dat daar ’n vloek op die robyne rus. Is dit waar?”
Sy gesig verstrak.
“Ek glo dit nie. Sy het jou seker ook vertel dat nege mense al gesterf het in die soektog na die geheim van die robyne?”
Nicole knik.
“Sy het, ja.”
“Maar sy het jou nie vertel dat die eerste een ’n ou man was wat in elk geval reeds aan ’t sterwe was nie. Twee van die nege is in swaardgevegte dood, ’n ander het verdrink toe die skip waarmee hy gereis het, gesink het. Drie van die oorblywendes het in oorloë gesterf en die ander twee is twee jaar uit mekaar dood aan pokke. Daar is niks onnatuurliks omtrent enigeen se dood nie. Hulle dood het niks met die robyne te doene gehad nie.”
Nicole glimlag.
“Dis in elk geval gerusstellend. Maar sy het nog iets anders gesê.” Nicole aarsel en sê dan: “Dis net vir die contessa Da Silva veilig om die robyne te dra. Ek het hulle aangehad en sy sê dat die vloek nou vir my geld.”
“Dis louter onsin!” sê hy woedend. Sy oë is koud en hard. “Francesca het ook met daardie lawwe idee by my gekom!” Hy bly skielik stil asof hy te veel gesê het.
“Ek weet van Franscesca de Cabreira,” sê sy sag. “Ek weet dat sy dood is voordat julle kon trou. Ek is jammer as ek daardie herinnering teruggebring het.”
Hy kyk vinnig na haar.
“Dis iets van die verlede. Sy is al meer as vier jaar dood en ek kan haar nie terugbring nie.”
“Ek is nogtans jammer. Ek wou net die versekering hê dat die storie onsin is.”
Sy aantreklike gesig het ’n ysige uitdrukking.
“Ek sal jou vertel hoe sy gesterf het en dan sal jy verstaan hoekom ek sê dat die vloek net ’n storie is! Sy was nie baie gesond toe ek aan haar verloof geraak het nie. Sy het by die dag meer agteruitgegaan en is uiteindelik dood. Sy het nooit die robyne gedra of veel van hulle geweet nie. Hoe kon dit enige invloed op haar lewe gehad het?”
Nicole bly stil. Sy onthou dat Consuelo erken het dat dit Esmara was wat Franscesca vermoor het, maar sy weet ook dat sy dit nooit aan Ramirez sal kan vertel nie. Dis dinge wat verby is en sy wil nie hê dat hy nou, vier jaar later, van voor af oor sy geliefde moet rou nie. Hy sal Esmara en Consuelo van sy skip afstuur en al is sy ’n bietjie bang vir die ou vrou, sal sy nie graag wil sien dat sy weer haweloos gelaat word nie.
“Ek verstaan, monsieur,” sê sy eindelik. Laat dit wat in die verlede gebeur het, met rus gelaat word, dink sy.
“Oormôre bereik ons Tafelbaai en dan is dit adios, señorita.”
Sy kyk weg.
“Dit klink so finaal, monsieur.”
“U sal teruggaan na die lewe wat u ken, señorita. Die lewe op ’n skip is nie vir ’n vrou bedoel nie.”
Sy glimlag half treurig.
“Nee, seker nie.”
Hy kyk na haar.
“U klink nie baie vrolik nie, señorita.”
“Miskien is ek nie, monsieur. Die Kaap is ’n vreemde plek vir my en dalk keer ek nooit terug na Frankryk nie.”
“Wil u?”
Sy haal haar skouers op.
“Dis nou te laat om daaroor te wonder, monsieur. Ek kan nie met my verstand in die Kaap en my hart in Frankryk leef nie. Dan sal ek nooit my nuwe tuiste kan aanvaar nie. Frankryk mag nie meer vir my bestaan nie.”
“Hoekom gaan u dan Kaap toe?”
Sy aarsel net ’n oomblik voordat sy hom antwoord: “My pa het alles in Frankryk verloor. Ons kon nie ’n nuwe begin daar maak nie, want ons het niks gehad om dit mee te doen nie. Die Kaap was ons enigste uitweg en ons moes die kans waag. Hy het net genoeg gehad om vir ons reis te betaal … daarom kon hulle nie vir my wag nie. Hulle sou nie hulle geld terugkry wat hulle reeds betaal het nie.”
