werklikheid geword wat haar met ’n vreemde opwinding vul.
“Wanneer sou jy daar begin het?” vra sy om tyd te wen.
Hopelik is daar nog kans om te besin. Franco Conradie is ’n legende en sy sal die man graag wil ontmoet, maar sy moenie oorhaastig op loop gaan nie – sy wat haar daarop roem dat sy sinies en wêreldwys is. ’n Televisieskerm is geduldig. Die regisseur het seker die swak skote geredigeer en in lewende lywe is Franco Conradie dalk ’n nare, selfgesentreerde mens.
“Maandag,” antwoord Niel.
“Watter Maandag?”
“Eerskomende.”
“Dis … oormôre!”
“Dis hoekom ek jou so dringend wou sien,” verduidelik hy. “Hoekom ek gesê het dis ’n kwessie van lewe of dood. Jy kan nie nou kop uittrek nie, Ralie. Gooi net ’n paar denims, kortbroeke en T-hemde in ’n tas. Dis nie ’n leeftyd nie. Die ses weke sal vinnig verbygaan, en waarskynlik heg my been gouer. Beskou dit as kosbare ondervinding wat jy opdoen vir jou CV. Jy is ’n goeie veearts, Aralie. Jy sal nie sukkel nie, en ek is net ’n oproep ver as jy raad nodig het. Ek of Franco – hy sal help as jy ’n probleem optel.”
Miskien is dit beter as sy nie tyd het vir wik en weeg en kleinkoppie trek nie. As sy net pak en gaan. Sy het die geld desperaat nodig. En op ’n manier voel sy half onder ’n verpligting om Niel te help.
“Ek ken ou Gys Botha van Sonop Motel,” voeg Niel by. “Ons was saam op skool. Ek sal my stem dik maak sodat jy onmiddellik kan bedank.”
Darem één ligstraaltjie, dink Aralie, is om ontslae te wees van daardie sweterige lummel in kamer 15 wat haar saans met sy knoffelasem voorlê en al knaender aandring sy moet saam met hom ’n drankie kom drink. Sy het al by Gys gekla, maar hy het dit afgelag. Al wat vir hom saak maak, is om die kliënte gelukkig te hou.
“Dankie, dit sal gaaf wees.”
“Dis ek wat vir jóú moet dankie sê.” Niel straal van verligting en lyk of hy haar wil omhels. “Jy’s ’n engel! ’n Skattebol!”
Aralie retireer voor hy haar kan nadertrek. Sy staan ’n veilige tree weg, met die bankie tussen hulle. “Ek beter gaan. Die tyd is min en daar is berge goed om te doen voordat ek sal kan wegkom.”
“Laat my ma daarmee help. Sy sal graag haar deel doen, al is dit net om te vergoed vir die leuen en omdat sy jou so laat skrik het.”
“Ek sal sien,” belowe Aralie op pad deur toe.
“Sy hoop nog altyd ons twee kom weer eendag by mekaar uit.”
Aralie antwoord nie.
“Ek bel jou vanaand!” roep Niel nog agterna toe sy uitstap.
3
En hy hét. Drie keer, dink Aralie toe sy Maandagoggend haar tas uit die lughawebussie haal. Niel het haar daardie aand drie keer gebel. En gister en vanoggend weer … Kwansuis om reëlings te finaliseer, maar ook om oor hul verhouding te praat.
Hy wil hê hulle moet weer probeer; hy dink sy was destyds te ontsteld om logies te reageer. Dis mos nie asof hy en Marilee ’n verhouding gehad het of saam in die bed was nie, het hy volgehou. Hy het net aan haar been gevat, dis al. Dit was verkeerd van hom, maar dis nie die einde van die wêreld nie, nie genoeg rede vir ’n egskeiding nie.
Sy het voor hul troue geweet hy het dwalende oë. En soms dwalende hande. Maar sy het gehoop hy sal verander. Marilee Martins was nie ál rede waarom sy haar tasse gepak het nie, het sy hom herinner. Die lys redes kom al ’n ver pad saam, en die geskiedenis het hom al meer as net hierdie een keer herhaal. Daar was waarskynlik ook ander vroumense van wie sy nie eens geweet het nie.
Nogtans het sy belowe om hierdie ses weke te gebruik om te dink. Dat sy hom miskien weer ’n kans sal gee om op ’n skoon bladsy te begin.
