weet nie of sy moet loop of bly nie. Sy wil van Fanie verduidelik: dat hy haar gehelp het om die spieël te poets en dat dit nie was soos dit gelyk het nie; dat sy hom wou wegstoot en met haar werk wou aangaan.
Maar haar bevelvoerder is met oordrewe konsentrasie in die weerverslag geïnteresseerd terwyl hy aan bakboordkant deur die windskerm voor hom tuur. Hy lyk nie asof hy sal hoor wat sy sê nie. Ook nie asof hy die tyd het om te luister nie.
Henk is ’n gawe ou wat van grappe hou, maar nie ’n bondgenoot in ’n krisis nie, besef Kara. Sy bly aarselend staan toe sy besef dat hulle besig is om oor die laaiblad te taxi. Wanneer hulle die aanloopbaan bereik, moet sy haar aankondiging maak, dan nog toesien dat al die passasiers in haar stasie vasgegord is, haarself gaan vasgord …
Henk weet ook nie raad nie, sien sy toe hy vlugtig simpatiek omkyk na haar toe. Hy haal vinnig sy skouers op en wys vir haar duime-op.
Kara probeer haarself so klein as moontlik maak en skuifel agteruit verby die boordingenieur se tafel.
Sy het gedink kaptein Hitler het belangriker dinge om hom mee besig te hou as om na ’n onbenullige junior waardin se aftog op te let. Kara het egter nie met die ander rederye rekening gehou nie. Daar is vier makrostralers voor hulle wat wag vir toestemming om op te styg.
Net toe haar vingers die stuurkajuit se deur raakvat, hoor sy weer haar bevelvoerder se stem.
“Die koolsuurgassilinders, mejuffrou Verster?”
Kara het gehoop hy het vergeet, maar die vent … die kaptein het blykbaar die geheue van ’n olifant. Sy bly staan en kry haar brein in die hoogste versnelling.
“Met die uitsondering van die agt nooduitgange, op die hoederakke bokant elke tiende ry sitplekke, weerskante van die paadjie,” antwoord sy en hoop sy klink minder dom as wat sy voel. “Plus een in die stuurkajuit.”
“Lokaliteit?”
“Links, agter die bevelvoerder se sitplek, gemonteer, tesame met ’n kapbyl, Verey-pistool en noodligte, asook ’n oorlewingspak, bestaande uit ’n draagbare radio met batterye, ontsoutingstablette en vier reddingsgordels, toegerus met ligte wat aangaan sodra dit deur seewater geaktiveer word.”
Kara weet haar antwoord is onsamehangend. Die derde makrostraler het darem al opgestyg … Nog net een …
“Ek verneem ons het ’n ambulansgeval aan boord,” merk haar bevelvoerder besorgd op. “’n Hartlyer. Weet u wat die prosedure is as dit nodig blyk te wees om suurstof toe te dien?”
“Ja.” Kara besef dis nie genoeg om net bevestigend te antwoord nie. “Ek sal toesien dat die uitvoerklep op maksimum toevoer oopgedraai is, en sal gereeld gaan kyk of alles in die haak is.”
Haar antwoord was blykbaar volledig genoeg. Kaptein Kirsten vra haar nie verder uit nie en druk ook nie ’n pistool teen haar slaap nie. Hy knik afgetrokke en praat weer met die beheertoring.
Sy onthou dat Hermien gesê het sy moet vra wat die stuurkajuitbemanning voor aandete wil drink. Sy wil nie later met ’n verkeerde bestelling opdaag nie, want dan kry sy nóg ’n brander.
“Sal u koffie of tee ná opstyging neem?” vra sy.
“Ja,” antwoord kaptein Kirsten kortaf.
Die vier motore bou omwentelinge op en die makrostraler vibreer. Kara kan nie hoor nie en sy is senuweeagtig.
“Koffie of tee?” herhaal sy.
“Ja!” antwoord die kaptein ongeduldig.
“Ja, wát?” vra Kara ’n derde keer, haastig om met haar pligte voort te gaan.
Kaptein Kirsten gee haar ’n dwars kyk. “Ja, asseblief. Asseblief, Juffrou,” las hy sarkasties bly.
Kara raak rooi van verleentheid. Dis ’n misverstand. Dis nie wat sy bedoel het nie: om hom maniere te leer nie.
“Nee, ek bedoel: koffie of tee. Wat sal u drink?”
Adriaan lyk ook ’n oomblik verleë. Maar pleks daarvan om oor die misverstand te lag, jaag dit hom die harnas in.
“Ek het mos gesê koffie.”
Hy het nie. Hoe moes sy geweet het?
“Dankie, juffrou Verster, dit sal al wees,” sê hy kortaf.
Al? dink Kara. Dit was ’n oordosis, oorgenoeg en ’n onnodige vuurdoop op haar eerste oorsese vlug. Na dese sal sy liewer in die poskantoor of die bank gaan werk.
Het sy verlof om te loop, of moet sy skriftelik aansoek doen daarvoor?
Die vertrekbeampte in die beheertoring se stem kom krakerig oor die lug. “JA 313. Ons roep Jakaranda-Lugdiens vlug 313. Julle is uitgeklaar vir opstyging. Taxi na loopbaan C, JA 313.”
Dit gee Kara haar antwoord. Voor die 747 aan die einde van die laaiblad begin draai, is sy uit by die stuurkajuit, af met die trap en by die mikrofoon om haar aankondiging te doen.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.