teenoor vroumense. Nee wat, eerlikwaar, dit pla haar gewoonlik glad nie as iemand nie van haar hou nie. Maar genade, sy is lief vir haar werk, dis die enigste plek waar sy regtig vervuld voel en nou moet sy in die toekoms met so ’n arrogante vent saamwerk.
Dieter het ’n snit in die knie gemaak. Dokter Van Niekerk gebruik wondhake om die plek oop te hou terwyl Izak instrumente aangee. Suné dep bloed op.
Leandra kyk na die X-straalplate. Siestog, sy moes kwaai pyn ondervind het. Die kraakbeen in haar knieë is so geslyt dat die gewrigoppervlak nou been teen been skuur.
Izak, wat gewoonlik aan die skerts is en meestal Suné se siel uittrek, is vanoggend nogal stil. Natuurlik omdat hy eers vir Dieter wil deurkyk, sien hoe die wind waai. Leandra luister na die rustige klassieke musiek wat in die agtergrond speel. Dit lyk darem nie asof die musiek Dieter pla nie.
Al drie dokters is eintlik vanoggend stillerig. Dokter Van Niekerk praat af en toe oor wat hulle sien en doen. Dieter trek haar oë soos ’n magneet waar hy kop en skouers bo die ander uitstaan. Hy werk flink en met ’n vaste hand … Nogal ’n raak beskrywing vir ’n dokter wat onverstoord weet wat hy doen.
Onwillekeurig onthou sy die episode vroeër. Wie dink die ou ís hy? Om darem weg te kyk terwyl hy met haar kennis maak. Wat het sy aan hom gedoen? Dink hy miskien hy is haar meerdere? Sy het ook gespesialiseer, nes hy. Dit maak nie saak hóé aantreklik of hóé briljant hy is nie, sy hou net so min van hom as hy van haar. Dit maak hulle quits.
Leandra gee Dieter nie kans om iets te vra toe hy na haar kyk nie. “Alles reg, ek sal sê as daar fout kom.” Sy kyk gou weg.
“Waar bly jy, Dieter?” vra Suné.
Sy is mal om enigsins in Dieter se antwoord belang te stel, maar hoe kan dit anders as hulle hier vlak voor haar praat?
“Vir eers bly ek in ’n hotel.” Dieter kry ’n tangetjie by Katleen.
Suné suig vog op waar Dieter werk. “Ek het gehoor jy was tot nou die dag toe iewers in Australië.”
“In Amerika. Het ek julle dan nie gesê nie?” antwoord dokter Van Niekerk vir Suné.
“Waar in Amerika?” wil Izak weet.
“Massachusetts,” sê Dieter kortaf.
Dokter Van Niekerk sit ’n wondhaak in om oop te hou waar Dieter werk. “Dieter het by die Massachusetts General Hospital gewerk. Dis die oorspronklike en grootste akademiese hospitaal van Harvard,” verduidelik hy asof hy met sy eie seun spog.
“Sjoe, Harvard? Het jy klas gegee, Dieter?” vra Suné met openlike bewondering en vergeet skoon om die suier te beweeg.
Dieter kyk nie op nie. “Ja, maar nie heeltyds nie. Suier, asseblief.”
Katleen vat die suier uit Suné se hand. Suné gee haar ’n vieserige kyk. “Dit moet darem kwaai ongerieflik wees om in ’n hotel te bly,” verander Katleen die gesprek en suig waar Dieter werk. “In watter hotel bly jy?”
“Die Hilton in Sandton.” Dieter kry ’n battery-aangedrewe boor by Izak.
“Dan soek jy seker ander blyplek, of hoe Dieter?” vra Suné. “Die Hilton is mos buitensporig duur. Jy moet net sê as ons kan help, hoor?”
Leandra snuif. Suné klink nou rêrig orig. Katleen is nie veel beter nie.
“Dankie, ek maak so,” sê Dieter, en dan lawaai die boor.
Dieter is beslis min gepla met die twee teatersusters se openlike bewondering. Geen wonder die man het grootkop gekry nie, want oral is daar natuurlik vroulike personeel wat hulle aan hom opdring. Hy het seker verwoesting gesaai onder Harvard se vroulike studente. Nee wag, laat sy liewer nie aan die vent dink nie. Sy gaan haar pasiënt se lewensfunksies na, en ingedagte skuif haar oë na Katleen.
Katleen is donker en nogal mooi, maar niemand weet hoe sy regtig onder haar dramatiese ooggrimering lyk nie. Darem snaaks dat Katleen nooit lag of selfs glimlag nie. Suné reken sy is bang sy kry plooie om haar oë en mond.
“Dokter kan solank met die ander knie begin,” sê Dieter en voeg by: “Dan maak ons vinniger klaar. Suné, jy kan daar help.”
