Hennie, as jy van hom hou.”
“Van hom hou? Ek is dolverlief op die pragtige, wollerige ding!”
“Miskien moet ek ook wol kweek,” skerts Donnie.
Hennie lag. Donnie is ’n gawe ou en sy hou van hom. Maar sy wens hy wil nie so gou al ernstig raak teenoor haar nie. Hy ken haar slegs drie dae – elf jaar gelede tel nie – en hoe kan hy sê hy is besig om dolverlief op haar te raak? Wat sal sy pa en broer sê as hulle moet weet hy begin trouplanne met ’n Vermaak kry? En hoe kan ’n mens ná slegs drie dae alreeds weet jy wil eendag met iemand trou? Donnie is sommer laf.
“Ek wou ’n deel van die teekamer se tafels en stoele koop. Toe weer ’n pan of ’n potplant of darem ’n mooi tafeldoek. Maar vir alles het jy nee gesê, aster. Hierdie keer luister ek nie weer as jy teëpraat nie. Ek gaan Wolf vir jou koop, om te sê: welkom op Sesdorings!”
Hennie se teëstribbeling help nie. Donnie bondel die hond in haar arms, haal geld uit en betaal die eienares van die troeteldierwinkel.
“En nou gaan ons tee drink,” verklaar hy. “Om dit te vier dat ek darem een ronde teen ’n hardkoppige meisiekind gewen het.”
In die straat staar mense geamuseerd na die blonde jong man wat skeef dra aan al die pakkies, die mooi rooikopmeisie en die wriemelende hond in haar arms.
“Ek wens ek het ’n los hand gehad,” sê Donnie, “sodat ek jou aan die arm kon neem en vir die hele wêreld wys jy behoort aan my. Hoekom het Wynand Bothma jou vanoggend geskakel? Was dit regtig om te sê dat daar nog ’n paar dokumente is wat jy moet teken, of was dit net ’n voorwendsel om weer met jou kontak te maak?”
“Die dokumente was eg. En dan wou meneer Bothma sommer net hoor hoe dit gaan en of ek al tuis is op Sesdorings. Hy het gesê as ons vanmiddag tyd het, moet ons op kantoor by hom kom tee drink.”
“Ek glo nie ons sal tyd hê nie. Jy wil nog blomme koop en vir Talettie ’n frilletjies-en-valletjiesvoorskoot en dan moet ons by die motorhawe gaan hoor of jy jou motor kan kry. Het Wynand regtig gesê ons moet kom tee drink?”
“Ja,” jok Hennie. “Hy het jou in die uitnodiging ingesluit.”
“Dis gaaf van hom, maar ek dink die kafee maak lekkerder tee,” verklaar Donnie.
Vyf minute later is Donnie spyt omdat hy nie tog maar Wynand Bothma se uitnodiging aanvaar het ten koste van die kafee op die hoek nie. Die jong prokureurtjie se teenwoordigheid sou verkieslik gewees het bo dié van sy ouboet Carl.
“Ignoreer hom, Hennie,” fluister hy. “Maak of jy hom nie gesien het nie. Ek dink Carl kom net sigarette by die toonbank koop. Ek glo nie hy het ons hier by die tafeltjie gesien sit nie. Moenie sy aandag trek nie.”
Hennie is verbaas oor Donnie se hewige reaksie. Dink hy sy is mal? Om Carl Meiring se aandag te probeer trek … sy sal dit net so min doen as wat sy ’n mamba se aandag op haar sal vestig.
Donnie gryp ’n spyskaart en hou dit voor hulle gesigte.
“Laat ons hoop dis voldoende kamoeflering,” fluister hy. “Sit doodstil, Hennie. Jy wil nie hier in die openbaar in ’n rusie met Carl betrokke raak nie.”
Hennie weet dat Carl Meiring hulle twee gesien het. Hy het toevallig in hulle rigting gekyk toe hy die kafee binnegestap het, verbaas gelyk en toe weer vinnig weggekyk, sonder om te groet. Nou hoop sy net hy kom nie na hulle tafeltjie toe om dalk met sy broer te praat en hom die leviete voor te lees nie. Sy hoop hy ignoreer hulle ook, koop net sy pakkie sigarette en stap uit.
So sou dit dalk gebeur het. Hennie se vurige hoop sou miskien nie beskaam gewees het as dit nie was dat die jong wolfhond juis daardie oomblik uitgekies het om luidkeels aan die blaf te gaan en met die ou dame by die tafeltjie langsaan se pekinees vriende te maak nie.
