verwonder.
Dit is die verskil, dink hy. Dit is asof die kind steeds by hom, óm hom is.
Vóór Pakamile, voor Miriam, was dit net hy, was hy die enigste beoordelaar van sy optrede, die enigste een wat daardeur geraak is. Maar die kind het sy grense verskuif, dit wyer gerek, sodat elke ding wat hy sê en doen ander implikasies het. Sodat sy gelieg vir Lukas Khoza ongemaklik in hom sit, asof hy dit teenoor Pakamile moet regverdig.
Soos die dag toe hulle in die heuwels op die plaas gaan stap het en hy sy seun wou leer om ’n geweer verantwoordelik te gebruik, as ’n stuk gereedskap om met omsigtigheid te hanteer.
Die vuurwapen het die jagter in die seun laat ontwaak. Hy het al stappende die ongelaaide windbuks op voëls, klippe en bome gerig, met sy mond skietgeluide gemaak en sy gedagtegang het ’n hele siklus voltooi, tot hy gevra het: “Jy was ’n soldaat, Tobela?”
“Ja.”
“Het jy mense geskiet?” Gevra nie sonder ’n makabere geesdrif nie, dit is hoe seuns is.
Hoe antwoord jy só iets? Hoe verduidelik jy aan ’n kind dat jy met ’n sluipskuttersgeweer in München aangelê het op die vyand van jou vennote in die stryd, dat jy die sneller getrek het en die spatsels bloed en brein teen die helderblou deur sien vorm het, hoe jy moes wegsluip soos ’n dief in die nag, soos ’n lafaard. Dit was jóú oorlog. Dit was jóú heldedaad.
Hoe skets jy vir ’n kind die vreemde, verlore wêreld waarin jy geleef het – van apartheid en onderdrukking en opstande en onrus? Van Ooste en Weste, van mure en vreemde alliansies?
Hy het met sy rug teen ’n rots gaan sit en hy het probeer. En eindelik het hy gesê jy neem net die wapen op teen ongeregtigheid, jy rig dit net op mense as dit die lááste uitweg is. As alle ander vorme van verdediging en oortuiging uitgeput is.
Soos nou.
Dit is wat hy nou vir Pakamile wil sê. Die doel heilig die middele. Hy kan nie die ongeregtigheid van sy dood maar laat begaan nie, hy kan dit nie gelate aanvaar nie. In ’n land waar die Stelsel gefaal het, is dit nou die laaste uitweg, al is dié wêreld net so moeilik om te verduidelik, net so ingewikkeld om te verstaan. Iemand moet standpunt inneem. Iemand moet sê “tot hier toe”.
Dít is wat hy die kind probeer leer het. Dít is wat hy aan sy seun verskuldig is.
* * *
Hy klop die hele middag aan deure en teen vieruur weet speurderinspekteur Bennie Griessel die oorledene was die ses-en-veertigjarige mevrou Josephine Mary McAllister, geskei in 1994, betroubare, onopspraakwekkende administratiewe assistent by Benson Exports in Waterkantstraat.
Sy was ’n lidmaat van die New Gospel Church in Seepunt, ’n eensame vrou wie se voormalige man in Pietermaritzburg woon en wie se twee kinders in Londen werk. Hy weet sy was ’n lid van die openbare biblioteek, sy het Barbara Cartland en Wilbur Smith se boeke verkies, ’n 1999-model Toyota Corolla besit, R18 762.80 in ’n tjekrekening by Nedbank gehad, R6 456.70 op haar kredietkaart geskuld en op die dag van haar dood ’n vliegtuigkaartjie na Heathrow bespreek, klaarblyklik om vir haar kinders te gaan kuier.
Hy weet ook daar is, soos met die vorige twee moorde, nie ’n enkele beduidende leidraad nie.
En wanneer hy sy tasse by haar woonstel se deur insleep, verstaan hy die risiko van wat hy gaan doen, maar hy sê vir homself hy het geen keuse nie. Waar de fok moet hy heen gaan? Na ’n hotel toe, waar die drank net een vinger op ’n telefoonknoppie ver is? En Forensies was klaar hier, daar is geen ander sleutels behalwe dié in sy sak nie.
Josephine Mary McAllister se woonstel het nie ’n stort nie, net ’n bad. Hy tap dit halfvol en gaan lê in die warm water en kyk hoe die klop van sy hart met ritmiese reëlmaat fyn rimpelings oor die oppervlak stuur.
