Maar Fanie was ernstig.
Hy het haar nommer in die telefoongids opgespoor en haar die volgende dag gebel.
“Sal jy, asseblief?” het hy daardie aand oor ’n bord seekospizza by ’n nabygeleë restaurant herhaal. Hy kon selfs die kleur van haar oë en naellak onthou.
Kara het bly skerm en verskonings bedink. “Ek het my hele lewe lank wanderlust gehad. ’n Atlas was vir my soos ’n storieboek. Ek was vir drie jaar ’n ontvangsdame op Johannesburg se lughawe, tot ek uiteindelik kon begin vlieg. Die keuring was streng en die opleiding veeleisend. Noudat ek uiteindelik vlerke het, wil ek nie die kans om Londen, Parys, Rome, Zürich, Amsterdam, Mauritius en die Seychelle te sien so gou al vir vloere skrop en skottelgoed was verruil nie.”
Dit het selfsugtig en egosentries geklink, maar Fanie het verstaan en haar hand stywer vasgehou. “’n Meisie soos jy kom net een maal in ’n leeftyd oor ’n ou se pad. As Mohammed nie na die berg toe wil gaan nie, sal die berg na Mohammed toe moet gaan.”
“Wat bedoel jy?” wou sy weet.
“Dat ek aanklank vind by jou op daardie vlak. Ek het ook jeukende voete. Ek wil ook die wêreld sien; sien hoe mense van ander kulture leef. Ek gaan my werk by die restaurant waar ek saans werk, bedank en as vlugkelner by die lugdiens aansluit. Sodoende kan ek so dikwels as moontlik saam met my aanstaande vrou vlieg en haar beter leer ken.”
Sy aanstaande vrou … Kara was nie seker of dit haar gevlei of benoud laat voel het nie. Fanie was te haastig en hulle albei nog te jonk.
Teëstribbel het nie gehelp nie. Binne twee maande was Fanie met sy opleiding besig. Geld, het sy uitgevind, is vir hom belangrik. Die salaris was goed en die fooitjies tydens drankbediening ’n verdere bonus.
Omdat Jakaranda in daardie stadium ’n tekort aan kelners gehad het, was hy voor haar op internasionale vlugte met groter fooitjies en ’n ruim etetoelaag. Dit het Fanie gepas.
Maar vir haar? Kara weet nie. Drie-en-twintig is te jonk om jou al aan ’n man te bind. Daar is nog te veel in die lewe wat sy wil doen. Sy wil nie eendag, as sy ’n oumatjie met wit hare in ’n bolla is, spyt wees oor kanse wat sy laat verbygaan het nie.
Wanneer sy die dag trou, moet sy seker wees dat sy die man liefhet en die res van haar lewe saam met hom wil deurbring.
Fanie Terblanche is pret. Hy is aantreklik, sjarmant en bedagsaam. Hy ry met ’n duur motor, wat hy nie kan bekostig nie, en oorlaai haar met rose en geskenke, waarvoor hy ook nie geld het nie.
Hy is gewild by sy kollegas. Maar is hy die man van haar drome?
Kara weet nie en het besluit om haar intussen deur die stroom te laat meesleur. Die tyd sal wel leer of hulle by mekaar sal kan aanpas, mekaar lief genoeg het om ’n lewe te deel …
2
“Vanaand kom ons te laat in Windhoek aan om iets te kan doen,” sê Fanie, “maar môreoggend gaan ons ’n motor huur en uitry Daan Viljoen-wildtuin toe. Ek sou graag Etosha vir jou gaan wys het, maar ons het te min tyd. Ons moet sesuur al weer aan diens wees.”
Fanie bestel vir hulle koffie, dan gaan hy voort: “Ek het al ’n keer of wat by Luzern geski. Formele lesse is nie nodig nie. Ek sal jou help. Dit sal my ’n verskoning gee om jou styf te kan vashou.”
Kara kom stadig terug na die hede toe. “Ek sal regtig hard probeer om vinnig te leer en jou nie in die skande te steek nie.”
“Dis soos waterski, wat jy al gedoen het.”
“Presies dieselfde, net heeltemal anders,” stem sy saam.
“Dis maklik.”
Sy is skepties. “Ja, vir dié wat dit reeds kan doen.”
