Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 5


Скачать книгу

en haar ouers is almal in haar kamer toe sy die pakkie oopmaak. Hulle staan in ’n halwe kring om haar om te sien wat daarin is. Toe sy die laaste papier wegvat, snak Camille na haar asem. Op Nicole se hand lê die robyne in hulle pragtige silwer bed. Hulle vonkel in die helder sonlig wat deur die venster val en kaats hulle sagte rooi glans teen Nicole se tabberd. Dit is asof hulle lewe en nie dooie stukke kristal is nie.

      “Dis die mooiste halssnoer wat ek nog gesien het!” roep Jeanne uit. “Dit moet ’n fortuin werd wees!”

      André skud sy kop stadig.

      “Hierdie ding gaan moeilikheid veroorsaak. As ’n man sulke geskenke aan ’n meisie gee, het hy net een ding in gedagte.”

      Nicole kyk na hom.

      “Mais non, Pappa! Hierdie is nie ’n geskenk nie! Ek moet dit vir monsieur Da Silva bewaar. Iemand het dit van die skip af probeer steel.” Sy tel die halssnoer op en hou dit teen die lig om die robyne se wynrooi glans te bewonder. “Daar is ’n geheim aan hierdie robyne verbonde wat niemand nog kon oplos nie. Nege mense het al gesterf in die proses om agter die raaisel te kom.” Sy kyk na die middelste een wat so groot soos ’n dukaat is. Dis nie so glansryk soos die ander nie. “Monsieur Da Silva het my die verhaal vertel. Sy familie het alles verloor en sy pa kon net die juwele red. Niemand weet waar die juwele is nie en hierdie halssnoer is die enigste leidraad wat gelaat is. Ramirez se moeder het nie vir hom die geheim daarvan vertel toe sy dit aan hom gegee het nie.” Sy laat die robyne sak en sit hulle langs haar op die bed neer. “Monsieur Da Silva is die derde geslag wat na die juwele soek.”

      André snork deur sy neus.

      “Jy moet die ding dadelik na hom terugneem! Ek is nie bereid om verantwoordelikheid te aanvaar vir iets so waardevols nie.”

      Nicole skud haar kop.

      “Niemand weet dat dit in my besit is nie, Pappa. Ons hoef ons nie daaroor te bekommer nie.”

      Camille hou die robyne voor haar en beskou haarself in die spieël.

      “Hulle pas goed by my. Sal ek hulle ook ’n keer kan dra, Nicole?”

      Nicole kyk vinnig na haar, en skrik toe sy Camille met die halssnoer sien.

      “Moet hulle nie aansit nie, Camille, daar rus ’n vloek op hulle. Niemand wat hulle gedra het, het bly lewe nie … tensy sy die contessa Da Silva was nie.”

      Camille laat hulle vinnig sak.

      “Jy maak seker ’n grap!”

      Nicole skud haar kop.

      “Ek maak nie ’n grap nie. Daar was ’n meisie aan boord van die El Mar, Consuelo, wat my daarvan vertel het.”

      André lag ongeërg.

      “Ek glo tog nie in sulke bog nie. Dis pure bygeloof en onsin.”

      Jeanne knik instemmend.

      “Ek sal sulke praatjies nie in my huis duld nie. Buitendien, daardie matroos het gesê dat jy dit na ’n bal toe moet dra. Die kaptein sal dit seker nie versoek het as hy geweet het van ’n vloek nie.”

      Nicole kyk weg.

      “Ek het dit reeds een keer op die skip aangehad, Mamma.”

      Toe hulle almal ondersoekend na haar kyk, vertel sy hoekom sy na die kaptein se kajuit genooi is. Sy vertel egter nie van wat daarna gebeur het nie. Elke klein besonderheidjie kom tot haar terug en dis asof sy sy lippe weer op hare kan voel, sy manlike nabyheid weer ervaar. Sy bly stil en staar by die venster uit.

      Jeanne kyk agterdogtig na haar dogter.

      “Dit lyk vir my daar het baie meer op die skip gebeur as wat jy ons wil vertel, kind.”

      Nicole kyk vinnig na haar.

