die vet wat nie in kaaiings uitgebraai is nie, is seep gekook.
Saans was almal teen 19:20 in die huis om met groot toewyding na “Die Du Plooys van Soetmelksvlei” oor die draadloos te luister.
In dié gestruktureerde samelewing was daar weinig plek vir individualiteit en eie keuse. Die Natte het by Volkskas gebank en die Sappe by Standard of Barclays Bank. Daar was ’n paar gesinne wat Hervormers was en die res was almal NG. Al die kinders het na Hallgate, die laerskool op die Plotte, gegaan en daarna na dieselfde hoërskool op Nigel.
Almal was nie ewe getroue kerkgangers nie. Daar was veral een uitsondering wat ’n indruk op my gemaak het: ’n Afgetrede onderwyser van elders wat een van die plasies naby ons gekoop en daar ’n aftree-boerderytjie aan die gang gehou het. Die storie het gou versprei dat hy ’n ateïs is. Of dit waar was, weet ek nie, maar hy het hom nie met kerkdinge opgehou nie. Hy was teruggetrokke en effens eenkant. Ons het hom nie goed geken nie.
Sondag het skynbaar vir hom en sy vrou geen betekenis gehad nie, want aan die Sondag-rituele het hulle hul min gesteur. Sy plaashuis was vlak langs die pad en wanneer ons van die kerk af daar verbygery het, was hy dikwels besig om op sy Vaaljapie (Ferguson-trekkertjie) sy landerye te bewerk.
Hieroor het my ouers net hul koppe geskud en soos ander kerkgangers vir hul kinders vertel hoe vreeslik verkeerd dit is. Ek het gesukkel om dit te verstaan: Hier is ’n slim man wat duidelik ’n goeie lewe lei en sy plasie met groot sorg bewerk. Hoe het hy en sy vrou op so ’n dwaalspoor beland? In my kindergemoed het ek hulle vreeslik jammer gekry oor hul afvalligheid en die verdoemenis wat op hulle gewag het.
Heimlik het ek hulle egter tog ’n bietjie hul vryheid beny. Die oom kon immers op sy Vaaljapie sit en ploeg terwyl die res van ons in die kerk moes gaan sit!
Om die onbekende te verken
Só het my pad begin met wat ek vandag ’n Sondag-geloof noem. Die woord “Sondag” is in dié geval nie net die naam van ’n dag nie, maar ’n metafoor vir die georganiseerde godsdiens en ’n streng kerklikheid.
Toe ek etlike jare gelede vir die eerste keer die rolprent The Other Side of Sunday (1996, Marie Theisen, regie deur Berit Nesheim) gesien het, is ek baie geraak daardeur. Dit gaan oor ’n eng Lutherse dominee en sy gesin wat in ’n klein dorpie in Noorweë woon. Die meisie Maria kom in opstand teen die rigiede, wettiese godsdienstigheid van haar gesin en veral haar pa. Die rolprent stel twee wêrelde teenoor mekaar: dié van godsdienstige oorheersing met ’n klem op reg en verkeerd en dié anderkant Sondag waar Maria vryheid, respek en menswaardigheid ontdek.
In dié boek wil ek dieselfde metafore van “Sondag” en “anderkant Sondag” gebruik en gaan ek vanuit my eie ervaring oor dié twee wêrelde of geloofservaringe skryf.
Om ’n Sondag-geloof te hê, is om jou geloof ten nouste aan kerklike strukture, dogmas en rituele te koppel. Kerklike dogma of leerstukke verwys na geloofswaarhede wat (by sinodes of konsilies) deur die kerk as gesaghebbend of as waar aanvaar word. Dit is mensgemaakte formulerings en formules wat mettertyd die gesag van goddelikheid ontvang. Dié leerstukke vind ook gestalte in kerklike gebruike en rituele. Saam met kerklike strukture bied dié vaste praktyke ’n groot mate van standvastigheid wat die georganiseerde godsdiens vir talle gelowiges baie aantreklik maak.
Geloof anderkant Sondag, daarenteen, verwys na ’n nuwe verstaan van geloof wat nie so aan mensgemaakte kerklike strukture en dogma gebonde is nie. Dit staan losser van die kerk en is immer soekend na wat anderkant die kerk lê. In dié geestelike omgewing is daar ’n groeiende skeptisisme oor ’n onkritiese aanhang van die dogmas en gebruike van die kerk. Dit bied ook veel meer ruimte vir onsekerheid en die teenstrydighede van die lewe en die geloof.
Om anderkant Sondag te glo, bring jou as’t ware in ’n soort niemandsland. Dit lei jou na ’n woestyngebied waar die stutwerk van mensgemaakte godsdiensbeoefening weggeval het of nie meer sin het nie, maar waar daar steeds ’n behoefte aan geloof is. Dit behels veral ook ’n ander begrip van God met ’n groter klem op geestelikheid. Geloof anderkant Sondag is vir my ook terra incognito – onbekende land. Soos my vertelling aan die begin van die hoofstuk aandui, is ek gebore en getoë in die Sondag-land. Ek is deurdrenk van die kerk. Tog moet ek erken dat ek nie meer op dieselfde plek staan waar ek my geloofsreis begin het nie.
