Kristel Loots

Die engel rook skelm


Скачать книгу

      “Dat ek en jy al twee hulp nodig het.”

      Dis nou te sê ás sy iets agterkom.

      “Eintlik gee ek nie om wat jou ma of die pous of die fashion police sê nie, ek laaik wat ek sien. Miskien begin jy ’n nuwe trend.”

      “Nee. Asseblief nie. Dan lyk al ons blondes weer een van die dae dieselfde.”

      “So jy gaan blond bly? Dankie tog. For a moment was ek bang jy wil jou hare kleur ook. Dit sou ’n disaster wees.”

      Ja, besluit ek, ek gaan blond bly. Die wêreld behoort aan blondes. Te hel met Jane en wat sy voel oor blondes wat a dime a dozen is.

      “Miskien moet ek ’n tatoe ook kry,” mymer ek.

      “Ek ken ’n ou wat ’n mean skeleton doen,” stel Wynne voor.

      “Ek het eintlik iets anders in gedagte gehad, maar ons kan dalk onderhandel. Sodra ek geld het om daarvoor te betaal.”

      Toe ek daar by Wynne wegstap, is daar vlerke aan my voete.

      Ek gaan met nuwe ywer in op Gumtree. Vandag is die dag dat ek aansoek doen vir elke werkie wat daar aangebied word. Wel, amper elke werkie wat my sedes so min of meer ongeskonde laat. Verkieslik iets wat by my nuwe happerige haarstyl pas. Iets ongewoons, maar ook glamorous. Iewers waar daar oopkop mense is, mense wat sal weet hierdie haarstyl van my wat eintlik nie ’n haarstyl is nie, is hot, hot, hot!

      Dis waarom die werk by Happenings vir my so reg lyk toe ek daarvan lees. ’n Anderste haarstyl en ’n bietjie bling is dalk net wat ’n mens nodig het as jy ’n assistent-funksiebeplanningskoördineerder wil wees.

      Sjoe! Dit sal sowaar indruk maak as iemand jou vra wat jy vir ’n lewe doen en jy hom so kan antwoord: “Ek is ’n assistent-funksiebeplanningskoördineerder by Happenings.” G’n mens sal seker weet waarvan jy praat nie, maar hulle sal huiwer om uit te vra en hul onkunde te openbaar. En jy sal vir belangrik en interessant kan deurgaan. Hoe cool sal dit nie wees nie!

      Nie dat ek self honderd present seker is wat dit gaan behels om jouself ’n assistent-funksiebeplanningskoördineerder te noem nie, maar Happenings klink vir my hip genoeg vir my haarstyl. En dalk is dit wat ek van nou af moet doen – my nuwe lewe aanpas by my nuwe voorkoms. ’n Barbie met ’n effense verskil, ’n Barbie met binnegoed. Maar nog steeds met die blondste hare buite die grense van Swede, Switserland én Finland.

      Sommige dinge is eenvoudig nie onderhandelbaar nie. Sug.

      Maar ek is mos altyd laat. So gebore en sal so doodgaan. My oë soek deur die advertensie vir die sluitingsdatum. Ja, nes ek gedink het. Dis vandag. Nie oor ’n week sodat ek mooi my kop onder my platinumblonde hare bymekaar kan kry nie, nie oormôre of môre nie, maar vandag. Ma is natuurlik in haar grot, Pa is missing in action, Wynne het genoeg van my gehad vir hierdie eeu en ek is skielik dommer as gewoonlik. Wat moet in ’n CV staan as jy ’n … ’n … so ’n ding wil wees?

      Dis net Jane wat beskikbaar is. Jane wat haar hande saamslaan toe sy my met my verestoffer-haarstyl sien en só haar stamp of approval gee. Hoeveel sy in hierdie eeu, hierdie millennium gaan werd wees met die opstel van ’n CV, weet ek nie. Maar sy is ten minste gewillig.

      “As jy gaan lieg, word jy uitgevang,” gee sy raad. “Maar dis nog nie te sê jy moet the truth and nothing but the truth vertel nie. Daar is ’n verskil tussen ‘need to know’ en ‘spill your guts’.”

      “Wat is die verskil, Jane?”

      “Jy sê jy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar jy sê nie jy het soos ’n yellow-bellied quitter in die helfte van jou laaste jaar weggehardloop nie. Die mense sal na jou hare kyk en dink jy het ’n skrik gevang en is nie all there nie.”

      So leer ek aan die voete van ’n meesteres hoe om net so langs die waarheid te wandel en my helderder in te kleur as wat ek seker in my dag des lewens ooit sal wees. Ons dik sommer ook ’n bietjie aan oor hoe goed ek met die Britse ou tannies en hul kwale gevaar het. Om eerlik te wees was dit daar ’n paar keer touch and go. In my Londen-dae het ek natuurlik nog nie ’n noodhulpkursus geloop nie en het Harold the Handy Hunk vir my toutjies getrek om werk te kry. Die bliksem.

