skuif die hond oor op haar heup, om die ander mense te help om die voorrade op te tel en in die rakke terug te pak. Sy verkeer egter in ’n penarie, want sy het geen geld meer aan haar nie.
Carl sien dat die meisie in haar handsak grawe en dat sy rooi in die gesig word. Hy raai haar dilemma en sit ’n paar note op die toonbank neer.
Dimitrios is meer as tevrede. Daar is ’n flits van wit tande.
“Ek het ongelukkig nie los kontant byderhand nie, meneer Meiring,” sê Hennie styf. “Maar ek sal dit môre vir jou teruggee.”
“Ja, moenie vergeet nie, juffrou Vermaak,” sê Carl koel. “Onthou ook die rente.” Hy streel die hond en stap uit die kafee.
“Kom ons gee pad, Hennie,” sê Donnie. “Netnou vaar die duiwel weer in daardie hond. Wat het hom makeer?”
Hennie is vies vir Donnie dat hy nie aangebied het om haar die geld te leen nie. Vies ook omdat Carl Meiring so koel en onvriendelik was.
“Die hond is maar net spelerig,” sê sy kortaf.
“Spelerig se voet. Hy het amper die winkel afgebreek. Dis sy skuld dat Carl ons twee saam gesien het. Ek sou verkies het dat ons verhouding voorlopig geheim bly.”
By die motor is Donnie nog steeds briesend vir die hond. Hy gee hom ’n harde hou oor die rug. “Onmanierlike brak!”
Die hou was seer. Die hond onthou dat hierdie hand netnou ’n stok beetgehad het om hom mee te slaan. Hy grom en hap na die hand.
Hennie ruk hom weg.
“Nee, Donnie! Moenie hom slaan nie. Hy het nie geweet hy doen verkeerd nie. Dis ons wat hom nie reg hanteer het nie. Ons het hom bang gemaak.”
Donnie hou nie van kritiek nie. Veral nie as hy die skimp snap dat sy broer die situasie beter hanteer het nie. Van kleins af moes hy altyd in ouboet Carl se skaduwee staan. Carl was altyd slimmer, sterker, groter, beter as hy. Carl kry mos altyd sy sin. Maar wag maar … Met hierdie rooikop gaan hy Carl terugbetaal. Hy gaan Hennie gebruik om Carl te wys hy moenie sy jonger broer onderskat nie …
“Jy kan nie die hond hou nie,” sê Donnie. “Hy is te kwaai. Alle wolfhonde is skelm en ontrou. ’n Wolfhond sal die hand byt wat hom kos gee. Ek gaan terug troeteldierwinkel toe om hom vir daardie terriër om te ruil.”
“Nee!” Hennie hou die hond baie styf vas. “Ek wil nie ’n ander hond hê nie. Ek wil hierdie een hê. As ons hom teruggee, is daar dalk nie gou iemand anders wat hom koop nie en dan moet hy dalk nog ’n lang ruk in daardie beknopte hok in die agterplaas van die winkel bly. Hy is nie kwaai nie, Donnie. Hy is net uitbundig om uit daardie hok te wees.”
“Daardie klein terriër was net so oulik en baie goedkoper.”
“Ek sal die verskil in prys vir jou teruggee, maar ek wil hierdie hond hê,” hou Hennie vol. “Hy sal my nie byt nie. Ek sal net so mooi met hom werk soos jou broer en Lassie en ek sal gou vriende word.”
“Lassie? Hy is mos nie ’n kolliehond nie.”
“Ek het nou net aan ’n goeie naam vir hom gedink. Omdat hy so ’n laspos was, wou ek hom Laspos genoem het. Lassie is ’n afkorting daarvan.”
Donnie weet dit sal nie help om met Hennie te stry nie. Sy sal nie van die wolfhond afsien nie. Hy beteuel met moeite sy humeur en haal sy grimmigheid op die motor uit. Die ratte krap en die gruis spat onder die agterwiele toe hy wegtrek.
“Waarheen nou?” wil Hennie weet.
“Bloemiste toe, sodat jy vir jou oupa se graf blomme kan koop, na ’n winkel wat frilletjiesvoorskote verkoop en dan motorhawe toe. Joe het belowe ons kan die Volksie vyfuur kry.”
By Steyns Motorhawe verneem Donnie wat alles aan die motortjie gedoen is en reël dat Hennie die rekening aan die einde van die maand vereffen.
“Ja, wanneer my biblioteek en teekamer al ’n florerende besigheid is,” knik Hennie. “Ek hoop net nie die koerantmense vergeet om daardie kennisgewing te plaas dat ek volgende Maandag open nie. Is jy seker die mense het die bewoording van die advertensie reg neergeskryf, Donnie?”