“Ek sien.” Hy is baie lank stil voordat hy sê: “Ek hoop dat u gelukkig sal wees in die Kaap. Daar is baie ander Franse en dit sal nie moeilik wees om vriende te maak nie.”
Sy glimlag effens om haar gevoelens weg te steek.
“Ek hoop u is reg, monsieur. Esmara se voorspellings het my ’n bietjie ontsenu en dit help nie juis om my te laat uitsien na my verblyf in die Kaap nie.”
“Ek sal sorg dat sy u nie weer lastig val nie.”
Nicole frons liggies.
“Ek kry haar jammer. Sy en Consuelo is die enigste oorblywendes van hulle stam. Hulle het nie ’n tuiste waarheen hulle kan teruggaan nie.”
“Daar is plek vir hulle in Spanje, maar hulle verkies om te reis. Dit was nog maar altyd in die Gitanos se bloed. Hulle was ’n nomadiese volk sedert hulle hul ontstaan gehad het.”
Later, toe hy haar weer alleen laat, kyk sy hom half verwonderd agterna. Hy was so pas ver van die wilde seeman wat sy so goed leer ken het. Sy kon hom nou eerder as ’n heer bestempel. Sy skud haar kop stadig. Sy sal hom seker nooit verstaan nie.
Die volgende is die laaste dag op die oop see aan boord van die El Mar. Die dag daarna sal hulle Tafelbaai bereik en as alles goed gaan, sal hulle voor donker in die baai kan anker gooi.
Daar is ’n opgewekte stemming onder die matrose noudat hulle die einde van hulle reis bereik het. Da Silva beplan om ’n rukkie in Tafelbaai te bly voordat hulle die lang reis na Oos-Indië begin. Dit was ’n vermoeiende rit tot hier en die matrose het ’n bietjie afleiding en gesonde kos nodig.
Nicole pak haar reissakke met ’n tikkie hartseer in. Daar was benoude oomblikke op die skip, maar daar was ook die mooi oomblikke wat sy nooit sal vergeet nie. Van die matrose wat sy leer ken het, het in die geveg met die seerowers gesterf en nou voel sy haar deel van hierdie mense, omdat sy hulle makkers se dood aanskou het. Elkeen van hulle het vir haar ’n kosbare individu geword en nie maar net nog ’n matroos nie. Ook hulle het hulle hoop en verwagtings, geliefdes en gesinne na wie hulle verlang.
Die son begin stadig water trek, gooi sy geel goud mildelik oor die see uit, baai die skip daarin en vonkel in die kruine van die golwe. Dis ’n mooi, weemoedige tyd van die dag en Nicole gaan oudergewoonte na die dek om na die son te kyk.
’n Koel wind streel haar wange toe sy uitkom. Die matrose is almal op die dek bymekaar en op die voorkasteel staan Da Silva en Consuelo en afkyk op die bedrywighede onder hulle.
’n Matroos begin op sy kitaar te speel en die ander klap hulle hande ritmies saam. Dis ’n vreemde, vrolike ritme wat ’n mens onwillekeurig jou voete liggies laat stamp op die maat daarvan. Twee jong matrose begin ’n wilde dans, hulle tol in die rondte, spring in harmonie heen en weer, klap hulle hande en pronk soos swierige hane al om mekaar.
Nicole staan betowerd na hulle en kyk. Hulle volmaakte ritme en sinkronisasie verstom haar. Hulle dans nie op die maat van ’n lied nie. Dis net die ritme wat op die kitaar uitgetokkel word en al vinniger en vinniger word. Hulle voete stamp met ’n ongelooflike snelheid op die dekplanke en dan skielik, sonder waarskuwing, hou die dans op. Die Spanjaarde lag en klap hande.
Consuelo kom heupswaaiend nader. Sy roep die kitaarspeler iets in Spaans toe en hy lag. Dan buig hy weer oor die kitaar terwyl Consuelo vir haar ’n dansmaat uitsoek.
Nicole staan eenkant teen die reling die dansers en dophou.
Da Silva verlaat die voorkasteel en kom sluit by Nicole aan. Hy staan ook ’n rukkie swyend na die dans en kyk voordat hy na haar draai: “Sy dans die Seguidilla Gitanas. Dis die sigeuners se variasie van die Andalusiese dans.” Hy lag. “Sy sal enige Spaanse danseres die loef afsteek met haar kastanjette.”
“Ek het nog net een keer tevore Spaanse danse gesien, monsieur. Ek weet niks daarvan af nie.”
“Dis ook nie nodig om iets