      “Nee, Mamma, ek het julle soveel vertel as wat ek kan onthou. Ek wonder maar net oor die robyne en oor die ou vroutjie en haar –” Sy breek die sin stomp af toe sy besef dat sy haar mond verbygepraat het.

      André frons.

      “Is daar nog iets wat jy van ons wil wegsteek?”

      Nicole skud haar kop. Dan vertel sy hulle van Esmara en die ontstellende voorspellings.

      Haar pa is meer ontsteld as wat Nicole verwag het. Hy loop op en neer in die vertrek terwyl hy sy kop aanhoudend skud.

      “Die sigeuners is bekend vir hulle goeie voorspellings! Waarin het jy jou tog begewe, Nicole!”

      “Pappa het my plek op monsieur Da Silva se skip bespreek. Ek het nie veel sê in die saak gehad nie.”

      “Jy kon jouself heeltemal eenkant gehou het!”

      “Sou dit enigsins iets aan haar voorspelling verander het?” wil Nicole weet.

      André gaan staan.

      “Nee, seker nie.”

      Baie later, toe sy weer alleen is, bêre Nicole die halssnoer in haar kleedtafeltjie se laai. Die teenwoordigheid van die robyne bekommer haar. As iemand moet uitvind dat sy hulle in haar besit het, gaan hulle kom rondsnuffel. Sy sal aan ’n beter wegsteekplek moet dink as die laaitjie.

      Die robyne herinner haar ook weer aan Da Silva en sy magnetiese persoonlikheid. Selfs sonder die robyne sal sy hom nooit kan vergeet nie. Sy kan net nie begryp hoekom hy hier na die ligsinnige partytjie van die Franse kom nie. Hoekom bly hy hier as hy weet dat iemand die robyne soek? Kan daar dan werklik ’n leidraad hier in die afgeleë Kaap wees?

      Daar is geen antwoord op enige van haar vrae nie en sy weet ook dat Da Silva haar geen antwoord sal gee nie. Hy is ’n vreemde soort man wat sy eie eienaardige idees het. Sy wonder of hy vir een oomblik gedink het aan die gevaar waaraan hy haar nou blootstel … of het dit eenvoudig nooit by hom opgekom nie?

      Jacques Goucher kom haal Nicole die middag vir ’n rit in sy koets. Jeanne en André besluit om nie saam te gaan nie sodat die man genoeg geleentheid sal hê om Nicole ongehinderd die hof te maak.

      Nicole is spyt dat nie een van haar ouers of Camille saamkom nie. Sy wil nie graag alleen saam met Goucher wees nie.

      Toe hulle ’n hele ent buite die dorp is, draai hy na haar.

      “U vader en ek het reeds die kwessie van ’n troue bespreek.”

      Sy kyk na hom.

      “Dit weet ek reeds.”

      Sy blik rus ondersoekend op haar.

      “U lyk nie baie ingenome nie, mademoiselle. Dis werklik nie vleiend nie.”

      Sy glimlag effens.

      “Dit spyt my as ek u ego ’n knou gegee het, monsieur. Ek stem egter nie altyd saam met my ouers se besluite nie.”

      Hy verstyf en sy teenreaksie is byna onbeskof.

      “U het die onmoontlike gawe om die verkeerde ding op die verkeerde tyd te sê, mademoiselle. As ek my sin kon kry, het ek glad nie getrou nie, maar ek kan ook nie dat die Goucher-familie hier eindig nie. Dit sou baie selfsugtig wees.”

      Sy kyk by die venster uit.

      “Wat u soek, monsieur, is ’n besigheidstransaksie.”

      Hy frons ontevrede.

      “U ouers is angstig dat u moet trou, mademoiselle, en dit is te verstane omdat u reeds twintig is. Gaan u hulle teleurstel?”

      Sy kyk nie na hom nie.

      “Ek dink nie dit is nodig om daardie vraag te beantwoord nie.”

      Hy knik.

      “Dis u keuse, maar ek wil u ook waarsku dat ek nie ’n besonder geduldige man is nie. Ek is verby die stadium dat ek nog aan ’n lyntjie gehou kan word.”

      Sy kyk vraend na hom.

      “Mag ek miskien weet waarom u hoegenaamd bereid is om te wag op my antwoord?”