Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 10


Скачать книгу

vuilsmeer. Dit maak nie saak nie, want dit lyk nie of hulle openingsdag enige klante gaan lok nie. Dalk het al die mense intussen by ander biblioteke aangesluit en stel hulle nie meer in Sesdorings belang nie. Hennie kyk na die nuwe rottangtafels en -stoele, die varsgestyfde tafeldoeke en die glimmende Noritake-koppies en -pierings. Daar is ’n knop in haar keel.

      “As hulle nie vandag kom nie, kom hulle môre,” probeer tant Lettie haar nuwe werkgeefster bemoedig. Hennie is ’n liewe kind en sy het die afgelope week haar morsdood gewerk om die biblioteek georganiseer te kry. Sy het baie geld bestee en sy verdien om ’n sukses van die biblioteek en teekamer te maak. Hoekom ondersteun die mense haar nie?

      “Môre is al die eetgoed oud,” antwoord Hennie. Daar is trane in haar oë en sy draai haar kop weg sodat tant Lettie nie moet sien hoe mismoedig sy is nie. Sy het ’n stormloop verwag. Minstens ’n honderd mense. Alles in die biblioteek is skoon en ordelik. Die boeke is sonder stof, elkeen op sy plek in die rakke, die outeurs- en titelregister is voltooi, sodat sy maklik ’n boek kan opspoor as iemand na ’n sekere publikasie vra. Gisteraand het sy hare gewas en selfs Lassie is vir die groot geleentheid gebad. Gisteraand om middernag het sy en tant Lettie nog gewerk om alles in die kombuis in gereedheid te bring vir die Groot Bak wat om vyfuur vanoggend begin het. Alles is gereed, behalwe dat niemand opgedaag het om hulle harde werk te beloon nie …

      “Daar’s nou weer ’n dreuning op die grondpad!” Tant Lettie spring op om beter te kan luister. Die verwagting op haar gesig verdof toe die dreuning vervaag, sonder dat die voertuig na die biblioteek afgedraai het.

      “Hier gaan niemand kom nie,” sê Hennie, ’n snik in haar stem en die groot, groen oë vol trane. “Hoe laat is dit nou?”

      “Amper halfeen. Die mense sal nou van die dorp af begin terugkom. Hulle sal daardie kennisgewingbord van Don Meiring sien.”

      “Maar het niemand dan die advertensie in die koerant gesien nie, Talettie?”

      “Moenie so gou moed verloor nie, my kind. Sal ek vir ons twee elkeen ’n lekker koppie tee gaan maak?”

      “Ja, Tante, en dan moet ons seker maar van daardie berge koek begin eet, sodat al Tante se harde werk darem nie tevergeefs was nie.”

      “Dis jy wat die hardste gewerk het, my kind. Jy het my in die kombuis gehelp, maar ek het die biblioteek se werk alles aan jou oorgelaat. Ek sal jou so jammer kry as hier vandag niemand opdaag nie.”

      “Nee, dis ek wat vir Tante jammer voel.”

      Ná middagete gaan Hennie voort met die klassifikasie van die laaste kinderboeke – ’n taak wat sy nie vir vandag kon afhandel nie. Ná ’n halfuur egter, sit sy haar pen neer en gooi die titelkaartjies in ’n laai. Wat help dit nog om te werk? Sy het haarself gebreek en met sulke hoë verwagtings vanoggend om vieruur uit die bed geklim. En dit was alles tevergeefs. Sy kan net sowel die biblioteek sluit, Sesdorings aan Carl Meiring verkoop en teruggaan stad toe. En druipstert vir almal vertel dat sy ’n mislukking van die werk gemaak het. Haar ma sal vir haar dogter jammer voel, want net gister het sy nog geskakel om hulle alle sukses met die groot openingsdag toe te wens. Maar haar pa en Erik sal bly wees. Hulle sal lekker lag en sê hulle het haar mos gewaarsku …

      “Hier is ’n lekker koppie boeretroos.” Tant Lettie sit ’n skinkbord koffie op die toonbank langs Hennie neer. “Ek dink ons albei het dit nodig.”

      Hennie drink die koffie in stilte, wurg twee stukke koek in, om die ou dame beter te laat voel, en aarsel dan. Donnie het haar gewaarsku dat ou mevrou Jansen ’n skinderkous is en haar gemaan om niks in die rigting van haar oupa se motor te praat nie. Aanvanklik was Hennie ook nie van plan om die netelige saak met tant Lettie te bespreek nie, maar sy is hartseer en alles is skielik vir haar te veel. Carl Meiring se vaste voorneme om haar van Sesdorings weg te dryf, sy vader se stille vyandskap en die hele vete wat hulle twee met oupa Drik gehad het …

      “E … Talettie …”

      “Ja, my kind?”

