Susan Pienaar

Wag-'n-bietjie-liefde


Скачать книгу

sweef regs van Alex se gesig verby en Amber se kop draai saam. Hy glimlag vir haar, maar Amber maak asof sy dit nie sien nie.

      Alex sien hoe Amber wegkyk. Hy’t nie verwag dat sy so stil en terughoudend sal wees nie. En ontwykend ook, veral toe hy haar ’n opening gegee het om oor sielkunde te praat. ’n Glimlag pluk aan sy lippe toe hy onthou hoe haar amberkleurige oë vuur gespoeg het toe hy haar oor die swaar tas geterg het.

      Oukei, hy was nogal vieserig om mee te begin, nie vir haar nie, vir homself omdat hy sy oë alleenlik met moeite van haar kon afhou. Sy’s mooier wanneer sy haar vervies. Haar wange word pienkerig en hy moes homself keer om nie heeltyd na haar borste onder die top te kyk terwyl sy diep in- en uitgeasem het nie.

      Mandie tik Amber op ’n skouer. “Daar’s iets wat heeltyd aan my vreet. Ek kan slange vang wanneer ek daaraan dink.”

      Amber kyk agtertoe. “Nou maar wat is dit wat jou so omkrap?”

      “Daar’s ’n dogtertjie in my klas . . . eintlik is dit die kind se ma wat my die hoenders in maak.”

      “Wat maak die ma?” Hier langs hom gooi Amber haar lang hare met ’n skud van haar kop agtertoe, draai haar lyfie dan op die sitplek sodat sy na Mandie kan kyk. Sy ruik lekker, na iets soos fyn blou blommetjies en ’n tikkie speserye. Alex loer na haar, sien die erns op haar gesig en glimlag. Sy maak haar nou natuurlik reg vir ’n groot debat.

      “Nee, jissie, daai vrou is net nooit tevrede met haar kind se punte nie. Jy moet gehoor het hoe trap sy Sonia voor my uit toe hulle die kind se rapport Dinsdag by die skool kom haal het. Van die kinders en ma’s wat buite my klas op die stoep gewag het, kon nie anders om te hoor hoe sy tekere gaan nie.”

      Alex hoor hoe Amber haar asem skerp intrek. “Ag, sies tog, die arme kind. Kan jy dink watter sielkundige skade dit aan so iemand doen? Dis ’n vorm van perfeksionisme wat sekerlik uit narsisme by die ma spruit.”

      Alex glimlag. A, hier neem die gesprek nou ’n interessante wending. Nes Cynthia swot Amber nog nie lank sielkunde nie en nou wil sy natuurlik wys wat sy weet.

      “Waarop baseer jy jou bevinding van narsisme?” vra hy en voeg by: “Ek reken die ma was dalk net te ontsteld om daaraan te dink dat daar ander mense is wat kon hoor.”

      Amber draai haar vinnig na hom. Haar wange is pienk van ergerlikheid en sy’t weer daardie snotty kyk in haar oë soos die dag met hul ontmoeting.

      “Volgens my en kenners op die gebied, ís dit narsisme wanneer ’n ma haar kind bloot as ’n verlengstuk sien wat háár glorie moet reflekteer. Alles gaan oor háár.” Sy klink deksels seker van haar saak. “As jy, wat die direkteur van jou besigheid is, iemand uittrap oor sy of haar swak werk, doen jy dit voor jou ander werknemers of eenkant waar niemand kan hoor nie?”

      Maar die geitjie! Sy’t hom vinnig en behendig in ’n hoek gedruk. Maar hy kan ook met woorde speel.

      “Ek noem dit ontaktvol en onprofessioneel om ’n werknemer voor ander uit te trap. Dit het niks met narsisme uit te waai nie.”

      Sy skiet blitsvinnig terug. “O, maar dit hét. Vir dié ma het haar kind nie ’n eie identiteit nie. En as jy jou werksmense wel voor ander sou uittrap, dan is jy magsbehep en boonop ’n boelie.”

      Alex pers sy lippe saam. Maar so ’n klein vuurvreter . . .

      “Ag nee, julle,” kom Mandie tussenbeide, “ek het nog nie eens klaar vertel nie. Wat julle nie weet nie, is dat die arme kind regtig vreeslik goed presteer. En dís die rede waarom ek die vrou nie kan duld nie. Sy wil nie verstaan dat ’n kind nie honderd persent vir spelling en lees kan kry nie.”

      “Nou hoekom het jy nie van die begin af so gesê nie,” blaf hy harder as wat hy bedoel het.

      “Omdat jy Amber aangevat het en my nie tyd gegee het om verder te vertel nie,” beskuldig sy suster hom so wragtig voor die wysneus hier langs hom.

