behoort jammer te wees, ja, want dis nie vir jou om ’n oordeel oor jou ma se sake te vel nie. Insgelyks sal ek ook nie toelaat dat sy dit met jou doen nie. As jy wil musiek studeer, kan jy dit doen.”
“Oor my dooie liggaam!” het Gerda haar stem teruggekry. “Sy sal nie die eerste kind wees wat die huis belet word omdat sy rebels is nie!”
“Sy is nie rebels nie; sy is net anders as ons,” het haar pa kalm volgehou, maar Madel het sy hande sien beef toe hy sy pyp opsteek. “En niemand sal haar my huis belet nie – net soos niemand my vrou te na sal kom nie.”
Gerda het hom stilswyend betrag, en dit het gelyk asof sy nog lank nie klaar gepraat het nie. Sy het egter stilgebly en uitgestap.
Die slag was gelewer, het Madel geweet, maar ook dat die gevolge van dié klein oorloggie lank nie verby was nie. Haar ma was koel teenoor haar, selfs snedig. Sy kon nie en wou nie verstaan nie. Gaandeweg het sy tog versag, maar nie met Madel oor haar studie gepraat nie, in die wete dat die volgehoue verswyging daarvan ook verwond.
Madel maak haar oë oop en kyk met deernis na die bruin, verweerde gesig van haar pa. Hy is so ’n standvastige, begrypende mens, al deins hy soms terug vir sy baasspelerige vrou. Hy kan tog sy man staan.
“Pa . . .”
“Hm?”
Dit klink asof sy gedagtes ook ver is.
“Dankie dat Pa destyds vir my opgekom het toe Mamma . . . toe sy nie wou gehad het ek moet verder in musiek studeer nie.”
Hy tik haar goedig op die knie.
“Ag kind, jy het my mos al bedank. Buitendien, dit is lankal verby. Een van die dae kom jy en Wiam vir goed huis toe en dan kan jy mos aan haar bewys hoeveel jy vir die gemeenskap kan beteken deur vir hulle mooi musiek en sang te verskaf.”
Dit is of sy woorde die opwelling van gevoel in haar blus. Terug vir goed, ja. Sy maak weer haar oë toe, en hy praat ook nie verder nie . . . sy gedagtes elders.
In Madel se gemoed bly die gedagtes egter maal. Die teruggaan is naby. Dit is nog net ’n deel van die laaste semester en dan die eindeksamen. Wiam keer ’n paar dae ná die eksamen terug uit Londen. Dan is daar skaars drie weke oor om mekaar van nuuts af te leer ken voor hul troudag aanbreek.
Madel voel weer die ou beklemming in haar bors. Sy weet glad nie hoe sy gaan voel wanneer sy hom weer sien nie. Sy lees graag sy briewe, ja, maar dit is asof dit bloot ’n gawe vriend s’n is. Dis moeilik om die warm opwinding van sy nabyheid voor die gees te roep.
Tog was dit nie altyd so nie.
Sy sal die dag in haar eerste jaar toe hy haar by die koshuis kom opsoek het, nooit vergeet nie. Dit was net voor die eerste kort vakansie, en toe het sy al geweet dat Wiam du Preez ’n gesogte man op die Tukkie-kampus was. Hy het oral gepresteer, en sy foto was kort-kort in die Perdeby, die studenteblad. Hy was lid van die studenteraad, het vir die eerste span voetbal gespeel en hy was ’n mediese student in sy laaste jaar.
Skrik en opwinding het haar hart vinniger laat klop toe sy by die voordeur uitstap en hom op die lang stoep voor die koshuis sien staan – lank en fors en regop, met sy oë die besonderse baftablou kleur wat haar kleintyd al heimlik drome laat droom het.
Sy was bly dat sy pas haar hare gewas en ’n poeierblou rok aangehad het wat knus om haar knakdun middel pas. Sy oë het waarderend oor haar gegaan, en sy het ’n blos in haar wange gevoel. Sy het egter haar bekende koel glimlaggie gegee.
“Nou toe nou! Ek dag jy hou jou nie met japsnoete op nie!”
Sy mondhoeke het in ’n glimlag vertrek en sy stem was koesterend toe hy sê: “Gelukkig word japsnoete ook groot . . . en sommige van hulle word beeldskoon.”
Sy was, ten spyte van haar behoefte om soms alleen te wees, nooit op haar mond geval nie.