      Eintlik was dit vir my pretty gross om die ou tannies te versorg. Ek was jammer vir die arme ou siele, natuurlik was ek. Geen mens kan hulle in die oë kyk en nie verkrummel nie, maar ek weet nie of ek aldag alles reg gedoen het en of ek die hande vol pille wat hulle gesluk het, reg uitgedeel het nie. Dit troos darem dat nie een van hulle die tydelike met die ewige verwissel het terwyl ek met hulle doenig was nie.

      “Jy kan nie lieg om jou lewe te red nie, Dezi,” het my ma my jare gelede al gewaarsku. “Jy moenie eens probeer nie.”

      Natuurlik weet ek wat sy bedoel het: dat ek te dom is om behoorlik te lieg. Om oortuigend en logies te lieg en met jou liegstorie vol te hou al slaan die vlamme blou bo jou kop uit, moet ’n mens die geheue van ’n olifant hê. Net jammer daar is nie ’n kursus wat ’n mens daarvoor kan loop nie. Ek het al probeer uitvind. Tentatief, natuurlik, want ek wou nie blatant daaroor lieg dat ek eintlik wou leer lieg nie.

      “Neem dramalesse,” dis die beste raad wat ek kon kry. “As jy goed kan toneelspeel, kan jy goed lieg ook.”

      Toe sluit ek drama in by my keusevakke, selfs al weet ek toe al ek het nie die gift of the gab nie. En toe maak ek ’n lieflike gemors daarvan. Miskien moet ek my ma eintlik daarvoor bedank dat sy my uit die dramaklas gedryf het. Maar verskoon my – ek is nog nie dankbaar genoeg daarvoor om dít te doen nie.

      “Jy weet natuurlik jy kan deesdae ’n graad oor die internet koop, Dezibelle. Selfs ’n doktorsgraad as jy bereid is om genoeg te betaal.”

      “Wat weet jy daarvan, Jane? Jy het dan nie eens internet nie, net ’n rekenaar wat nog met paraffien werk waarmee jy konsuis jou memoires skryf.”

      “Ek hoor maar so by my gentleman callers.”

      Ek spits my ore. Ek wag in spanning vir hierdie memoires wat Jane glo skryf, want ek wil eerste wees om dit te lees. Jane bly vir my ’n enigmatiese wese, sy met die gesig soos ’n grenadella en die lyf van ’n ballerina. Tot my spyt. Ek sou graag meer van haar vintage en retro klere wou leen, maar die meeste daarvan pas my nie. Veral die bloesies kry ek nie toegeknoop nie.

      Vandat ek maar kan onthou, bly Jane hier langs ons, maar ek weet nie veel van haar af nie. Jane het ’n geheim, dit kan enigiemand raai, maar sy lap nooit iets uit nie. Nie van haar verlede of van haar hede nie. Oor gentleman callers het sy nog nie voorheen gepraat nie.

      “Gentleman callers, Jane? Is jy nie te oud vir gentleman callers nie?”

      “Never too old for love, Dezibelle, never too old.”

      Nou het sy my behoorlik nuuskierig. Niemand weet wat agter die toegetrekte gordyne in Jane se huis aangaan nie. Daar is tye wat sy nie die deur oopmaak nie, nie eens op ’n skrefie nie. Nie eens vir my nie en ek is spesiaal. Of altans, dis wat sy my altyd laat glo.

      Ek haat dit! Daardie tye wat ek nie my ma of Jane se aandag kan bekom nie. Almal se boeke is duister behalwe myne. Tot dusver, voordat ek in ’n platinum blonde met ’n happerige haarstyl omskep is, was my boek so boring dat geen mens daarin sou wou lees nie. Selfs my storie met Harold the Hateful is nie sappig genoeg om oor te vertel nie, net dom. En simpel. My boek was so bleddie boring, nie eens die vismotte wou daaraan vreet nie. Dezi die Dowwe Dolla, die Dooie Drel.

      Selfs my ma het in die tye wat sy uit haar grot kom al oor Jane se besoekers probeer uitvra. Nogal by my, asof ek sou weet. En as ek geweet het, dit met haar sou deel. Sal die dag wees. Jane is mý vriendin. Wel, soort van, want die ou ding is eintlik te oud om enigiemand se vriendin te wees. Maar as sy die waarheid praat, blykbaar nog nie te gedaan vir gentleman callers nie.

      As ’n mens deur die vensters op die boonste verdieping van ons huis kyk, kan jy soms motors sien wat feitlik geluidloos hierheen sluip en by die rylaan indraai. En dan aan die ander kant van Jane se huis verdwyn. En dis hoe ver die storie strek. Want wat daarna gebeur, daar waar die tuin so bebos