haar ma se medewete by juffrou Geertsema gekry het. Die beste van alles was egter dat sy haar stem ontdek het.
“Jy klink nes ’n nagtegaal, Madel,” het Juffrou gesê en haar verwonderd betrag. “Eendag gaan jy nog die groot sangeresse opdraand gee, wag maar.”
Sy wou dié woorde graag aan Wiam oordra, maar hy het skielik nie meer op Verresig kom kuier nie. En toe sy een Saterdagmiddag alleen-alleen oordrentel na Vinkvlei se spruit, het sy hom saam met ’n blonde langbeenmeisie onder die wilgers gewaar. Hulle het gelag en aan mekaar se hande gevat. Sy het suutjies padgegee, meer verward as iets anders. Ook by die skool het hy haar geïgnoreer, en gaandeweg het die werklikheid tot haar deurgedring. Wiam was nou groot, en sy was nog klein. Tussen dié twee pole lê ’n hele wêreld, sou sy nog agterkom.
Wiam het skielik vir haar haatlik geword. Waar sy eers al mens was wat ooit genoeg omgegee het om na al sy stories te luister, het hy nou ’n hele gehoor van meisies gehad. Sy naam was op almal se lippe – hoofseun, rugbykaptein, akademiese reus. En baie aantreklik met sy donker kop en baftablou oë. So ’n snaakse blou, het Madel eendag gedink – byna soos die lug net voor ’n hewige donderstorm . . . ’n opwindende kleur.
Teen die tyd dat sy sulke gedagtes kon koester, was Wiam egter reeds ver buite haar bereik.
Sy het haar al hoe meer in haar musiek verdiep – al die eksamens met lof geslaag en die een beker na die ander by die kunswedstryde verower. Net ma Gerda was nie beïndruk nie, en pa Piet was soos altyd effens eenkant wat sulke dinge betref. Madel het eers baie later besef dat hy bang was om sy vrou aanstoot te gee. Hy het die sitkamer binnegesluip wanneer Madel naweke geoefen het en soos ’n skadu verdwyn wanneer hy Gerda hoor aankom.
Dit was nie net hy nie. Ook Madel het liefs geoefen wanneer haar ma nie tuis was nie. Dit was nie te moeilik nie, want Gerda was selde tuis. Sy het haar met volle oorgawe by alles ingewerp – bymekaargemaak vir behoeftiges; gewerk vir die behoud van dranksugtiges se gesinne; maaltye aangery vir oues van dae; kos gekook vir siekes en haar plek agter basaartafels vol gestaan. Goeie, prysenswaardige optrede, ja, maar sy was een van dié mense wat haar naaste baie ver gaan soek het.
Sy is dit nou nog, dink Madel effens hartseer. Tuis was dit baie eensaam vir haar man en dogter. Gaandeweg het daar ’n kilte in hul huis ingesluip, wat nooit weer gewyk het nie. Gerda het voortgestorm op haar sosiale pelgrimstogte en telkens met eer uit die stryd getree. Eer, dink Madel nou, was altyd die sleutelwoord. Solank daar genoem is wat Gerda Vermeer alles vermag het, was haar ma gelukkig. Tans werk sy juis geesdriftig om geld in te samel vir die nuwe teaterkompleks by die hospitaal . . . “veral aangesien my aanstaande skoonseun – die jong dokter Du Preez, weet u – mos volgende jaar hier as narkotiseur kom werk. ’n Mens moet darem sorg dat iemand wat so ver geleerd is soos hý die regte fasiliteite het vir sy werk. U weet natuurlik dat hy aan Guy’s Hospital in Londen studeer . . .”
Daar kom ’n mislikheid oor Madel, so fisiek dat sy intuïtief haar hand oor haar mond plaas. En oor twee maande gaan sy Wiam se bruid word . . .
Sy dwing haar gedagtes terug na hom . . . spesifiek na Wiam, en na hulle twee.
Toe hy destyds weg is universiteit toe, het hy net vlugtig kom groet, haar afgetrokke aangekyk asof hy haar nooit geken het nie. En sy het die grootmenskyk in sy oë gesien – ’n kyk wat sê: ek het klaar met die dinge van ’n kind, en nou wil ek weg.
Sy het daardie dag haar gedagtes oor hom toegesluit. Sy het nooit meer na Vinkvlei se spruit gestap nie; nie na hom verneem nie, en weggestap wanneer die grootmense oor hom praat. Sy was ’n gebore alleenloper, en vir die ander op skool het sy Madie die musieklike geword. Heimlik was haar maats trots op haar, maar het selde hul pret met haar gedeel. Seuns het haar begin raak sien, maar haar koel glimlaggie het hulle afgeskrik.
