Nicole gaan terug na haar ouers wat in hulle kamer op haar wag. Sy haal diep asem.
“Wel, ek het my bes gedoen om hom af te skud, maar hy is vas van plan om weer te kom.”
Haar pa is duidelik verlig.
“Dankie tog dat jy nie die hele ding gaan staan en verongeluk het nie!”
Nicole antwoord nie. Sy dink aan Da Silva en die verlange na hom brand in haar. Sy sal hom nie weer sien nie … en weet nie eens wanneer sy skip vertrek het nie. Hy is ’n man wat sy nooit sal kan vergeet nie. Daar is iets in sy ruwe wildheid wat haar soos ’n magneet trek. Sy is soos die mot wat al om die kers vlieg en eendag sal die vlam haar vlerkies skroei. Da Silva het haar nader en nader getrek tot hy die punte van haar vlerke gebrand het … Dis ’n letsel wat vir altyd sal bly en sy sal nooit weer kan vlieg nie. Geen ander man sal ooit weer dieselfde fladdering in haar hart kan bring of dieselfde verlange kan begin nie.
Nicole voel of sy vasgedruk word in die klein ruimte van die herberg. Haar pa is vir die week weg na die plasie waar hy onverpoosd werk om die huis klaar te maak. Ook Camille raak verveeld in die herberg en na ’n paar dae is madame Rousseau verplig om saam met haar dogters ’n ent deur die strate te gaan stap.
Sy hou hulle by haar soos ’n hen haar kuikens en kloek bekommerd wanneer dit lyk asof een ’n bietjie te vinnig stap, of dalk agter raak.
Hulle bly weg van die hawegebied omdat dit daar gans te gevaarlik vir drie vroue alleen is. Hulle stap tot by die kasteel en dan begin hulle die terugtog na die herberg. Die hele tyd gesels hulle oor dingetjies wat net hulle drie raak.
Nicole luister met ’n halwe oor. Sy wil wegkom na die hawe om te sien of die El Mar al vertrek het, maar sy weet ook dat daar geen kans is dat sy dit sal regkry nie. Dit is buitendien sinloos om ’n besoek aan die hawe te bring. Wat sal sy daar vind? Die El Mar is dalk al weg na Oos-Indië. Miskien is dit nog in die hawe en dit sal haar ook nêrens bring nie. Tog wil sy net nog een keer na die skip kyk en onthou van al daardie lang dae aan boord, dae waarin sy geleer het wat dit is om werklik lief te hê.
Sy dink aan Esmara en sidder liggies. Sy het niemand nog vertel van die geheim van die robyne nie. Nie een van die gesin weet van Consuelo se dreigemente of van Esmara se somber voorspellings nie. Grotte en kettings … dit bly haar die hele tyd by en sy wonder wat die ou vrou daarmee bedoel het. ’n Man met bloed aan sy hande, dink Nicole. Dis wat Esmara gesê het. Sy het ook gepraat van ’n grot met ’n deur vol robyne … ’n nag sonder maan of sterre, en daar sal kettings wees. Watse kettings? Sy sal vir baie lank nie veilig wees nie, dit is wat Esmara gesê het, en dit sal die einde van ’n lang pad vir almal wees. Sy skud haar kop stadig. Sy verstaan niks van die voorspelling nie.
“Is daar iets verkeerd?” dring haar moeder se stem tot haar deur.
Nicole kyk vinnig na haar.
“Nee, Mamma, ek dink maar sommer.”
“Jy sal monsieur Goucher se aanbod moet aanvaar, Nicole,” sê haar ma ernstig. “Camille en Paul le Fèbre sal ook trou en hulle sal tot jou huwelik moet wag.”
Nicole kyk verbaas na haar ma.
“Maar dis mos nie nodig nie, Mamma.”
“Dis soos dit hoort,” sê haar moeder beslis. “Die oudste dogter is veronderstel om eerste te trou.”
Nicole sug liggies.
“Mamma, julle gaan my tog sekerlik nie in ’n huwelik dwing net ter wille van wat die ander mense gaan sê nie. Ek hou nie van Jacques Goucher nie en ek wil nie met hom trou nie.”
“Hy is nogal aantreklik,” sê Camille. “Ek sou nie omgegee het as hy in mý belanggestel het nie.”
