Helene de Kock

Helene de Kock Omnibus 4


Скачать книгу

erken Pietman verleë, maar toe hy nog verder wil beduie, neem die man hom aan die arm en trek hom verby die kroegtoonbank in die kombuis se rigting.

      “Jy is mos professor Murray se kleinseun? Die een wat werk soek?” Pietman knik swyend en die man lag weer. “Nou ja, welkom hier, jong! Gaan solank kombuis toe dat Patience jou kan touwys maak!”

      “Beteken dit dat ek nou die werk gekry het?” vra Pietman vervaard. Die man kyk hom stip aan, knik plegtig.

      “Jip. Ons sal later vir jou koffie gee, maar eers sal jy moet leer hoe die dinge in ’n restaurant werk.”

      En Pietman leer. Hy werk soggens van nege-uur tot laatnag. Hy was skottelgoed en vryf glase blink; hy maak cappucino en melkskommels, skemerkelkies en skep skuimerige torinkies sorbet met fyn vaardigheid in bakkies. Hy leer bo alles om te glimlag, te glimlag én te glimlag . . . Jou gesigsuitdrukking is jou paspoort, is die eienaar-bestuurder se filosofie en Pietman ontdek dat daar waarheid in steek. Glimlag met jou kliënt, vang sy woorde op asof dit druppels nektar is en jy’s seker van jou fooitjie, beduie hy een oggend geesdriftig toe hy en oupa Murray aan ontbyttafel sit. Die oumens lag grommerig en skud sy kop. Mag wees, sê hy, maar ’n slim kliënt sal dwarsdeur jou sien. Sorg dat jou glimlag eg is, stel wérklik belang, al vererg jy jou vir hom. Onthou, jou kliënt is daar omdat hy vir ’n oomblik lank van die wêreld wil wegkom. Verdra sy grille . . .

      Dit, vind Pietman uit, is makliker gesê as gedoen. Daar is werklik gawe mense wat die Café Fiori besoek en ’n genotvolle atmosfeer agterlaat. Maar dan is daar die klaagkouse wie se jeremiades ’n kelner laat wens hy kon ’n skinkbord op hul kop stukkend moker. Een so ’n kliënt stap twee dae voor die opening van die universiteit die Café Fiori binne. Die plek is vol en sy is sommer omgekrap.

      “Waar kry ’n mens sitplek?” wil sy skerp weet. Pietman se hande is vol vuil borde en hy moet mooi korrel of die messegoed glip af. Gelukkig sien hy ’n klein tafeltjie in die hoek raak en sonder om mooi na die meisie te kyk, beduie hy met sy oë soontoe.

      “Sit gerus, juffrou, ek is nou-nou by u.”

      Maar sy trommel al met haar fyn vingertjies op die tafelblad toe hy opdaag en hy kreun innerlik. Nog een van dáái, besluit hy. En hy het reg. Sy kla oor die hitte, trek ’n gesig toe hy die tafel eers mooi met ’n klam lap afvee en vat die spyskaart aan asof dit besoedel is. Dis toe sy dit fronsend begin bestudeer dat hy effens terugtree en haar goed bekyk. Kort, ultramoderne, blonde kapsel met ’n parmantige kuifie. Klassieke gesig. Reguit neusie en . . . Pietman se kakebeen word slap. Sy lyk dan soos . . . Grace Kelly! Kompleet so. Beeldskoon met die hoë wangbene en perfekte mond; die aura van koel grasie met net ’n glimp van ongeduld in die blou oë wat dui op ’n versteekte vuur.

      Pietman se kop draai. Hy probeer aan alles tegelyk dink. Aan Keppie wat nou skielik in Potch opduik en dan nou hierdie meisiekind wat Grace se ewebeeld is. Hoe op aarde rym dit? Maar hy glimlag werktuiglik toe sy opkyk en staan nader om haar bestelling te neem. Sy klap die spyskaart toe, lig haar ken.

      “Twee koppies cappucino, asseblief, en dan los jy my alleen. Moenie kom vra of alles reg is nie en moenie die rekening bring voordat ek nie vir jou wink nie. Verstáán?”

      “Verstaan goed,” haak Pietman af en die ysblou oë vernou effens. Maar hy draai op sy hak om en stap kombuis toe. Die simpel vroumens! Sy weet natuurlik sy lyk soos ’n prinses.

      Maar dis Patience wat wit glimlag toe hy voor haar gal afgaan oor kliënte wat maak asof kelners vadoeke is.

      “Jy’s dom, Pietman!” sê die vrou geduldig en tik hom paaiend op die skouer. “Daai meisie is verlede jaar se Joolpersoonlikheid. Sy is regtig ’n queen, jong! Sy shunt almal altyd rond!”

      “Ga! Nie vir my nie!” trek Pietman los en plak twee koppies in ’n skinkbord neer sodat sy dit kan vol maak.

      Dis toe hy terugstap na die tafel toe dat die verstomming hom heeltemal oorneem. By die meisie sit Keppie Fourie. Hy lyk so befoeterd soos tien donderwere en sy leun ’n slag speels oor die tafel en vryf sy kuif deurmekaar, sê met ’n pruilmond: “Ou dikbek diertjie! Vergeet nou al die dinge en . . .”

