die kastanjette onophoudelik skril om net so skielik weer stil te raak, sodat net die geklap van die skoene op die dek gehoor kan word. Nicole kyk na Da Silva.
“Ons was ses weke op die see en hulle het nie eens een keer gedans nie.”
“Môre vaar ons Tafelbaai binne en dis ’n goed genoeg rede tot vrolikheid. Vyf van my manne het in die geveg gesneuwel, maar die ander treur nie baie lank nie. Hulle lewe nog en dit is vir hulle die belangrikste.”
“Wat het van die matroos geword wat gekielhaal is?”
“Hy het dit oorleef … Hy sal nog ’n goeie matroos word as hy ’n bietjie dissipline leer.”
“Jy het ’n vreemde manier om mense te dissiplineer.”
“Soms is dit nodig.”
Hulle staan ’n lang ruk in stilte en kyk na die dans van Consuelo en haar maat. Oplaas kom dit tot ’n einde. Consuelo kom reguit in hulle rigting gestap, haar oë gloeiend van woede op Nicole gerig. Dan kyk sy na Da Silva en praat vinnig met hom in Spaans. Hulle het ’n kort, hewige woordewisseling en dan draai Da Silva om en stap van hulle af weg.
Nicole kyk onbegrypend van hom na Consuelo.
“En nou?”
“Ek het nie nodig om aan jou te verduidelik waaroor ons gepraat het nie,” sê Consuelo uitdagend.
Nicole haal haar skouers op.
“Ek wil ook nie weet waaroor julle gepraat het nie.” Dan keer sy haar rug op Consuelo en gaan terug na haar kajuit.
Die volgende oggend gaan sy vroeg op die dek uit. Dis ’n mooi, stil dag in Oktober en ’n ligte wind dryf hulle na die vasteland wat net ’n blou streep op die horison is.
Nicole verwonder haar aan die plat berg en die natuurlike holte wat die hawe vorm. Hierdie wêreld gaan my tuiste wees van nou af, dink sy vol onsekerheid. Sou haar ouers weet dat die El Mar netnou in die hawe sal wees? As hulle haar nie kom ontmoet nie, sal dit vir haar so goed soos die einde van die wêreld wees.
Hulle vaar die hawe binne en ’n rukkie later hoor sy die ketting van die anker oor die rand skuur. Die seile word ingehaal en die dek in orde gebring.
Nog bly sy by die reling staan en kyk na die vreemde land met sy dieppers berge, smaraggroen plantegroei en haelwit strande. Dis ’n mooi land, byna so mooi soos haar geliefde vaderland. Miskien sal sy hier gelukkig kan wees …
5
Nicole stap aan wal. Die laaste wat sy van Ramirez da Silva sien, is toe hy op die voorkasteel gaan staan en ingedagte oor die nedersetting kyk. Hy kyk meteens af en hulle oë ontmoet en hou mekaar gevange vir ’n paar lang sekondes. Dan kyk hy weg en verlaat die voorkasteel.
Nicole staar nog ’n rukkie lank na die plek waar hy gestaan het, verbeel haar dat sy hom nog daar sien staan met die ligte wind in sy hare, sy wit syhemp wat voor tot in die middel oop is en sy hand wat liggies op die hef van sy swaard rus. Maar hy is nie meer daar nie. Sy sal hom dalk nooit weer sien nie. Die gedagte maak haar ongelukkig. In die ses weke wat verby is, het hy ongemerk in haar hart ingekruip, al was dit teen haar beterwete. Nou staan sy hier met ’n verlore verlange in haar na ’n man wat aan niemand kan behoort nie.
Sy draai stadig om en begin tussen die mense na haar ouers soek. Dan sien sy haar moeder raak en borrel die verligting en vreugde deur haar.
“Mamma!” roep sy uit, tel die soom van haar tabberd op en hardloop na waar haar ouers en suster staan en wag.
