ui, geskil en gerasper, of sprietuie, gekap
1 eier
15 ml (1 e) parmesaankaas
sout
50 ml (1/5 k) kookolie
Meng die gerasperde aartappels en uie. Klits die eier en meng dit saam met die kaas by die aartappelmengsel in. Geur met sout na smaak. Skep groot lepels vol daarvan in ’n pan met verhitte olie en vlakbraai die koekies aan albei kante tot ligbruin.
Eiers in pão
Hierdie een is vir die Mosambiekers.
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
6 Mosambiekse broodrolletjies (pão)
250 ml (1 k) gekapte tamaties
50 ml (1/5 k) gekapte sprietuie
3 brandrissies, gekap
25 ml (5 t) olie
8 eiers
100 ml (2/5 k) room
sout en peper
75 ml (5 e) botter
250 ml (1 k) gerasperde kaas
Sny die een kant van die broodrolletjies af en hol uit. Braai die tamaties, uie en brandrissies in olie tot sag; hou eenkant. Klits die eiers en room saam, geur met sout en peper na smaak, en maak soos roereier in ’n bottergesmeerde pan gaar. Skep eers die tamatiemengsel, daarna die roereier en dan die kaas in die uitgeholde broodrolletjies.
Keniaanse vermicelli-brood
Dis iets anders, maar probeer dit gerus.
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
500 g vermicelli
1 liter (4 k) onversoete klappermelk
125 g suiker
5 ml (1 t) gemmer
1 eier
125 g koekmeel
10 ml (2 t) botter
Kook die vermicelli in water tot al dente. In ’n ander pot, verhit die klappermelk en suiker ongeveer 5 minute oor matige hitte. Voeg die gaar vermicelli en gemmer daarby. Klits die eier in ’n klein bakkie, voeg 10 ml (2 t) van die warm klappermelk daarby en roer dit dan by die res van die klappermelk in (dit voorkom dat die mengsel skif). Meng die meel nou by en gooi die deeg in ’n gietysterpot wat met botter gesmeer is. Sit die deksel op, plaas op ’n matige vuur, met kole op die deksel, en bak soos ’n potbrood ongeveer 1 uur lank.
Terwyl die son ondergaan
Voorgeregte klink na moeite, maar dis net die ding om ’n gewone ete om die kampvuur spesiaal te maak. Mens het juis tyd om te sit en kuier terwyl die vuur se kole nog nie reg vir braai is nie of die potjie nog staan en prut.
Soutigheidjies
•Verskeidenheid beskuitjies: Die kuns is om die beskuitjies so in te pak dat dit nie net ’n klomp krummels is wanneer jy later die pakkie oopmaak nie. Sorg maar dat dit nie saam met die blikkieskos in die kratte beland nie.
•Verskeidenheid kase: Die kaas moet verkieslik in ’n yskas, en nie in die vrieskas nie, gehou word.
•Olywe: Swart- of groenolywe in plastieksakkies of blikkies.
•Patee: Patee in blikkies, tensy daar in die yskas plek is vir die sagte smere wat mens in plastiekomhulsels kry.
•En dan natuurlik biltong en droëwors. Dis nou as die kinders dit nie opeet voor jy by die kamp aankom nie. En sorg maar dat jy ’n ekstra paar biere inpak. Biltong maak mens nogal dors.
Spekrolletjies
Draai spekvleisrepe om ’n verskeidenheid happies en peusel daaraan voor ete.
Voorbereidingstyd 20 minute • Gaarmaaktyd 10 minute
spekvleisrepe
vars gemaalde swartpeper
Vulsels
Russiese, Weense of Frankfurtse worsies, in skyfies van 1 cm dik gesny
hoenderlewers, skoongemaak en liggies gebraai
pruime (gedroog of vars)
perskes (gedroog of vars), in stukkies gesny
appelkose (gedroog of vars), in stukkies gesny
pynappel, geskil en in stukkies gesny
Draai die spekvleisrepe om enige van die vulselbestanddele, steek dit met snoepstokkies vas en braai die rolletjies stadig op ’n fyn rooster sodat dit nie deurval in die kole nie. Sprinkel ’n bietjie vars gemaalde swartpeper oor.
Hoendervlerkies
Hoe langer die vlerkies gemarineer word, hoe beter.
Voorbereidingstyd 15 minute • Marineertyd 30 minute
Gaarmaaktyd 15 minute • Genoeg vir 6 mense
12–15 hoendervlerkies
meel
olie om in te braai
Marinade
30 ml (2 e) olyfolie
10 ml (2 t) fyngekapte knoffel
15 ml (1 e) worcestersous
15 ml (1 e) tamatiesous
5 ml (1 t) suiker
sout na smaak
10 ml (2 t) Engelse mosterdpoeier
15 ml (1 e) gekonsentreerde suurlemoensap
Sny die “naels” van die vlerkies af en maak ’n paar dwarssnitte met ’n skerp mes in die vleiskant daarvan.
Marinade: Meng die olyfolie, knoffel, worcestersous, tamatiesous, suiker, sout, mosterd en suurlemoensap. Gooi alles in ’n plastieksak of -houer, sit die vlerkies daarin en draai dit van tyd tot tyd om sodat die hoender alkant met die marinade bedek word.
Haal die vlerkies uit die marinade, rol in meel en braai in olie totdat dit mooi bruin is.
Hoenderborsies in bierbeslag
Dis nou as jy nie so dors is om die bier self te drink nie!
Voorbereidingstyd 10 minute • Gaarmaaktyd 20 minute
Genoeg vir 6 mense
500 g ontbeende hoenderborsies
2 eiers
5 ml (1 t) sout
400 g meel
200 ml (4/5 k) bier
5 ml (1 t) bakpoeier
750 ml (3 k) kookolie
Sny die hoender in 1 cm-repies. Klits die eiers, sout, 250 ml (1 k) van die meel, bier en bakpoeier saam. Verhit die kookolie. Gooi die oorblywende meel in ’n plastieksakkie, voeg die hoenderrepies by en skud goed tot alles bedek is. Doop die vleisstukkies dan in die bierbeslag en diepbraai dit in klein hoeveelhede in die verhitte kookolie tot goudbruin. Sit dadelik voor.
Pangebraaide oesters
Ek het nog altyd gedink om oesters op enige ander manier af te sluk as met suurlemoensap, swartpeper en Tobasco, is heiligskennis. Maar by Flamingo Lodge aan die Angolese kus het ons anders geleer.
Voorbereidingstyd 10 minute