Die breë verband tussen McAllister, Jansen en Rosen is maklik. Almal middeljarig, alleenlopers, Groenpunt, Mouillepunt, Seepunt. Geen geforseerde toegang nie. Elkeen verwurg met ’n elektriese koord uit die slagoffer se kombuis. Maar hoe het die fokker hulle gekies? Op straat? In ’n kar gesit en gekyk tot hy ’n potensiële slagoffer sien? En dan aan ’n deur gaan klop?
Kan nie wees nie. McAllister en Rosen se woonstelblokke het sekerheidshekke en interkomstelsels. Vroue maak nie oop vir onbekende mans nie – nie meer nie. Nie hiér nie. Jansen se huis het ’n staalhek voor die voordeur gehad.
Nee, hy het hulle bevriend, op die een of ander manier. En dan ’n afspraak gemaak vir ’n Vrydagaand en hulle kom haal of teruggebring. En die elektriese koord gebruik. In die kombuis gekry. Sitkamer toe of slaapkamer toe gevat?
Hoe het hy hulle daarmee verras? Want daar is nie veel tekens van ’n gespartel nie, geen weefsel onder vingernaels nie, geen ander kneusmerke nie.
Hy moet sterk wees. Vinnig. Metodies.
Die forensiese sielkundige in Pretoria het gesê die fokker sal ’n rekord hê, dalk vir mindere oortredings: aanranding, diefstal, betreding, miskien brandstigting. Waarskynlik vir seksuele oortredings, verkragting, miskien afloerdery. “Hulle begin nie by moord nie. Hulle klim eers die leer. As jy hom vang, sal jy pornografie by hom kry, sadomasochistiese goed. En een ding kan ek vir jou sê: Hy sal nie ophou nie. Hy raak behendiger, hy kry al hoe meer selfvertroue.”
Griessel vat die seep en was sy lyf en wonder of sy hier gesit het voor hy haar kom haal het. Of sy haarself voorberei het vir die afspraak, onwetend, ’n lam ter slagting.
Hy sal hom kry.
Vrydagaande. Waarom Vrydagaande?
Hy spoel die seep af.
Is Vrydag die enigste aand wat hy los is van verpligtinge? Watter soort beroep is af op Vrydagaande? Watter soort beroep wérk op Vrydagaande? Net fokken poliesmanne, dis al – die res van die wêreld braai en suip. En moor.
Hy klim uit, loop druppend na sy tas en haal ’n handdoek uit. Anna het dit netjies bo-op die klere gesit. Sy het die bagasie met sorg gepak, asof sy vir hom omgee.
Maar nou krap hy dit deurmekaar. Hy sal dit moet uithang, dit gaan kreukel.
Hy sal ’n plek moet kry om te bly. Vir ses maande.
Hy hoor die stilte in die woonstel, skielik meer daarvan bewus dat hy alleen is. Dat hy nugter is. Hy haal klere uit, trek aan.
Anna, wat ondanks haar woede vir hom die tasse met soveel deeglikheid gepak het. Wat nou in die kombuis sal wees, nog in haar werksklere, die geluide van potte en panne, die radio op die tafel wat sag speel. Carla sal by die eetkamertafel met haar huiswerkboeke sit, die potlood se punt in haar haar hare, draaiend. Fritz voor die televisie, met die afstandbeheer, die kanale aanhoudend aan die verander, soekend, ongeduldig. Altyd aan die gang. Hy was óók so – dinge moes gebeur.
Here, waar is sy lewe heen?
Weggepis. Met die hulp van Klipdrift en Coke en Jack Daniel’s.
Alkoholiste Anoniem, Stap Tien: Hou aan om ’n persoonlike voorraadopname te doen en, as ek verkeerd is, dit onomwonde te beken.
Hy sug diep. Die verlange druk teen sy bors, van binne. Hy wil nie hier wees nie. Hy wil teruggaan. Hy wil sy gesin terughê, sy vrou en sy kinders. Hy wil sy lewe terughê. Hy sal voor moet begin. Hy wil weer wees soos hy wás – die poliesman van die Parow-stasie wat vir die lewe gelag het. Kan ’n mens oor begin? Nou? Op drie en fokken veertig?
Wáár begin jy as jy oor begin?
Dis nie asof jy geniaal moet wees om daardie een te beantwoord nie. Hy is nie seker of hy dit hardop gesê het nie.
Hy moet gaan koerante koop en ’n blyplek in die geklassifiseerde advertensies soek, want hierdie fokken woonstel gee hom die horries. Maar eers moet hy bel. Hy kry mevrou McAllister se telefoonboek in ’n laai van die kassie waarop die instrument staan. Hy slaan dit oop, voor, en trek sy vinger vinnig oor die inskrywings, blaai om, soek weer, tot hy die nommer kry.
Hy sal nog een keer probeer. Nog een fokken laaste keer.
Hy bel die nommer. Dit