“Nicole!” roep haar ma uit en dan is hulle bymekaar.
Nicole omhels elkeen afsonderlik en lag en huil deurmekaar.
“Ek was ses weke lank bang dat julle nie hier sou wees nie.”
André Rousseau sit sy arm glimlaggend om sy dogter se skouers.
“Ek mag ’n swak geheue hê, maar ek sal jou mos nooit vergeet nie, chérie. Hoe was die reis?”
“Ek het lewendig hier uitgekom, Pappa.”
Camille, Nicole se suster, kyk met groot oë na haar.
“Het julle storms teëgekom?”
Nicole glimlag.
“En seerowers.”
Jeanne Rousseau, Nicole se moeder, roep verskrik uit.
“Jy moes nooit met die El Mar gereis het nie,” sê sy ontsteld. “Ek wou niks daarvan hoor nie, maar jou pa het gesê dat hy die kaptein van die skip kon vertrou.”
Nicole kyk na haar.
“Hy is ’n sonderlinge mens, Mamma. Ek dink Pappa het rede gehad om hom te vertrou.”
“Voilá!” roep André uit. “Daar hoor jy dit nou self, Jeanne. Nicole was heeltemal veilig in sy hande. Hy het my belowe dat hy na haar veiligheid sou omsien.”
Camille trippel opgewonde rond.
“Vertel ons van die seerowers!”
Jeanne skud haar kop.
“Nicole is moeg en ek dink ons moet eers by die huis kom voordat ons oor seerowers begin gesels.” Sy kyk om haar rond. “Waar is jou bagasie dan, Nicole?”
André gaan haal haar trommels en reissakke en neem dit na die wagtende koets.
Nicole kyk verbaas na die rytuig.
“Wie s’n is dit?”
Jeanne glimlag.
“Franse vriende het dit vir ons geleen om jou by die herberg te kry. Dit was baie gaaf van hulle.”
Nicole kyk na haar pa toe hy weer by hulle aansluit.
“Het julle al grond gekry?”
“Ja, in die land van Waveren. Dis mooi grond en ek dink ons sal wingerde daar kan aanlê. Ons het reeds begin om die huis te bou. Dis die belangrikste ding om klaar te kry voor die winter.”
“Wie bou die huis, Pappa?”
“Ek en ’n paar Franse vriende. Die mense is almal baie vriendelik hier.” Sy gesig versomber. “Die nuwelinge soos ons kry nog maar baie swaar, maar daar sal beter dae kom.”
By die herberg word Nicole se bagasie eers na die kamer gedra. Jeanne gaan na die kombuis om ’n bord kos vir Nicole en tee vir almal te bestel. Dan sluit sy weer by die res van die gesin aan.
Camille stel net belang in die seerowers en Nicole is verplig om haar te vertel wat gebeur het. André is geskok oor sy dogter se aandeel in die geveg.
“’n Dame behoort haar uit sulke dinge te hou, my kind.”
Nicole lag.
“Daar was nie plek vir fyn dametjies op die El Mar nie, Pappa. Dit sou heeltemal onvanpas gewees het.”
“Nogtans …”
Sy kyk ondersoekend na haar pa.
“Sou Pappa wou gehad het dat die kaptein doodgemaak moes word en ek ’n gevangene van die seerowers geword het?”
Hy skud sy kop.
“Natuurlik nie.”
“Daar was geen ander uitweg nie, Pappa, maar dit is nou alles verby. Ek is hier en ek is veilig en dit is tog al wat werklik saakmaak.”
Die sewentienjarige Camille kan haar opgewondenheid skaars bedwing.
“Ek het die kaptein gesien! Hy is verskriklik aantreklik!”
“Camille!” roep haar moeder geskok uit. “Ek sal nie sulke praatjies in die huis toelaat nie!”
Camille haal haar skouers op.
“Hy kan my mos nie hoor nie, Mamma.”
“Hy is ’n Spanjaard, chérie, en nie van ons mense