Elsa Winckler

Om Amelie se tafel


Скачать книгу

eerste stopstraat voor jou deur. Ons volgende mikpunt is dat jy verder as die straat voor jou huis ry,” sê sy met ’n glimlag.

      Amelie gee haar ’n kwaai kyk, maar Natalie praat verder. “Almal van ons wat in die weeshuis grootgeword het, het een of ander huge issue, maar ’n mens moet leer om dit te hanteer, anders gaan jy nooit kan groei nie.”

      “Al weer Oprah gekyk?” vra Amelie snedig.

      Natalie glimlag. “Nee, Amelie, dis gesonde verstand. Wanneer ’n mens jou situasie op ’n afstand beskou, kry jy tog perspektief en dan is baie dinge nie meer so erg nie.”

      Sy lig ’n tweede vinger op. “En jou tweede probleem. Ja, sover ek weet, is die Karoo Nasionale Park deel van Sanparke. Dus dink ek nie jy gaan dit heeltemal rough nie. Dis gewoonlik heel beskaafd.”

      Amelie snork onvroulik, maar Natalie tel verder op haar vingers af.

      “Wat jou laaste probleem betref: Jy is ’n spesiale vriendin en ’n nice mens, maar jy hou jou so eenkant dat mense nie die kans kry om jou te leer ken nie. En ons al twee weet hoekom. Jy is bang vir seerkry, bang om mense in jou lewe toe te laat, want netnou kom hulle iets oor. Maar jy kan nie die res van jou lewe so deurbring nie.” Natalie klink moedeloos. “Gesels met die mense, dalk vind jy uit julle het meer gemeen as wat jy gedink het.”

      Amelie sug. “Ek is nie soos jy nie,” brom sy. “Ek hou daarvan om alleen te wees. Ek doen my werk en kom huis toe. Die mense saam met wie ek werk, is nie my pelle nie.”

      Natalie staan op. “Jy werk saam met ander mense. Let op die ‘saam met’. Julle het mekaar nodig, of jy dit nou wil weet of nie. Jy hoef nie beste maatjies met hulle te wees nie, maar wees ten minste vriendelik. Ek weet presies hoe jy kan lyk wanneer jy jou Le Roux-gesig opsit. Die rede hoekom jou baas die spanbousessie reël, het heel waarskynlik iets daarmee te doen.”

      “Ek hou van my Le Roux-gesig,” brom Amelie. “Dit is en bly ’n simpel idee. Ek is wie ek is, en ’n naweek op die vlaktes gaan my nie skielik in Miss Congeniality verander nie.”

      Natalie glimlag. “Ek wonder of hulle al voorheen so ’n spanbousessie gereël het en of dit ’n nuwe ding is.” Sy gee vir Amelie ’n drukkie. “Probeer intussen uit jou dop kruip, gesels met die mense by jou werk, gaan drink ’n glasie wyn saam met een. Dis wat kollegas doen. By the way, wat het van die liewe Jan geword?”

      Amelie klap haar tong. “Hy’t vir my ’n bos lelies gestuur.”

      Kamma dramaties, trek Natalie haar asem in en hou ’n hand teen haar voorkop. “O nee, net nie dít nie. Net nie lelies nie!” roep sy uit. “Foeitog, dis nou al die tweede ou in ses maande wat die vreeslike fout begaan,” lag sy.

      Amelie sug. “Ag, toe nou. Jy weet hoe ek oor bosse lelies voel.”

      Natalie gee haar ’n drukkie. “Ek weet. Jou ouers se begrafnis. Maar,” glimlag sy, “dit bly maar vreemd.”

      Amelie lig haar ken op. “Wel, dis soos dit is.”

      “Ai, en ek het nogal van die liewe Jan gehou,” glimlag Natalie. “Nou nie die opwindendste peanut in die pakkie nie, maar nice.”

      “Ek weet,” sug Amelie. “Maar …” begin sy en beduie met haar hande, “daar is net nie fireworks nie, jy weet? Ek het eintlik van die begin af geweet dit kan nie werk nie, maar …”

      “… jy was jammer vir hom?” glimlag Natalie.

      Amelie lig een skouer. “Seker maar. Anyway, ek het hom laat weet wat dit ook al was, is verby.”

      Natalie skud haar kop. “Ten minste weet jy presies wat jy níe wil hê nie,” glimlag sy. Sy kyk op haar horlosie. “Dis later as wat ek gedink het en ek moet waai.”

      Amelie glimlag verleë. “Ek is jammer. Ek is mislik vanaand en nou moet jy dit vergeld. Jy’s reg. Dis hoog tyd dat ek ten minste probeer om oor al my geite en issues te kom. Bly nog ’n rukkie, jy hoef nie nou al te gaan nie.”