Saam met haar tas laai Aralie haar medisynetas op die bagasietrollie. Dan haar kamerasak en opvoubare operasietafel wat nuttig in die veld te pas kom. Sy hoop nie sy het te veel bagasie nie. Gelukkig het die vliegtuig ses sitplekke. Niel het egter nie gesê of daar ander passasiers is, of hoeveel voorraad Franco gelaai het nie.
Dis nie ’n geval dat sy bang is vir vlieg nie. Sy hou net nie van die beknopte ruimte of die sensasie van swewende beweging nie. Sy kry kloustrofobie en raak gou lugsiek. Selfs karsiek wanneer sy agter sit, en naby ’n skip sal sy dit nooit waag nie. Sy het nie ontbyt geëet nie en koop vir haar ’n bottel mineraalwater by die kafeteria. Dan stoot sy die trollie na die uitkykdek, wat ’n uitsig oor die aanloopbaan bied.
Elfuur die oggend is ’n stil tyd op die lughawe. ’n Vlug uit Botswana kom land, en tien minute later is daar ’n veraf stippel op die horison. ’n Stippel wat geleidelik groter word soos dit nader kom, totdat sy die wit Beechcraft met die groen streep langs die sykant herken, soos Niel dit beskryf het.
Die wiele is reeds uit en die vliegtuig land gladweg, met ’n effense wip, voor dit aan die verste punt van die aanloopbaan draai om na die parkeerblad te taxi. Toe dit voor die uitkykdek dwars swaai, lees sy die logo bokant die groen streep: Balelapa Wild Safaris, met daarnaas die embleem van ’n olifant. Ondanks haar bedenkinge bruis ’n skielike sjampanje-tinteling deur haar are.
Die laaideur gaan oop en ’n stel trappe skuif in posisie. ’n Lang man met breë skouers en ’n rugbyspelerlyf verskyn aan die bopunt en klim ligvoets teen die trappe af. Hy dra ’n kakiebroek en -hemp, en selfs van hier af kan Aralie die son op sy vlasblonde hare sien blink.
Sy hou hom dop terwyl hy met lang treë oor die teerblad loop. Hy is groot, maar nie bonkig nie, eerder atleties, met die loslitgrasie van ’n luiperd. Haar mond is skielik droog terwyl haar hande die trollie senuweeagtig vasklem. Waarin het sy haar begeef? Hoekom het sy nie vir Niel gesê dis buite die kwessie, sy kan nie met wilde diere werk nie? Hy sou wel ’n plan gemaak het om ’n ander locum in die hande te kry. Dis nie haar skuld dat hy so dom was om voor ’n taxi in te loop nie.
Franco Conradie is blykbaar haastig. Hy stryk die aankomsaal binne en kyk speurend om hom rond. Sy blik dwaal oor die paar mense wat rondstaan en oor Aralie, sonder dat hy nader kom.
Sy lek met die punt van haar tong oor haar droë onderlip en stoot die trollie tot voor hom. “Meneer Conradie?”
“Dis ek.” Hy glimlag beleefd, kyk ’n oomblik na haar en dan oor haar skouer na ’n ouerige man wat ook lyk of hy iemand soek.
“Ek is Aralie van Dyk.”
“Van Dyk?” Dit lyk of hy die naam nie dadelik in verband bring nie.
“Dokter Van Dyk,” herhaal sy.
Sy glimlag verstar en word vervang deur ’n frons.
“Die veearts wat in Niel van Dyk se plek sal uithelp,” verduidelik sy.
Hy bekyk haar met verskerpte aandag, nie oormatig vriendelik nie. “Niel het gesê dis ’n familielid wat sal kom.”
“Ek is sy … e … gewese vrou.” Aralie is vies vir haarself omdat sy hakkel en verskonend klink, maar die man ontsenu haar.
“Ek het ’n broer, ’n pa, ’n oom of iemand verwag.”
Dekselse Niel, dink sy verwytend. Presies wat sy voorsien het, en dit plaas haar in ’n ongemaklike posisie – op die verdediging, asof sý die skuldige party is.
“ ’n Mánlike familielid,” herhaal hy nadruklik.
Haar stemtoon en haar groen oë is koel. “Hoekom? Omdat jy reken ’n vrou beskik nie oor die vermoë om as veearts te werk nie?”
Hy lyk ongemaklik. “Dis nie dit nie …”
“Wat dan?” dring Aralie aan. “Het jy uit beginsel iets teen vroue? Dink jy hulle is onbetroubaar? Onbekwaam?”
Franco besef hy trap klei. Die rooikoppie lyk fyn en broos, soos ’n wilgerlat in die vroeë lente, en hy het verwag dis hoe sy haar sal