en dit dan opvolg of beloon met vryspraak, afgeskud.
Hulle bekommer hulle nie meer oor beloning of straf in ’n volgende lewe nie – hulle is gewoon nie meer ingestel op die hiernamaals en alles wat dit inhou nie. Skynbaar word hul lewe nie meer bepaal deur ’n verhouding met ’n God nie en hulle probeer op ander maniere sin maak van hul aardse bestaan.
Hoe en waarom het dit gebeur?
Die antwoord lê in die begrip “sekularisasie”. In die algemeen verwys dit na die geleidelike skeiding tussen die staat en die kerk in Wes-Europa sedert die 15de eeu.1 In daardie era het die magtige Rooms-Katolieke Kerk ’n bepalende rol in staatsake en die samelewing gespeel. In die vroeëre Europese samelewings het die heilige of sakrale – en daarom ook die kerk – ’n sentrale plek ingeneem. Die kerk se prominensie en beheer oor die samelewing het saamgehang met die feit dat
• hy die onverklaarbare dinge in die wêreld moes verklaar of verduidelik;
• God beskou is as die hoogste beherende mag en die kerk daardie funksie namens God uitgevoer het. Gevolglik was die kerk die hoogste gesag en was daar in baie lande ’n teokrasie; en
• hy ’n vertroostende gemeenskap aan mense voorsien het. In die kerk is mense opgeneem in ’n heilige gemeenskap waarin hulle versterking en bemoediging kon ervaar.
Intussen het dié funksies van die kerk grootliks verval of dit is deur ander instellings oorgeneem. Die kerk vervul byvoorbeeld nie meer ’n beherende rol in die samelewing nie, want die meerderheid van die Westerse state word deur politieke partye beheer. Demokratiese samelewings word vandag deur ’n grondwet gereguleer, eerder as deur die Bybel. Selfs die kerk se rol om ’n vertroostende gemeenskap te voorsien word in baie gevalle deur ander sosiale instellings oorgeneem. Mense vind sinvolle gemeenskap met ander by hul werk, rondom sport of stokperdjies, by klubs en deesdae natuurlik ook deur die sosiale media.
Die samelewing maak hom toenemend los van die eens noue identifikasie met godsdienstige instellings. Die sakrale maak plek vir die sekulêre. Talle mense wend hulle ook nie meer na die kerk vir ’n verklaring van dinge nie omdat hulle glo dat die wetenskap meer betroubaar is. Geestesiektes word byvoorbeeld nie meer verklaar aan die hand van een of ander duiwelse invloed of duiwelbesetenheid nie, maar eerder toegeskryf aan wetenskaplik verklaarbare chemiese en fisiologiese wanbalanse.
Die Christelike kerk ly dus aan funksieverlies. Gevolglik is die God wat met dié funksies van die kerk verbind is, ook deur talle mense “dood” verklaar.
Hiermee saam het ’n ewe drastiese omwenteling gebeur in hoe mense oor geloofsinhoude dink. Hulle aanvaar nie meer kerklike dogma kritiekloos nie en dinge wat eens taboe was, word nou sonder vrees verwoord. Mense is nie meer bang om te sê hulle glo nie in ’n hemel of ’n hel nie. Baie dink byvoorbeeld ook nie meer in terme van ’n wederkoms en ’n “wederopstanding van die vlees” nie en het die vrymoedigheid om dit te erken.
Al die konsepte wat te make het met wat ná die dood gebeur, pas nie meer in die hedendaagse geïntegreerde wêreldbeeld nie (ek keer later weer terug na die begrip van wêreldbeelde). Talle mense hervertolk dit dus metafories sodat hemel en hel nie meer na ’n spesifieke plek of bestaansruimte verwys nie, maar na ’n ongedefinieerde toestand van bestaan. Daar is baie mense vir wie dit selfs nie eens sin het om so metafories hieroor te dink nie. Hulle het skynbaar nie meer behoefte daaraan om duidelike konsepte te hê oor ’n lewe ná die dood nie en vind vrede in die onbekende en onbeskryfbare.
In die 20ste eeu het mense veral ná die twee wêreldoorloë met die kerk en die georganiseerde godsdiens ontnugter begin raak. Dit het grootliks in Wes-Europa en Brittanje tot wydverspreide sekularisasie van die samelewing gelei. Hoe dié proses in post-apartheid Suid-Afrika sy loop neem, sal ons nog moet sien. Maar wat wel klinkklaar is, is dat mense se verhouding met die kerk drasties verander.