Hennie het haar met die krag van ’n vasberade wolfhond misgis. Sy het nie gedink hy sal van haar skoot wil afspring nie en sy het hom nie baie styf vasgehou nie. Daar is net een vaal streep en toe is haar koppie tee onderstebo. Haar nuwe donkerblou baadjiepak is sopnat en die Griek se koppie, piering, teepot en melkbekertjie lê flenters op die vloer.
“Wollie, kom terug!” skreeu Hennie.
Die wolfhond steur hom nie aan sy nuwe nooi nie. Met groot, lomp pote stamp hy die verontwaardigde pekinees onderstebo en galop met bokspringe deur die kafee.
“Wolf!” roep ’n woedende Donnie.
Toe almal na hom gryp en skree, raak die jong hond verbouereerd. Al omgewing wat hy in sy jong lewe nog leer ken het, was die binnekant en agterplaas van die troeteldierwinkel. Al hierdie vreemde reuke en geluide maak hom bang. Hy spring ’n lekkergoedstander dat dit dáár trek, duik oor ’n paar sakke ertappels en kruip agter die toonbank in.
Dimitrios Kapnikareas hou ook nie van honde nie. As dit nie was dat hy daardeur klandisie sou verloor het nie, sou hy troeteldiere nie in sy kafee toegelaat het nie. ’n Hond wat ewe stemmig op sy eienaar se skoot sit of aan ’n tafelpoot vasgemaak is, is egter ’n gans ander ding as een wat soos ’n besetene los rondhardloop en sy hele kafee in chaos omskep. Hy gryp ’n besem om die tjankende hond uit te boender.
Die wolfhond is nog jonk, maar hy is verbouereerd en in ’n hoek vasgekeer. Hy grom en hap na die besem.
“Wollie!” skree Hennie.
Die hond herken nie sy nooi nie. Hy wys vir haar ook sy tande en stoot ’n dreigende grom uit sy keel.
Dimitrios swaai ’n verwoede hou met die besem na die terroris. Dis egter mis en hy tref die rak agter die hond. Die hond se oë was op die kring dreigende mense om hom en hy skrik toe die gevaar skielik van bo af kom. Toe pakkies sigarette en tabak en pype en appels om hom intuimel, gee hy net een verskrikte tjank en bestorm die besem. Donnie vloek en Hennie en die ander mense gil, maar Carl voel vir die arme hond jammer. Hy tree tussen die verwoede Griek en die aggressiewe hond in.
“Niemand gaan jou seermaak nie, ou grote,” praat hy kalm met die hond. Hy gaan sit op sy hurke en steek ’n hand uit, versigtig om dit laag te hou en nie die hond se visie te versper nie. Hy streel onder die ken en nie oor die kop nie. “Moenie bang wees nie, my hond …”
“Oppas, hy mag jou dalk bestorm,” waarsku Donnie.
“So ’n vriendelike hond my bestorm? Hy is nog te jonk. Hy is maar net verbouereerd.” Terwyl hy praat, krap Carl onder die ken en streel die ore. Hy steur hom nie aan die laaste, dreigende grom wat diep uit die maag uitgestoot word nie en paai rustig: “Jy sal nie byt nie, sal jy, ou grote? Die mense verstaan nie hoe om met jou te werk nie. Hulle het jou bang gemaak.”
Die wolfhond hou van die kalm stem en die hand wat agter sy ore krap en oor sy rug streel. As hy ’n kat was, sou hy gespin het, maar al wat hy kan doen om sy inskiklikheid te bewys, is om op sy rug te gaan lê sodat die hand oor sy maag kan krap.
Carl tel hom op, stap om die toonbank en oorhandig hom aan Donnie.
“Ek weet nie wat wil ons met nog ’n hond op Koedoespoort maak nie en ek weet nie wie jy gaan vra om hom op te pas terwyl jy op universiteit is nie, Don,” sê hy geamuseerd, “maar hier is jou eiendom – heel rustig en kalm.”
“Dankie,” grinnik ’n verleë Donnie. “Ek het jou nie in die kafee sien inkom nie, Carl.” Hy wil die hond neem, dog Hennie tree tussenbeide.
“Dis my hond.”
Dadelik is Carl minder geamuseerd. Hy moes so iets verwag het. Tipies onhandige vroumens om haar hond nie te kan beheer nie … en dan die arme verbouereerde dier met besems en stokke by te dam.
“Ek stel voor jy kry hom so gou moontlik uit die kafee en by die huis,” sê hy koel.
Hennie was van plan om Carl vir sy kalm optrede te bedank. As dit enige ander persoon was wat tot haar redding gekom het, sou sy die grap in die situasie gesien het. Maar dis Carl Meiring en die stemtoon is genoeg om enigeen die harnas in te ja.
“Kom ons loop, Donnie,” sê sy styf.
Dimitrios