Deon Meyer

Infanta


Скачать книгу

Dan is my naam seker Maergat,” sê die Boss Man. Sy lag is ’n aansteeklike giggel wat sy oë laat toeval en sy hele lyf laat skud toe hy dit na ’n kroegstoel oplig. ’n Lang glas verskyn voor hom, die inhoud helder soos water.

      “Gesondheid.” Hy drink diep en vee sy mond met sy mou af, swaai ’n wysvinger op en af in Tobela se rigting. “Ek ken vir jou.”

      “Ek …” Sy hartklop versnel, hy fokus sterker op die gelaatstrekke. Hy wil nie onkant betrap word nie. Herkenning beteken moeilikheid. Dit beteken konnotasies, ’n spoor met ’n begin en ’n einde.

      “Nee, moenie sê nie, ek sal nou onthou. Gee my net ’n minuut.” Die ogies wat oor hom dans, ’n frons keep lank oor die kaal kop. “Tiny … Tiny … Was jy … Nee, dit was ’n ander ou.”

      “Ek dink nie …”

      “Nee wag, ek moet jou net plaas. Hel, ek vergeet nie ’n gesig nie. Sê my net, wat is jou lyn?”

      “Dit en dat,” sê hy versigtig.

      Dan klap die vingers. “Orlando Arendse,” sê die Boss Man. “Jy het shotgun gery vir Orlando.”

      Verligting. “Dis lank gelede.”

      “Geheue soos ’n olifant, my vriend. ’98, ’97, daar rond, toe werk ek nog vir Shakes Senzeni, God rest his soul. Hy’t ’n chop shop in Gugs gehad, ek was sy voorman. Toe vra Orlando ’n sit-down oor gebiedsafbakening, onthou jy? Groot vergadering in Stikland en jy het langs Orlando gesit. Shakes het nog agterna gesê dit was slim, ons kon nie Xhosa gooi onder mekaar nie. Fok, my vriend, small world, ek hoor Orlando is afgetree, die Nigeriërs het die drug trade oorgevat.”

      “Ek het Orlando twee, drie jaar laas gesien.” Hy kan die geleentheid onthou, maar nie die man voor hom nie. En iets anders, ’n gewaarwording van moontlikhede – as hy by Orlando gebly het, waar sou hy nou gewees het?

      “Wat doen jy nou?”

      Hy kan by sy dekmantel hou, nou met meer geloofwaardigheid. “Ek’s vryskut, sit jobs bymekaar …” Wat sou hy gedoen het as Orlando afgetree het? ’n Nagklubeienaar geword het? Iewers op die periferie van die wet ’n ding bedryf het? Hoe naby aan ’n potensiële waarheid is die storie wat hy nou fabriseer?

      “’n Broker?”

      “’n Broker.” Daar was seker ’n tyd dat dit moontlik sou wees, dat dit die waarheid sou kon wees. Maar dit lê in die verlede. Wat lê voor hom? Waarheen gaan hy?

      “En jy het iets vir Johnny Khoza?”

      “Miskien.”

      Uitroepe klink bo die musiek uit en hulle kyk om. Die fris bruin man dans nou op ’n tafel, sy hemp uit. ’n Getatoeëerde draak spoeg verbleikte rooi vuur op sy bors terwyl sy aanhangers hom aanmoedig.

      Boss Man Madikiza skud sy kop. “Daar kom kak,” sê hy en draai terug na Tobela. “Ek dink nie Johnny is beskikbaar nie, my vriend. Ek hoor hy hardloop, hulle het hom in die Ciskei gevang vir AR en manslag. Hy’t ’n service station gedoen – Johnny het nog nooit groot gedink nie. En toe die hofsaak verkeerd fok, toe kos dit hom vet geld om ’n sleutel te kry, as jy verstaan wat ek bedoel. Ek weet nie waar hy is nie, maar hy is definitief nie in die Kaap nie. Anders sou hy lankal hier ingesluip het. In elk geval, ek het beter talent as hy op my boeke – sê my net wat jy nodig het.”

      Dit is die eerste keer dat hy die moontlikheid sien dat hy hulle nié gaan kry nie. Dat die soektog nutteloos is, dat hulle iewers in ’n gat ingekruip het waar hy hulle nie kan uitkry nie. Die frustrasie kom hang aan hom, maak hom swaar, magteloos. “Die ding is,” sê hy, maar hy weet al dit gaan nie werk nie, “Khoza het inligting oor die moontlike job. ’n Kontak aan die binnekant. Is daar niemand wat sal weet waar hy is nie?”

      “Hy’t ’n broer … Ek weet nie waar nie.”