Fanie gesels oor ’n Raclette-ete wat hulle by ’n restaurant in Bahnhofstrasse gaan eet, wat uit kaas, ertappels en pekel-uie bestaan; oor inkopies wat sy kan doen en die kabelkarretjies en sweefspoor tot op die hoogste pieke van die Alpe.
Dan kyk hy op sy horlosie. “Ons sal moet wikkel: ons vlieg saam met die Gestapo. Kaptein Hitler. As jy ’n halfsekond laat is, teken hy dit in die vliegverslag aan en dan is jou doppie op bevordering geklink.”
“Hitler?” eggo sy.
“Alias kaptein Kirsten. ’n Despoot. Outokraties en foutvinderig.” Fanie soen haar weet op die wang. “Maar gelukkig het ék niks meer uit daardie oord te vrees nie. Hy is ’n vrygesel, maar het ’n hekel aan vroumense.”
“Hoekom?”
“Hy was glo verloof aan ’n meisie wat ’n week voor die troue saam met ’n ander man weggeloop het. Vandaar sy renons in die Evageslag.”
“Volgens wat ek al van hom gehoor het, blameer ek haar nie.” Kirsten of Carsten of iets … Kara weet van hom. Uiters presies en krities. Dit sál nou natuurlik met haar gebeur om hom as bevelvoerder te hê terwyl sy nog onseker en senuweeagtig is.
Kara sluk haar koffie haastig weg.
Hulle is vyf minute vroeg aan boord.
Fanie en nog ’n paar van die juniors gaan die kroegvoorraad saam met die hoofkelner na, terwyl die waardinne toesien dat die kajuit en kleedkamers netjies is.
Kara sorg dat die sitplekgordels in haar stasie almal gekruis is. Sy pak naskeermiddel, parfuum en handdoeke in die kleedkamers uit en toets of die leesliggie, roepklokkie en musiekkanaal by elke sitplek werk.
“Is die vegetariër se kos gelaai?” wil sy by die hoofkelner weet’
Sampie knik gerusstellend. “In die oond, gereed om verhit te word.”
Kara gaan maak dubbelseker.
Die hooflugwaardin bekyk haar op en af. “Romp nie te styf of te kort nie en bloes skoon en gestryk. Die kaptein sal jou nie voor ’n vuurpeloton plaas nie.”
“Is hy só erg?” vra Kara met groot oë.
“Nee,” antwoord Hermien Lategan. “Erger. Ons sal in ons spoor moet trap op hierdie vlug.”
“So het ek gehoor. Anders word jy gedemoveer.”
“Of na Siberië verplaas.” Hermien kyk ondersoekend na haar. “Wat makeer jou voorkop? Jy lyk soos ’n renoster wat ’n horing kweek.”
Kara se vingers vryf oor die knop en sy probeer haar kuif vorentoe trek om dit te bedek. “’n Stamp,” antwoord sy en herhaal die hele storie.
“Die skurk,” simpatiseer Hermien. “Jy moes hom gedagvaar het. Én aangebied het om vir hom ’n bril of ’n truspieëltjie te koop.”
“Ek sou as hy nie so vinnig verdwyn het nie.”
“Nie net onnosel nie – nog ’n lafaard daarby.”
Een van die ander juniors het na die relaas gestaan en luister. “Wat het van die vissies geword?” wil sy weet.
“Nee, heelhuids,” antwoord Kara. “Of heel-skub, of wat ’n mens dit ook al noem.”
Hermien lyk bekommerd. “Jy lyk of jy in die oorlog was. Jy kan nie so voor die passasiers verskyn nie. Ons bevelvoerder sal jou bokant die Kalahari uitgooi – sonder ’n valskerm.”
“Een yspak op pad!” kondig Fanie aan.
Die ys help om die pyn te verdoof. En toe Kara in die spieël gaan kyk, is die swelsel ook minder opvallend. ’n Bloukol is besig om bokant haar slaap te vorm en sy wend vars grimering bo-oor aan.
Fanie kom staan agter haar in die kleedkamer en sit sy arms om haar middel. Hy beduie na die spieël. “Dink jy nie ons maak ’n aantreklike paartjie nie? So of ons vir mekaar bedoel is, ek en jy.”
Kara maak sy arms om haar los. “Fanie, wag … daar is nog baie werk om te doen.”
“Soos wat?”
“Ek