Die vloer is klei getrap.
Mietjie is daar om ons na oom Poon toe te neem.
Hy lê in ’n deurmekaargewoelde kooi, die komberse hoog opgetrek dat net sy kroonhare uitsteek. Sy oë is dik geswel en sy gesig rooi.
“Dis sommer die griep, Fienie, jy moenie gekom het nie, wanneer steek jy nie aan nie …” En hy gaan aaklig aan die hoes.
“Dis inflammasie,” sê tant Fien. “Jy was natuurlik ongerekend met die patatuithalery en nou het jy dit daarvan. Jy het die hoesie van jou te oud laat word.” Sy bekyk die bottel medisyne wat die dokter daar gelos het. “Pure pepermentwater,” sê sy. “Ons sal ’n pap moet maak vir daardie longe.”
Sy laat Mietjie die vuur aanwakker en vra ’n ou laken om op te skeur. Sy werskaf ’n rukkie met haar botteltjies en blikkies en sif dan kamer toe met die mosterdpleister tussen twee borde om dit warm te hou. Sy buk oor oom Poon en lig hom met een hand orent en plak die pap agter sy blad. Toe hy weer teruglê en hard asemhaal, meet sy ’n lepel van die dokter se medisyne af en laat hom dit sluk, ook twee pille. “Kwaad kan dit nie doen nie en ’n mens moet maar goed hou met die mense ook, vir die dag dat jy regtig raadop is.” Sy maak oom Poon toe, en daarna is dit sy en Mietjie in die kombuis.
Sy gooi die vensters oop. “Kom, my suster, kom maak skoon. Maak water warm en was die skottelgoed. Julle sêperyter ruik soos ’n suur kalbas en gooi jy tog nie die melk hierdeur nie?” Sy hou die melkdoek teen die lig. “’n Pottevadoek. Ek sal ’n nuwe maak en bring.”
Sy laat die tafel afskrop en die vuurherd uitstof, sy laat vee die vloer en skrop die modder af, en tussendeur maak sy nuwe pappe wat sy om die beurt op oom Poon se bors en agter sy blad sit. Nie gelyk nie, dan trek jy die man se asem uit sy lyf uit, en dit lyk hoeka of dit nie baie sal kos om Poon dood te dokter nie.
Maar teen die latenstyd slaap oom Poon rustig. Daar kom iemand om vir die nag te bly en tant Fien is vir eers tevrede.
Die volgende oggend gaan koop sy ’n stuk melkdoek en kom soom om. Toe ry ons weer Skimmelkop toe. Oom Poon is soveel beter dat hy orent sit. Maar sy maak vir hom rou melk met eiergeel aan en ’n skootjie brandewyn, ’n druppeltjie terpentyn en soetolietjies.
Sy laat hom dit sluk.
En sy laat vir Mietjie huis skoonmaak. Sy laat skuur en sy laat vryf, sy gooi oop en trek weg. Dis spensrakke en gordyne en komberse, dis spinnerakke en dis stof en dis skimmel. Mietjie het sweetvlekke onder haar arms en tant Fien lyk soos ’n groot, vaal renoster wat ’n pad voor haar oopwerk. Sy laat die ganse en makoue en hoenders in ’n kamp jaag. Sy laat hark en sy laat vee. Sy laat die hout opmekaardra en ’n vuur maak. Sy rol moue op en vat voor.
Sy maak die slaghuis se naweekwors en sy kook seep van die konka kaiings wat al half goor geword het.
Sy ruk die werf reg terwyl oom Poon swak teen die kussings sit.
Later kook sy vir hom gortlym en maak melkpap. “Eet, Poon, dis lekker,” en sy druk die kussings agter hom in.
“Fien,” sê hy, “as jy vir my moet vra wat hóé smaak, weet ek nie. Ek proe lap. My mond is galbitter.”
Sy staan hand in die sy voor hom. “Maar Poon, dan is dit gal wat jy het. Dit moet afgewerk kom. Wanneer laas het jy kasterolie gedrink?” Sy haal net daar die langnekbottel uit en meet in ’n eetlepel af. “Drink, Poon, dat die koors kan afwerk, dat jy gesond kan word,” sê sy met haar hand stewig om sy agterkop.
“Ek gee tog nie meer om nie, Fien, ek het my tyd gehad,” sê hy swak.
“Drink, Poon, dis maar net ’n bietjie olietjies, jy sal nie daarvan doodgaan nie. Maak oop!”
Oom Poon se oë rol soos ’n wilde perd s’n en hy sluk. Hy sluk die halfkoppie lemoensap agterna.
Ek kry die lepel om in die as te gaan druk en gril uit my tone uit vir die taai olieruik.
