is ook nie heeltemal só eenvoudig nie!”
“Waarom nie?” wil hy driftig weet. “Ek en jy het mekaar lief en ons wil trou. Of is dit juis waar die moeilikheid lê? Sê my, Madel.”
Haar keel wil toetrek, en sy skud haar kop asof hy haar kan sien.
“Jy verstaan nie . . . my gevoel vir jou het niks hiermee te make nie.”
“Nié? En hoe gaan jy dit met jou wegganery versoen? Een ding moet jy weet, jy kan nie albei hê nie – nie ons liefde én ’n loopbaan in die vreemde nie!”
Sy is opeens kwaad.
“Jy bedoel dit is ’n kwessie van my loopbaan of joune? Nou ja, as jy gedink het ek gaan tuis bly en huis-huis speel, het jy dit mis. Ek is nou eenmaal nie iemand wat dagin en daguit tuis kan bly sit en wonder wat ons vir aandete gaan eet en of ons die slaapkamermure dalk ’n dieper skakering van pienk moes geverf het nie. Miskien is ek veel meer my ma se kind as wat ek ooit kon droom!”
Sy is uitasem toe sy ophou, en toe sy mooi besef wat sy gesê het, skrik sy. Haar ma se kind . . . hiperbedrywige Gerda Vermeer se ewe bedrywige dogter? Is dit regtig sy? Die gedagte maak haar bang – so bang dat sy begin snik.
“Ek . . . ek het dit nie só bedoel nie, Wiam. Ag, ek weet tog nie . . . ek weet nie hóé om alles te verduidelik nie.”
“Madel . . . Madel, moenie huil nie. Ek het jou lief, meisiekind. Ek wil jou nooit, ooit verander nie, en ek het nog altyd geweet dat jy nie net by die huis sal wil sit nie. Glo jy my, Madel?”
“Ja . . .”
“En luister hier, ek háát die gedagte dat dit jou van my gaan wegneem, maar dis wonderlik dat jy die beurs gewen het.”
“Regtig?” Sy glimlag deur haar trane.
“Ja, regtig.”
“Gaan jy my dan nie keer nie, Wiam?” vra sy. “Is jy dan nie kwaad vir my nie?”
Daar sluip ’n stilte in sodat sy haar ore spits om die geringste fluistering op te vang.
“Nee,” sug hy, “nee op al twee vrae.” Ná ’n rukkie voeg hy by: “Wat sal dit my baat, Madel? Om jou van my te vervreem, is allermins wat ek wil doen.”
Dié slag is dit sy wat na woorde soek. Hy spring haar egter voor.
“Gaan slaap nou, Madel. Jy klink vir my oorspanne. Ook geen wonder nie, want jy loop seker dae lank al met die probleem en worstel, nè?”
Hy klink koel – byna saaklik, asof hy ’n moeë pasiënt paai. Sy maak haar oë toe en probeer haar stem gelykmatig hou toe sy antwoord.
“Ek weet al ’n paar weke lank, maar dit was nie ’n maklike besluit nie, Wiam. Dis ook nie net ’n gier wat sal oorwaai nie.”
“Jy klink so seker dat dit my bang maak.”
“Ek is doodseker. Ek sal nie gelukkig wees as ek nie hierdie geleentheid met albei hande aangryp nie.”
“Jy gaan ’n jaar lank weg wees,” sê hy bot.
“Jy is al byna twee jaar lank weg,” antwoord sy. “Ek wonder of jy ooit nog weet hoe ek lyk.”
Hy lag effens bitter.
“O, ek weet presies hoe jy lyk, my skat. En meer nog, ek weet hoe dit voel om jou teen my vas te hou, en te soen. Wanneer ek my oë toemaak, kan ek my dit voorstel, weet jy. Ek kan my jou beeld so helder voor die gees roep dat dit vir my voel jy staan langs my. Ek verlang na jou, Madel . . . jy weet nie hoe baie nie.”
“Wiam . . .” fluister sy en voel weer trane in haar oë brand. Só moet hy nie praat nie. Sy is nie van klip nie, en sy hoef ook nie baie hard te probeer om haar elke oomblik wat hulle saam was, voor die gees te roep nie. Veral nou, terwyl sy stem in haar ore klink, sal dit baie, baie maklik wees.
“Gaan slaap nou,” herhaal Wiam. “Ek sal jou môreaand so teen nege-uur se kant skakel, dan gesels ons weer.”
Hy sit dadelik die hoorbuis neer sodat sy aan ’n dooie foon nag sê toe sy haar stem terugkry.