      Maar sy bly abrup stil toe Pietman die koppies voor hulle neersit, rek haar oë betekenisvol toe hy nog bly huiwer. “Tóé nou,” por sy, “loop nou dat ek en hierdie bedonste outjie alleen kan praat!”

      Maar Pietman staan; kyk stip na Keppie wie se blik syne netjies systap. “Stel my voor, swaerie,” sê hy sag, “anders vertel ek . . .”

      “Oukei!” skrik Keppie op en begluur hom met kille woede. Hy trek sy asem hoorbaar in voordat hy praat. “Engelie, dis nou Pietman de Waal. My kamermaat van die afgelope jare. Enne . . . Pietman, dis Engelie van Wijden. Ons . . . ken mekaar al lankal.”

      Sy glimlag dadelik skitterwit, skud haar kop vir Keppie. “Al sewentien jaar lank, om presies te wees maar – ons ken mekaar maar swak. Nie waar nie, Kep?”

      Hy antwoord nie, pers net sy lippe saam en staar na die klont room op sy koffie. Toe hy opkyk, sê hy net: “Ek sal jou later sien, Pieta.”

      Dié slag maak Pietman hom uit die voete. Dis duidelik dat Keppie en Engelie plofbare sake praat. En toe hy later ’n tafel naby hulle bedien en so skuinsweg na hulle twee loer, sien hy hoedat Engelie meteens opstaan en vorentoe buk om weer oor Keppie se hare te vryf. Sy lag, maar hy sit soos ’n sfinks. Net die blinkswart oë skiet vonke in sy bleek gesig. Toe sy uit is, stap Pietman nader, gee vir hom die rekening.

      “Kan ek help, swaerie?” vra hy sag. Maar Keppie skud sy kop, haal geld uit om te betaal. Toe staan hy op en sê digby Pietman se gesig: “Bly hier uit, my ou! Ek weet jy bedoel dit goed, maar dis nie jou saak nie!” Daarmee stap hy driftig uit, sy arms effens bak onder die breë skouers.

      Heeldag bly die insident Pietman by. As hy al ooit ’n raaisel aan die stertkant beetgehad het, is dit dié een. Al wat hy weet, is dat hierdie Engelie en die Grace Kelly van Keppie se plakkaat, een en dieselfde mens is. En nou verstaan hy ook wat Keppie daardie oggend voor die plakkaat so hartstogtelik gefluister het. Hy het nie met sy “engeltjie” gepraat nie – maar wel met Engelie. Engelie van Wijden, om presies te wees. Joolpersoonlikheid en klaarblyklik ook die huidige kampuskoningin – te oordeel na die baie bewonderende blikke wat sy in die Café Fiori gekry het. Dat menige man sal spring as sy haar vingers klap, is immers duidelik.

      Pietman se gedagtes maal al om en om die meisiekind totdat hy aan ontbyttafel daaroor begin praat. Sy ma luister half afwesig maar oupa Murray is dadelik die ene ore. “Ek ken die kind, ja,” sê hy terwyl hy roosterbrood smeer. “Engelie is baie slim. Was ’n eerstejaartjie die jaar voor ek afgetree het. Sy is nou besig met haar doktorsgraad in die regte.”

      “Wat . . . ?” kry Pietman tussen kousels brood uit.

      “Ja, sy kom my soms ’n bietjie raad vra. Nie ’n slegte kind nie.” Pietman bly hom ’n antwoord skuldig, maar toe hy drafstap werk toe, dink hy: Engelie van Wijden plus Keppie Fourie maak nie twee nie. Iets rym nie. Maar toe hy eers by die Café Fiori instap, suig ’n dwarrelwind hom in. Al wat mik om dié jaar PUK toe te kom, sit die restaurant kant en wal. Buite staan selfs ’n tou wat wag. Een beduie met swaaiende arms dat Die Akker en die Ierse Herberg hoër op in Tomstraat ook vol is en sal Pietman assebliéf kyk of daar nie ’n plekkie vir drie is nie? Hy maak beloftes en glimlag hulle tot bedaring. Een meisiekind staar openlik na sy mond en hy hoor hoe sy aan haar vriendin iets van Tom Cruise fluister. Ag tog, hierdie skewe voortande van my! dink hy en duik by die toonbank verby om eers in die kombuis ’n draai te gooi voordat hy begin bedien. Dit gaan heeldag dol en hy moet haastig iemand vra om vir ’n uur in sy plek te werk sodat hy self kan gaan registreer. Die kampus is ’n miernes en hy val ’n bietjie rond voordat hy geholpe raak, al ken hy die plek so effens. Hy het vantevore dikwels saam met sy oupa verby die Ferdinand Postma Biblioteek gestap na die Ou Hoofgebou waar die regsfakulteit geleë is. Hy ken ook die laning reuseplataanbome wat Lover’s Lane genoem word en kry sy pad daardeur na die studentesentrum langs die amfiteater. Vir ’n oomblik ervaar hy ’n skerp verlange na die Tukkiekampus. Die lang grasperk voor die Ou Lettere, die kafeteria half versteek onder