Marzanne Leroux-Van der Boon

HaKotel: Die muur


Скачать книгу

ma soen hom weer. “Ons kom vroeg môre terug.”

      Maar toe slaap hy reeds weer. Die beertjie wat Ruwth gebring het, het hy van die tafel af gehaal terwyl Marc die parashah gelees het en hy hou dit styf in sy arm wat nie aan die drup gekoppel is nie.

      Marc slaan sy arm om sy tenger ouma. “Hoe het jy hier gekom?”

      “Met my motor. Wat dink jy?”

      Hy frons. “Jy moet versigtig wees, Savta.”

      Sy grinnik. “Jy wil sê ek moet op 87 nie meer ry nie.”

      Hy druk haar teen hom aan. “Ek wil niks sê nie, behalwe dat ek jou liefhet.”

      Sy neem sy gesig tussen haar sagte oumenshande en soen hom. “Dit was die mooiste Erev Shabbat wat ek in jare beleef het, Marc.”

4049.jpg

      Op Shabbat, nadat hy die oggenddiens in sy shul gelei het, gaan rebbe en rebbetzin Cohen by hul kleinseun in die hospitaal kuier. Die vorige aand kon hulle nie by wees nie, want ook toe het Chaim die Kabbalat Shabbat-diens in sy eie shul waargeneem. Ná die tyd gaan hulle saam met die Kriges huis toe. Vanaf Yhoshi se sesde verjaardag gaan Chaim altyd op ’n Shabbatoggend ná sy diens na hulle toe om met Yhoshi die parashah te studeer.

      Marc-hulle en Chaim het besluit om Yhoshi die Tora op dié manier te leer pleks van om hom na ’n Ortodokse yeshiva te stuur. Hulle is immers Messiaanse Jode, al is daar maar bitter weinig mense wat daarvan bewus is of vermoed dat rabbi Cohen Yeshua van Nasaret as die Joodse Messias erken. Dat daar vae gerugte rondgaan, is seker, maar hy is so geliefd in die omgang dat niemand tot dusver al daarvan werk gemaak het om hom te konfronteer nie. Die meeste van sy gemeentelede glo buitendien dat die gerugte ongegrond is. En dié wat weet, glo ook wat hy glo en bly stil daaroor.

      Vanmôre is dit duidelik dat Yhoshi erg verleë is oor sy astrantheid teenoor sy oupa die aand voor Natan se operasie. Nadat Chaim hom egter by hul herontmoeting soos gewoonlik omhels en gesoen het, raak hy spoedig weer sy ou self.

      “Saba, jy het belowe ons gaan eendag verder na Dovid se storie luister.”

      “Ken, een van die dae, ek belowe jou. Maar kom, laat ons nou eers by die parashah uitkom. Ons het min kans vandag. Dis nou-nou tyd vir middagete.”

      Chaim slaan sy Chumash oop en Yhoshi sy Bybel. Hulle maak oop by die week se parashah Eikev. “Ons het net tyd om hier oor ’n paar aspekte te gesels. Yhosh, as ’n mens na Eikev kyk, kom jy agter dit het te doen met die gevolge as die volk gehoorsaam is aan die Tora en wat gebeur as ons nie gehoorsaam is nie. Ken?”

      Yhoshi knik.

      “Beseder. Lees vir ons vers 12 uit jou vertaling en dan sê jy vir my wat jy daarin sien van gehoorsaam en ongehoorsaam wees, en wat die gevolg daarvan is.”

      “En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal Adonai jou Elohim vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het.” Yhoshi kyk op. “Omdat Israel na die Tora luister en dit doen, sal HaShem sy verbond hou wat Hy met Avraham Avinu gemaak het.”

      “En as hulle dit nie doen nie?”

      “Dan sal baie slegte dinge met hulle gebeur.”

      “Sou die verbond wat HaShem, baruch Hu, met ha’avot gemaak het, dan nie meer bestaan nie? Dink mooi.”

      Maar Yhoshi het dadelik ’n antwoord. “Nee, Saba, dit kan nie, want HaShem het eintlik die verbond met Homself gemaak. Dit was mos ’n … eenkantverbond.”

      “Eensydige verbond. Hoekom sê jy so?”

