Ettie Bierman

Satyn Omnibus 4


Скачать книгу

een woord, maar die hartseer slaan deur in haar stem. Hulle het so hard gewerk, soveel opgeoffer, soveel drome gehad … Drome waarop Niel getrap het en opofferings wat hy in haar gesig teruggegooi het. En dit vir ’n leëkop-flossie wat hom om die volgende draai met ’n ander man sou verneuk het. Waar was sy integriteit en sy sin vir waardes?

      Franco sien hoe haar mond skielik weerloos lyk. Haar gewese man is klaarblyklik steeds ’n teer kwessie. Hy maak ’n koersaanpassing en vra nie verder uit nie.

      “Jammer as ek netnou kras was,” maak hy verskoning. “Dit was nie so bedoel nie. As jy wil, sal ek jou graag help en raad gee waar ek kan.”

      Aralie sit stug voor haar en kyk. “Jy hoef nie, dankie, ek sal regkom.”

      “Ek bied aan omdat ek graag wil.”

      ’n Olyftakkie wat hy uithou? Seker sy gewete wat hom pla, besluit sy. Of is dit deel van daardie onvoorspelbaarheid waarmee sy vroeër reeds kennis gemaak het? Sy is teleurgesteld; sy het nie sulke ongevoeligheid van hom verwag nie. Dit sal lank duur voor sy hom weer vertrou.

      “Hoekom self blaf as jy ’n hond aangestel het?” vra sy sinies.

      Franco is verleë, maar hy weet hy het daarna gesoek. Die boemerang, besef hy. Al verduidelik hy later en motiveer sy drastiese noodmaatreëls, sal Aralie van Dyk nie gou weer ontdooi nie. Hy is spyt daaroor dat hulle twee op ’n verkeerde voet weggespring het. Hy sou dit graag anders wou hê.

      Om te vergoed wys hy vir haar besienswaardighede langs die roete uit. Aan bakboordkant die Waterberg en Nasionale Platopark – ’n oorblyfsel van die aarde se oorspronklike bokors, ná eeue lange verwering. ’n Interessante stuk landskap en die moeite werd om te besoek.

      En ’n entjie verder, verby Grootfontein en duidelik sigbaar vanuit die lug, die Hoba-meteoriet – sover bekend die grootste ter wêreld. Dit weeg nagenoeg 54 500 kilogram en bestaan uit 82% yster en 16% nikkel.

      Aralie kyk en luister. Alles interessant, en party van die feite is vir haar nuut. Maar sy is stroef en vra nie uit nie. Selfs nie toe hulle oor Etosha-pan vlieg en Franco vir haar ’n bondel vet grys kolle uitwys nie – renosters. Dié wêreld ken sy uit vakansies tydens haar kinderjare. Sy herken die sprokieswoud en Duitse fort by Namutoni-kamp sonder dat hy dit uitwys. Daarna Andoni-vlakte aan die noordelike grens, met plate aalwyne en hier en daar ’n reusekremetart wat oor die landskap waghou.

      Tien minute se vlieg noordwes van Andoni lê Balelapa. Ruier as Etosha, met sy eie brakwit soutpan wat in die son lê en bak, omsoom deur ’n bosstrook. Tussen die bome deur kronkel ’n ry watergate, turkooisblou soos die stene aan ’n tanzaniet-halssnoer.

      By een van die suipings is ’n trop vaalgeel stippels wat sy aan hul sabelhorings as gemsbokke eien. Toe die vliegtuig laag oor hulle dreun, slaan hulle op die vlug. Volspoed, in ’n wilde stofwolk van flitsende hoewe. ’n Simfonie van grasie en beweging.

      Aralie slaan haar hande in vervoering saam, wetend dat hierdie prentjie in haar geheue gegraveer sal bly solank sy leef. Sy wil in verwondering uitroep, maar bedwing haar toe sy onthou waar sy is. En wie saam met haar is … Netnou raak sy te eie met hom en word weer koelbloedig op haar plek gesit.

      Sy sal sorg dat sy haar werk doen en verder uit sy pad bly. Hoop en bid die ses weke gaan gou verby, sodat Niel kan kom oorneem. Gelukkig vir hom is hy ’n man en sal hy nie met Franco Conradie se vooroordeel te doen kry nie.

      Vir die eerste keer sedert hulle uitmekaar is, verlang sy onverwags na Niel. Sy weet self nie hoekom nie, dalk omdat sy hom onthou soos hy in die hospitaal gelyk het. Ouer, maerder, vol weemoed en berou … Dalk omdat sy naam netnou ter sprake gekom het. Of omdat sy gespanne en senuweeagtig is, en na ’n bekende gesig verlang.

