ander tuiste nie.”
Toe hy weer van haar af wegstap, frons Nicole. Da Silva het aan haar ’n heel eenvoudige verduideliking vir Consuelo se teenwoordigheid gegee. Dit klink vir haar baie meer aanvaarbaar as die bangmaakstories wat Pedro opgedis het. En tog wonder sy … steek daar nie in werklikheid veel meer in hulle verhouding as wat hy wil erken nie?
Sy bly op die dek staan en kyk hoe die matrose die seile verstel vir hulle vaart na die vasteland en na Porte Pongara. Sy sien daarna uit om weer vars vleis en groente te kan eet. Dis nou al ’n hele paar dae wat sy maar net peusel aan die brousel wat voorgesit word. Dit is souterig en onsmaaklik.
Sy word skielik uit haar dagdromery wakker geskud.
“Seerowers!” gil die matroos uit die kraaines.
’n Oomblik lank staan almal versteen en dan begin hulle heen en weer hardloop oor die dek.
Da Silva hardloop na die voorkasteel waar hy sy teleskoop voor sy oë bring en aandagtig na die skip op die horison staar.
“Vol seile na die hawe!” skreeu hy op die matrose. “Ons moet hulle probeer ontduik! Gou speel!”
Nicole staar na hom. Dit kan nie waar wees nie, dink sy paniekerig. Dit was haar een groot vrees vir die reis en nou gaan dit bewaarheid word. Sy kyk verdwaas na die skarrelende matrose en Da Silva wat bevele uitskree. Dan kom hy haastig na haar.
“Jy moet na onder gaan, señorita. Daar sal jy veilig wees as dit op ’n skermutseling uitloop.”
“Gaan dit ’n geveg wees?”
Hy knik somber.
“Ons sal nooit die hawe haal voordat hulle ons bereik nie. Gaan nou na onder en moet onder geen omstandighede na die dek kom nie. Is dit duidelik?”
Sy knik stom en loop dan na die trap wat na die ruim lei. Daar draai sy nog een keer om en sien dat Da Silva reeds van haar bestaan vergeet het. Sy sien die son op sy wit hemp, sy kaplaarse met die silwer gespes en sy aantreklike, bruingebrande gelaat. Gaan hy dit oorleef? Of gaan hulle hom later tussen die dooies op die dek van die skip kry en sy mantel oor sy gesig gooi? Sy ril en gaan die ruim binne. Sy moet daardie gedagte uit haar kop ban. Daar is niks wat sy daaraan sal kan doen nie.
4
Die seerowerskip kom vinnig nader. Dis gou duidelik dat hulle wil aanval en Da Silva gee die bevel dat die twee kanonne in posisie geplaas moet word. Dan gaan hy terug na sy uitkykpos en bestudeer die ander skip aandagtig. Hy kan hulle astrantheid nie begryp nie. Dié klomp is gewoonlik uitgeslape en baie versigtig dat die prooi nie lont ruik voordat hulle taamlik naby is nie.
Die wind skep die El Mar se seile en bol hulle uit. ’n Ruk lank vaar hulle so voor die rowerskip uit en kan die matrose aan boord weer asem skep. As hulle Porte Pongara wil bereik, moet hulle roer. Op die oomblik seil die skepe min of meer teen dieselfde spoed, hoewel die El Mar ’n bietjie stadiger is as gevolg van die vrag aan boord. Die probleem gaan later kom, wanneer hulle dwars teen die wind moet seil om die land te bereik. Hulle spoed sal vinnig afneem en dit sal die rowerskip die geleentheid gee om hulle in te haal.
Pablo hou egter die stuur in een rigting. Hy besef maar te goed dat dit hulle enigste kans is om van die rowerskip af weg te kom. Land toe kan hulle nie vaar nie, want dit sal die geveg net bespoedig.
Nicole kyk bekommerd by die patryspoort uit. Daar buite lyk die see kalm en dit kon ’n ideale dag gewees het om hulle reis voort te sit en ’n dag of wat van die verlore tyd in te haal. Sy besef ook teen hierdie tyd dat hulle nie meer na Porte Pongara gaan nie. Hulle sal die soutvleis en droë bone maar nog ’n rukkie langer moet verduur.
Haar kajuitdeur gaan skielik oop en Consuelo kom in.
Nicole kyk verbaas na haar.
“Wat is verkeerd?”
“Ek het gedink dat jy dapper is, maar nou sien ek jy kruip weg.” Die minagting is duidelik in Consuelo se stem te bespeur.