Sy het ’n skamerige seun met ’n dik bril na haar matriekafskeidsgeselligheid gevra. Dat sy asem hoorbaar weggeslaan het toe hy haar die aand kom haal het, het haar min geskeel. Teen dié tyd het sy immers geweet dat sy nie onaantreklik is nie. Sy het ’n bloedrooi skouerlose rok aangehad en haar vlasblonde hare was op haar kop gestapel. Daar was oogskadu om haar blougroen oë en maskara aan haar lang wimpers.
Haar pa se oë het gevonkel toe hy haar sien en haar ma, wat nie saam was toe sy die rok gaan koop het nie, het gehuiwer tussen histerie en stilte. Hierdie Madel het sy nooit voorsien nie – ’n wese wat vol wysheid vir haar glimlag en die seun by haar se bril laat aanklam.
“Ek . . . ek glo nie dis die regte rok vir jou nie, Madel,” het Gerda eindelik sukkelend uitgekry, hoewel sy goed geweet het dat dit hopeloos te laat was om iets aan die saak te doen.
“Dis . . . ’n baie mooi rok, mevrou,” het die skaam seun vir Madel in die bresse getree, en vir ’n wonder het ook pa Piet dit heftig beaam.
Daardie aand het haar ma haar egter ingewag, en die ou sku kyk was terug in haar pa se oë.
“Madel, jy is ’n Vermeer. Geslagte lank al gee die Vermeer-vroue die pas aan in dié distrik.” Sy het ’n oomblik nagedink en vervolg: “Ons en die Du Preez-familie van Vinkvlei, natuurlik. Ek wil jou nie weer so . . . so uiters opvallend geklee sien nie en . . . dis nou sagkens gestel.”
Toe het die eerste verset in haar losgebars.
“Opvallend?” het sy nietemin kalm gevra. “Het Ma dit teen die kleur of die snit?”
Gerda was klaarblyklik onkant betrap deur haar dogter se bedaarde, reguit vrae.
“Wel . . . dis net dat . . . ek jou nie so ken nie. Ons Vermeers trek wel deftig aan, smaakvol, maar gedemp. Sien, Madel, dis of rooi nie by jou toekomstige beeld pas nie. Ek, en later jy, moet toonbeelde wees van mense na wie in alle opsigte opgesien word. En ons moet bo alles bereikbaar wees. Dit is of dié rok jou te . . . te eksoties laat voorkom.”
Sy het nadenkend na haar ma gekyk, en die eerste keer besef dat sy kalm tydens ’n konfrontasie kan wees. Bereikbaar? het sy gewonder. Wanneer was Gerda Vermeer ooit bereikbaar? Toe het sy stadig geglimlag.
“Ma, ek is heeltemal anders as jy. Ek respekteer alles wat jy doen, maar ek sal dit nooit kan doen nie.”
“Waarom nie?” het die vraag skerp gekom.
“Omdat ek nie sal kan vergaderings lei en veldtogte beplan nie. Ek sal net nie kan nie!”
Gerda het oorredend geglimlag.
“’n Mens leer dit maar, kindjie.”
“Nee.”
Die woord het soos ’n klip tussen hulle geval.
“Ek wil dit nie leer nie. Daar is baie ander mense wat dit kan doen, maar daar is min mense wat werklik kan sing, Mamma.”
Gerda het orent gekom uit die gemakstoel, op haar gesig ’n uitdrukking van skok en verbasing.
“Wat presies bedoel jy?”
“Ma . . .” het sy ferm begin, maar haar hart het wild geklop. “Ma . . . en Pa . . . ek wil in musiek gaan studeer. Klavier en sang gaan my hoofvakke wees. Dit is al wat ek regtig wil doen.” Teen dié tyd was Gerda op haar voete.
“Twak! Twak, hoor jy! Daar is nie plek vir leeglêers in dié gesin nie. Konserte word gehou deur mense wat geen bydrae wil lewer nie. Jy sal gaan studeer in ’n rigting wat by ’n respektabele mens pas!”
Madel was eensklaps blindkwaad . . . en sarkasties.
“Die Groot Trek is verby, Ma! Toe was daar ’n tekort aan klaviere . . . kan ek my voorstel. Maar vandag honger die wêreld na musiek. Goeie kunstenaars lewer net so ’n groot bydrae op kulturele gebied as dokters of onderwysers! Die moeilikheid is Ma dink Ma kan soos ’n helende balsem oor die aarde trek en alles regmaak wat verkeerd is. Ma verhef Ma se eie bedrywighede tot ver bo ander mense s’n, en . . . en ek dink dis verkeerd!”
Sy was byna dadelik spyt. Haar ma se gesig was bleek en haar oë gesper. Madel het toe geweet dat haar ma nie die vaagste benul het hoe om haar dogter te hanteer nie, al sou sy gewis alles in haar vermoë doen om dit vir haar so moeilik moontlik te maak om ’n mens in eie reg