“Jy’s te gekompliseerd?” lag Natalie.
“Soos jy alte goed weet,” sê Amelie. “Ons was tog van amper altyd af kamermaats.”
“Wie ken jy wat nie ’n bietjie complicated is nie? Die geheim is om nie toe te laat dat dit jou verhoed om gelukkig te wees en liefde te vind nie.”
Lank nadat Natalie weg is, eggo haar woorde nog in Amelie se kop. Liefde vind. Sy is maar skrikkerig daarvoor. En sy het nie ’n sielkundige nodig om te weet hoekom sy so versigtig is nie. Mense gaan weg, of nog erger, hulle gaan dood. Sy hou mense maar op ’n afstand. Op dié manier kan sy seker maak haar hart sal nooit weer so seerkry soos die dag toe sy moes hoor haar ma en pa is dood nie.
Jan het probeer, maar dit sou nooit met hom kon werk nie. Ná die bos lelies is dit vir haar duidelik hy weet nie hoe haar kop werk nie.
“Volgende keer. Ek belowe,” sê Amelie terwyl sy en Natalie tussen die ander mense hulle weg na die zumba-klas baan.
Natalie snork. “Gmf, jy vergeet elke keer van jou belofte. Nee, wat. Ek gaan jou eenvoudig agter die stuurwiel vasbind,” dreig sy en systap ’n paar mense wat van voor af aankom.
Amelie word eenkant toe gedruk en beland agter die breë rug van ’n man wat staan en gesels. Sy probeer om hom loop, maar aan weerskante drom mense. Haar oë sak af. Sy gymbroek pas netjies om ’n paar baie sexy boude. Sjoe. Sy is skoon kortasem.
Sy probeer weer om die man beweeg, maar die vorige zumba-klas het skynbaar so pas klaargemaak. Mense stroom verby. Geïrriteerd deur die man wat die plek vol staan en haar simpel reaksie op ’n netjiese lyf, beur sy weer, en dié keer gebruik sy haar elmboog om ’n pad oop te maak.
Die man beweeg effens weg en sy probeer verbyglip, maar sterk vingers vou om haar boarm.
“Woah, juffrou, dis ’n geniepsige elmboog wat jy daar …”
Sy ruk haar los en draai vies om na hom toe. “As jy nie …”
En toe slaan haar woorde agter in haar keel vas. Dis wragtig die man wat gister haar voetstampery gadegeslaan het.
Hy het ook opgehou praat, maar glimlag breed. “Ek moes geweet het dis jy,” lag hy. “Nog nie ontslae van al die aggressie nie?”
Vererg draai sy weg sonder om hom te antwoord. Simpel vent. Hy staan die plek vol en nou is sý die ene aggressie? Sexy boudjies of te nie, sy hoop regtig sy hoef hom nooit weer raak te loop nie.
Chris kyk die vroumens agterna. Sjoe, wat ’n lyfie. Kyk daardie lang, lang bene. En vir ’n vlietende oomblik het hy ’n glimps gehad van ’n paar baie sexy boobies. Maar o aarde, wat ’n beneukte entjie mens.
As sy nie haar voet uit frustrasie stamp nie, gebruik sy haar elmboë om ’n pad oop te baklei. Hy kyk rond. Hy het seker op ’n slegte plek staan en gesels, maar almal doen dit maar hier. Niemand raak opgewerk daaroor nie.
Hy het haar nog nooit by die gym gesien nie. Hy is ’n volbloedman en so ’n lyf sou hy nie misgekyk het nie.
Die musiek begin speel in die vertrek waarin die meisiekind verdwyn het en hy stap na die gewigte waar ’n klomp ander mans staan en oefen. Mmm, van hier af kan hy die groepie dophou sonder dat sy dit agterkom.
Hy is opgewonde oor die naweek. Sy werk maak hom opgewonde, maar hierdie keer is die vooruitsig dat hy dié enetjie ’n naweek lank kan dophou, ook daar. Hy glimlag.
Die klomp langsaan buk almal vorentoe, maar sy oë val net op een paar netjiese agterstewe. Begeerte slaan soos ’n vuishou teen sy maag en hy laat sak die gewigte vinnig. Bliksem. As hy nie vanaand ’n voet wil verloor nie, sal hy moet begin konsentreer op wat hy doen.
3
Chris gryp die tweejarige Paul om sy lyfie en swaai hom in die rondte. Die kleintjie gil van plesier.
“Ma sê julle moet kom eet!” roep sy suster Nicola van die stoep af.