“Ek kruip nie weg nie. Ek gehoorsaam net bevele.”
Consuelo lag sonder vreugde, veragting op haar gesig te lees.
“Dan is hy bekommerd oor jou? Hy het nie die moeite gedoen om mý na my kajuit te stuur nie.”
Nicole haal haar skouers op.
“Miskien kan jy jouself verdedig … ek kan nie. Ek het nog nooit in my lewe met iemand ’n geveg aangeknoop nie. Ek sal nie weet hoe om te begin nie.”
“’n Mens begin nie iewers om jou eie lewe te red nie. Jy veg met al die vuil maniere wat jy aan kan dink.” Sy hou haar kop skeef en beskou Nicole. “Verwag jy van hom om jóú lewe te beskerm?”
Nicole kyk onbegrypend na haar.
“Dis belaglik, Consuelo, jy kan nie wil hê dat ons daar op die dek moet uitgaan en soos twee matrose die swaard moet opneem nie. Dis ’n geveg vir mans hierdie. Bly daaruit.”
“Jy’s bang,” tart Consuelo haar.
Nicole haal haar skouers op.
“Enigeen is bang daarvoor om deur ’n seerower gevang of gedood te word. Daar is niks lafhartig daaromtrent nie.”
“Jy maak op Ramirez staat om jou lewendig hier uit te kry,” antwoord Consuelo beskuldigend.
Nicole vererg haar.
“Hy is die kaptein van die skip en ek verwag van hom om my lewe te beskerm, ja! Is daar nog iets?”
Daar is skielik ’n oorverdowende slag. Een van die kanonne word afgevuur. Die twee vroue luister na die gefluit van die kanonkoeël. Hulle is albei snaarstyf gespanne terwyl hulle in hulle gedagtes die vlug daarvan volg. Dit plons iewers in die see ver van die teiken.
“Hulle skiet maar vrot,” meen Consuelo.
“Die kanonne moet eers op die teiken ingestel word,” sê Nicole kalm. “Dit neem ’n rukkie.”
Nog ’n kanon bulder en kort daarna ’n ander. Teen hierdie tyd kan hulle egter die geraas op die rowerskip hoor.
“Alle matrose op die dek!” bulder Da Silva en Pablo laat die wiel net daar. Hy gryp na sy swaard en hardloop op die dek uit.
Nog ’n kanon bulder en die koeël tref die agterstewe van die ander skip. Aan boord van die El Mar juig die matrose. Hulle weet hoe moeilik dit is om die bewegende skip raak te skiet.
Die rowerskip is kleiner as die El Mar en beweegliker. Dit is ’n tweemasbrik met ’n stomp voorkasteel. Sy besonderse beweeglikheid het hy hoofsaaklik te danke aan sy groot mas wat langskeeps getuig is. Op dié manier kan hy ten volle gebruik maak van die dwarswinde wat vir die galjoen gevaar inhou.
Da Silva besef dat indien hulle die hawe probeer haal, hulle gouer in ’n geveg betrokke sal raak. Hy stuur Pablo terug na die stuur en beveel hom om die skip reg voor die wind in seil te hou.
Nicole kan die rowerskip nou deur die patryspoort sien. Sy skrik toe sy sien hoe naby hy is.
Consuelo luister skewekop na die gebulder van die kanonne. Nog net drie koeëls het hulle merk getref en dit lyk nie asof dit veel skade aan die brik aanrig nie. Sy draai skielik om en gaan weer uit die kajuit.
Nicole voel vasgekeer in die klein kajuit. Hier sal sy geen kans hê as die rowers na die ruim kom nie, maar, dink sy, as hulle die ruim haal, is die geveg in elk geval vir die El Mar verby.
Sy onthou wat Esmara die oggend gesê het en sidder liggies. Die ou vrou was reg in haar sinistêre voorspelling. ’n Hand-tot-hand-geveg is nou onvermydelik en net ’n kwessie van tyd. Die galjoen vaar teen volle spoed, maar die kleiner brik gaan hom beslis nie laat afskud nie. Hy kom astrant en doelgerig nader.
Sy kan die geraas buite op die dek hoor. Die matrose skreeu op hulle teenstanders in ’n soort poging om hulle eie veglus op te sweep. Dan word Nicole byna van haar voete geslinger toe die twee skepe teen mekaar stamp en die groot gryphake oor die reling gegooi word. Haar hart bons benoud