Susan Pienaar

Wag-'n-bietjie-liefde


Скачать книгу

sy’s lank. Kan Ma Ma dit voorstel?”

      “My jinne, en Kobus is nie juis aantreklik nie, dus kan ek glo jy was verbaas.” Haar ma drink ’n slukkie tee, kyk dan asof terloops na haar. “Was daar dan nou geen man by die Van Edens wat jou oog gevang het nie?”

      “Nee, niemand nie.” Sy jok nie regtig nie. Alex het haar oog gevang, maar dis al. Haar ma wil eintlik weet of daar ’n man is waarin sy belangstel.

      “Tannie Marais hier langsaan sê vir my die oudste seun, Alex, is baie aantreklik en boonop ongetroud. En goed geleerd ook, nogal ’n ingenieur met sy eie maatskappy. Hy was verlede jaar gou hier by die tannie in om beskuit af te gee wat sy ma saamgestuur het. Julle het mos vandag sy tuiskoms gevier?”

      En toe Amber afgetrokke knik: “Is hy nog ongetroud?”

      Terwyl haar ma gepraat het, het Amber gevoel hoe haar keel stadig begin toetrek. Hoe kán haar ma nou, ná al haar waarskuwings, ’n aantreklike man aan haar wil opdring? Maar nee, laat sy bedaar, liewer dankbaar wees haar ma is nie meer so verbitterd nie. Sy moet haar ma van dié onderwerp afkry.

      “Alex is nie getroud nie, maar ek sal nie verbaas wees as hy iewers ’n meisie het en dalk boonop verloof is en op trou staan nie.”

      Haar ma knik. “Ek sien.”

      Amber sit haar leë koppie op die tafeltjie langs haar neer. “Ek was eers saam met Kobus terug om my kar te kry, toe bring ek sommer my rekenaar en boeke saam. Ek wil later ná ek gebad het, ’n ruk swot. Maar eers gaan ek ’n bietjie klavier speel.”

      Haar ma lag. “Dis reg so. Dis darem lekker om naweke weer jou musiek te hoor.”

      “So van naweke gepraat: Tannie Sophia en oom Jakobus het my en Mandie-hulle genooi na daai plek van hulle anderkant Bela-Bela. Ons kom dalk eers Sondag terug, dus weet ek nie of ek Ma volgende naweek gaan sien nie.”

      Die huisfoon lui en haar ma staan haastig op. “Dis darem baie gaaf van hulle.” Sy stap gang toe en Amber pak die koppies op die skinkbord.

      Terwyl Amber die teegoed was, dink sy aan die uitstappie wat kom. As Kobus en Doreen verlof kan kry, het hulle ooreengekom dat almal Woensdagoggend halfsewe by Kobus se huis moet wees sodat hulle sommer daarvandaan kan vertrek.

      Kobus se Mercedes is te laag vir sekere paaie by Zebula, daarom ry almal saam in Alex se viertrek. Sy is nou nie juis in die wolke daaroor nie, maar Kobus gaan vir seker voor langs Alex sit, hulle is mos darem ses mense. Hoe erg kan dit wees?

      Nee kyk, sy was kwaai verlig om te hoor dat Alex die naweek ná die paar dae op Zebula, terugtrek na sy eie plek toe. Nou hoef sy nie in die toekoms in hom vas te loop wanneer sy so af en toe by Mandie of tannie Sophia gaan inloer nie.

      Amber het vir Alex, Mandie en Paul ook koffie gemaak. Dis al kwart voor sewe en Doreen en Kobus is nog nie hier nie. Sy is dankbaar dat tannie Sophia die kinders gistermiddag kom haal het, want toe kon sy darem ’n volgende sielkundetaak klaarmaak en instuur.

      Mandie kom sit langs Amber. “Ek weet wragtig nie hoekom Kobus vanoggend kliniek toe is nie. Hy hét mos gereël dat ’n dokter vanaf Woensdag tot Sondag in sy plek werk. En waar is Doreen, anyway?”

      Amber kyk na waar Alex en Paul langs die wit viertrek staan. “Kobus het gisteraand oor die foon vir Doreen gesê hy gaan haar oplaai sodat haar kar nie heeltyd hier in die son staan en bak terwyl ons weg is nie.”

      Mandie se leë koffiebeker hang aan sy oor aan haar vingers. “Ek dink ek moet met Alex praat, dan ry ons solank. Kobus en Doreen kan maar met die Mercedes agterna kom.”

      En dan is daar twee minder mense in die kar om haar aandag af te trek van Alex af? Nee, dankie!

      “Jy’s soos altyd al weer te haastig, Mandie. Dis mos darem nog vroeg, jong. Kobus het gesê dis minder as twee uur se ry Zebula toe. Dalk is hy en Doreen net vyf minute se ry van hier af en dan mis ons hulle.”

