gee dat sy iets vir hom voel en sy moet dit ten alle koste verhoed. Niemand sal verstaan nie. Sy onthou weer daardie aand toe hy haar gesoen het, en sidder. As iemand dit moet weet …
Haar bord kos word gebring en die tee eenkant op ’n tafeltjie neergesit. Nicole is werklik honger en sy aarsel nie om te begin eet nie.
“Ons is na ’n paar gesellighede uitgenooi, Nicole,” sê haar ma. “Dis eintlik ter wille van jou omdat dit tyd geword het dat jy aan trou moet begin dink. ’n Meisie van twintig behoort lankal ernstig te raak. Oormôre gaan ons na ’n geselligheid by madame Benezet waar jy die ander meisies van die Kaap sal ontmoet. Daar sal net Franse meisies wees. Ek het gedink dat dit goed sal wees as jy eers ’n bietjie tussen die meisies beweeg totdat jy jou voete gevind het. Oor twee weke gaan ons na ’n bal by monsieur De Villiers se huis.”
Nicole glimlag.
“Julle was baie bedrywig, Mamma. Dit klink amper soos die ou dae in Frankryk.”
Haar ma kyk ernstig na haar, ’n bekommerde trek om haar mond.
“Jy sal van hierdie geleenthede gebruik moet maak. Ons geld is baie beperk en ek wil jou getroud sien voor die jaar veel ouer is.”
Nicole stoot haar bord kos eenkant.
“Ek wonder nou net waarom ek Kaap toe gekom het. In Frankryk kon ek mos ook ’n goeie man gekry het.”
André kyk na sy vrou.
“Moenie die kind aanjaag nie, Jeanne. Daar is nog baie tyd. Ons kan ten minste wag tot die huis klaar gebou is.”
Jeanne kyk na haar dogter.
“Jou pa het ’n goeie man vir jou in gedagte, Nicole. Hy is monsieur Jacques Goucher en hy is baie ryk. Jy sal ’n gerieflike lewe saam met hom hê.”
Nicole antwoord nie. Sy dink aan die donker Spanjaard. Dis die gebruik onder die Franse dat die ouers na ’n geskikte man vir hulle dogter soek en die dogter het geen of baie min sê in die saak. Daar is niks wat sy daaraan sal kan doen as haar pa finaal besluit het om monsieur Goucher te aanvaar nie.
“Hy het my nog nie eens gesien nie,” maak sy kapsie.
André lag.
“O, jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Hy sal om jou hand kom vra as hy jou eers gesien het. Ek het reeds die saak met hom bespreek en hy het gesê dat as jy hom geval, hy met jou sal trou.”
Nicole se keel trek toe.
“Nou gaan ek soos ’n perd aan hom vertoon word, of hoe? Sal hy ook my tande en voete bekyk om te sien of hulle nog in goeie werkende orde is?”
Camille proes van die lag, maar Jeanne kyk ontsteld na Nicole.
“Ek weet nie wat in jou ingevaar het nie, maar ek sal nie sulke praatjies in my huis duld nie! Die eerste woorde wat jou pa met my gepraat het, was om my te vra om met hom te trou! Ons was baie gelukkig al die jare saam!”
Nicole kyk op, onwillig om toe te gee.
“As ek nie van monsieur Goucher hou nie, gaan ek nie met hom trou nie!” sê sy beslis.
Haar pa se gesig versomber.
“Hy is ’n gesogte man onder die Franse, ma fille. Ek verwag van jou om gaaf en vriendelik teenoor hom te wees en sy huweliksaanbod te aanvaar. Is dit duidelik?”
Nicole kyk na haar pa, ontsteld oor sy houding.
“Ek belowe niks, Pappa. Ek sal eerder ’n arm oujongnooi bly as om met ’n man te trou vir wie ek nie omgee nie!”
Haar pa verstyf.
“As jy hom nie aanvaar nie, gaan ek geen verdere moeite doen nie. Dan moet jy maar self sien hoe jy gaan regkom.”
Jeanne staan op om die tee te skink. Sy lyk baie ongelukkig.
“As die vrou van monsieur Goucher sal jy baie vryheid hê, Nicole. Jy sal jou ook nie hoef af te sloof om siel en liggaam aanmekaar te hou nie.”