Talle mense se verhouding met die Afrikaanse kerke het problematies geword as gevolg van die kerke se geskiedenis met apartheid. Die Nasionale Party-regering was hand op die blaas met die kerklike magstrukture. Die politieke magshebbers het sodoende teologiese regverdiging en kerklike sanksie ontvang vir ’n onderdrukkende beleid, terwyl die kerk daardeur meer politieke en openbare mag gekry het. Dit was vir die politieke en kerklike leiers van belang om die simbiotiese verhouding so lank moontlik aan die gang te hou. Dié noue verhouding tussen kerk en staat het gevolglik die sekularisasieproses in Suid-Afrika vertraag.
Ná die afskaffing van apartheid in die negentigerjare het daar ’n geweldige geloofwaardigheidskrisis in kerklike geledere ontwikkel. Dit was veral die sogenaamde Boetman-generasie wat hulself ontnugter en ontstoke op die kantlyn bevind het2. Hulle was nie net teleurgestel deur die politieke leiers van ouds nie, maar ook deur die kerk wat hulle mislei het deur teologiese regverdiging te verleen aan die stryd teen kommunisme soos dit gestalte gevind het in die Grensoorlog en vir die instandhouding van die apartheidstelsel.
Die ontnugtering met die kerk het weer gelei tot ontnugtering met die God van die kerk. Dit het ’n nuwe en bykomende mate van vervreemding en sekularisasie gebring.
’n Kerk wat sukkel om aan te pas
Sekularisasie is in baie gevalle ook die gevolg van die kerk se weerstand teen verandering. Dit gebeur maklik dat diegene wat tot ’n instelling behoort tot nuwe insigte kom en gretig is om te verander, maar dat die instelling vassteek by ou idees. Op dié manier ontstaan ’n gaping tussen die kerk en sommige lidmate, wat hulle dan toenemend verwyder laat voel van ’n instelling wat eens vir hulle ’n veilige hawe gebied het.
Die historikus Diana Butler Bass verduidelik die verskillende fases van die proses in haar boek oor die Amerikaanse Christendom, Christianity After Religion. Volgens Bass, wat spesialiseer in die geskiedenis van die Christendom, ontstaan daar aanvanklik ’n geloofwaardigheidskrisis wanneer individue nie meer die algemeen aanvaarde geloofskonsepte van ’n kerk of godsdienstige instelling kan goedkeur nie. Hulle begin dan om die ou leerstellinge en gebruike te bevraagteken, wat uiteindelik daartoe lei dat hulle probleme in die kerk begin ontdek.
As deel van die tweede fase dring die besef geleidelik deur dat hul “geloofsprobleme” nie soseer met tekortkominge aan hul kant te doen het nie, maar met die kerk of instelling wat nie meer doeltreffend funksioneer nie. Hulle begin dan soek na maniere om die ou strukture omver te werp.
In die derde fase begin hoëprofiel individue en groeperings ’n nuwe visie te verwoord en vra vir ’n ander verstaan van hulself, God, die kerklike praktyke en hul toekoms. Die nuwe konsep vind in die vierde fase ook gestalte in nuwe maniere van doen. Stadig maar seker ontwikkel ’n nuwe beweging.
In die laaste fase vind institusionele hervorming plaas wanneer die voorlopers daarin slaag om die groter groep onsekeres om te haal en die organisasie einde ten laaste verander.
Op politieke en staatkundige gebied het ons hierdie hervormingsproses gedurende die apartheidsjare feitlik net so sien verloop. Die Nasionale Party se beleid is geleidelik van buite en binne bevraagteken deur individue wat toenemend krities was oor die apartheidsbeleid. Nuwe idees oor hoe die land regeer moet word, het begin posvat en is mettertyd deur invloedryke individue verwoord. Die Nasionale Party het toe ’n drastiese verandering ondergaan nadat die meerderheid van sy ondersteuners oorreed is om ’n nuwe politieke bestel te aanvaar. Interessant genoeg sien ’n mens op die oomblik hoe dieselfde prosesse in die ANC begin afspeel.
Wat die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika betref, lyk dit vir my asof Bass se fase een tot drie reeds gebeur het, maar hier haak dinge vas. Fase vier – waar ’n nuwe verstaan van geloof gestalte moet kry in nuwe maniere van doen – gebeur nie tans nie. Die kerk is vasgevang in die rol van die bewaker van tradisie en vind dit skynbaar onmoontlik om aan te pas en die geloof werklik nuut te verwoord. Die breë kerklike instituut steek dus vas by ’n Sondag-geloof met die gevolg dat sommige lidmate eenvoudig aanbeweeg na ’n omgewing anderkant Sondag waar die kerk nie meer ’n rol speel nie.
Daar is natuurlik uitsonderinge, soos ds. Jaco Strydom se Echo Jeugontwikkeling in Pretoria, waar ’n gemeenskap van jong mense saamgebring is wat die basiese beginsels van Christenskap op ’n eenvoudige manier uitleef. Iets soortgelyks gebeur in Johannesburg met die bediening deur MES aan hawelose mense in die omgewing