In dié anderkantland vind jy talle individue wat ontnugter is deur en teleurgesteld is in die kerk en alle vorme van georganiseerde godsdiens. Daar is ook diegene wat gewoon verveeld geraak het met die retoriek van die kerk en vir wie kerklike dogma nie meer enige betekenis inhou nie. Wat almal gemeen het, is die gevoel dat die ou strukture en ou maniere van praat nie meer sin het nie.
Ek hoor die noodkreet van diegene wat nie meer deur die kerk aangespreek voel nie, maar wat steeds erns het met hul geloof. Hoewel elkeen van ons op ’n unieke reis met God, geloof en die kerk is, kan ek ten sterkste met sulke gelowiges identifiseer. Dit is dalk nie aldag vir hulle ewe duidelik presies waarheen hulle op pad is nie, maar wat hulle wel weet, is dat hulle nie weer kan terugkeer na die tradisionele manier van dink, praat en doen nie.
’n Mens kan nie veralgemeen nie, maar my indruk is dat daar baie jong mense is wat wel positief voel oor en glo in die potensiaal van die kerk, maar terselfdertyd diep skepties is oor wat soms in die kerk gebeur. Hulle voel ook nie meer die druk van kulturele of samelewingsvoorskrifte nie en is dus vry om te kies vir of teen ’n bepaalde gemeente en selfs vir of teen die kerk.
Dié wegbeweeg van die Sondag-geloof en die ontdekking van ’n wêreld anderkant Sondag moenie oorvereenvoudig word nie. Dit kan nie vereng word tot die kwessie van kerklikheid en buitekerklikheid nie. My doel is nie om die georganiseerde godsdiens of Sondag-geloof te benadeel nie. Ek neem self nog daaraan deel en vind sin daarin. Daar is ook talle gemeentes en groeperings binne die gevestigde kerke wat steeds in die kerk as instelling glo, maar ’n anderkant Sondag-geestelikheid uitleef.
Ek voel tuis in my gemeente (die Ooskerk in Pretoria). Ek en my vrou, Zirkia, ervaar daar min van die tipiese Sondag-geloof. Ek besef egter dat selfs so ’n vryer en inklusiewer kerkomgewing vir baie ander gelowiges nog heeltemal te eng en gestruktureerd is.
As dominee is ek van die begin van my bediening af met die kerk buite die kerk gekonfronteer. My eerste gemeente was die Irenekerk, soos die Johannesburg-Oos-gemeente in die middestad ook bekend gestaan het. Dit was nog behoudende tye toe ek in 1971 by dié kerk begin werk het, maar die gemeente was toe reeds heeltemal anders as die gemiddelde voorstedelike gemeentes.
’n Groot deel van die gemeente het hulle toe reeds buite die kerk bevind. Een van ons groot take was om die lidmate van die kerk “op te spoor”. Hulle was soms nog op die boeke, maar nie meer in die kerk nie. In die plattelandse omgewing waar ek grootgeword het, was buitekerklikheid ’n sonde, maar in die Johannesburgse middestad was dit amper alledaags. Die tradisionele stutte wat kerklikheid in stand moes hou, was toe reeds ondergrawe en besig om in duie te stort.
Een keer per maand het ek saam met die groep kerklike jong mense die woonstelwêreld van Hillbrow, Berea, Joubertpark en Doornfontein ingevaar. Ons het by elke woonstel geklop en navraag gedoen oor die mense se kerklike betrokkenheid. Dit was ’n avontuurlike ervaring, want ons is nie altyd op ’n “kerklike” manier ontvang nie. Een aand het een groep jong mense bleek om die kiewe by die kerk teruggekom. By een woonstel het ’n vrou sonder om te blik of te bloos poedelnakend die deur oopgemaak. Ek kan nie onthou of hulle toe wel vir haar gevra het tot watter kerk sy behoort nie!
In daardie tyd het ek van die sinvolste geestelike gesprekke met mense buite die kerk gehad.
Dit het ’n blywende indruk op my gemaak en het my denke oor die rol van die kerk in mense se lewens vir altyd verander. Dit was asof daardie mense wat hulself doelbewus of om ander redes buite die kerk bevind het met die mees wesenlike lewensvrae na vore gekom het. Hulle was nie meer in die kerk nie, maar het diepsinnig nagedink oor die sin van die lewe en oor die misterie van God. Daar moes ek ontdek dat buitekerklikheid nie met onverskilligheid of ongelowigheid gelykgestel kan word nie. Ek het by meer as een geleentheid uit die woonstel van ’n buitekerklike persoon gestap, verryk deur opregte menslikheid.
Een aand het Diederik (skuilnaam), ’n jong man wat probeer het om by die