Nicole kyk vinnig na haar pa, ontsteld oor sy houding.
“Ek weet dat julle dit goed bedoel, Mamma, maar ek weet regtig nie of hierdie streng reëls nog in die Kaap toegepas kan word nie. Dis nie Frankryk hierdie nie, Mamma.”
Daar is ’n lang ruk stilte. Nicole weet uit ondervinding dat dit slegs ’n wapenstilstand is. Die gort gaan gaar wees die dag as sy monsieur Goucher weier. Dan sal dit ’n eindelose, uitgerekte besigheid van verwyte en woede wees. Sy sug diep. Sy kan monsieur Goucher ten minste ’n kans gee. Sy hoef hom nie van die hand te wys nog voordat sy hom gesien het nie.
Twee dae later gaan sy, Camille en hulle moeder na ’n deftige middagtee by die Benezets. Hulle word gehaal in ’n koets en voor die deur van die mooi huis afgelaai.
Die Benezets woon in die Kaap, omdat monsieur Benezet in diens van die Kompanjie is. Hulle het nie ’n besonder mooi huis nie, maar dis tog ruim en gerieflik en geensins onooglik nie.
Nicole voel selfbewus en ongemaklik. Sy verlang terug na die vryheid van die skip en die informele atmosfeer wat daar geheers het. Hier moet sy weer op al die fyn maniertjies let en versigtig wees om nie die verkeerde ding vir die verkeerde persoon te sê nie. Sy glimlag innerlik toe sy dink watse konsternasie iemand soos Consuelo op so ’n deftige partytjie sal veroorsaak.
Sy word aan Murielle Benezet voorgestel. Murielle is ’n blonde meisie met groot, helderbruin oë. Sy dra ’n pragtige tabberd van ligroos sy wat die roomgladheid van haar vel beklemtoon. Haar blik dwaal vinnig, opsommend oor Nicole se uitrusting van smaraggroen tafsy.
“Aangenaam, mademoiselle,” sê sy eindelik.
“Ek is bly om u te ontmoet,” groet Nicole terug en weet intuïtief dat sy en Murielle nie baie van mekaar gaan hou nie. Die blonde meisie is duidelik daaraan gewoond om altyd haar sin te kry.
Toe hulle almal met hulle kommetjies tee voor hulle sit, begin hulle soos die gebruik is om oor ditjies en datjies te gesels. Hulle veins verbasing oor alledaagshede en maak ’n groot ophef van iets wat voor die hand liggend is.
Nicole is verveeld. Sy het byna vergeet hoe leeg en doelloos hierdie teepartytjies kan wees.
“Was u reis aangenaam, mademoiselle?” wil madame Benezet vriendelik van Nicole weet.
Daar is ’n vonkel in Nicole se groen oë toe sy antwoord: “Oui, madame. Behalwe vir die geveg met die seerowers, was die reis baie lekker.”
Hierdie keer is daar opregte uitroepe van verbasing.
“Seerowers!” piep die een meisie en haar oë rek groot. “Ek sterf as ek net een sien!” Sy knipper haar oë. “Het u hulle van náby gesien?”
Nicole ignoreer haar moeder se angstige tekens om stil te bly.
“Die kaptein het sy hand om my keel gehad,” sê sy kalm. “Ek het hom met ’n mes raakgesteek.”
Madame Benezet staar geskok na Nicole.
“U ontstel my gaste, mademoiselle!” sê sy ontevrede.
Nicole glimlag.
“Ek het dit nie so bedoel nie, madame. Ek het maar net ’n eerlike antwoord op die vrae gegee.”
Madame Benezet se gesig is koud en hard.
“U behoort van beter te weet as om van messe en seerowers op ’n teepartytjie te praat!”
“Natuurlik. Dit spyt my.”
Madame Benezet stuur die gesprek doelbewus in ’n ander rigting.
“Ek verstaan dat monsieur Goucher ook op die bal sal wees. Madame De Villiers kon ongelukkig nie vandag hier wees nie, anders kon sy ons dalk meer omtrent die gaste vertel het.”
Vasberade om te vergoed vir haar dogter se flater, sê Jeanne: “Ek verstaan dat die Du Toits van die Fransche Hoek ook genooi is …”
Daar