      Sy hoop Balelapa het goeie selfoonontvangs, sodat sy hom kan bel. Sy het Niel se kundigheid nodig, maar skielik ook ’n stukkie van die kameraadskap wat sedert hul studentedae tussen hulle was. Dit was so kosbaar. So spesiaal. Dit moes nie in ’n morbiede skeihof geëindig het nie.

      Niel hou vol ou liefde roes nie, slaan nie aan of kry muf nie. Daardie betowering sal altyd tussen hulle wees: sluimerend en wagtend om weer op te vlam. Hulle is nou ouer, meer volwasse, en dis nooit te laat om weer te probeer nie.

      Maar wat as haar hart en haar hele wese weer aan stukke skeur? ’n Tweede dwaling is erger. Sy weet nie of sy ’n volgende keer weer sal kan opstaan en die moed sal hê om die stukke van ’n verpletterde lewe aanmekaar te las nie. ’n Volgende keer bly sy dalk op ’n hopie sit en hou nie op huil nie.

      Aralie besef skielik dit het die afgelope driekwartier goed gegaan en sy kon die kloustrofobie en narigheid besweer. Maar sy verstyf toe dit voel asof die vliegtuig vooroor leun. Die vloer kantel skuins en die neuspunt verdwyn uit haar sig. Sy skrik en reik instinktief na die armleunings.

      Franco se diep stem klink op, kalm en gerusstellend. “Toe maar, niks om jou oor te ontstel nie. Ons daal vir die landing.”

      4

      Soos Niel beskryf het, is Otjikavi-lughawe meer as net ’n stuk sand en ’n windkous. In die skaduwee langs ’n witgekalkte gebou staan ’n bakkie en ’n donkergroen Land Rover met Balelapa se olifantembleem op die deur. Toe die Beechcraft voor die gebou tot stilstand wieg, stap twee mans in kakieklere hulle tegemoet.

      Franco help Aralie teen die trap af, en stel haar voor: “Tian en Koosjan, onderskeidelik veldwagter en spoorsnyer, asook wild- en woestynkenners.”

      Hy wag ’n oomblik voor hy byvoeg: “En dit, manne, is ons nuwe veearts – dokter Van Dyk.”

      Soos hy verwag het, word sy aankondiging deur ’n verstomde stilte begroet.

      Op die trappe was Aralie se bene nog effens wankelrig. Maar toe haar voete eers op moeder aarde geanker is, verdwyn die laaste simptome. Haar kop hou op draai en haar maag sak terug uit haar keel.

      Sy trek ’n dankbare teug vars lug in en glimlag. “Aangename kennis.”

      Die forsgeboude veldwagter grinnik ingenome. “Halló-halló! Ons het ’n Piet verwag, maar ’n Sannie is wat ek noem ’n vroeë Krismisbonus.”

      Hy kom tot voor haar en steek sy hand uit. “Baie bly te kenne, Dokkie.”

      Tian hou haar hand langer vas as wat nodig is en sy oë flikker opsommend oor haar, talm hier en daar en kyk ’n tweede keer, voor hulle na neutrale terrein aanbeweeg. Hy grynslag. “Ek en jy gaan mekaar binnekort van nader leer ken, want ons twee gaan saam huisie-huisie speel.”

      Aralie verstaan nie waarop hy sinspeel nie. Maar sy hou nie van die ondertoon nie.

      “Kan ek met jou bagasie help, Dokkie?” bied hy galant aan.

      Dis Franco wat antwoord, sy stem koel. “Jy kan, ja. Hierso, vat aan.” Hy oorhandig die operasietafel en Aralie se tas. “Laai dit in die Landie.”

      Tian spring om te gehoorsaam. Hy besef klaarblyk­lik dat hy so pas op die baas se tone getrap het, want hy help ywerig aflaai en waag dit nie weer naby Aralie nie.

      “Julle reën gehad terwyl ek weg was?” verneem Fran­co, self ook besig om trommels en kartonbokse agter op die bakkie te pak.

      “Dertig millimeter, Dinsdagnag,” antwoord Tian asof niks gebeur het nie.

      “Die reënseisoen kom nader. Het die bouers toe die laaste rondawels se fondasies gegooi?”

      “Ja, en drie trokke bakstene is afgelewer.”

      “Hoog tyd,” brom Franco. “Hulle is agter skedule.”

      Koosjan is blykbaar ’n man van min woorde. Hy wag tot die Beechcraft leeg is en hy Franco se volle aandag het voor hy dramaties aankondig: “Temba se kalf kom!”

      Franco laat amper die laaste kas entstof val. “Hoe weet jy?”

      “Die dikvoete maak kring om haar.”

      “Wragtag!” Franco klap hom op die skouer. Hy straal van blydskap. “Dis die heel beste nuus! Tyd vir sigare koop …”

      Daarvan