Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 5


Скачать книгу

mense om hom en raak nooit betrokke nie. Sou hy dan werklik koud soos graniet wees met geen menslike emosies nie?

      Nicole gaan eers twee dae later weer na die dek. Teen hierdie tyd is die dek reeds skoongeskrop en net die bloedkolle op die seile getuig van die geveg wat daar plaasgevind het.

      Langs die weskus van Afrika lê die woestyn ononderbroke en onherbergsaam vir so ver as wat die oog kan sien. Oor ’n paar dae sal hulle die Kaap bereik en dan sal hierdie nagmerrierit ook tot ’n einde kom. Tog sien Nicole nie uit na die einde van die reis nie. Ramirez da Silva sal vertrek en dan sal sy hom nooit weer sien nie. Sy sal die ruwe matrose en die eenvoudige Pedro ook mis. Hierdie lewe is ver verwyder van die soort waaraan sy gewoond is en hoewel dit haar aan die begin geskok het, het sy stadigaan daaraan gewoond geraak en sy wonder hoe sy weer by die fyn dametjies gaan aanpas.

      Die wilde lewe op die see het sy eie bekoring, dink sy. Die gedurige moontlikheid van gevaar verskerp ’n mens se sintuie en jou gevoel vir waardes verander. Sy sal nooit weer kan sit en gesels oor die nuwe modes of wat dié of daardie een aangehad het nie. Dit is net nie meer vir haar van belang nie. Die ses weke wat sy nou al op die El Mar is, het baie dinge in haar verander. Voorheen was sy op die uitkyk vir ’n man wat vir haar kan sorg sodat sy in gerief kan lewe, maar dit is nie meer die geval nie. Sy sal nooit kan trou met ’n man wat sy nie liefhet nie … en sy het Ramirez da Silva lief.

      “Jy het weer ’n keer sy lewe gered,” praat Consuelo agter haar.

      Nicole draai om.

      “Dit was toevallig.”

      “Dit bind hom aan jou.” Consuelo se stem is vol donker geheimsinnigheid.

      Nicole weier om deur die geheimsinnigheid ontstel te word.

      “Dis nie waar nie, en jy weet dit.” Sy kyk weg. “Dit was bloot ’n daad van menslikheid. Sonder die kaptein sou ons nou in die hande van die rowers gewees het.”

      “’n Mens se dade bind jou aan ander. Hy is nie een van jou volk nie en daarom is die bande wat jy smee gedoem om te vernietig. Jy gaan hom sowel as jouself in die proses vernietig.”

      Nicole draai terug na Consuelo.

      “Jy is ook nie van sy volk nie. Jou voorvaders kom uit Egipte.”

      Consuelo se donker oë is hard en koud.

      “Ons is van nêrens en ons het nie ’n vaste tuiste nie. Die Raj van my stam is in Engeland uitgemoor en dus is ek nou vry om na ’n tuiste te soek. Ek het geen bande meer iewers nie behalwe met die Romani … hulle is nog my volk.”

      Nicole kyk stip na Consuelo.

      “Jý sal hom ook kan vernietig … Jy wil almal van hom af weghou, maar jy kan nie. Hy het ook bande waaraan hy getrou wil bly en jy sal dit nie toelaat met jou jaloesie nie. Jy en Esmara kan nie ál die Franscesca de Cabreiras van die wêreld doodmaak nie.”

      Consuelo verstyf.

      “Dit was nie ek nie … Dit was Esmara.”

      “Jy het haar aangesê om dit te doen.”

      “Ek het nie. Esmara was bang dat ons weggejaag sou word as Ramirez met Franscesca trou. Sy het net ons toekoms verseker.”

      Nicole glimlag effens.

      “Het sy? Daar sal geen rus vir haar wees voordat jy en Ramirez getroud is nie. Franscesca de Cabreira sal nie die laaste een wees nie.”

      Consuelo kyk ondersoekend na Nicole.

      “Sy het nog niks aan jóú gedoen nie.”

      Nicole haal haar skouers op.

      “Miskien omdat ek nie in die kaptein belangstel nie.”

      Consuelo sit haar hande op haar heupe.

      “Jy het die robyne gedra.”

      Nicole kyk verbaas na haar.

      “En hoe weet jy dit?”

