Susan Pienaar

Dokter met die X-faktor


Скачать книгу

>

      Dokter met die X-faktor

      Susan Pienaar

      Hartklop

      1

      Leandra se voete en sandale is nat. As sy daardie verdomde vent in die hande kry! Sy skud haar kop vir Suné.

      “Nie vanoggend nie. Ek sou tyd vir koffie gehad het as ’n sot van ’n man nie my parkeerplek met sy modderbespatte skedonk gesteel het nie. Ek moes om en om ry en toe heel aan die ander kant van die hospitaal parkeer. Toe moes ek al die pad terugstap.” Dit het laas nag gesous en sy het mooi probeer kyk, maar nogtans binne-in ’n poel water getrap.

      Teleurstelling staan op Suné se gesig geskryf. “Maar Leandra, ek het klaar twee koffies bestel.”

      Leandra kyk vlugtig in die Linkswood-hospitaal se kafeteria rond. Die geur van varsgemaalde koffie laat haar aarsel. Ag, sy’s klaar laat, wat sal ’n paar ekstra minute tog nou saak maak?

      “Oukei, maar sê asseblief hulle moet dit liewer take-aways maak.”

      Suné glimlag. “Geen probleem nie, ek’s nou terug.”

      Twee klante vlak langs Leandra is klaar. Sy gaan sit toe hulle opstaan. Sy en Suné kan nou maar netsowel hulle koffie by die tafel drink. Leandra kyk op haar horlosie. Sy is maklik tien minute later as gewoonlik omdat sy alternatiewe parkering moes gaan staan en soek.

      Sy is meestal voor die dokters en pasiënte in teater, net soos die ander narkotiseurs in die hospitaal, maar sy gaan maak gewoonlik soggens nog ’n draai by die pasiënte wat op die dag se teaterlys is. Sy wil altyd darem net weer seker maak hulle is sterk genoeg vir die operasie wat voorlê, al het sy hulle die vorige dag ondersoek en al die belangrike informasie gekry.

      Suné sit ’n skinkbord op die tafel neer en gaan self sit. “Hoekom het jy nie gesê die ou moet skoert nie?”

      Leandra sleep haar gedagtes weg van haar pasiënte af. “Watter ou?”

      “Die sot wat jou parkeerplek met sy modderbespatte skedonk gesteel het.”

      Leandra haal die deksel van die polistireenglasie af en roer suiker in. “As ek hom gevang het, sou ek sekuriteit op hom gesit het. Die viertrek het ’n Noord-Kaapse nommerplaat, so die ou is seker ’n eenmalige kansvatter.”

      Suné roer ’n tweede sakkie suiker by haar koffie. “Hoe kan jy so seker wees dis ’n man en nie ’n vrou nie?”

      “Net ’n man sal met so ’n grys gevaarte rondry. Daar’s relings rondom die laaibak asof die ding vir plaasdiere gebruik word.”

      “Dit kan ’n vrou wees wat met haar man se viertrek ry,” hou Suné vol.

      Nes Suné is. Vat altyd ’n man se kant al ken sy hom hoegenaamd nie. “Daai grys do-it-yourself gepanelbeate viertrek skree behoorlik: ‘Ek’s ’n man met ’n oormaat testosteroon’.” Leandra weet sy oordryf nou vreeslik, sy het net een duik gesien – but who cares? Feit bly staan, dis háár parkeerplek.

      Suné lag. “Oe-la-la, ek love ’n ou met ’n oormaat testosteroon. Maar sê my eers, het dokter Van Niekerk intussen iets nuuts oor dokter Erlank kwytgeraak?”

      Leandra gooi haar handsak oor haar skouer, vat haar koffie en begin vooruit tussen die tafels deur stap. Sy antwoord eers toe Suné langs haar is. “Dokter het gesê die man het ’n indrukwekkende CV. Ek hoop nie dié Dieter Erlank is een van daai ongeduldige ortopede wat almal in teater verskree nie.”

      Ortopediese chirurge is die moeilikste mense om mee saam te werk, dit weet Leandra. Dis nie net ’n opname wat dit bewys het nie, sy werk immers soms saam met daardie ongeskikte dokter Hattingh. Dokter Van Niekerk is die geduldigheid self, maar nou ja, dis beter dat hy gaan klasgee by die universiteit – sy het gesien hy het nie meer so ’n vaste hand nie. Sy sal tot Maandag moet wag om te sien met wie sy te doen gaan hê. Gelukkig is dit vandag Vrydag, so sy het darem die naweek om te rus. Dit wil nou sê as Kevin nie dalk besluit om sommer by haar in te val nie. Sy is só keelvol vir hom.

