kom. Maar ’n suwwe moedeloosheid stuif in hom op. Hy sal elke liewe dag hier loop en haar nooit sien nie, want sy is klaar terug op Tukkies. Hoe hy ooit hierdie verhouding aan die gang gaan hou, weet hy sowaar nie . . .
Hy druk deur die menigte tot digby die amfiteater waar die kantore van die dorpskoshuise geleë is. Hy en Keppie het afgespreek om mekaar hier te kry en dan sommer by Heimat te registreer. Keppie ken glo die primarius, ene Herman, en hy reken daar behoort baie pret te wees saam met die Heimat-manne. Pietman is maar skepties, want hy ken mos Keppie se idee van pret. Laatnagstories en serenades, grys grappies en ’n filosofiese gegorrel tot dagbreek toe. Alles net om ’n swottery te ontduik. En dan wil hy glo ’n meneer word. En dis ’n ander ding. Keppie is sweerlik beenaf op daai prinses Engelie van hom en sy gaan een van die dae doktor Engelie wees. Soos dit vir Pietman lyk, gaan dit net ’n klein sprongetjie van doktor na regter na hoofregter wees vir ene Engelie van Wijden. Sy is die soort wat haar pad sal oopveg boontoe. Arme Keppie . . . Watter kans het ’n meneer om ’n regter aan te keer? En selfs al kry hy dit reg, sal hy sweerlik elke dag onder kruisverhoor wees.
Keppie wag klaar vir hom in die Heimat-kantoor onder die amfi. Hy sit en gesels met ’n blonde blouoogman wat dadelik opstaan toe Pietman binnekom.
“Hallo, ek is Herman,” sê hy en steek ’n ferm hand uit. “En ek is bly jy en Keppie wil Heimat-manne word!”
“Dankie,” sê Pietman verras en toe, met ’n skielike vermoede: “Ken jy Keppie al lank?”
“O ja!” lag Herman breed. “Ons pa’s was saam op skool en partymaal word daar oor en weer gekuier.” Hy kyk skalks na Keppie, knipoog toe vir Pietman. “En . . . natuurlik ken ek ook vir Engelie. Ek het in ’n stadium nogal gedink die naam sal baie goed pas by ’n voornemende predikant en ek hou nou maar eenmaal van mooi meisies!”
“Sjarrap, Herrie!” brom Keppie – maar Pietman sien dadelik dat dié twee mekaar beslis baie goed ken, want Keppie verduur Herman se spottery ewe gemoedelik. Hemel, dink Pietman verstom, dat ek en Keppie drie jaar lank ’n kamer kon deel en dat ek feitlik niks van hom weet nie . . .
“Luister, Herman,” sê hy kamma fronsend, “ek hou net so baie van mooi meisies. Dalk moet jy my meer van Engelie vertel. Sê my, is sy werklik so ’n engeltjie as wat onse Keppie dink?”
Keppie kom soepel orent uit die leunstoel, sy kleur hoog, maar Herman lag net. “O nee, geen suster van Keppie kan ’n engel wees nie, glo my!”
Pietman se gesig raak slap. “Suster . . .?” adem hy verslae.
“Stiefsuster,” antwoord Keppie bot, draai opeens vies na Herman: “Dis nou genoeg, hoor!”
“Nee, dit is nie!” kap Pietman teë. “Ek wil nou álles hoor!”
Maar voordat enigeen nog ’n woord kan sê, kom daar ’n klompie eerstejaars in om by Heimat te registreer en Herman verkas na die agterste gedeelte van die kantoor om hulle te help. Keppie druk verby Pietman buitetoe, sê net stuurs: “Ek sal jou vanaand alles kom vertel wat jy graag wil weet. Maar ek waarsku jou, jy bly uit my sake uit!”
“Goed,” antwoord Pietman sag, staar hom in groeiende verstomming agterna toe hy in die studentemassa tussen die kafeteria en die amfi verdwyn. Hy besluit om self gou ’n koeldrank te gaan drink en stap onder die bome deur verby Radio Puk wat lekker ritmiese popmusiek uitsaai. Dis toe hy die kafeteria wil binnegaan dat sy oog iets vang. Die vooroorgeboë figuur van ’n meisie in ’n blou blommetjiesrok. Sy sit op ’n groterige tas, haar kop op haar knieë, haar welige donker hare soos ’n waterval tot op haar wit sandale. Iets aan haar is vaagweg bekend. En dit pla hom. Te meer omdat haar hele lyftaal so duidelik sê: Los my uit, want ek is moeg, moeg, móég . . .
In die oomblik wat Pietman langs haar huiwer, lig sy haar kop en gooi die swaar krulle terug oor haar skouers. En hy sien dat die donker oë inderdaad traannat is, die vol mond beef liggies.
“Yental . . .?” adem hy verstom. “Wat . . . wat maak jy hier?”
“Ek sit,” sê sy futloos. En toe met ’n skielike drif: “Jy kan maar lag ook, as jy wil!”
