord. Na ’n rukkie span die seile in die wind. Die ankertou word losgemaak en die Seagull seil statig uit die hawe in ’n suidelike rigting. Na etlike minute is die groot toringseil net ’n wit vlek teen die blou oseaan.
Hulle vaar met die weskus langs. Vir die twee meisies is die vaart ’n ware belewenis. Hulle help waar hulle kan en geniet dit baie om die vreemde hawens waar hulle vir brandstof, vars water en proviand aandoen, van die boot af te besigtig.
Walvisbaai is die laaste hawe waar die twee meisies aan wal gaan totdat hulle die Kanariese Eilande bereik. Daarna gaan hulle weer ’n paar uur by Madeira aan wal. Die weer is steeds in hul guns en die Seagull seil soos ’n swaan oor die golwe.
Maar toe hulle na sewe weke eindelik die Scilly-eilande naby Land’s End bereik, juig hulle van blydskap, want die Hardings se landgoed, Green Hill, is naby Dartmouth.
“Ek voel soos Columbus moes gevoel het toe hy Amerika se kuslyn in sig gekry het,” skerts Thea, maar neem haar heimlik voor om nooit weer so ’n lang seereis met ’n seiljag aan te durf nie. Sy smag na vaste land onder haar voete en na die geriewe waaraan sy gewoond is.
“H’m, jy sê jy voel soos Columbus. Wel, laat ek julle dit vertel, ek voel soos Jona moes gevoel het toe die walvis hom op droë grond uitgespoeg het,” lag Ester. “Die reis was aangenaam, maar net te lank.”
“In elk geval, julle meisies het ons geweldig baie gehelp,” laat Ron dankbaar hoor.
Die ouerpaar, David en Hilda Harding, is merkbaar verlig toe die vier jong mense eindelik veilig tuis is.
“Ron en Peter sal nog ons senuwees gedaan maak met daardie seiljag,” kla Hilda toe hulle later ’n ligte ete in die eetkamer nuttig. “Dit verbaas my dat jul ouers julle toegelaat het om saam te seil.”
“My ouers het eers seker gemaak dat Ron en Peter ervare seiljagvaarders is, tannie Hilda, en Thea se ouers is albei oorlede,” verduidelik Ester. “Ons het darem altyd binne sigafstand van Afrika se kus probeer bly.”
“Ons het ook baie vissersbote en plesierbote teëgekom,” vertel Thea.