Chris tel die seuntjie hoog bokant sy kop op en laat sak hom sodat hy op sy nek sit. “Kom, ons gaan eet!” roep hy en klim die trappies op tot waar ’n lang gedekte tafel op die stoep staan.
Hy laat sak sy suster René se seuntjie tot op die grond en kyk laggend hoe klein Paul dadelik op Tessa, sy ouma se groot Labrador, afpyl. Tipies seunskind is hy nie vir ’n oomblik stil nie.
“Kom sit, mense,” roep sy pa en almal staan geselsend nader.
Dis Sondag. En Sondae sit hulle aan om sy ma se kospotte. Sy dring nie daarop aan nie, maar hulle mis ’n Sondagete net by hoë uitsondering.
Neethling slaan hom op die skouer. “Ek en swaer Neil het gereken om volgende naweek by Romansbaai te gaan duik. Kom jy saam?”
Chris kreun en skud sy kop. “Ai man, ek sou graag ’n slag saam met julle wou duik, veral voor die einde van die kreefseisoen, maar ek kon nie nee sê om ’n spanbousessie volgende naweek te hou nie. ’n Pel het my by die maatskappy aanbeveel.”
Neil kom nader gestap. “Nou wanneer is jy beskikbaar? Jy is omtrent elke naweek besig. As jy nie spanbousessies hou nie, is jy met een of ander girl besig.”
Chris lag. “Ek het nog ’n lewe, ek is nie getroud soos jy nie,” spot hy sy swaer. “Maar ek sal bietjie kyk na my dagboek en julle laat weet wanneer ek weer kan saamgaan.”
“Wie praat van trou?” vra sy ma. “Chris?”
Chris buk af en soen sy ma op haar wang voordat hy laggend langs haar gaan sit. “Ma het een dogter wat getroud is. René het selfs twee seuntjies. Is dit nie genoeg nie? Jou ander drie kinders is nog doodgelukkig so op ons eentjie. Ons het nie trouplanne nie.”
Nicola gee hom ’n dankbare kyk oor haar kamera. “Dankie. Ek is bly iemand anders sê dit ook vir haar.”
“Ja, Ma. Speel met jou kleinkinders,” grinnik Neethling.
Sy ma kyk Chris fronsend aan. “Jy is my oudste kind. Ek kan nie glo dat jy nog nooit ’n meisie ontmoet het wat jy huis toe wil bring nie. Dis net nie normaal nie,” sê sy. “Neethling bring ten minste af en toe ’n meisie hier aan. Nou wel nooit meer as een keer nie …”
“Bang julle raak attached,” sê Neethling.
Vir ’n oomblik sien Chris weer die langbeen-meisiekind met die koringblonde hare en blou oë wat haar voet stamp en hom met haar elmboog uit die pad dwing, maar hy lig een skouer. “Trou is definitief nie op my agenda nie. Maar wanneer ek die regte een ontmoet, Ma, bring ek haar om jou kos te kom proe. Ek belowe.”
“En wanneer sal dit wees?” vra sy ma.
Sy pa lag. “Jy weet mos al jy gaan dié een nie wen nie. Bring haar maar huis toe.”
Chris lag onseker. “Watter ‘haar’? Daar is nie ’n ‘haar’ nie,” probeer hy nogmaals duidelik maak.
Nicola wink vir hom. “Kom kyk gou na die foto,” sê sy en beduie na haar kamera.
Gelate staan Chris op en stap om die tafel sodat hy oor sy suster se skouer na die foto op haar kamera kan kyk.
Sy blaai vinnig deur die foto’s wat sy al geneem het. “Kyk jou gesig,” fluister sy en druk met haar vinger op sy gesig. “Ek het dit op die presiese oomblik geneem toe Ma gesê het sy kan nie glo jy het nog nooit ’n meisie ontmoet wat jy wil huis toe bring nie. Lyk vir my of daar tog iemand is?” sê-vra sy skalks.
Chris staar na die foto van homself. Wat is die uitdrukking op sy gesig? Verbasing? Nee, dis nie dit nie, dis eerder … verwondering?
Hy vryf Nicola se hare deurmekaar en lag. “Jy moet ophou om die lewe deur ’n kamera se lens dop te hou, Sus. Jy sien gesigte en droom drome.”
Maar sy glimlag net en bêre haar kamera.
Effens vererg stap hy terug na sy sitplek. Dis net verbeelding. Ja, die meisiekind wat hy gesien het, is baie sexy en ja, hy dink tydig