sou wees nie.
“As jy die vyf jaar studie voltooi het, aanvaar ek jy het die intellek, vermoë en ervaring om ’n uitstekende veearts te wees, dokter Van Dyk,” antwoord hy kortaf. “Aan jou bekwaamheid twyfel ek nie. Maar ek ken die omstandighede, die fisieke eise wat Balelapa stel, en ek reken ’n vrou is nie liggaamlik in staat om die harde werk in die veld te hanteer nie.”
Sy logika maak sin, dink Aralie. Hy is rustig, soos Niel gesê het. Nie aggressief of vyandig nie. Trouens, hy het haar met eg manlike waardering betrag en dit het haar goed laat voel. Maar dit was voor hy geweet het wie sy is.
Sy probeer ook kalm bly. Dit sal nie baat om haar toekomstige werkgewer kwaad te maak nie. Sy sal meer bereik as sy positief is en aan Niel dink, wat seker in die hospitaal lê en naels kou. As Franco Conradie hom vervies, beteken dit sy sal druipstert moet omdraai huis toe – terug na haar oortrokke bankbalans, agterstallige rekeninge en die sweterige lummel in kamer 15.
Sy glimlag vriendelik. “Moenie dat voorkoms jou mislei nie, meneer Conradie. Ek kan veel meer baasraak as net poedels en worshondjies. Ek was vier jaar verbonde aan ’n praktyk wat plaasbesoeke ingesluit het, en waar hulp selde beskikbaar was. Ek moes eiehandig vee inspuit, dip en wonde toewerk. Opereer, besmette diere van kant maak en varke en skape agterop ’n bakkie laai.”
“Is dit al? Net varke en skape? Wat van olifante en renosters?”
Aralie se bloeddruk stoot op. Sy kyk vinnig na hom, reg om haar te vererg as hy besig is om die spot te dryf. Haar oë ontmoet syne en sy merk dat hulle ligter is as wat dit op die televisie gelyk het. Nie bruin nie. Meer ’n kaneelkleur, met goue vlekkies om die iris. En in die goue vlekkies blink ’n geamuseerde vonkel. Hy terg haar … Dit was speels, nie bedoel om haar af te kraak nie.
Aralie is van stryk af. Hierdie is een van die mooiste mans wat sy nog gesien het. Oorweldigend manlik. In lewende lywe het hy ’n veel groter impak as doer eenkant in die sitkamerhoek op die kassie. Haar maagspiere trek op ’n knop en haar bene voel soos spaghetti.
“Ja, dikwels, met ’n hyskraan en ’n stootskraper,” speel sy saam.
“Sonder hulp?”
“Vroualleen, eiehandig,” beaam sy.
Hy glimlag, maar sy merk dat hy na haar hande oplet. By ’n partytjie of aan tafel by vreemdes steek sy hulle gewoonlik weg, selfbewus omdat hulle soms verniel en onvroulik lyk. Nou hou sy albei haar hande egter stilswyend vir inspeksie uit: eers die binnekante wat ’n paar eelte toon, dan die bokante, met kortgeknipte naels sonder naelpolitoer. Hande wat fisieke werk ken.
Franco kantel haar regterhand sywaarts, na die lig toe. Hy trek met sy wysvinger ’n streep van haar duim af, oor die palm tot by die litteken aan die onderpunt van haar hand. ’n Spanriem wat gegly het terwyl sy besig was om ’n jong tollie te kniehalter, onthou Aralie. Sy vinger wat ondersoekend daaroor vryf, brand soos ’n vuurstreep, erger as die destydse wond. Onwillekeurig ril sy en klem haar hand in ’n vuis, asof sy sodoende die gevoel van sy aanraking kan uitwis.
Hy laat dadelik haar hand gaan. Daar is ’n onleesbare uitdrukking op sy gesig toe sy blik oor haar smal skouers en tenger gestalte huiwer. Hy probeer haar gesig sien, maar dis agter haar lang hare weggesteek, wat soos ’n koperkleurige gordyn teen haar wang afhang.
“Goed, dokter Van Dyk, dis ’n goeie getuigskrif en ek glo jou,” gee hy toe, sy stem skielik grof. “Miskien is jy minder broos as wat jy lyk. Maar jy bly onteenseglik ’n vroumens, daaroor kan niemand stry nie. En dit skep ’n probleem. Balelapa is nie ingerig vir vroumense nie. Die kamp is nog in aanbou, sonder behoorlike fasiliteite.”
Het hy dit ook gevoel? wonder Aralie. Daardie … iets. ’n Vonk, ’n chemiese reaksie. ’n Man-vrou-bewuswording tussen hulle, daardie flitsende oomblik toe sy vinger aan haar palm geraak het. Of is dit net sy wat haar dinge wysmaak?