Jeanne kyk geskok na Camille.
“Hoe kan jy sulke dinge praat! Jy gaan met Paul le Fèbre trou! Jy kan nie nog na ander mans wil kyk nie!”
Camille haal haar skouers op.
“Paul is nog baie jonk, Mamma, hy is nie so gesofistikeerd soos monsieur Goucher nie. Ek hou van ouer mans.”
“Mon Dieu! Julle twee sal my nog voor my tyd oud maak!”
Hulle loop ’n hele ent in stilte. Nicole kyk telkens in die rigting van die hawe, maar sy kan nie tussen die maste van die skepe die El Mar onderskei nie. Daar lê vier groot skepe in die hawe en enigeen kan die El Mar wees.
Dan ruk sy skielik tot stilstand toe ’n figuur in ’n systraat haar aandag trek.
“Pedro!” roep sy uit van vreugde.
Die Spanjaard steek onseker vas en dan kom hy met ’n breë glimlag na haar aangestap.
“Nicole, ek verbied jou om met die vent te praat!” sis madame Rousseau ontsteld.
Nicole hoor haar skaars. Sy stap die matroos tegemoet en groet hom laggend.
“Is julle nog nie weg nie?”
“Nee, señorita, die kaptein het nog ’n paar sake wat hy in die Kaap wil afhandel voor ons vertrek. Ek kan nie sê dat ek jammer is nie. Dis lekker om ordentlike kos te kan eet.”
“En Consuelo en Esmara?”
Hy haal sy skouers op.
“Hulle is maar hier iewers.” Hy kyk kopskuddend weg. “Ek weet sowaar nie wat in señor Da Silva ingevaar het nie. Hy is so iesegrimmig soos ’n leeu wat gewond is. Selfs ek waag dit nie eens om meer grappies met hom te maak nie.”
Jeanne kom nader en Nicole probeer aan iets dink om vir Pedro te sê.
“Sê vir die kaptein … sê vir hom dat …”
“Nicole, kom onmiddellik hier!”
Sy kyk vinnig oor haar skouer terug.
“Ek kom, Mamma.”
“Sê vir hom enigiets, Pedro!” Dan draai sy vinnig om en gaan terug na haar moeder.
Pedro staan haar onbegrypend agterna en kyk. Dan draai hy om en stap verder met die nou straatjie weg.
Jeanne is hewig ontsteld.
“Hoe kón jy so iets doen! Monsieur Goucher kon hier verbygekom het!”
“Monsieur Goucher is veilig op die Fransche Hoek, Mamma.”
“Dit bly onvergeeflik! Die man is ’n matroos!”
Nicole kyk na haar ma.
“Ek ’n wonderlike vriend, Mamma, die beste wat daar is.”
Jeanne snak na haar asem en Camille fluister: “Is jy nie bang vir hulle nie?”
Nicole draai na haar suster.
“Hulle is mense, Camille, nie wilde diere nie,” antwoord sy skerp.
Hulle loop in doodse stilte huis toe. Niemand sê ’n woord voordat hulle die herberg bereik het nie.
Saterdagmiddag huur André ’n koets waarin hy en sy gesin na die bal moet vertrek. In hulle kamers in die herberg is dit een hele deurmekaarspul. Camille soek na haar linte en Nicole sukkel om haar tabberd agter vas te kry. Jeanne sorg dat sy eerste aangetrek is sodat sy haar dogters kan help. Sy praat die hele tyd berispend met Nicole omdat sy haar nog nie die gesprek met die Spanjaard vergewe het nie. Dan gaan sy na Camille om die meisie met haar hare te help.
Nicole maak ’n draai voor die spieël om te sien hoe sy lyk. Die tabberd van roomkleurige sy sit pragtig aan haar. Die romp klok wyd uit na agter en die boesel en los bane van die borok is weelderig met groen en goue gare geborduur. Om haar middel is ’n lint van goue satyn en die wye hals is afgerond met ragfyn kant. Tog is daar geen vonkeling in haar groen oë nie. Sy sien geensins uit na die bal vanaand nie. Die enigste man wat sy ooit bemin het, sal nie daar wees nie.
Hulle ry met die koets na die De Villiers’s se huis net buite die dorpie. Daar is reeds baie van die ander gaste en Nicole verkyk