En … ek het byna die eerste dag al geweet dat ek jou wil hê. Kom ons trou in Desember.”
Haar mond gaan oop en hy buk vinnig, plaas sy lippe oor hare, trek haar teen hom vas. Maar sy rem vervaard terug, tuur stip in sy oë.
“Henk … Ek … ek moet eers dink …”
Sy mond pluk wrang, maar sy stem is teer. “Dit het ek verwag, my skat. Jy is ’n diep denker, amper ’n filosoof …”
“Maar jy is tog ’n bietjie geraak dat ek nie dadelik ja sê nie?” vra sy kalmer. Sy gesig lyk so beteuterd en op impuls steek sy haar hand uit, vee sag oor sy voorkop en deur sy syige, blonde kuif. Hy vang haar vingers vas en soen die punte innig.
“Toemaar, ek verstaan,” glimlag hy sag. “En buitendien, ek weet ek gaan wen!”
Die woord tref haar skielik. Wen? Hy laat dit klink asof hy kompetisie het. En hy het nie. Nie regtig nie … Maar Roald se effens skewe glimlag flits voor haar oë verby die een aand toe sy hom so lekker gepiets het met die skaak. Eers was daar die kinderlike ergerlikheid omdat hy verloor het en toe ’n vreemde, gefassineerde uitdrukking in daardie swartbruin oë. So asof hy in ’n kramp van onverwagse emosie ’n flits van openbaring beleef. Jy hou nie daarvan om te verloor nie, het sy sag geglimlag. Watter man onder manne hou daarvan? het hy kamma kwaad gebrom en toe ook maar gelag. Roald Henning, dink sy, ’n man onder manne. En tog, Henk Verwey val ook in daardie kategorie. Dit ly geen twyfel nie.
“Waaraan dink jy?” wil hy skerpsinnig weet, sy hande warm op haar skouers.
Sy teug diep na asem. “Aan die rukkie tuis,” begin sy, maar dis of alles wat sy wil sê, al die baie woorde wat die ure saam met Roald oordek, soos skape voor ’n hek saambondel. Net drie glip uit: “Só baie dinge …”
“Vertel,” sê hy soos male van te vore.
Sy draai om, sit die kokende ketel af en dis eers toe hulle weerskante van die klein ronde tafel met hul bekers sit, dat sy huiwerig begin: “Dis die ding met Christelle … Dit was moeilik om haar tot ander insigte te bring, weet jy.”
“Kan ’n mens?” vra hy met vernoude oë. “’n Tiener se hart is soos ’n wilde bok. Keer jy dié kant, spring hy daai kant toe. Jy weet dit mos ook.”
Hy’s so skerp, dink sy versigtig maar knik instemmend. “Jy het reg, dit was nie maklik nie. Maar dit lyk my tog asof ek geslaag het om haar te laat dink oor die saak.”
“Hoe het jy dit gedoen?” wil hy weet.
Ons, wil sy sê, óns het dit gedoen … Maar sy suig haar lip in, haal haar skouers op. “Ons sal moet sien of dit gaan werk, Henk. ’n Mens praat en praat met ’n kind soos Christelle en dan kan jy net wag.” Dit is immers waar, dink sy wrang, al is dit nie die volle waarheid nie. En so onbehoorlik soos wat dit sekerlik is, kan ek om die dood nie nou vir Henk van Roald vertel nie. En ek wil nie eers probéér om hierdie huiwering te ontleed nie …
“Sê my eers waar kan ek ’n goeie waghond koop?” keer sy die gesprek skoon weg. “Enne … ’n klein hondjie ook. ’n Keffertjie wat snags in die huis kan geraas maak as iets kom pla.”
Hy klink verbaas. “Hier?! Jy wil tog seker nie ’n groot hond hier in die …”
“Dis vir Stille Weide. Kan jy glo dat ons nooit weer ’n hond aangeskaf het ná … Jy sien, ná my ma se dood, is die hond ook sommer net dood. En toe …”
“Ek sien,” antwoord hy sag. “En toe ek nou die dag praat oor die veiligheidsituasie het julle begin dink, nie waar nie?”
“Ja …” knik sy.
“’n Vriend van my boer met herdershonde en ek dink mens kan seker ’n klein hondjie sommer by ’n troeteldierwinkel koop.”
“As ek die geld voorskiet, sal jy dit vir my doen?”