      “Ek gaan dokter Van Niekerk in teater mis.” Suné trek so in die stap met haar voorvinger en duim aan haar gekleurde skelrooi puntjieskuif, gee ’n paar vinnige treë nader aan ’n radioloog se glasdeur, bekyk en bevoel haar nuwe kort haarstyl terwyl sy haar in die blink glas spieël, trippel dan gou terug tot langs Leandra, wat gaan stilstaan het.

      Leandra lag. “Ek hoor die nuwe ortopeed is ongetroud. Wie weet, dalk is hy net die regte man vir jou.”

      Suné trek ’n gesig. “Met my luck gaan hy grys en boonop bles wees.”

      Hulle stap in ’n breë gang af en gaan staan ’n ent agter ’n klompie mense voor twee hysbakke. Een van die twee hysbakdeure begin oopskuif, en almal staan nader.

      ’n Lang donkerkopman kom haastig aan en sit sy hand teen die kant van die skuifdeur sodat die groepie mense veilig binnetoe kan loop. Leandra stap verby hom en gaan staan in die middel. Het sy haar verbeel die man het haar gestaan en bekyk?

      “Ag, dankie,” glimlag Suné oorvriendelik en kom staan langs Leandra.

      Die deur begin toeskuif. Leandra kyk vas teen swart skoene, en onwillekeurig klim haar oë hoër. Swart jeans span om sterk bobene en ’n netjiese sitvlak, en ’n swart hemp span oor breë skouers.

      Die man kyk om en vra: “Vloere?”

      Leandra se oë glip op na sy gesig. Mm, interessante gelaatstrekke … Nie olieverf nie … houtskool sal sy sterk beenstruktuur na vore bring … net die eweredige gelaatstrekke ’n bietjie versag en die ferm mond …

      “Vier.” “Ses.” “Twee,” klink die stemme op.

      Heldergroen oë kyk oomblikke lank koelerig in Leandra s’n voor hy wegdraai en die nommers intik. Leandra kry hoendervleis en vryf oor haar arms. Sjoe, daai oë … mens sal liggies moet werk om reg aan die helderheid in ’n skets te laat geskied. Haar blik glip na sy sterk nek en profiel. Daar is iets aan die groot man wat haar fassineer … wat nou rêrig vreemd is. Is dit die donker klere … sy manier van staan asof die wêreld aan hom behoort? Dis iets onsigbaars … Sy sou sy gesig graag weer wou bekyk.

      Suné stamp liggies aan haar. “Hy’s gorgeous,” praat haar lippe geluidloos.

      Leandra loer gou na die gesigte om haar, sien dis veilig en sein terug: “So what?” Die Suné darem, ’n wildvreemde man, maar sy is alte gereed met ’n aanmerking.

      Leandra voel verlig toe dit haar en Suné se beurt is om uit die hysbak te stap. Nee, regtig, Suné behoort haar te skaam, sy voel eintlik kriewelrig oor die manier waarop haar vriendin die man in die hysbakspieël gestaan en beloer het.

      Dieter Erlank stap na direkteur Arendse se kantoor. Hy moet sy irritasie opsy skuif en hom by belangriker dinge bepaal. Die twee vroumense het sag genoeg gepraat, maar hy het rug teen rug agter daai snobistiese skepsel by ’n tafel gesit en ontbyt eet. Leandra, dis wat die rooikop die vroumens met die donker hare genoem het.

      In ander omstandighede sou hy die doktertjie om verskoning gevra het, sy viertrek uit haar parkeerplek getrek en elders plek gaan soek het, maar ná ’n rukkie se luister, het hy halsstarrig vasgeskop.

      Hy het omgekyk toe die twee vroumense opstaan. Iemand kon hom met ’n veer omtik toe hy sien dis toe nie ’n verstokte oujongnooi wat hom ’n sot genoem het oor hy ’n man is nie, en wat so van sy testosteroonvlakke en sy ma se voertuig gepraat het nie. Toe hy die hysbak se deur oophou, het hy weer gekyk om seker te maak dat sy oë hom nie bedrieg nie. Haar oë bly hom by. Sy het die mooiste persblou oë waarin hy vir ’n ewigheid sou kon kyk – altans, net totdat hy onthou wat die geitjie als gesê het.

      Sonder sy eie ryding moes hy twee dae gelede, pas terug uit Amerika, sy ma se bakkie leen. Toe moes hy boonop ompad en plek-plek grondpad ry nadat hy vanoggend eenuur van hulle plaas buite Kimberley weggery het. So ja, die viertrek is modderig, maar ’n skedonk is dit beslis nie. Hy moes by die hotel inboek en stort, so waar moes hy verdomp tyd gekry het om die voertuig te laat was?

      Hel, toe klink dit boonop vir hom asof die vroumens dalk saam met hom gaan werk, want hoekom anders sou die rooikop by haar wou weet of dokter Van Niekerk iets oor hom gesê het? Maar wat