      “Het Talettie ooit die motor gesien waarmee my oupa gery het?”

      “Nee, hy het mos net soos ek ’n trapfiets gehad.”

      “Ja, maar hy kon mos nie met die fiets ingery het Dendron toe nie. Ek hoor hy het ’n motor gehad. Hoe anders het my oupa sy voorrade op Sesdorings gekry?”

      “Hy het maar soos ek gemaak – Dendron toe geskakel en gevra hulle moet die voorrade uitstuur as daar weer ’n afleweringsvoertuig in hierdie rigting kom.”

      “Maar my oupa het mos dikwels oorsee gegaan. Hoe het hy elke keer op die lughawe gekom as hy nie ’n motor gehad het nie?”

      “Hy was maar van ander mense se gunste en gawes afhanklik. Ek weet een of twee keer het oom Piet Lottering van Klipput hom lughawe toe geneem. Jou oupa het nie ’n motor besit nie, my kind.”

      Hennie frons onbegrypend. Nou verstaan sy dit nie. As oupa Drik nie ’n motor besit het nie, wat het Carl Meiring dan laat wegsleep en verkoop?

      “Is Tante seker?”

      “Ja, my kind. Jou oupa het nie ’n dryfliksens gehad nie en ook nooit genoeg geld dat hy ’n motor kon bekostig nie. Hy het mos al sy geld altyd op die vliegmasjiene uitgemors. Wat hy oorkant die water gaan soek het, kon ek nooit verstaan nie. Hy het elke keer net nog boeke gaan koop, om op die solder te pak en nooit in die biblioteek te sit nie. ‘Die spul barbare sal my boeke verniel,’ het hy altyd gesê. Maar ek is bly jy het al daardie nuwe boeke uitgehaal en op die rakke gesit. Nou sal al die mense hulle tog ook kan lees. Dis sonde om geld so te mors en al daardie duur boeke dan op die solder te pak.”

      “Ek kon hulle maar net sowel op die solder gelos het, Tante. Al staan hulle op die rakke, sal hier tog nie mense kom om die boeke te leen nie. Ek dink ons moet al daardie koek maar dorp toe neem en aan ’n weeshuis of ’n koshuis skenk, dan mors dit nie. Al Tante se harde werk …” Warm trane begin oor Hennie se wange loop en sy doen nie eers die moeite om na ’n sakdoek te soek nie. Sy wonder ook nie meer oor die motor wat oupa Drik nie gehad het nie, maar wat weggesleep en deur Carl Meiring verkoop is. Sy is te hartseer om haar oor iets in die verlede te bekommer. Dis die hede wat saak maak, die mense wat nie gaan kom om by Sesdorings boeke uit te neem nie … Die biblioteek wat ’n mislukking is …

      “Hallo, daar!” roep Donnie se stem. “Moet ek in die tou staan, of kan ek maar binnestap?”

      “Hier is nie ’n tou nie, Donnie,” antwoord Hennie stil.

      Donnie stap binne. Hy lyk verbaas oor die trane en terneergedrukte atmosfeer. “Is die mense almal al weg?”

      “Hier was geen mense nie, Donnie.”

      Tant Lettie hou nie van Don Meiring nie. Sy kan dit nie verstaan dat Hennie so vriendelik teenoor hom is nie. Dis egter nie haar plig om haar nuwe werkgeefster daaroor te kapittel nie. Hennie het blykbaar besluit dit was haar oupa se oorlog, nie hare nie, daarom kan sy met Don Meiring vriende wees.

      “Verskoon my,” sê tant Lettie styf. “Ek gaan kombuis toe.”

      “Wat het oor die ou vrou se lewer geloop?” wil Donnie weet.

      “Sy voel omgekrap omdat sy al daardie koek gebak het en niemand opgedaag het om dit te eet nie.”

      “Niemand nie? Ek het verwag hier gaan ’n lang tou mense en ’n stormloop wees. Ek het juis gekom om hulp aan te bied.”

      “Die mense het van Sesdoringsbiblioteek vergeet, Donnie.”

      “Die advertensie in die koerant en die bord by die nasionale pad sou hulle herinner het.”

      “Dit het blykbaar nie.”

      “Ek wonder of daardie dekselse mense dalk vergeet het om die advertensie te plaas. Het jy nie dalk ’n kopie van die Herald nie?”

      “Ongelukkig nie.”

      Donnie voel innerlik verlig, hoewel hy uiters versigtig is dat niks van sy gedagtes op sy gesig leesbaar is nie.

      “Ek sweer