nou in jou bekwame hande oor. Ek sal help om mense na die huisies te vervoer, maar daarna het ek ’n afspraak met ’n yskoue bier.”
Laggende bruin oë ontmoet Amelie s’n vlietend voordat hy na die res van die groep kyk. Dis wragtig hý. En sy moet ’n naweek lank na hom luister?
“Dagsê, mense.” Hy beduie na die groot gebou langs hulle. “Ek gaan die sleutels van die huisies kry. Almal sal seker eers wil afpak en kyk waar hulle vanaand slaap. Ons ontmoet mekaar weer oor ’n uur hier vir aandete wanneer ek die res van die program sal verduidelik.”
Die ander maak aanstaltes en stamp aan haar, maar Amelie voel of sy vasgesement is aan die grond. Om hier te wees is al erg genoeg, nou is dié man ook nog hier.
“Nog steeds die ene aggressie, juffrou Le Roux?” vra ’n stem agter haar.
Sy lig haar ken en draai na hom toe. Hy is nader as wat sy gedink het en sy geur omsingel haar, laat haar lighoofdig voel. Hy ruik na veld, na leer, na mán. Sy praat vinnig. “Nee, doktor Meyer, ek is doodkalm,” sê sy met ’n stywe glimlag en loop weg van hom af.
Sy oë lag vir haar en sy moet op haar tande byt om nie haar frustrasie uit te kreun nie.
“Die res van jou huismaats.” Hy roep drie ander vroue nader. “Joe sal julle gaan aflaai.” Hy beduie na waar Joe se voertuig staan. Toe draai hy om en stap na ’n volgende groepie toe.
“Dankie, Chris,” koer die drie agter hom aan, en toe hy wegstap, waai een van die vroue haar gesig kamma koel.
“Chris Meyer. Hottest bachelor in die omgewing en ons is ’n hele naweek saam met hom,” sug sy.
“Ek weet. Is ons nie gelukkig nie!” roep een van die ander uit.
“Ons praat van twee nagte onder die Karoohemel. Enigiets is moontlik,” glimlag die derde een.
Die drie draai na Amelie en haar moed sak tot in haar skoene. Te oordeel aan die uitdrukking op haar huismaats se gesigte, is hulle net so min lus vir haar soos sy vir hulle. Die drie is deel van die bemarkingspan en is gedurig aan die giggel oor een of ander date wat een van hulle gehad het. Berge val op haar. Hoe praat ’n mens met sulke vroumense?
“Amelda? Amanda? Wat is jou naam nou weer?” vra een vir haar.
“Amelie,” sê sy kortaf en klim voor in Joe se voertuig.
Sy het regtig niks vir die drie te sê nie. En nou moet sy bleddiewil die volgende agt en veertig plus uur saam met hulle deurbring. Seriously? Sy het nog altyd die regte ding probeer doen, hoekom word sy nou so gestraf?
“Is julle meisies reg vir die avontuur?” vra Joe met die inklimslag.
Die drie agter haar oe! en aa! maar Amelie pers net haar lippe opmekaar. Sondag is verskriklik ver.
Joe ry met hulle na van die groter huisies. Dit lyk minstens skoon en netjies, besluit Amelie dankbaar. Die huisies se kleur en strooidakke pas in by die omgewing, en hulle lyk gerieflik. Sy het al visioene gehad van tente en stof en goggas in haar bed.
Joe help hulle om hulle bagasie af te laai. “Nou toe, maak julle tuis, ek kom haal julle weer net voor aandete.”
Vir ’n oomblik is Amelie lus en klim weer by hom in, maar hy glimlag vir haar en ry met ’n wuif van sy hand weg.
Amelie kyk die drie bokse wat in die middel van die vertrek staan agterdogtig aan. Dit lyk soos ’n kindertuinklaskamer. Die res van die mense drom om die bokse saam. Sy staan so ’n entjie weg.
Hulle het klaar geëet in die gesellige eetkamer en het verskuif na ’n aangrensende groot saal.
“Wel, ek sien julle het julle speelgoed gekry,” sê Chris agter hulle en saam met die ander draai sy om na hom toe.
Sy sluk.
Die man is onmoontlik aantreklik. Dis duidelik hy het intussen gestort: sy hare, wat agteroor gekam is, is nog klam. En in plaas van die leerbaadjie van vroeër, het hy ’n swart T-hemp aan by jeans wat niks, hoegenaamd niks van sy lenige, gespierde lyf wegsteek nie.
