Elsa Winckler

Om Amelie se tafel


Скачать книгу

      Om Amelie se tafel

      Elsa Winckler

      Satyn

      familie

      ons sit en lag om die tafel

      die kos stoom my ma se liefde

      terwyl tienermure (en humeure) versag,

      verbrokkel en geleidelik die onsekerheid breek

      ons sit en huil om die tafel

      met die dag se inhoud oopgebreek

      word insig en leiding uitgedeel

      deernis en genade ingeskep

      en die onvoorwaardelikheid ingesluk

      ons neem mekaar se hande

      en my pa koester ons harte

      ons sit en lag om die tafel

      Mia Winckler

      Proloog

      Die spierwit tafeldoek oor die lang tafel hang tot op die grond. Pienk en wit rose is al langs die middel in groot koper-en-glashouers gerangskik. Die borde is fyn, die messegoed silwer, die servette spierwit, groot en van lap.

      Op ’n sytafel staan bakke kos en die geur van skaapboud, gebraaide aartappels en stowepatats hang in die lug. In ’n langwerpige bak is boontjies en in ’n diep glasbak ’n bloedrooi aarbeislaai.

      Die mense om die tafel lag, ander skep kos in, party lê op die koel gras.

      Amelie lag en wil nader stap. Maar haar voete is swaar en sy kan nie beweeg nie. Sy wil na die mense roep en maak haar mond oop, maar geen klank kom uit nie. Sy steek haar hand uit. Miskien kan sy net aan die prentjie vat.

      Maar toe is die tafel en die mense weg en staan die boom alleen en kaal op die werf.

      Sy skrik wakker. Haar wange is nat van die trane en die groot gat in haar binneste is groter as ooit tevore. Vir ’n oomblik verbeel sy haar sy ruik haar ma en sit vervaard regop. Maar nee, sy is op een van die agt beddens in die lang saal waar die tienjarige dogtertjies slaap.

      Haar mooi ma is dood. Haar sterk pa ook. Sy gaan hulle nooit weer sien nie, nooit weer onder die boom saam met hulle eet nie. Hulle motor lê ver onder in die sloot, het Matrone gesê. Hulle is dood. Sy het bly leef. Daar was niemand anders wat na haar kon kyk nie. Sy het nie tannies en ooms nie en haar oupas en oumas is ook al dood.

      Amelie gaan lê weer en draai op haar sy. Sy trek haar bene op en vou haar arms styf om haar knieë. Miskien, as sy ’n rukkie so lê, sal die hol kol op haar maag weggaan.

      1

      “Meneer … Joe.” Amelie sluk. Haar baas probeer al die afgelope ses maande wat sy hier as statistiese ontleder werk om haar sover te kry om sy voornaam te gebruik. Dalk bevorder dit haar saak as sy hom nou Joe noem. Angstig hou sy hom dop, maar hy kyk nie van sy rekenaar af op nie. Sy maak keel skoon en probeer weer.

      “Joe, ek wil ’n guns vra,” begin sy weer, maar Joe lig een hand op terwyl hy met sy ander hand op die sleutelbord bly tik.

      Amelie kruis haar arms. Sy is lus om soos ’n klein kindjie op die vloer te gaan lê en met haar voete te skop. Nie dat Joe hom daaraan sal steur nie, maar sy sal ten minste beter voel.

      Uiteindelik, ná wat vir haar soos ’n ewigheid voel, kyk hy op. Daar is ’n effense glimlag om sy mond. “Ja? Wat kan ek vir jou doen?”

      “Ek … die naweek-ding. Ek …” stamel Amelie en kyk hoe Joe se wenkbroue hoog teen sy voorkop optrek. Sy probeer weer. “Meneer, die spanbou-ding. Ek kan nie gaan nie, dis net …”

      Amelie se brein werk oortyd. Sy het aan ’n baie goeie verskoning gedink voordat sy hier ingestap het, maar nou kan sy glad nie onthou wat dit was nie.

      Joe glimlag. “Ek is jammer, Amelie, maar vir die spanbounaweek gaan jy saam. Almal gaan saam.”

      “Maar …”

      Hy staan op van agter sy lessenaar en druk sy hande in sy broeksakke.

      “Jy werk nou al ses maande by ons. Het jy al met enigiemand in die kantoor bevriend geraak?”