Sy probeer die gewaarwording afskud. “Dit sal nie die eerste keer wees dat ek ’n spieël aan ’n boom ophang of onder ’n windpomp stort nie. Ek gaan om te werk, meneer Conradie, nie om vakansie te hou nie. Niel het my voorberei. Ek verwag nie vyfsterhuisvesting nie.”
“Niel?” Franco gee ’n kortaf snuif. “Moes sy kop laat lees het,” brom hy onderlangs. “Wat het die man gedink?”
“Ekskuus?” vra Aralie.
“Nee, niks. Dis seker nie jou skuld nie.” Hy verduidelik nie wat hy daarmee bedoel nie. “Ek is nie ‘meneer Conradie’ nie. My naam is Franco. Noem my so.”
Sy knik. “Goed.”
“En jy? Wat het jy gesê is jou naam? Amalia?”
“Aralie.”
“Aralie …” Hy sê dit stadig, met sagte, volronde klanke asof hy aan die woord proe terwyl hy nadink. Dan knik hy goedkeurend. “Mooi naam, pas by jou. Ek belowe ek sal jou nooit Ralie noem nie, dit sal ’n sonde wees.”
Hy draai weg en staan hande op die heupe, terwyl hy nadenkend oor die aanloopbaan tuur. Hy is só lank stil dat sy begin dink hy het van haar vergeet. Maar dan draai hy om en sug.
“Goed, Aralie van Dyk, ek sal jou saamvat Balelapa toe, al sê my logika vir my ek maak ’n fout. Al waarsku my instinkte dis nie die regte ding nie. Maar dis omdat ek nie ’n keuse het nie. Ek is haastig en ek het ’n veearts dringend nodig by die reservaat. Daar’s nie tyd om iemand anders te soek nie en jy is beskikbaar. Jy sal moet deug tot ek ’n ander plan kan maak.”
“Dankie,” antwoord sy bedees.
Maar Franco is nog nie klaar nie. Hy lig sy wysvinger waarskuwend. “Twee weke,” sê hy ferm. “Dis jou proeftydperk, dokter. As jy in daardie tyd nie die mas opkom nie, bring ek jou onmiddellik terug Windhoek toe, sak en pak. Verstaan ons mekaar?”
Sy knik. Die groen lig? Só maklik? Sy wil nie te gou bly word nie. Franco Conradie is soos die goudprys: op en af, onvoorspelbaar. Netnou verander hy van mening, luister na sy logika en los haar net hier, sak en pak, en vlieg weg.
“Hoe gaan dit met Niel?” wil hy weet. “Wanneer sal hy weer op die been wees?”
Met ander woorde: wanneer sal Franco Conradie van haar ontslae wees …
“Oor ses weke,” antwoord sy.
“Dan moet ons nou maar die beste daarvan maak.” Franco haal sy skouers op en beduie na die hooggelaaide trollie. “Is dit al bagasie wat jy het?”
Al? Sy was bang dis te veel. Dan kon sy maar ’n ekstra tas gebring het, met darem een of twee rokke, pleks van net denims en T-hemde, oprygstewels en swaardiens-drafskoene. Haar vernielde hande is erg genoeg, sy wil darem nie heeltyd soos ’n sloerie lyk nie.
Franco neem haar tas en die opvou-operasietafel en kies koers na die uitgang. Hy kyk oor sy skouer toe sy nie dadelik volg nie en wink met sy kop.
“Komaan, jy daar met die rooi hare, wat jou so ’n tawwe tienie hou! Kom klim in, laat ons ry!”
Aralie lag. Dis soos ’n avontuur en daardie selfde sjampanje-tinteling van netnou is terug. Sy kyk die breë skouers en gespierde rug agterna. Natuurlik is hy ’n groot boelie. Oorheersend, dominerend en baasspelerig. Alles waarvoor sy bang was. Maar vreemd genoeg, sy gee nie om nie. Franco Conradie het so ’n onweerstaanbare sjarme dat sy haar nie vir hom wip nie. In plaas van kwaad word, is sy eerder geamuseerd wanneer hy hom kwaai hou en haar rangeer soos ’n trein op ’n stasie. Dit laat haar veilig en gekoester voel.
Is dit vir hóm wat sy ’n mooi rok wil aantrek? wonder sy, en skud dan die gedagte as onsinnig af. Liewe aarde, sy ken die man skaars! Sy gaan om te werk, nie om sosiaal te verkeer nie. Hy sal nie eens oplet nie, al dra sy ’n goiingsak. Al loop sy kaal. Solank die werk net gedoen word.
O ja? Dink jy regtig so, dom Aralie? vra sy haarself af. Nadat jy netnou daardie talmende tipiese-man-kyk gesien het wat hy jou gegee het? ’n Man soos hy sal nie onervare wees wat vroue betref nie – daardie kyk het dit duidelik gewys. Hy sal ’n kaal vrou beslis raaksien. En weet wat om met haar te doen. Nogal behendig