      “Esmara weet alles. Daardie robyne bring ongeluk. Nege mense het al gesterf in hulle soektog na die geheim. Dis noodlottig om hulle te dra as jy nie die contessa Da Silva is nie. Dis waarom Esmara haar nie oor jou bekommer nie. Die robyne sal hulle wraak neem.”

      ’n Koue rilling gaan langs Nicole se ruggraat af.

      “Dis pure bygeloof,” sê sy, maar sy klink vir haarself nie baie oortuigend nie.

      Consuelo glimlag stadig.

      “Jou liggelowigheid gaan jou nog duur te staan kom. Franscesca het ook gedink dat dit bygeloof was. Tog het sy geweier om die robyne te dra.”

      Nicole glimlag.

      “Wel, daar is niks wat ek nóú meer daaraan kan doen nie, is daar? Ek het die robyne gedra en ons sal maar moet sien wat gebeur.”

      “Esmara is altyd reg … Jy sal sterf as die geheim nie ontrafel word nie … en hoe gaan jý dit doen as nege ander voor jou dit nie kon doen nie?”

      Consuelo laat Nicole op die dek agter met ’n koue gevoel van onheil in haar binneste. Moet sy na Ramirez gaan en sy raad vra? Sou hy dalk weet dat daar ’n vloek op die robyne rus? Maar sy glo nie dat hy hom aan so iets sal steur nie. Hy is nie die soort man wat hom deur bygelowe sal laat voor-skryf nie. Sy skud die lastige gedagte van haar af. Dis alles net praatjies van ’n seniele ou vrou. Esmara was wel reg wat die geveg met die rowers betref het, maar wie sê sy is altyd reg soos wat Consuelo wil voorgee?

      Pedro moes baie goed vir sy meester gesorg het, want Da Silva se wonde neem nie baie lank om te genees nie. ’n Hele paar van die matrose wat tydens die geveg gewond is, is weer op die been en kan voortgaan met hulle take. Daar is nog net drie wat nie kan opstaan nie en dit kan dalk lank neem voordat hulle weer fiks sal wees.

      Nicole is nou elke middag op die dek van die skip. Daar is vir haar nie veel in haar kajuit te doen nie en die spasie is te min om genoeg lewensruimte te bied. Hier op die dek onder die warm son voel sy beter en kan sy dink aan wat daar vir haar in die Kaap voorlê.

      Esmara kry haar een middag daar. Nicole probeer wegkom, maar die ou vroutjie keer haar voor. Sy hou haar knopperige hand na die meisie uit.

      “Ek wil sien wat die toekoms vir jou inhou,” sê sy in haar krakerige stem. “Gee my jou hand.”

      Nicole huiwer. Sy wil wegvlug, maar sy wil ook graag weet wat die ou vrou te sê het … veral na wat Consuelo aan haar gesê het.

      Esmara draai Nicole se hand met die palm na bo. ’n Lang ruk tuur sy na die fyn lyne daarop, haar gesig vol plooie van konsentrasie. Eindelik kyk sy op na Nicole.

      “Ek sien ’n man in jou lewe met bloed op sy hande … Ek sien ’n donker grot met ’n deur vol robyne … Ek sien ’n nag sonder maan of sterre en swaar kettings … Jy gaan donker ure tegemoet, donker, donker ure … Vir baie lank sal jy nie veilig wees nie … as jy dit gaan oorleef …” Daar is skielik ’n vreemde lig in die ou vrou se oë toe sy wegkyk. “Dis die einde van ’n lang, lang pad … vir almal van ons.”

      Sy draai vinnig om en loop skuifelend oor die dek na die ingang. Haar rug is ’n bietjie meer geboë as voorheen, die skouertjies krommer asof die las wat sy dra, swaarder geword het.

      ’n Sagte lag laat Nicole vinnig omdraai. Da Silva staan geamuseer na haar en kyk.

      “Het sy jou laat skrik?”

      “Sy het vreemde dinge gesê … oor grotte en kettings.”

      Hy lag weer.

      “Steur jy jou dan aan haar gebrabbel?”

      Sy haal diep asem.

      “Ek weet nie meer wat om te glo nie. Sy was reg oor die geveg … so miskien kan sy tog in die toekoms sien.”

      Hy knik.

      “Dit weet ek. Sy het al baie akkuraat voorspel, maar of sy sommer so uit die vuis vir iemand kan vertel dat sy weet wat met hom of haar gaan gebeur, dit