      Amelie kyk onthuts na haar baas. Wat op aarde het dit met die hele spanboubesigheid uit te waai? Sy lig haar skouers effens en skud haar kop. “Ek …”

      “Presies. Om as ’n span te kan saamwerk moet ons mekaar beter verstaan. Ons ander werk al ’n geruime tyd saam, maar jy moet ook deel van die span word. En ’n naweek op die Karoo-vlaktes is net waar ’n mens dit kan regkry. Enigiets anders waarmee ek kan help?” vra hy ewe vriendelik, maar dis duidelik sy aandag is klaar weer by iets anders op sy lessenaar.

      Amelie byt op haar tande en skud haar kop. Sy draai vinnig om en maak die deur met moeite saggies agter haar toe. Want wat sy eintlik wil doen, is om dit so hard as moontlik in die kosyn toe te gooi.

      Sy bal haar vuiste en stap vinnig verby Joe se sekretaresse wat haar bo-oor haar bril dophou. Toe sy buite in die portaal voor die hysers kom, doen sy wat sy wou doen vandat sy die e-pos oor die simpel spanbou-ding gekry het. Sy lig haar voet en stamp dit op die grond. Hard.

      “Aargh!” protesteer sy gevoelvol. Die portaal is leeg en vir ’n oomblik gee sy haar oor aan die frustrasie wat in haar opborrel.

      Vies gooi sy haar poniestert oor haar skouer en draai vinnig om in die rigting van haar kantoor, wat ’n entjie laer af in die gang is. Maar haar pad word versper deur ’n baie breë, manlike borskas. Haar momentum laat haar nie betyds toe om te stop nie, maar twee sterk hande vou om haar arms en keer dat sy teen die man vasloop.

      Verbouereerd kyk sy op. ’n Paar bruin oë glimlag af na haar. Sy raak stil. Elektrisiteit kraak in die lug. Hy los haar arms. Haar asem raak weg, die lug om hulle is roerloos.

      Voor haar staan die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Die hysbak gaan geruisloos agter hom toe. Hy moes uitgestap het terwyl sy haar frustrasie op die vloer uitgehaal het. Hy is ’n mengsel van Brad Pitt, die Camel Man en …

      Sy sug amper. Nee, niemand anders lyk regtig soos hy nie.

      Haar oë gly oor hom. Sy bruin hare is lank, agteroor gekam en krul laag af in sy nek. Sy stoppelbaard is ’n dag oud, as sy moet raai. Maar dis sy gespierde boarms en bolyf waarnatoe haar oë bly dwaal. Onder die spierwit hemp wat hy aanhet, beweeg sy boarmspiere. Gefassineerd hou sy hulle dop.

      “Dink jy jy is nou ontslae van al jou frustrasie?” vra die man geamuseerd en Amelie voel hoe ’n gloed oor haar gesig versprei.

      “Dit lyk asof jy baie ingehoue aggressie in jou het,” sê hy kamma ernstig, maar die duiweltjies dans in sy oë.

      Amelie vervies haar vir die groot vent. Geïrriteerd tree sy terug en lig haar ken. “Jy is in my pad,” grom sy en stap verby hom, haar kop in die lug.

      Agter haar lag hy. “Wil jy nie jou voet net weer so stamp soos netnou nie? Ek het nog net my suster se tweejarige dit sien doen. Dit lyk heeltemal anders wanneer ’n sexy vrou dit doen.”

      Amelie steek in haar spore vas. Sonder om om te draai, tel sy tot by tien soos haar jare in die weeshuis haar geleer het wanneer sy kwaad wil raak. Eers toe sy by tien kom, draai sy om en glimlag. Wel, oukei, sy probeer glimlag.

      “Tot siens, meneer …”

      Hy glimlag en steek sy hand uit. “Chris. Chris Meyer.”

      Sy kyk af na sy groot hand. Sy gaan nie daaraan raak nie. Geen manier nie. Maar dis asof haar hand ’n eie wil het en voor sy haar kom kry, vou sy groot sterk hand hare toe. Iets warms beweeg teen die spoed van lig deur haar hele lyf.

      Sy glimlag word ’n aks minder rojaal.

      Hy laat sak sy hand vinnig en druk dit weer in sy broeksak. “En jy is …?” Die breë glimlag is in plek.

      “Haastig.” Sy stap vinnig terug na haar kantoor.

      Sy het nou genoeg gehad van hierdie Maandag. Eers moet sy hoor die simpel spanboubesigheid