Amelie kyk weg. Dis ’n vreemde gevoel dié. En sy kry dit elke keer wanneer sy hom sien. Sy sukkel om genoeg suurstof in te asem en dis asof haar hele lyf gloei. Maar, soos sy duidelik op die ander meisies se gesigte kan sien, hy het ’n soortgelyke uitwerking op hulle almal.
“Ek het gedink ons doen so ’n oefening vanaand binnehuis net om dinge aan die gang te kry. Sal julle asseblief in drie groepe verdeel? Kry vir julle ’n hoek en besluit wie die groep se verteenwoordiger is. Ek wag hier by die bokse op die drie verteenwoordigers.”
Wrewelrig vou Amelie haar arms. Verdomp. Sy haat hierdie besigheid van groepies-groepies. Kan die mense nie iets nuuts uitdink nie?
Sy kom agter die ander het klaar in drie groepe verdeel. Sy is nog al een wat eenkant staan.
“Kom hier na ons toe, Amelie,” nooi Schalk.
Sy stap vinnig na die groep toe. Gaan hierdie dag nooit as te nimmer end kry nie?
Sonder meer word een van die afdelingshoofde gekies as hulle verteenwoordiger en hy stap terug na waar Chris by die bokse wag. Die twee ander groepe se verteenwoordigers sluit by hom aan en hulle luister aandagtig na wat Chris sê.
Na ’n paar minute stap elke verteenwoordiger met ’n boks onder die arm terug na sy groep toe.
Hulle groep se verteenwoordiger sit die boks voor hulle neer en maak dit oop. “Ons moet die hoogste vrystaande toring bou wat ons kan met die materiaal wat in hierdie boks is. Die doel is om kommunikasie en samewerking aan te moedig. Dis al wat ek weet. Ons het twintig minute.”
Van die ander in die groep help hom om die inhoud van die boks uit te pak. Daar is rolle en rolle maskeerband, ’n paar kartonbekertjies, ’n klompie lekkergoedstokkies en een vel tekenpapier.
Chris probeer om sy aandag tussen al drie groepe te verdeel, maar dis moeilik, want as hy hom kom kry, is sy oë op Amelie.
Hy dwing hom om rond te kyk. Al die groepe het die inhoud van die bokse uitgepak. Een groep drom bymekaar en dit lyk asof hulle aan ’n plan werk. Die ander groep het begin bou. Dis ’n deurmekaar besigheid, maar die begin van ’n toring is daar.
Sy oë beweeg vanself na die groep waar Amelie is. Sy het plat op die grond gaan sit by die goed wat haar groep uit die boks gehaal het. Hy stap nader en hoor hoe die ander ’n soort strategie bespreek, maar dit lyk asof Amelie haar nie daaraan steur nie. Sy het met die toring begin.
Terwyl hy na haar kyk, lig sy haar en leun vorentoe om iets nader te trek. In die proses trek haar toppie effens op en ’n paar netjiese boudjies word na sy kant toe opgelig. Aan die bokant van die broek se band steek ’n swart kantnommertjie so amper-amper uit.
Weer slaan ’n vuishou van begeerte hom in sy maag en dié keer snak hy amper hardop na sy asem. Bliksem. Al die bloed in sy brein sak sowaar af.
“Chris!” roep iemand uit die groep langsaan en verlig draai hy soontoe.
Die persoon hou ’n bos stokkies in sy hand. “Ons het vyf en dertig stokkies, maar net tien kartonbekertjies. Daardie groep,” sê hy en beduie na die groep langs hom, “het net ’n paar stokkies maar baie meer bekertjies as ons. Kan ons uitruil?”
“Nee man,” sê ’n ander persoon, “ons kompeteer heel waarskynlik teen hulle. Kom ons kyk wat ons kan doen.”
“Julle vaar goed,” sê hy en stap oor na die volgende groep. Die punt is juis dat die groepe moet besef hulle is beter daaraan toe indien hulle saamwerk en die inhoud van die bokse deel. Maar dis iets wat hulle self moet uitwerk.
Hy draai om en kyk weer na Amelie se groep. Ondanks die feit dat hulle groep net een vel tekenpapier gekry het, vorder Amelie met die toring. Die ander het begin nader staan en met haar gesels. Van hier af kan hy sien dat sy nie eintlik lus is om te praat nie. Haar skouers is stram en sy kyk skaars op na die mense wat met haar praat. Met ’n glimlag draai hy weg en stap na een van die ander groepe toe. Sy sal wel besef