      “Niemand anders nie?” Waarheen? As hy nie vir Khoza en Ramphele kan kry nie? Waarheen? Hy skud dit met moeite af, konsentreer op wat die Boss Man sê.

      “Ek ken hom nie só goed nie. Johnny is small-time, een van baie wat hier inkom. Hulle is almal dieselfde – kom hier in met groot attitude, gooi hul geldjies rond voor die girls soos major gangstas, maar hulle doen service stations. No class. As Johnny vir jou sê hy’t ’n kontak aan die binnekant vir ’n serious score, moet jy maar versigtig wees.”

      “Ek sal.” Die plaas is nie ’n opsie nie. Hy kan nie terug nie, nie met dié frustrasie in hom nie, dit sal hom van sy sinne dryf. Wat gaan hy doen?

      “Waar kan ek jou kontak? As ek iets hoor?”

      “Ek sal weer kom.”

      Die Boss Man se ogies vernou. “Jy vertrou my nie?”

      “Ek vertrou niémand nie.”

      Die laggie borrel op, sjampanje uit ’n vaatjie, en ’n pofferhand klop hom op die skouer. “Goed gesê, my vriend …”

      ’n Slag klink op bo die desibels van die musiek. Die dansende draak se tafel breek onder hom en hy val aanskoulik, tot groot vermaak van die groep. Hy bly op die vloer lê, sy drankglas triomfantelik bo hom.

      “Fok,” sê die Boss Man en staan uit die stoel uit op. “Ek het geweet dit gaan handuit ruk.”

      Die bruin man staan stadig op en beduie ’n verskoning in Madikiza se rigting. Hy knik terug, sy glimlag styf.

      “Hy gaan vir die tafel betaal, die gemors.” Hy draai na Tobela. “Weet jy wie dit is?”

      “Geen idee nie.”

      “Enver Davids. Hy’t gister weggeloop van ’n baby rape charge. Op ’n tegniese punt. Fokken polisie het die lêer verloor, kan jy dit glo – ’n genuine administratiewe fokop, jy koop jou nie uit daardie een uit nie. Hy’s slegter nuus as die Financial Mail. Generaal van die Twentysevens. Hy’t Aids in die tronk gekry by ’n wyfie, meer cell time as Vodacom, en toe parool hulle hom en hy gaan verkrag ’n baba, want dit sal sy Aids gesond maak … En nou kom suip hy hier, want sy eie mense sal hom halssnoer, die fokken sleg moer.”

      “Enver Davids,” sê Tobela langsaam.

      “Fokken sleg moer,” sê die Boss Man weer, maar Tobela hoor dit skaars. Want hy dink hy verstaan iets, hy sien iets.

      * * *

      Sy hande bewe op die stuurwiel, ’n lewe van hul eie. Hy kry koud in die warm somernag en hy weet dit is die onttrekking. Hy weet dit is die begin – dit gaan ’n verskriklike nag wees in die woonstel van Josephine Mary McAllister.

      Hy steek sy hand na die radio uit, kry die knoppie met moeite, druk dit. Musiek. Hy hou dit sag. Seepunt se strate leef dié tyd van die aand. Motors en voetgangers, mense op pad iewers heen, doelgerig. Behalwe hy.

      Hulle het hom omsingel toe almal klaar was. Hulle het om hom kom staan, hulle het aan hom gevat, asof hulle iets deur hul hande aan hom wou oordra. Krag. Of geloof? Gesigte, te veel gesigte. Sommige het stories vertel, in die jaarringe om die oë, om die mond. Hartverskeurende stories. Ander was soos maskers wat geheime wegsteek. Maar die oë, al die oë was dieselfde – gloeiend, besete met ’n wilskrag, soos iemand wat in die stormwater aan ’n dun, groen loot vasklou. Hy sal sien, het hulle gesê. Hy sal sien. Wat hy gesien het, is dat hy deel was van die Klub van die Laaste Kans. Hy het dieselfde desperaatheid gevoel, dieselfde meesleurende stroom.

      Die bewing trek deur hom soos koors. Hy hoor hul stemme, en draai die radio harder. ’n Ritme vul die voertuig. Nog harder. Rock, Afrikaans, hy probeer die woorde vang.

      Ek wil huis toe gaan na Mamma toe,

      Ek wil huis toe gaan na Mamma toe.

      Te veel sintetiseerder, dink hy, nie heeltemal reg nie, maar goed.

      Die rivier is vol, my trane rol.

      Hy hou voor die woonstelblok stil, maar hy klim nie uit nie. Hy laat sy vingers langs ’n denkbeeldige baskitaar se