Sy loop katvoet deur die stil huis na haar kamer. Haar pa moes al gaan lê het, want sy gewaar hom nêrens nie. En toe sy die laken oor haar trek en die stilte van die nag op haar toesak, ervaar sy ’n brandende verlange na Wiam. Die eerste maal in ’n lang tyd smag sy na sy nabyheid, maar weet terselfdertyd met onwrikbare sekerheid dat sy steeds Duitsland toe gaan. Hoe is dit moontlik, wonder sy wroegend, dat ’n hart aan twee liefdes getrou kan wees? En tog, net so lief soos wat sy vir Wiam is, so is haar hart aan haar musiek verknog.
Dit voel vir haar asof sy skaars ’n oog toegemaak het toe haar ma glimlaggend met ’n koppie koffie binnekom.
“Toe, toe,” sê Gerda, “die son sit al dóér, Madel! Een van die dae is jou speeltyd ook verby. Dan is dit jóú beurt om vroeg-vroeg koffie te maak.”
“Wiam drink nie juis koffie nie,” mompel sy vakerig, maar skrik haar nugter toe sy die koppie by haar ma vat. Dit is nou die regte tyd, besef sy. Sy sal haar ma moet vertel.
Sy sit die koppie stomende koffie op die spieëltafel neer.
“Ma,” begin sy, “ek wil dringend met Ma praat . . .”
“Ag, dit kan wag, Madel,” sê Gerda en pluk die gordyne oop. “Daar is honderde dingetjies waaroor ek en jy eers moet besluit. Bernice, die bloemiste, kan nie waarborg dat sy vir ons pienk rosies vir die blommemeisietjies en vir jou ruiker in die hande kan kry nie, en ek wil beslis niks anders hê nie. Ek dink die beste sal wees as ons iemand kan kry om vroeg die oggend Vereeniging toe te ry en dit dáár te kry – die bloemiste Noeline is glo gewillig om dit te verskaf.
“Dan is daar nog ’n ding – ek is nie heeltemal tevrede met die trourok se sleep nie. Ek dink dit moet korter wees, anders sal jy voor die preekstoel staan en dan lê die punt nog by die kerkdeur. Dit is mos darem nie asof jy in die Westminster-abdy gaan trou nie! Ek het destyds toe hulle die kerk ingewy het, al gedink die paadjie kansel toe is darem te kort vir ’n bruid met ’n behoorlike sleep aan haar rok.”
Die stortvloed woorde spoel oor Madel, en dit het dieselfde uitwerking as yskoue water. Sy vergeet dat sy netnou nog doodmoeg gevoel het, en toe sy op haar voete kom, besef sy dat sy van kop tot tone aan ’t bewe is.
“Ma!” sê sy so hard dat Gerda omswaai waar sy in Madel se uitsetlaai na goedjies staan en kyk. “Ma, ek gaan nie meer trou nie!”
“Ag bog!” sê Gerda onverstoord, en lig ’n gehekelde kaslappie uit die laai om dit in die lig te beskou. “Drink jou koffie, dan sal jy beter voel. Alle bruide voel maar so! Dis bloot senuwees, of as jy nou ingewikkeld wil raak, kan jy sê dis die mens, en veral die vrou, se intuïtiewe vrees vir die onbekende. Toe wikkel, Madel, die koffie word koud.”
Die ou mislikheid wat haar as kind dikwels oorval het wanneer sy so oordonder word, kom oor haar en sy haal diep asem om dit te beheers. Ingewikkeld raak? Senuwees? Waarom publiseer haar ma nie ’n boekie nie? wonder sy bitter – Gerda Vermeer se Tien Pittige Puntjies vir die pad na ’n Vreesvrye Bestaan. Nommer een: hou die blink kant bo; nommer twee: hou jou liewer in; nommer drie: vergeet daarvan; nommer vier: (dis nou te sê as jy teen dié tyd nog probleme het): dink aan vyf dinge wat jou gelukkig maak . . .
Woede vlam in Madel op.
“Ma,” sê sy, “as Ma dit dan nie wil glo nie, sal Ma maar moet sien! Ek herhaal: ek gaan nie meer trou nie! En meer nog, ek is lankal nie meer ’n kind nie. Miskien moes ek dit eerder aan Ma gesê het, want ek besef maar alte goed dat Ma nog altyd te besig was om agter te kom dat ek volwasse geword het.”
Die lappie glip uit Gerda se hande en val op die mat. ’n Diep frons keep tussen haar wenkbroue.
“Voel jy siek, Madel?” vra sy omgekrap. “Ek is bereid om jou histerie te vergeet as jy dalk nie lekker voel nie.”
“Ek makeer niks,” sê Madel afgemete, “en ek is jammer