het nie swemklere ingepak nie,” probeer Amelie keer.
“Geen probleem nie. Ek het drie stelle ingepak.” Louna kyk haar op en af. “Ek dink ons het min of meer dieselfde lywe. Ek is seker een sal jou pas.”
“Ek …” wil Amelie nog keer.
Maar Louna skud haar kop. “Jy kom saam. Dis tyd dat almal jou leer ken,” glimlag sy.
“Oukei, maar ons kyk eers of jy iets het wat my pas,” sê Amelie. Hopelik is daar niks wat kan werk nie.
“Amelie, jy ook,” hoor sy Chris se stem en sy draai in sy rigting. En ai tog! Dis ’n goeie ding sy sit. Hy sit in die middel van die kring en gooi ’n kleinerige balletjie in die lug terwyl hy praat. Elke keer wat hy die balletjie vang, bult sy boarmspiere.
Dit duur ’n rukkie voordat sy besef sy staar.
Sy ruk haar kop op net om in sy laggende oë te kyk. Die pes. Hy wéét. Hy weet presies watter uitwerking hy op haar het. Soos gisteraand. Daaraan wil sy liewer glad nie dink nie. Nog nooit in haar lewe was sy so intens bewus van ’n man nie … het haar liggaam so gereageer net op ’n man se nabyheid nie. Wat gaan met haar aan?
“Kom ons begin. Ek gooi die bal vir Amelie,” sê hy en gooi die bal in haar rigting.
Sy steek net betyds haar hand uit om dit te vang.
“Mooi so!” prys hy. “Gooi dit nou vir enigiemand anders. Sê die persoon se naam en gooi dit vir hom of haar,” beduie hy.
“Schalk!” roep sy en gooi die balletjie in die rigting van haar kollega. Hy is die een mens wie se naam sy darem voor die naweek al geken het.
Chris sluk sy glimlag en voeg ’n derde balletjie by. Krete van verontwaardiging styg op, maar die klompie probeer saamspeel en baie gou werk hulle saam en word al drie balle rondgegooi.
Hy sukkel om sy oë van Amelie af te hou. Sy het nie ’n keuse nie, sy moes deelneem of die bal laat val. En dít, het hy gou agtergekom, sal sy nie doen nie. Die meisiekind is verbete kompeterend. Sy sal eerder uit haar dop klim en praat voordat sy ’n fout maak.
Interessante ene. Die speletjie het ten doel om die deelnemers te laat fokus, hulle op mekaar in te stel, mekaar te leer ken. As hy dit nie mis het nie, het sy vandag vir die eerste keer die name van die mense saam met wie sy werk, leer ken. Sy het dit vinnig gedoen. Dis heel waarskynlik net hy wat agtergekom het hoe sy aanvanklik konsentreer en luister wanneer deelnemers se name uitgeroep word.
Die volgende speletjie behoort nog stukke van die legkaart wat Amelie le Roux is, inmekaar te laat pas.
Terwyl hy na haar kyk, word twee van die drie balle gelyk na Amelie gegooi. Sy trek haar asem hoorbaar in, maar gryp ’n bal met elke hand vas. En sy lag. Klokhelder. Haar oë blink en sy gooi haar hare oor haar skouer.
Alles rondom hom vervaag. Sy hart skop en duik geruisloos af in sy binneste. Bliksem.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.