kantoor om stapels nasienwerk af te handel. Heeldag tob sy daaroor. Dinge moenie nou weer lol by die huis nie. Dis moeilik genoeg soos wat dit is: Sy wat hier vanuit Pretoria die tekens moet lees en haar pa en suster daar op die plaas wat soos hande uit die donker na haar tas.
Toe sy by haar woonstel kom, sak sy in die naaste stoel neer. Dié ding is besig om haar te dreineer. Sy kan haar glad nie distansieer van die situasie op Stille Weide nie. Afstand of te not, sy sal ten minste moet probeer om haar vinger op die pols van die huis op die plaas te hou. Oplaas bel sy na Roald se huis toe. Sit seker voor die televisie noudat dit skoolvakansie is, dink sy met onverwagse vertedering.
“Netso,” erken hy onverstoord toe sy hom skalks daarna vra. “Ek kyk ’n video. Dis snerpend koud en ek sit met drie reisdekens oor my bene. Dis nou te laat om die kaggel aan te steek.”
“Waarna kyk jy?” vra sy verwonderd, kan hom net sien sit, so toegewikkel in die komberse, sy donker kuif deurmekaar bo die blink, intense oë.
“Robin Hood, Prince of Thieves …” antwoord hy mymerend.
Haar mond plooi in ’n sagte glimlag. “O, ek is net so mal oor daardie verhaal. En ek dink dié prent het die romantiek mooi vasgevang en …”
“Wie sê ék is mal oor die prent?” vra hy tergend.
“Ek hoor dit mos,” sê sy afgehaal.
“Waarom? Was daar iets in my stem wat jou dit laat dink?”
“Wel … ja …”
“H’m … Jy weet wat sê hulle, nè? ’n Mens luister na ’n kennis se woorde, maar na ’n vriend se stem … Is ons vriende, Adelien?”
’n Klein stilte stol. Toe sê sy: “Ek dink so, Roald. Ek dink ons verstaan mekaar.”
“H’m … Ek sal dit glo as jy my kan sê waarom jy geskakel het.”
Dit slaan haar stom. Slim man, dink sy ergerlik. Nou kan ek glad nie na Christelle uitvra nie anders dink hy ek wil net praat omdat ek oor my sussie bekommerd is … En dit word stil in haar binneste: Dit is hoegenaamd nie al rede nie, laat sy dit nou maar eerlik erken. Laat sy met hierdie man ook liefs eerlik wees. Wat kan sy immers verloor?
“Ek het jou gebel,” sê sy, “omdat ek graag wil weet wat maak ’n adjunkhoof as die skool se deure gesluit het.”
Hy lag agter in sy keel. “Sluit ’n skool se deure ooit?”
“Sê jy my …” lag sy speels saam.
Hy gee ’n klein suggie. “Nie regtig nie, Adelien. Dis nogal soos ’n huishouding. Daar’s nie einde aan nie. Die kinders is wel weg, maar daar’s baie wat ek nog graag wil doen. Maar eers gaan ek ’n paar dae lank rus en dan gaan ek Kaap toe.”
“Na wie toe?” glip dit uit.
“O, maar jy’s nuuskierig! Weet daardie Henk ou dat jy so uitvraerig is oor my?”
“Nee.”
“Nee? Wanneer gaan jy hom van ons vertel?”
“Daar is nie ’n óns nie!” keer sy vinnig en wens meteens sy kon wegglip uit die gesprek sonder dat hy dit agterkom.
“Ja,” stem hy sag saam, “maar net ek en jy weet dit! Jou pa en Christelle en sommer die dorpsmense ook, dink daar’s groot dinge aan die kom tussen jou en my!”
“Regtig?” En toe hy swyg, groet sy flouerig: “Nag, Roald, geniet die Kaap.”
“Dit gaan koud en nat wees.”
“Ek … dag jy’s gewoond daaraan?”
“Die winter is op sy grouste as ’n mens nie in die somer hout bymekaar gemaak het nie.”
“Waarvan praat jy?”
“Van Langenhoven. Hy’t gesê ’n mens moet in die somer hout bymekaar maak om in die winter by die vuur te kan sit.”
“En het jy dan nie?”
“Nee, nog nie juis nie …” Hy klink traag om te verduidelik, sê toe tog kripties: “Dit lyk my al die hout is nou nat. Ek sal moet wag vir nog ’n somer.”
“En intussen doodgaan van die koue?”