Pietman kyk af in die blink oë en iets knoop om sy hart. Die fietsmeisie . . . En sy is sowaar in die nood. Toe hy hom weer kom kry, buig hy af en trek haar orent.
“Lós my!” sis sy, pluk haar hande weg en kyk verleë rond. Maar hy het klaar gebuk om die allemintige swaar tas op te tel.
“Wat het jy als hierin?” wil hy steunend weet.
Sy suig haar asem in om te praat, maar byt opeens haar lippe vas.
“Kom,” sê Pietman net en begin aanstap in die rigting van Lover’s Lane. “Ek vat jou gou na my oupa se huis toe. Dis net hier naby in Tomstraat. Dan drink ons tee en jy vertel my alles.”
Hy loop skeef-skeef vooruit soos wat die tas aan sy skouer rem, Yental Niklaus se sagte voetval agter hom aan. En hy dink: Ek, Pietman de Waal, is op ’n vreemde planeet. Skielik is daar derduisende dinge om te ontdek. Want Keppie tree op soos ’n besoeker uit die ruimte en oral val daar meisies in my skoot. Mooi, kwáái meisies vol misterie . . .
“Kóm!” roep hy oor sy skouer toe sy effens agterraak en hy lag spontaan toe sy haar wit sandale uitpluk en kaalvoet met die sypaadjie langs draf.
7
Hoe hét dit gebeur? wonder Pietman toe hy in die bed klim en die lig afskakel. Hoe is dit moontlik dat ék in die buitekamer slaap – en ’n wildvreemde meisiekind met ’n skeermestongetjie bly soos ’n “lydie” in die blou-en-geel gastekamer? Die moegheid sak dwarsdeur hom in die matras in en sy oë knipper vaak teen die donkerte. Maar hy bly dink. Hy het vanoggend vir Yental Niklaus hier by sy ma en oupa gelos sodat hulle haar ’n koppie tee kan gee en na haar treurmare kan luister en toe is hy fort Café Fiori toe om te gaan werk. En toe hy laataand terugkom, het sy al pens en pootjies nes geskop. G’n wonder Surita kan haar nie eintlik verdra nie.
Hy veer orent in die bed, slaat weer terug teen die kussings. Dis sowaar as vet die eerste keer op hierdie dag dat hy aan sy eie meisie dink. Hy klik met sy tong, vee met ’n handpalm oor sy gesig en stoot die laken af. As dit net nie so warm was nie. Liewe hemel, die klimaat put ’n man skoon uit. Die hitte breek nooit. Dié dat hy nie eens een keer gewonder het oor Surita nie. Te besig om net te oorleef. Gewoonlik sorg hy darem dat hy haar fraai gesig met die krans goue hare so elke uur of wat voor sy oog oproep. Dan kry hy lekker omdat hy so ’n mooi meisie het en werk weer fluks verder. Maar vandag was ’n deurmekaar dag. En hy hou niks daarvan om saans te gaan slaap as hy die dag nie eers in sy kop ’n bietjie georden het nie. Hy draai rusteloos om en om in die warm bed. Word net al moeër. Later staan hy op, leun by die oop venster uit en tuur oor die grasperk. Maar hy sien net hier en daar ’n kolletjie vaalblou maanlig. Die groot swart eike hou die nag dig. Net ’n uil roep iewers hoog bo in die toppe en ’n duif fladder van tak tot tak, koekoerrr verskrik. Toe is dit weer stil. Nee wat, besluit Pietman, hy kan maar net sowel gaan koffie drink. Slaap is nie nou op die agenda nie. Hy ken homself mos. As iets hom eers snags begin pla, is dit soos ’n vlooi in ’n wolkombers. Van vang, kan jy maar vergeet. Dan maar liewer opstaan en als probeer uitskud.
Hy loop net in sy rugbybroekie kombuis toe. Al met die donker stoep langs, die glad geloopte teëls koel onder sy voete. Dis toe hy aan die agterdeur vat, dat die uil vlak agter hom roep. ’n Hol, spokerige fluitgeluid . . . Hy spring amper uit sy vel; sy een kniekop klap dwa-dwá! teen die houtdeur soos wat hy omvlie.
Toe sien hy haar duidelik. ’n Wasige, wit figuur, gehurk op die lae stoepmuurtjie daar waar die veranda om die hoek van die huis loop, ’n streep silwer maanlig deur haar wilde wegstaanhare. En sy lag sag.
“Simpel ding! Wat skrik jy so?”
Hy suig sy asem deur sy kloppende keel in. “My magtie!” roep hy gedemp uit, “wat doen jy hier? Dis lank na middernag!”
“Beste tyd van die dag, Pietman!” sê sy en toe sy van die muurtjie afglip, maak haar nagrok ’n syerige suisgeluid. Dis eers toe sy by hom kom en hy vervaard die stoeplig aansit, dat