Leandra kyk na haar pasiënt. Als is nog reg. Dat die man nou wragtig vir dokter Van Niekerk staan en orders gee. Wat is nou eintlik sy storie? Het ’n meisie dalkies sy hart gebreek? Sy sug. Hoekom is sy so gepla met die vent? Waarom gee sy tog om dat hy so antagonisties teenoor haar is? Dit is nie haar verbeelding nie. Sy het intuïsie in oormaat by haar ma gekry – altans, so dink sy, want haar pa moes heel agter in die ry gestaan het toe dit uitgedeel was. Haar intuïsie is selde verkeerd …
Dieter buig die been se gewrig op en af en dan sywaarts, knik tevrede. “So ja, die knie is so goed soos nuut. Nou net uitspoel voor ons toewerk. As dokter Van Niekerk hier klaarmaak, gaan ek aan met die knie waarmee dokter begin het. Izak, jy kan my assisteer.”
Dokter Van Niekerk neem Dieter se plek in. “Dis nou rêrig uitstekende werk, Dieter.”
Leandra snuif stilletjies. Dokter Van Niekerk is nou regtig mosterd ná die maal, want tussendeur het hy ook kort-kort vir Dieter vertel hoe vreeslik oulik hy is. Leandra weet nie wat die ooreenkoms tussen dokter Van Niekerk en Dieter is nie, maar dis duidelik dat Dieter klaar oorgeneem het. Hy gee nou die bevele, praat met gesag, maar is glad nie oordonderend nie, moet sy nou maar teensinnig erken. Emmie is tog altyd so gou om die gipstrollie nader te bring. Katleen het nog nie eens die saline-oplossing uitgesuig nie en kyk nou vies na die affêre wat te naby aan haar staan.
’n Bietjie later kyk Leandra na die horlosie teen die muur. Die werk aan mevrou Fourie se tweede knie is so te sê afgehandel. Sy het die narkosemiddels reeds gestaak. “Ek bring die pasiënt nou stadig by,” waarsku sy Dieter wat besig is om die knieweefsel met oplosbare steke toe te werk.
Hy kyk ’n oomblik direk na haar, knik dan: “Reg so.”
Die chirurgie is uiteindelik klaar en Leandra stap saam herstelkamer toe. Sy werk die pynmiddel se dosis uit, sit die suurstofmasker oor haar pasiënt se neus en sê duidelik: “Mevrou Fourie, haal diep asem, dis vars berglug.” Dit werk soos ’n bom. Sy los haar pasiënt in die susters se hande. Nou weer terug teater toe vir die volgende operasie, maar gelukkig is teetyd net daarna.
Leandra kom later as die ander in die teekamer aan. Sy was eers ongevalle toe om ’n pasiëntjie te ondersoek. ’n Traumasuster het darem die dogtertjie se besonderhede by haar ma gekry en ’n vorm ingevul. Op die oomblik word X-strale van haar arm geneem. Die noodgeval het die operasielys so pas langer gemaak. Leandra het gehoor hoe dokter Van Niekerk vroeër vir Dieter sê hy sal nie terug wees vir die volgende operasies nie, want hy het nog sake om voor die naweek af te handel.
Leandra gaan staan by die tafel langs Suné waar sy tee drink en ’n broodjie eet. “Is hy nie wonderlik nie?” Suné praat sag, want Dieter staan saam met Izak en tee drink.
Leandra skink vir haar tee in en hou haar dom. “Ek het nog altyd gesê Izak gaan dit ver bring. Ek hoor hy gaan volgende jaar voluit in ortopedie spesialiseer. Boonop is hy een van die aantreklike ouens hier rond.” Sy kry ’n deurgesnyde broodjie en vat ’n hap. “Mm, lekker. Ek’s dood van die honger. Kom ons kry stoele. Ek sit amper regdeur die operasies, terwyl jy heeldag op jou voete is.”
Toe hulle sit, kyk Suné peinsend na Izak. “Ja … wel, ek ken Izak mos darem self. Ek praat in elk geval van Dieter Erlank. Het jy gesien hoe goed en deeglik hy is …” Suné raak stil toe Katleen by die twee mans gaan staan. “Daai vroumens krap altyd in my slaai,” mor sy en drink haastig groot slukke tee.
Leandra lag saggies. “Watter een van die twee ouens is nou eintlik jou slaai?”
“Ag, jy weet wat ek bedoel. As ek net naby ’n man kom, kom druk Katleen haar neus tussenbeide.” Suné sit haar koppie neer. “Ek gaan gou hoor waaroor hulle gesels.”
Leandra loop kry nog ’n broodjie en skink gou vir haar ’n tweede koppie tee in. Die tee is lou, maar dis oukei. Sy wil voor Dieter en Izak terug wees in teater.