Sy het haar ken effens gelig en gesê: “Hm . . . en dit lyk my jong knape word ook groot en baie wêreldwys. Ek wonder hoeveel van hulle onthou later hoe ’n mens ’n bleshoender op ’n spit braai en dit sommer met die hande eet?”
Dié keer het hy breed gelag, en haar hart het sonder waarskuwing woes te kere gegaan sodat sy na haar asem gesnak het. Wiam, het sy toe sonder twyfel geweet, het ’n man geword oor wie vroue droom.
“Kom,” het hy gesê, en haar aan die arm geneem, “dan gaan eet ons braaikuiken by Mondi’s in die stad. Miskien help dit my om beter te onthou.”
Sy het egter effens teruggerem, haar wenkbroue gelig.
“Ongelukkig is ek vanaand vas. Jy moes laat weet het jy kom.”
Dit was nie waar nie, maar sy was meteens vol van die oerwysheid van ’n vrou. Nie nou al nie, en nie só maklik nie, het sy besluit. Hy mag nie weet dat haar hart so woes begin klop het nie.
Daar was ’n skielike frons tussen sy oë en hy het haar stip aangekyk.
“’n Afspraak in die middel van die week?” wou hy ongelowig weet. “Wie . . . e . . . behalwe ek vra ’n eerstejaar so ontydig uit?” Hy had darem die grasie om verleë te glimlag, en sy het ook gelag toe sy antwoord.
“Ag . . . ’n baie gawe man, sou ek sê. Hy is ’n derdejaar-musiekstudent en hy help my met kontrapunt.”
Sy was verbaas dat sy so glad kon jok, maar het haarself getroos dat ’n noodleuentjie darem nie so erg is nie. Wiam het egter ondersoekend na haar gekyk en die frons het verdiep.
“Jy moet lig loop vir die seniors, Madel,” het hy gewaarsku, “baie van hulle het bybedoelings, hoor!”
“Regtig?” wou sy tergend weet. “En wat van jou?”
Hy was ’n oomblik spraakloos. Toe gooi hy sy kop agteroor en lag soos sy hom laas by die spruit op Vinkvlei hoor lag het. Hy het egter nie haar vraag beantwoord nie – nie toe nie.
Hulle het saam begin uitgaan – na die Aula om opera en balletuitvoerings te sien; na restaurante waar hy haar uitheemse kosse leer waardeer het. Hulle het sokkiejolle bygewoon en sommer net gaan stap. Dit was eers met die jooldans dat hy baie ernstig geraak het. Hulle was skaars daar toe sy deur twee, drie ander om ’n dans gevra word.
“Jy is baie mooi, juffrou Vermeer,” het een reguit aan haar gesê. “Jy kan self maklik ’n joolkoningin wees.”
“Dankie,” het sy laggend geantwoord, “maar ek stel regtig nie belang nie.”
“Hm,” het hy teleurgesteld gesug, “dis gewoonlik die geval met die heel mooistes.”
Wiam het net gewag tot die man haar by hul tafel terugbesorg het, en haar toe ferm aan die arm geneem, sy gesig wit en ernstig.
“Kom ons waai,” het hy gesê, en haar by die deur uitgestuur. Buite in die koue aandlug het hy bly staan en na haar gedraai.
“Jy . . . is nog baie jonk, Madel,” het hy gesê, “maar ek haat dit as hulle soos bye om jou draai. Ek . . . ek wil jou net vir myself hê, maar ek weet dis waarskynlik te gou.”
“Ek is nie ’n kind nie,” het sy stil gesê, “en ek wil net joune wees.”
Dit was waar, regtig waar. Sy het geen begeerte na iemand anders gehad nie. Hy het sy arms om haar gevou soos wat mens iets kosbaars sou toemaak en beskerm. En toe hy haar soen, het sy geweet dat sy nooit weer deur iemand anders gesoen wil wees nie. Dit was asof ’n vlam in haar aangesteek was – ’n vlam wat sou aanhou brand.
En dit is eintlik nog so, dink sy loom. Die vlam brand steeds. Wanneer ek aan hom dink, kom daar ’n vreugde in my – soms selfs opwinding dat ons spoedig bymekaar sal wees.
Tog haper daar iets: wat weet sy nie mooi nie. Dit is net dat alles nie meer so . . . so nuut voel nie. Dit is byna asof sy te vinnig oud geword het – of dalk vinnig oud móét word, want een van die dae trou sy. Volwassenheid is immers die voorvereiste vir elke huwelik wat moet slaag. En dit weet sy bo alles: haar en Wiam se huwelik móét slaag. Sy sien eenvoudig nie kans om ooit