“Dit hang af.”
“Van die Kaapse kuier?”
“Moontlik, ja …”
“Nag, Roald,” sê sy weer en dié keer sit sy die gehoorbuis sag neer. Maar sy bly nog lank sit, arms oorkruis oor haar bors, wenkbroue diep gekeep. Waaroor het ons gepraat? wonder sy verslae. Nie van hout of die seisoene nie, dis vir seker. Eindelik kom sy met ’n rukbeweging orent. Die man is enigmaties, besluit sy vies. Ek sal hom nooit verstaan nie. Gee my duisend maal eerder Henk wat my elke dag wys waar sy hart sit.
Asof in antwoord, begin Keiser, neus in die lug, kerm. Mietsie val ook dadelik in. Kos, dink Adelien en sug. Waarom voel ek nou nie juis moederlik teenoor die tweetjies nie? Dis ’n hengse werk om na hulle te kyk. En hulle vra baie aandag. Ek is nie gereed vir sulke klein goedjies nie, het sy gisteraand teenoor Christelle gebieg toe sy huis toe bel. Jy en Pa en Anna sal jul lyf moet reghou om hondjies groot te maak. Maar haar sus was dadelik liries: Ag moedertjie tog, wanneer bring jy hulle? So gou ek kan, het sy weer gesug.
Toe Henk haar die aand kom haal om by sy ma te gaan kuier, soen sy hom spontaan toe sy die voordeur oopmaak.
“Waaraan het ek dit te danke?” wil hy ingenome weet.
“Is dit nie hoe ’n man gegroet wil word nie?”
“Natuurlik … Maar dit het nie vantevore so natuurlik gekom nie, het dit?”
“Hoe dikker die vriendskap, hoe sappiger die soene, nie waar nie!” lag sy en duik onder sy arm deur om haar jas van die haak agter die deur af te haal. Hy vang haar vas teen hom.
“Moenie, Adelien! Ek is verby die stadium dat ek wil grappies maak. Ek wil nou weet!”
Die heftigheid van sy woorde laat haar verstil en sy teug diep na asem voordat sy met versigtige erns antwoord: “Ek voel aangetrokke tot jou omdat jy so oop is, Henk. Ek weet waar ek met jou staan en eintlik weet jy ook. Dis net dat ek nie aan kitsprosesse glo nie. Stap vir stap … asseblief …”
“En hierdie is ’n stap vorentoe?” vra hy met soveel desperate hoop dat sy hom liefkry. Sy lig haar hand en vee dit sag oor sy gesig.
“Ja, ek dink so, Henk. Ek voel goed by jou!”
Hy kyk lank en intens na haar voordat hy haar hand vat en die deur agter hulle toetrek. “Kom ons groet die brakkies en dan gaan ons. My ma het ’n swartwoudkoek gebak. Spesiaal vir jou. Enne, dis nie al nie, maar die res is ’n verrassing!”
Sarah Verwey het weer eens haarself oortref, besef Adelien toe sy in die knus meenthuis by die teetafel gaan aansit. Die fynste Royal Albert teestel is uitgehaal. Op ’n kristalbord staan ’n romerige sjokoladekonkoksie en daar is veerligte pasteitjies.
“Tante het vreeslik baie moeite gedoen!” betig sy glimlaggend. “Is dit dan ’n spesiale okkasie as ek kom kuier?”
“In die oortreffende trap,” glimlag die vrou en haar blik speel liefkosend tussen haar seun en Adelien. Sy skink tee en sny die koek, bied heerlike groot stukke aan. En sy vra uit. Na die plaas, na Abel en na al Abel se dogters. Die name Bernadette en Christelle rol gemaklik oor haar lippe. Henk moes haar vooraf ook weer baie vertel het, besef Adelien. Meer as net die inhoud van die paar kere dat sy self met Sarah daaroor gepraat het. Dat sy en haar leefwêreld ’n warm besprekingspunt tussen ma en seun is, word vir haar algaande al duideliker. Veral toe Sarah versigtig begin uitvra na Christelle se gemoedstoestand. Adelien huiwer ’n oomblik voordat sy antwoord. Maar toe sy eers begin praat, besef sy dat sy lankal hunker na ’n vrou se oor.
“Wel … dis moeilik om te sê, maar Christelle klink tog nou meer gebalanseerd. Nou die aand toe ons gesels het, het sy ewe entoesiasties