“Met liefde,” sê hy en trek haar bo-oor die tafel nader. Toe hul gesigte feitlik teen mekaar is, steun sy soos wat die tafel se rand haar in die ribbes vang en hy lag. Blaas vir haar ’n soentjie. “Ek gaan net môre vir my liefste meisie twee brakke koop! En los maar die geld.”
Hoofstuk 4
Haar brakke, dink Adelien en staar met verstomming na die twee skepseltjies in die kartondoos langs haar bed. Want Henk het “sy liefste meisie” se brakke gisteraand gebring met twee pakke hondekos daarby. En instruksies: Sóveel vir Mietsie en ’n bietjie meer vir Keiser.
“Is dit hulle name?” het Adelien verstom gevra.
“Voorlopig, maar nou moet ek ry. Ek het twee studente wat my kom sien.”
“Ja, maar …”
“Vergeet van ‘maar’,” het hy gesê en haar kaplaks op haar mond gesoen.
Toe hy uit is, het sy die bondeltjies hond meewarig beskou. “Nou ja, nou moet ek julle so gou moontlik op die plaas kry.”
Maar dit, het sy geweet, is die minste van haar probleme. Klein hondjies is lank nie klein jakkalsies nie. Want iets kou aan haar bestaan. ’n Knaende besef dat sy innerlik eintlik wegkruipertjie speel met Henk. Hy voel dit aan, weet sy. Maar sy is nie gereed om die petalje, soos wat sy aan haar en Roald se plannetjie dink, met Henk te deel nie. Dis net te laf vir woorde. Buitendien, as alles goed gaan, sal die petalje in die niet verdwyn. En dit gaan goed op Stille Weide. Sy hoor dit elke keer dat sy bel om met Christelle of haar pa te praat. Pa Abel klink effens meer opgeruimd en Christelle gesels op haar ou babbelende trant.
“Steek jy vir my iets weg, Chrissie?” wil Adelien een oggend vroeg weet toe sy bel net voordat sy moet gaan klas gee. “Hoe voel jy regtig?”
Christelle het ’n suggie gegee. “Soms voel ek miserabel en ander tye kan dit weer gaan, Adie.” En toe heel onverwags: “Meneer stuur vir jou groete … Ek dag dan julle praat baie met mekaar?”
“Maar ons práát!” glip die leuentjie verskrik uit. “Om die waarheid te sê, ek het nou net met hom gepraat en …”
“Het hy jou saamgevra Kaap toe?” wil Christelle gretig weet.
Adelien gun haarself ’n stonde se nadenke. “Nee … e … jy weet mos dis nou onmoontlik vir my om weg te gaan.”
“Hm … Wel, dalk sou hy jou graag wou vra. Hy loop juis deesdae met ’n hanglip rond.”
“Pla dit jou?” wil Adelien angstig weet. Sou die kind nou wéér haar hart op die man gesit het, of wat?
“Nee wat,” sug Christelle weer. “Wat my pla, is daai ellendige Frans Mahler. Ek kan eenvoudig nie glo dat iemand wat ’n mens van jou babadae af ken, die kluts so kan kwytraak nie!”
“Wat het hy dan gedoen?”
“Dis om van naar te word! Hy vrek glo oor daai simpel Fourie-meisiekind. Mevrou Fourie wat langs Meneer woon se kleindogter. Die ergste is dat sy hom matriekafskeid toe gevra het!”
“Dis … dis … wel dis gemeen, is dit nie? Sy weet tog seker jy en hy het iets aangehad!” is al wat Adelien kan uitkry. Sy het tog in die stilligheid gehoop dat dinge tussen die aantreklike vaalkuif Frans en haar sussie sal regkom.
“Dis baie dom! sou ek sê,” trek Christelle ergerlik los. “Want as hy oor ’n paar weke van plan verander, sal dit te laat wees!”
“Hoe so?”
“Ek het klaar vir Janneman Ferreira gevra om saam met my te gaan!”
“Daardie kranige rugbyspeler van Harrismith se hoërskool?”
“Einste. En ek belowe jou, hy’s by ‘smart’ verby! Regtig cool, hoor!”
En ’n effens wilde javel, soos wat stories loop. Maar Adelien antwoord versigtig: “Mooi so … Daar’s mos baie visse in die see, Chrissie. ’n Mens laat nie toe dat ’n man met jou speel nie!”
“Veral