spaarsamig, en was eerder jou lyf en jou klere met die water wat jy by jou kampplek kry. Kook altyd die kosmaakwater vooraf en gebruik watersuiweringstablette as jy enigsins twyfel. Ons het ook al hoe meer ons watersuiweringsapparaat gebruik. Dis ’n tydsame proses, veral as jy ’n tru-osmosestelsel het. Maar dit is 100% veilig.
Vatlappe/oondhandskoene
Op safari word kos op die gasstoof of die vuur gemaak. Feit is, daar’s altyd hitte by betrokke. In ’n kombuis het mens vatlappe nodig, maar op safari iets ernstigers. Die vatlappe moet dik genoeg wees sodat mens ’n vuurwarm rooster daarmee kan optel. Nog beter is sweishandskoene. Dis relatief goedkoop en jy kan selfs ’n brandende stomp daarmee optel. Dit gebeur ook gereeld dat die driebeen of rooster verskuif moet word; sweishandskoene is dan net die ding.
Brandhout
Op baie plekke kan mens self gaan hout maak, maar in die woestyn- en dorre gebiede is dit skaars en in wildtuine verbode. Daarom is dit raadsaam om altyd ’n sakkie houtskool of twee saam te ry. Onthou net om dit in ’n plastiekvullissak te verpak. Wanneer die pad lank sinkplaat is, skud die houtskoolsak soms stukkend en dan is alles met ’n fyn swart stof oortrek. Die San se manier om ’n vuur brand te maak is weliswaar baie romanties, maar soms is die hongerpyne al weg, dan sukkel mens steeds om ’n vlam te kry. Onthou dus die vuuraanstekers en moet dit nie saam met die vars kos inpak nie, anders proe alles na paraffien.
Waar daar hout te koop is, doen dit. Ondersteun die plaaslike mense, veral as hulle deelneem aan ’n projek om indringerbosse uit te roei. Min vuurtjies brand so lekker as een wat met portjackson-stompies gemaak is.
In lande noord van die Zambezi word daar ook houtskool deur die inwoners gemaak. Daar is baie vrae rondom die ontbossing van die vasteland. As jy ’n sak houtskool langs die pad koop, dra jy daartoe by? Besluit maar self. Die houtskool word veral in die plakkersbuurte om die groot stede gebruik. Vir talle is dit die enigste bron van energie. Dit werk so goed dat, as mens klaar gekook of gebraai het, jy dit kan natgooi en môreoggend inpak om weer ’n keer te gebruik.
Oor die landsgrense
Ons hoor verskriklike stories van hoe mense se rypgemaakte filet, koedoerugstring of gemarineerde hoender by ’n veterinêre pos in Botswana afgeneem word, en daardie aand net mooi niks is om te braai nie. Dit is so dat wanneer jy oor die land se grense gaan, jy versigtig moet wees oor waarheen jy vars vleisprodukte neem. Die basiese reël is dat mens dit noord mag neem, en nie suid nie. Vind liewer vooraf uit, en maak plan om die vleis te koop daar waar jy gaan toer. In Namibië en Botswana byvoorbeeld, is daar uitstekende vleis. In ander lande soos Zambië en Malawi is die verwerking van die vleis nie so netjies as waaraan mens tuis gewoond is nie, maar met die gehalte is daar nie fout nie. Dis onnodig om dit van Suid-Afrika af saam te karwei. In Zambië en Kenia kry jy in die supermark ’n produk wat genoem word “boerewors”. Nie presies Groenkloof Slaghuis se resep nie, maar glad nie sleg nie. Probeer dit gerus ...
Sonder ’n reseptelys?
Vat dit saam!
Die spyskaart van elke dag sal bepaal hoeveel van wat nodig sal wees, maar hier is so ’n paar basiese goed wat in elk geval moet saamgaan:
□Aartappels
□Asyn
□Beskuit
□Bier
□Blikkiesvleis oftewel boeliebief
□Botter
□Droëgis
□Eiers
□Graanvlokkies
□Groente (blikkies)
□Groente (ontwater)
□Kaas
□Knoffel
□Koeldrank (blikkies)
□Koeldrank (aanmaak)
□Koffie
□Konfyt
□Kookolie
□Margarien
□Mayonnaise
□Meel: brood- en mieliemeel
□Mielieblom (Maizena)
□Mosterdpoeier
□Olyfolie
□Pakkiesop
□Pasta
□Peper
□Rakmelk (long-life milk)
□Rys
□Sapkonsentraat
□Slaai (in sakkies)
□Sout
□Speserye (vir beplande resepte)
□Spray and Cook
□Suiker (bruin en wit)
□Suurlemoensap (gekonsentreer)
□Tamatie-en-uiesmoor in blikke
□Tamatiepasta in foeliekoevertjies
□Tamatiesous
□Tee
□Tinfoelie
□Uie
□Vis (geblikte tuna en sardyne)
□Vuuraanstekers
□Wyn
WENK: ’n Boks met sout, peper, olie en ander basiese bestandele is essensieel. Hou dit alles bymekaar, dan soek jy nie onnodig nie.
Voordat die son hoog sit
Ontbyt op safari bestaan gewoonlik uit koffie en beskuit, en graanvlokkies vir die kinders. Daar is egter soms die kans om iets spesiaals te maak. Dis gewoonlik wanneer jy ’n paar dae lank op ’n plek oorstaan of uitry na ’n mooi plek spesifiek om daar ontbyt te gaan maak.
Eiers is feitlik oral te koop. Dit is egter altyd verstandig om die eiers, selfs dié wat jy by Woolies gekoop en die hele pad saamgery het, een vir een in ’n piering te breek voordat jy dit by die res van die gereg gooi. Een vrot eier kan maak dat almal daardie oggend bokspap eet.
Voetspore-omelet
Altyd ’n staatmaker. Ek het dit een dag in Kameroen gemaak toe die ander manne die voertuie gediens het.
Voorbereidingstyd 20 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
2 uie, gekerf
olyfolie
250 g sampioene
botter
2 eiers per persoon
bietjie melk
1 groenrissie, gekerf
2 tamaties, gekerf
gerasperde kaas
gemengde gedroogde kruie
sout en peper na smaak
Braai die uie in olyfolie tot sag; hou eenkant. Braai die sampioene in botter; hou eenkant. Klits die eiers en ’n bietjie melk saam (moenie met sout geur nie). Smelt botter in ’n pan op ’n warm plaat en gooi genoeg geklitste eier vir een omelet daarin. (Botter werk gewoonlik beter as margarien.)
Plaas ’n vulsel van uie, sampioene, groenrissie, tamatie en kaas in die middel van die omelet. Vou toe en besprinkel met gedroogde kruie, sout en peper.