      “Oukei, maar ons kan nie heeloggend wag nie.” Mandie kry Paul en Alex se bekers en stap binnetoe.

      Alex kom na Amber aangestap en tel haar tas op asof dit ’n veertjie is. “Lyk my jy’t die wasbak sommer ook ingepak, en klere vir ’n maand.”

      Amber skiet regop en probeer die tas by Alex afneem. “Gee hier, gee dat ek dit dra as dit vir jou te swaar is.” Hy verslap nie sy greep op die handvatsel nie, staan net met geligte wenkbroue na haar en kyk. Amber ruk haar hand weg toe sy agterkom dat die tinteling in haar vingers veroorsaak word deur Alex se vel wat aan hare raak.

      “As daar nie genoeg plek in jou kar is nie, bly ek verdomp nét hier.” Sy vryf haar hand aan haar jeans af.

      Alex glimlag stadig. “Tsk, tsk, en hier dog ek jy’s van die stil soort wat nooit ’n woord praat nie.”

      “As ek iets te sê het, sal jy wel van my hoor.” Sy kyk na haar tas, gluur dan vir Alex aan. “Hoe dink jy moet ek met daai sjampoetjies en showerjelletjies en handeroompies klaarkom wat julle vir ’n mens in daai fancy plekke gee? Ek gebruik my eie haardroër, en wat van my haarstileerprodukte en gesigrome en badgoed en skoene?”

      Alex sug hardop toe hy wegdraai. “Nou moet ek hoor jy’t jou hele kamer ingepak.”

      Amber sien Paul staan en grinnik, maar sy draai om en stap kombuis toe, plak haar beker in die wasbak neer en vou haar arms.

      Mandie maak asof sy skrik. “Wat het nou oor jou lewer geloop?”

      “Ag, dis seker niks, maar Alex reken my tas is te swaar gelaai.”

      “Nooit! En wat sê jy toe vir hom?”

      “Dat ek nie met daai klein sampletjies by Zebula sal kan bad nie.”

      Mandie lag. “Ons het ’n stoorkamer met ons eie goed van die gewone grootte daar. Alex het juis ’n hele spul items by Clicks gaan kry om dit aan te vul – my ma het vir hom ’n lys opgestel.” Sy giggel. “Hy was nie baie impressed nie, dis gewoonlik my joppie. Alex verpes dit om shopping te doen.” Sy slaan Amber liggies teen ’n arm. “Hy’t gegrap, man, moenie so fyngevoelig wees nie. Alex is nice, jy moet hom net leer ken.”

      “Ja, oukei, tog.” Amber voel gestres oor Kobus en Doreen nog nie hier is nie, en nou lyk dit boonop asof Alex haar tas ingelaai het omdat hy haastig is en dalk sonder hulle wil ry. Daar staan Kobus se tas dan nog.

      Amber stap agter Mandie aan buitetoe, gaan sit langs haar en kyk onderlangs na Alex. Hy dra ’n denim-kniebroek en ’n wit katoenhemp met sakke. Hy skop teen die viertrek se wiel en dit trek haar aandag na sy gespierde bene.

      Alex haal sy luiende foon uit sy hempsak en frons vir die skerm voor hy antwoord. “Yes, waar bly julle?” Hy luister ’n ruk in stilte voor hy sê: “Oukei, right, kom dan maar wanneer julle klaar is.” Hy luister eers weer. “Sien julle dan.” Alex bêre sy foon en kom aangestap. “Ons ry solank. Kobus-hulle sal nou maar met die Mercedes tot by Zebula moet kom. Gaan kry julle meisies wat julle saamvat. Ek moet toesluit.”

      Amber skiet regop en stap binnetoe. Verdomp! Sy’t geweet sy was nie verniet bekommerd nie.

      “Wow,” skree-lag Mandie, “dit rock! Geen Doreen nie. Maar wag, ek moet gou badkamer toe, kry jou by die kar.”

      Amber knik suur, loop kry haar handsak en stap minute later verby Alex wat die voordeur agter haar toesluit. Sy steek vas toe sy by die viertrek kom. Daar sit Paul so wragtig reeds agter langs Mandie. Sy’t intussen gedink die twee mans kan voor sit en sy en Mandie agter, dan sal sy die saamry darem oorleef. Maar met Alex hier vlak agter haar, kan sy nou ook nie so blatant vir Paul vra om voor te sit nie. En wie sê Mandie gaan instem? Sy kan flippen halsstarrig wees as sy wil.

      Alex maak die deur vir Amber oop. Sy huiwer. “Toe maar, ek byt nie, jy kan maar inklim,” sê hy glimlaggend.

      Wat kan sy anders doen as inklim? Sy maak haar sitplekgordel vas toe Alex langs haar inskuif. Sy foon lui terwyl hy wag dat die hek oopgaan sodat hy agteruit kan ry.

      Hy kry sy foon, kyk op die skerm en antwoord. “Hallo,