      “Ek gaan gym. En dis hoekom ek eintlik hier is. Ek het jou ook ingeskryf. Van môre af kom jy saam. Ek kom haal jou en,” glimlag sy, “ons gaan met jou motor ry. Jy gaan bestuur.”

      Amelie trek haar asem in om te protesteer, maar sy sluk die angstigheid wat in haar opstoot en knik haar kop. “Ek weet nie van die bestuur nie, Nats, maar ek sal probeer. Ek het darem self besef ek moet oefening kry. Noudat dinge by die werk min of meer onder beheer is, hoef ek nie meer so laat te werk nie. Ek het verlede week al begin draf.”

      Natalie knik haar kop. “Ek is bly. Die gym is twee blokke van jou huis af. Dis ’n maklike afstand vir jou om self te bestuur. Ons probeer net. Ek is mos by jou.” Natalie gee haar arm ’n drukkie.

      Met haar verstand weet Amelie dis belaglik dat sy op agt en twintig nog nooit self bestuur het nie, en hoewel sy al minder paniekerig is by die gedagte aan bestuur, kan sy dit nog nie heeltemal ignoreer nie. Ja, sy ry darem al saam met ander mense, maar die idee dat sy self moet bestuur, freak haar nog bietjie uit.

      Desondanks het sy, kort van asem en duiselig van senuwees, so twee maande gelede vir haar ’n motor gekoop. Die leerlisensie was nie ’n probleem nie, dit was en is die praktiese deel wat van haar ’n senuweebol maak. Met eindelose geduld het Natalie haar darem al sover gekry om in die straat voor haar huis te ry.

      Elkeen van die prosesse is pynlik, maar sy besef dis nodig. Dit het ’n maand geduur voordat sy self agter die stuurwiel kon inskuif. Daarna het dit makliker gegaan, maar verder as die straat voor haar huis het sy dit nog nie gewaag nie.

      “Jy’t nog ’n stoel bygekoop,” glimlag Natalie en vat aan die ruglening van Amelie se nuwe aankopie. “Jou plekkie is besig om huis te word, nes jy altyd wou hê.”

      Amelie knik haar kop en kyk om haar rond. Met die geld wat haar ouers vir haar nagelaat het, kon sy gaan swot. Daar was ook genoeg oor vir ’n deposito op hierdie skakelhuisie in die Paarl.

      Dis oud en was baie verwaarloos, maar die afgelope twee jaar het sy naweke hard gewerk. Dit begin al beter lyk. En dis háre. Niemand kan dit by haar afvat nie. Niemand kan vir haar sê sy kan nie meer hier bly nie of haar dwing om vreemde mense by haar te laat bly nie. Dis hare. Wel, hare en die bank s’n, maar uiteindelik sal dit net hare wees. Dit was haar vurige droom vandat sy die eerste aand in ’n lang saal saam met ander kinders moes slaap.

      “Die tuin aan die agterkant is nog ’n woesteny.” Terwyl sy praat, kyk Amelie by die venster uit na die wildernis wat eens seker ’n tuin was. Wat haar hart gesteel het toe sy die eerste keer na die eiendom kom kyk, was die groot boom aan die een kant van die erfie. Ondanks die onkruid, kon sy ’n lang tafel in haar verbeelding daar sien staan.

      Dít was haar huis, sy het nie verder gesoek nie.

      Natalie lag. “Jy sal daarby ook kom. Onthou jy nog hoe dit die eerste ses maande gelyk het nadat jy ingetrek het?”

      Amelie knik haar kop en kyk om haar rond. “Ek het van die vloer af gelewe. Maar ek kon van toe af elke maand ietsie koop en met my nuwe werk wat soveel meer betaal, behoort ek die plekkie vinniger vol te kry,” glimlag Amelie.

      Sy stap saam met Natalie voordeur toe.

      “Maak nou pelle met jou kollegas. Dit help nie jou huis is vol meubels en mooi goed en jy het nie mense met wie jy dit kan deel nie,” preek Natalie nog vir oulaas. Sy glimlag. “Jy het mense nodig wat om jou lang tafel gaan sit,” sê sy en sug. “Jy weet, die een waarvan jy altyd droom.”

      Amelie sluk aan die knop in haar keel. Natalie ken haar so goed. Sy was die een vir wie sy in die donker ure in die weeshuis van haar droom kon vertel: Die een van die mense aan ’n lang tafel onder ’n groot boom. Dit was nooit nodig om vir Natalie te verduidelik hoekom sy hierdie huisie wou koop nie. Toe sy vir haar die boom wys, het sy geweet.

      Hulle vee al twee oor hulle oë.

      Natalie lag. “En wie weet, dalk ontmoet jy jou soul mate in die Karoo. Een wat sal weet hy moet liewer vir jou rose of ’n rekenaar present gee as lelies.”