“Die kasterolie sal hom regruk,” sê tant Fien toe ons die aand huis toe ry. “Hy sal miskien nog vir ’n dag of twee swak wees, maar hy sal regkom.”
’n Paar dae later kom oom Poon hoed in die hand by ons kombuisdeur in. Sy wange is nog hol en sy oë sit diep agter in sy kop. Maar sy broek se plooie is ingepars en sy hemp is glad gestryk. Sy stem is egter nog dieselfde klaerige stem van ouds.
“Fienie,” sê hy en sit met sy hoed op sy knieë voor die stoof, koulik. “Ek weet nie hoe ek moet dankie sê vir alles wat jy gedoen het met my siekte nie. Ek was glad skaam toe ek sien hoe jy gewerk het. Jy moet omtrent flou wees.”
Tant Fien sit rustig by die tafel met die laslappies. Die hoedespeld se kop skitter in haar los gedraaide bolla en haar krop is soos ’n waterkussing tussen haar en die tafel.
“Nee, Poon, dit was vir my ’n plesier. En flou is ek nog lank nie. Ek ken werk en ek ken van regstaan. Dit was vir my net te naar om te sien jy’s toegegroei daar op Skimmelkop. Wat jy kortkom, is ’n vrou daar op die plaas. Hoekom trou jy nie maar nie?”
Die naald flits deur die lappies.
Oom Poon sug diep en kyk by die kombuisvenster uit. Daar wil-wil ’n verwaarloosde laggie om sy mond kruip, maar toe kry die swaarmoedigheid weer die oorhand.
“Ai, ou Fienie, waar sal ek tog ’n vrou kry?” vra hy.
Tant Fienie vou haar hande en trek haar lippe styf. Haar smal voorkoppie plooi. “Poon, hoekom trou jy dan nie maar met mý nie?” vra sy doodernstig. Sy sit styf opgeryg en hou oom Poon stip dop.
Ek kyk vinnig na oom Poon. Sy oë rol daardie kasterolierol van die ander oggend toe tant Fien hom agter die nek beetgehad het. Maar nou is hy nie vasgepen in die kooi nie.
Dis die vinnigste opstaan wat ek nog gesien het. Hy vat sy hoedjie en sy stem is hoog en dun. “Maar Fienie, ek wil nou nie ondankbaar wees nie, maar jy kan mos nog nooit … jy sal jou mos morsdood kom werk daar op Skimmelkop … nee dankie, Fien.”
Hy val oor sy eie voete by die deur uit en sy dagsê kom van buite af.
Ons hoor die hekkie klap.
“En nou?” vra Ma van binne af. “Hoe lyk oom Poon dan nou soos een wat die skrik op die lyf gejaag is?”
“As hy geskrik het,” sê tant Fien met ’n skelm knipoog, “is ek bly. En as hy op loop gejaag is, hoop ek hy hol môre nog.” Dan skop sy haar twee bene in die sonstreep reguit en trek ’n pynlike gesig. “Nee kyk,” sê sy, “siek is een ding, en pyn ’n ander, maar ellendigheid is ’n sonde.”
Sy steek haar hand voor by haar bors in en haal haar beursie uit. “Sus, my dingetjie,” sê sy, “gaan koop vir tannie ’n blikkie brasso, asseblief tog, van die bloue, die witte beteken niks, en dan kom smeer jy my ou knieë in. Dit voel vir my hulle is die seewater ook al weer gewoond. En die seeklimaat is straf vir my rug. Aaag-já, so is dit …”
Sy kry daardie veraf Koekenaapkyk in haar oë.
Sy wonder hoe dit op haar eie werwe gaan.
In ons agterplaas het die houthoop klein geword.
En die snoekkuite is een van die dae ryp.
Ek byt diep in ’n plak perskesmeer en die soet lê heelpad op my tong.
Bloedige dag
Lya Solms skud die laaste stuk wasgoed met ’n driftige klapgeluid oop en pen die twee broekspype aan die draad vas. Dan buk sy en kantel die badjie blouwater in die gras om, gryp ’n stuk staalwol, skraap dit oor die seep en begin skuur die wateremmers en baddens met kort, haastige hale.
Sy hou die sonskaduwee dop wat om die watertenk se hoek kom. Sy het vanoggend vroeg, voordat sy plaas toe gekom het, haar eie bad wasgoed ingeseep en die suurdeeg net met meel deurmekaar gemaak en ’n bol gerol. Sy moet nog gaan knie.
“Wit en bont is op die bos,” rym sy, “en hard en sag is in die pot,” loop sy die tyd vooruit. Daar word agtermiddag geslag. In haar gedagtes ryg