      “Avraham Avinu het geslaap toe HaShem tussen die oopgesnyde diere deurgeloop het. So, Hy het dit met Homself gemaak.”

      “Nachon, Yhoshi, ek is bly jy verstaan dit. Lees gou vir my die eerste gedeelte van vers 14.”

      “Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal …”

      “Dis genoeg. Wat dink jy daarvan?”

      “Ek … ek weet nie, Saba. Ons het dan al so verskriklik baie vreeslike dinge oorgekom. Die tempels en die pogroms en die Shoah …”

      “Enige idee hoekom ons dié dinge oorgekom het?”

      Yhoshi is ’n rukkie stil voordat hy antwoord. “Ek dink omdat die volk ongehoorsaam was en nie die Tora onderhou het nie.”

      “Wat sou jy sê is die grootste sonde wat die volk gedoen het?”

      “Die goue kalf?”

      “Dit was die begin waarvan?”

      Yhoshi dink ’n rukkie na. “Afgode.”

      “Nachon. Dit is Israel se groot sonde. Dít en ja, ongehoorsaamheid aan die Tora. Kyk na 8:11. Waarteen waarsku Moshe Rabeinu die volk daar?”

      Yhoshi lees dit en kyk toe op: “Dat die volk moet oppas, want as hulle die Tora nie onderhou nie, sal hulle HaShem vergeet en afgode begin dien.”

      “Nachon. En wat sal jy sê as jy vers 12-17 lees?”

      Die kind lees die gedeelte vinnig deur. “Moshe waarsku hulle dat, as hulle ryk word in die land wat HaShem hulle gaan gee, hulle nie moet begin dink dis hulle self wat dit alles reggekry het nie. Hulle moet onthou wie hulle uit Mitzrayim gebring en deur die woestyn gelei het. En ál die wonderwerke vir hulle gedoen het.”

      “Yafe! Lees nou vir ons nog vers 19 ook.”

      “Maar as jy Adonai Eloheicha nogtans vergeet en agter ander gode aanloop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker Ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom.”

      “Sien jy? Maar kyk nou na hoofstuk 9:4-6. Dis ’n baie belangrike gedeelte. Lees dit en dan sê jy vir my wat jy daarvan verstaan.”

      Yhoshi lees ’n rukkie in stilte en toe hy opkyk, is daar begrip in sy oë: “Moshe Rabeinu sê vir hulle dat dit nie ’n beloning vir Israel is oor hulle so …” hy dink oor die regte woord, “regverdig is dat HaShem die ander nasies uit die land gegooi en dit vir hulle gegee het nie. Dit was om die ander nasies te straf oor hulle so sleg en goddeloos was dat Hy dit gedoen het.”

      “En nóg ’n rede?”

      Die kind kyk weer na die Skrifgedeelte. “O ja, ook om die woord te vervul wat HaShem vir avoteinu gegee het.”

      “Nachon. Sien jy wat noem Moshe Israel?”

      Yhoshi lag. “’n Volk met stywe nekke.”

      “Ek is seker jy weet hoekom. Maar nou, voor ons klaarmaak, kyk net gou saam met my dat Y’chez’kel 36 dieselfde ding sê. Onthou, dis ’n profesie oor Israel wat weer terug is in die land.”

      Yhoshi sukkel ’n bietjie om die profeet in sy Bybel op te spoor en die rabbi help hom. “Daar. Lees nou vir ons vers 22.”

      “Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek Adonai Elohim: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.”

      “Die feit dat Israel oor die hele aarde versprei is weens ongehoorsaamheid en afgodery, het HaShem se heilige Naam oneer aangedoen. Verstaan jy hoekom ’n volk wat geseënd is bo alle volke, al soveel moes ly?”

      Yhoshi knik langsaam.

      “Hoe lyk Israel vir jou op die oomblik?”

      “Nie baie beter as in die tyd van die Israeliete nie … Saba?”

      “Hmm?”

      “HaShem bring ál die Jode van oor die hele wêreld terug Israel toe, nè?”

      “Ken.”

      “Maar het die profete dan nie gesê Hy sal hul harte van klip, harte van vleis maak nie? Byna ál die mense is dan wêrelds.”