“Ja, presies soos jy dit vir hulle gegee het.”
“Ek hoop nie daar kom ’n fout nie, anders sit ek opgeskeep met al die koek en botterbroodjies wat Talettie vir ons groot openingsdag gaan bak. Ek dink ek moet ook ’n kennisgewingbordjie opsit, waar mens uit die nasionale pad afdraai Sesdorings toe, ingeval my kliënte nie gereeld koerant lees nie.”
“Ek sal vir jou die kennisgewing maak en laat opsit,” belowe Donnie.
“Dankie, dis lief van jou.”
“Sal ek Sesdoringsbiblioteek skryf, met ’n yslike rooi pyl om te wys dis hier wat motoriste moet afdraai?”
“Ja, en miskien net byvoeg dat verversings beskikbaar is.”
“Sal so maak.” Donnie gee Hennie se hand ’n drukkie en maak die Volkswagen se deur vir haar oop. “Jammer as ek netnou dalk ongeduldig geklink het, aster. Ek was vir die brak kwaad, nie vir jou nie.”
“Moenie hom ’n brak noem nie, anders byt hy jou weer. Noem hom Lassie.”
Donnie vertrou hom nie om te antwoord nie. Hy help Hennie om die hond op die agterste sitplek ingepas te kry en bied dan aan om met sy eie motor voor te ry.
“Ek sal kort-kort omkyk om te sien of jy nog aankom. Hou die temperatuurnaald dop en hou stil as dit styg, of jy weer ’n brandreuk kry.”
Hennie knik. Toe Donnie wegstap, roep sy hom terug. “Ek wonder … Dink jy nie dis dalk by Steyns wat Carl my oupa se motor verkoop het nie? Kan jy nie dalk taktvol gaan verneem of jou broer in die afgelope drie maande ’n tweedehandse motor ingebring het nie?”
“Ek sal gaan uitvind,” belowe Donnie, veilig in die wete dat Carl sy besigheid na ’n ander motorhawe neem. Hy was netnou daar in die kafee baie op sy senuwees dat Hennie vir Carl sou konfronteer, hom reguit daarvan sou beskuldig dat hy haar oupa se motor gesteel het en sonder sy toestemming van die hand gesit het. Maar gelukkig het Hennie kop gehou en geen woord daarvan gerep nie. Dis omdat hy Hennie daarteen gewaarsku het en haar gemaan het om Carl nie te laat agterkom sy is agterdogtig nie. Hy sal ’n geskikte geleentheid soek om haar dit weer op die hart te druk dat sy Carl moet vermy en die saak nie met hom moet bespreek nie. Ook niks van die hek en die geknipte drade sê nie … Hoe minder Hennie met Carl te doen kry, hoe beter …
“Reg?” roep Donnie deur die motorvenster.
Hennie wuif vir hom en ry dan stadig agter hom aan, al met die hoofstraat en regs op die Legkraalpad.
“Dink Talettie nog hier gaan baie mense kom?” Hennie kyk bekommerd op haar horlosie en dan weer na die netjiese rye gedekte tafeltjies op die toegegaasde stoep. Sy kan nie verstaan waar al die mense bly nie. Dis al elfuur en nog niemand het opgedaag om boeke uit te neem en van die gratis koek en tee van tant Lettie te geniet nie.
“Hulle sal kom,” bemoedig tant Lettie vir die soveelste keer, hoewel sy ook effens bekommerd begin raak. In die verlede was baie boere reeds agtuur die oggend by die biblioteek, om op pad dorp toe boeke uit te neem. Dis nou al elfuur en, hoewel hulle al ’n paar keer die dreuning van ’n voertuig gehoor het, het niemand Sesdorings toe afgedraai nie. Dalk sien hulle later vandag, op pad terug van die dorp af, die kennisgewingbord dat die biblioteek weer oop is en dat gratis verversings die eerste dag bedien sal word.
“Die biblioteek was amper drie maande lank gesluit. Die mense het seker nie meer leesstof nie.”
“Hulle sal kom, hartjie,” herhaal tant Lettie. “Al is dit dan net uit nuuskierigheid om te sien hoe die nuwe eienares van Sesdorings lyk. Verskoon my. Ek gaan net gou daardie pan botterbroodjies uit die oond haal.”
Dis twaalfuur voor tant Lettie terugkom, rooi in die gesig van die gewerskaf voor die warm stoof.
“Nou het ek genoeg eetgoed om ’n hele