      Amber sien hoe Alex sy lippe saampers terwyl sy terugdraai op haar sitplek, maar wat gee sy om wat hy dink? Dit ontstel haar wanneer sy dié soort dinge hoor. Die afkrakery vind natuurlik herhaaldelik plaas, en die arme Sonia gaan dalk nooit hoor dat sy goed genoeg is nie, wat haar selfbeeld weer opnuut kwaai gaan knou. Dit laat Amber magteloos voel, want die ma het beslis ’n probleem. Sy sal later vir Mandie vertel dat sy die kind moet prys, natuurlik glad nie waar die ander leerlinge kan hoor en die jaloesie van ander haar verder kan afbreek nie.

      Alex draai regs af langs ’n bord wat sê: Zebula Golf Estates and Spa. Hy kyk oor sy skouer. “Nog vyf kilometer verder en ons is nader aan ’n lekker koue bier.”

      Paul lag. “Nou maar dan moet jy voet in die hoek sit.” En aan Mandie: “Is die wild op Zebula min of meer dieselfde as in die Krugerwildtuin?”

      Mandie snork liggies. “Nee, man, ons het nie die Groot Vyf nie. Dink jy ons sal ons huise tussen tiers en luiperds en leeus bou en dan sommer daar tussen die bosse gaan stap net om opgevreet te word?”

      “Dis jammer. As jy my vooraf gesê het, sou ek dan maar liewer by die huis gebly het.”

      “Ag, toe nou. Ons het allerhande boksoorte, kameelperde en leeu- en tierwelpies, net nie uitgegroeide leeus of luiperds nie. En yslike slange in glasafskortings.”

      Oomblikke later draai hulle by Zebula se ingang in en hou stil. ’n Wag, in kakieklere, met die kentekens van Zebula, groet vriendelik, laat Alex inteken en die sperpaal word gelig.

      Die grondpad strek lank voor hulle uit, maar hier voor vurk twee paaie na links en regs met ’n droërige boompie in die middel. Alex druk ’n voorvinger teen die ruit, kyk vir Amber. “Sien jy daai boompie? Dis nou wat ons ’n bosveldsirkel noem.” Hy sê dit droogweg, en agter in die motor bars Mandie en Paul uit van die lag.

      Amber kan maar net saam lag terwyl hy links om die boompie ry en dan reguit aanhou. Sy vryf oor haar arms wat skoon hoendervleis geword het. Alex se laggende mond en wit tande is betowerend. Dis nou al die hoeveelste keer dat sy vlugtig en met ’n vreemde hunkering na sy lippe kyk. Vies vir haarself, kyk sy gou weg. Sy moet onthou dis alles net window-dressing – soos álles aan haar pa en Spencer ook was – en dit sê niks van die man self nie.

      Spoedoortreders gaan ’n hewige boete opgelê word, lees Amber en besef meteens hoekom Alex op ’n slakkepas bestuur. Links is daar ’n geteerde aanloopbaan met ’n paar kleinerige vliegtuie en ’n enkele helikopter met die Zebula-kenteken op die deure. ’n Ent verder staan drie of vier vliegtuigloodse.

      “Nou hoekom bêre hulle nie daai vliegtuie nie,” wonder Amber hardop.

      Alex antwoord. “Soms kom mense net vir ’n oggend of ’n dag deur om gholf te speel, of om ’n vergadering of een of ander okkasie by te woon, dan land hulle sommer vir die tydsduur daar. Of besoekers word deur groter vliegtuie hierheen gebring. Die aanloopbaan is een punt vyf kilometer lank, dus is dit maklik vir groter vliegtuie om hier te land.”

      “Ek sien. Maar hoe kom die mense sonder vervoer by die klub?”

      “Daar’s ’n spul jeeps by die klubhuis vir uitstappies. Veldwerkers kom haal en bring besoekers terug, en ry mense rond. Ons bel die kantoor net wanneer ons hulle nodig kry.”

      Amber onthou Alex het lankal sy kommersiële vlieglisensie gekry, sy weet ook hy’t ’n vliegtuig. Sy’t Alex destyds al afgeskryf, maar kon mos nie haar ore toehou elke keer wanneer Mandie oor haar broers gepraat het nie.

      “Ek dink ons twee moet daai agterste twee sitplekke vir ons deps,” sê Paul.

      Mandie lag. “Mm, goeie plan.”

      Amber kyk nuuskierig rond. Hoë geëlektrifiseerde draad skei Zebula van Mabalingwe en aanwysings na die klubhuis, spa en gholfbaan word oral op swart omraamde borde met wit sebrastrepe aangedui. Alex draai links af in ’n grondpad. Links en regs sien Amber grasdakke tussen die lang gras en doringbome.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст