Maar dis juis die punt, dink sy nou moeg. Sy tap die bad vol en gooi byna die helfte van ’n peperduur bottel Franse badolie daarin. Sit eers ’n rukkie in die warm geurigheid en ontspan voordat sy haar gedagtes toelaat om soekend oor die afgelope paar dae te gaan.
Die haas uit die hoed het almal geflous – so wil dit voorkom. Pa Abel inkluis. Roald was Vrydagaand op die drumpel met die rooi rose en al. Christelle het die deur oopgemaak en kon kwalik haar asem terugkry toe hy duidelik sê: “Hallo, Christelle, ek het jou mooi suster kom haal. Sit solank dié rose vir haar in water. Yskoue water, hoor. En gooi sommer ’n bietjie bleikmiddel ook in. My ma het altyd beweer dit laat die blomme langer hou.”
Christelle het dit bleek by hom geneem en sonder ’n woord gemaak soos hy gesê het. Sy het feitlik dadelik die boodskap gekry, het Roald tevrede beduie toe hy en Adelien die pad vat in sy ouerige wit Merc.
“Ek is nie so seker nie,” het sy geantwoord. “Christelle gaan moeilik wees, ek weet dit sommer.”
“Wel, wat sê jou handboeke van sulke gevalle? Laat dit uitwoed en verleen steun, of iets in daardie lyn, nie waar nie?”
“Dis hoegenaamd nie so simplisties nie!” het sy haar gewip, haar lam geskrik toe hy sy hand vlugtig, paaiend op haar knie laat rus.
“Ek weet,” het hy net gesê en in stilte verder bestuur. Maar toe hulle die restaurant op die dorp binnestap, het die krapperigheid in haar binneste tog bedaar. Roald was ’n aangename tafelgenoot, die kerslig het loom oor sy hoë voorkop en sterk ken gespeel – en die kos was heerlik. Tarentaalpastei en klein aartappeltjies in pietersieliebotter. Krakerige blaarslaai met ’n eier-en-mayonnaise-sous. Sy het haar hele porsie opgeëet en ’n vreemde rustigheid het oor haar toegesak. So asof sy skielik ’n oubekende vertrek binnegestap het. Sy wou-wou wonder hieroor, maar hy het so onderhoudend gesels oor wyn en die Kaapse disse wat sy ma altyd gemaak het, dat sy eers later weer aan dié sensasie gedink het. Maar hy moes ’n uitdrukking op haar gesig gewaar het, want hy het skielik sy relaas oor waterblommetjiebredie en pinotage onderbreek.
“Waaraan dink jy?”
“Aan … aan wat jy sê …”
Sy sensitiewe mond het geroer. “Nou toe nou … Dan kan die meisie met die oop gesig tóg jok ook …”
“Ek jok nie … ek … Nou goed dan … Ek dink aan die hoop werk wat vir my wag.”
“En aan die man wat sekerlik vir jou wag.” Dit was nie ’n bedekte vraag nie. Dit was ’n stelling.
“Ja,” kon sy net knik. En gewens dat dit werklik waar was. Henk verdien dat sy aan hom moet dink. Maar sy het haar gedagtes bymekaar gekry en oor die onderwys begin uitvra. Hy het dadelik gefrons en gesug. “Kom ons praat oor iets anders. Die onderwys is nou te chaoties vir woorde … enne … dis nie die onnies se skuld nie.” Nog voordat sy kon reageer, het hy ’n grappie oor ’n dom onderwyser vertel wat haar laat skud het van die lag en toe tog wel die gesprek heel onverwags laat plons in die diep waters van die opvoedkunde. Hy het hartstogtelik gepraat, sy donker oë vol vonke en die netjiese hande het met ferm gebare beklemtoon. Sy het gedink: ’n Interessante man. By hom sal ’n vrou nooit verveeld wees nie. Maar – by Henk ook nie, het haar lojale hart gou-gou vermaan.
Dit is net die haas-uit-die-hoed-storie wat haar effens geïrriteerd laat voel. Die onmoontlike, het hy dit daardie dag by die skool genoem. By implikasie onmoontlik vir ’n man om op Adelien Buitendag verlief te raak, of wat? Hoe dit ook al sy, sy sal eerlik moet wees daaromtrent. En dis nou juis die ding … Sy tap nog warm water, sak lui terug in die lekkerte daarvan. En wonder. Sy weet nie of sy werklik lus het om vir Henk van hierdie situasie met al sy kompleksiteite te vertel nie. Dis mos nou verby. Sy sal nie gou weer plaas toe gaan nie en Roald sal bepaald nie hierheen kom nie. Christelle ook nie. Sy het botweg geweier om die vakansie Pretoria toe te kom.
Adelien maak haar oë toe. Dit was ’n moeilike tydjie, erken sy aan haarself. Christelle was eers botswyend, toe openlik beskuldigend en later huilerig. Pa Abel was eers vaagweg simpatiek, toe ergerlik en oplaas, ná ’n gesprek met Adelien, so half en half op die randjie van begrip. Dat so ’n ingewikkelde toestand onder sy dak kon ontstaan, was duidelik vir hom verwarrend. Waarom moet Christelle nou moeilik wees? wou hy gebelgd weet. Sy was altyd so ’n maklike kind …
Dis toe dat Adelien kwaai met hom gepraat het: “Pa, ek kan begryp dat Pa hierdie sakie moeilik hanteer, maar probeer asseblief net verstaan dat Pa se drie dogters ingewikkelde wesens is wat werklik aandag nodig het … Pa, ons het sonder ’n ma grootgeword en … en ons is vróúe!”
Dit was, het sy wrang besef, die eerste maal dat sy só met haar pa gepraat het. Sy was self so ontsteld soos ’n mens wat ná ’n lang innerlike worsteling dit vir die eerste maal regkry om ’n kwelling te verwoord. En sy het met spyt gesien hoedat sy maer, songelooide gesig saamkramp.
“Het ek dan nooit aan julle aandag gegee nie, Adie?” wou hy met wrang verontwaardiging weet. En het toe self die vraag kopskuddend beantwoord: “Toemaar, ek weet … Ek eet soms self my binneste daaroor uit. Eintlik was ek ’n afwesige vader …”
Dat hy die kwessie so eksak kon bewoord, al was dit in ’n selfbejammerende toon, het Adelien vir ’n oomblik met ’n stomme swye geslaan. Onredelike woede ook. Hoe kon hy daar sit en sito-sito erken dat hy sy drie dogters aan die genade van hul eie wroegende grootword oorgelaat het? Hoe durf hy ná al die lange jare dit sommer net bely en … en dan soetjies wil beding hoe om die ou sakie gou-gou reg te stel? Adelien het haar eie wrangheid met moeite weggesluk, stip na sy geboë grys kop gestaar toe sy praat.
“Ag, Pa … Kom ons laat dit daar. Besef asseblief net een ding: Christelle het nóú aandag nodig!”
Hy het swaar geknik, sy mond diep ingekeep. “Roep haar,” het hy net gesê.
“Moet ek bly?” wou sy huiwerig weet.
“Nee, roep haar net. Môre, oormôre ry jy weer en dan’s dit weer net ek en sy.”
Wat presies gesê is, weet Adelien nie. Sy het Christelle gaan roep en Pa Abel en sy jongste was vir ’n korte kwartiertjie agter ’n toe studeerkamerdeur. Daarna het Christelle gangaf gestoom en haar deur het geklap. Adelien het Abel driftig sien aanstryk oor die werf in die rigting van die skuur. Hy moet heel buite karakter kwaai geklink het en Christelle moes haar juis daarom pap geskrik het. Maar laat in die nag het sy bedremmeld en kennelik voos gehuil Adelien se kamer binnegesluip. “Slaap jy al?”
“Nee, kom maar in,” het sy gefluister.
Tot haar verbasing het Christelle saggies langs haar in die groot bed ingeglip, nes van ouds toe sy alleenklein en verlore was. “Is … is jy en Meneer ernstig?” wou sy met ’n wankelrige stemmetjie weet en Adelien het die fyn meisielyf langs haar voel ruk. Sy is net ’n kind, het Adelien rou besef.
Nee, wou sy sê. Nee, my liefie, ek speel sommer – soos toe Christelle klein was. Maar sy kon nie. “Ja …” het sy skor gesê. “Ek en … Roald … verstaan mekaar.”
Die geruk het weer begin, ’n gesnuif ook. Huil jou uit, het sy met oneindige deernis gedink. Huil maar liewer nou … Toe het sy ’n arm uitgestoot en Christelle se bewende skouers nader aan haar getrek, haar lippe op die klamwarm voorkop gesit. “Toe nou maar … ek weet dit kom as ’n skok vir jou.”
“Julle … julle lag julle seker siek vir my!” het dit opeens gegriefd gekom.
“Waaroor sal ons lag?” wou Adelien met geveinsde verbasing weet.
“Jy … weet mos,” het sy gesmoord in die kussing gemompel.
“O … Nee, Christelle, ek glo nie Roald weet eens dat jy baie van hom hou nie … Wel, ’n bietjie verlief is op hom nie … En ek sal hom mos nooit sê nie!”
Christelle het swaar gesug en stywer teen haar ousus genestel. Adelien het ’n gewigtige verligting deur haar voel stoot. Dankie tog dat dit lyk asof Roald reg was. Frans Junior is steeds nie vergete nie, anders sou Christelle nie so gedwee kom inkruip het nie. Dalk is hy net nog nie vergewe nie.