net so effentjies toe … en ’n bypassende swart bra bedek daardie volronde borste seker net deels… Nee, hel, hy moet uitskei. Kyk net wat staan en doen die idiotiese gedagtes aan hom. Hy moet sy kop laat lees om op dié manier aan die snobistiese vroumens te dink. Hy haal ’n paar keer diep asem, dink darem weer effens helder. Leandra Muller is onteenseglik ’n rykmanskind wat alles op ’n skinkbord gekry het.
Hy, aan die ander kant, moes op hoërskool smiddae en saans op die plaas werk. In graad elf moes hy sy skape, wat hy as lammertjies met ’n bottel grootgemaak het, verkwansel om geld in te samel vir ’n rugbytoer, nuwe rugbyskoene en sakgeld. Sy ouers kon skaars sy koshuisgeld en skoolfonds bymekaarskraap. Droogte en skaapvrektes het sy arme pa geknak. Om te dink hy was maar aan die einde van sy matriekjaar en sy suster in graad sewe toe sy pa aan ’n massiewe beroerte oorlede is. Toe het die stryd om oorlewing éérs begin. Om langer ’n sukkelbestaan op die plaas te voer, was nie in sy alfabet nie. Sy kop het medies toe gestaan, en medies sou hy swot, kom wat wil.
Gelukkig was die plaas terselfdertyd sy redding, want met die eiendom as sekuriteit het die bank vir sy ma ’n lening toegestaan sodat hy medies kon swot. Maar daardie lening moes terugbetaal word of die bank het hulle grond gevat. Daarom het hy sy alie saans by ’n bekende eetplek afgewerk terwyl ander mediese studente die tyd gebruik het om te swot. Sommige nagte het hy nie ’n oog toegemaak nie, want dan moes hy werk inhaal voor hy kon klasloop.
Toe hy die dag amptelik dokter voor sy naam kon skryf, is hy vir drie jaar Engeland toe om te gaan werk in ’n neerdrukkende, grys hospitaal in die middestad van Londen. Die pond staan nog altyd sterk teenoor die rand. Hy het versigtig met sy salaris gewerk en ’n piepklein woonstelletjie in Paddington met twee ouens gedeel. Hy het die tube hospitaal toe en terug gery en sy finale studieskuld gedelg. Buig of bars, hy sou die geld bymekaarmaak om op eie bodem as ortopeed te spesialiseer.
Terwyl mejuffrou Leandra Snob lekker sonder kommer op kampus gebaljaar en in weelde geleef het, het hy in ortopedie gespesialiseer en gelocum net waar hy kon. Dit was nie maklik nie, min slaap het hom soms soos ’n zombie laat voel. Maar dit alles is darem lankal iets van die verlede. Die afgelope paar jaar, wat hy ortopeed in Massachusetts was, het hom nie alleen ondervinding besorg nie, maar ook genoeg fondse om ’n huis en ’n nuwe ryding aan te skaf, en dan het hy nog heelwat eenkant gesit. So die klein snob kan haar maar upstairs hou; hy wat Dieter is, is g’n hierjy nie.
Die pad is besig en hy draai af na sy onpersoonlike hotel. Hy wed Leandra Muller is op pad na ’n spogbuurt waar haar ouers haar met ’n glasie wyn inwag. Suné het mos gesê Leandra is nie getroud nie. Hy het nie gevra nie. Suné praat net baie. Sy het gesê Leandra het onlangs met ’n ou begin uitgaan, toe selfspottend gesê dis net sy wat nie ’n ou kan hou nie. Hy frons. Daar is vreemde onderstrominge tussen Izak en Suné en Katleen. Leandra was heeldag stil en het net gepraat wanneer sy verslag oor ’n pasiënt doen. Dis nogal vreemd ná haar tirade vanoggend. Sy is toe nie die brandrissie in teater wat hy verwag het nie. Sy het soos handomkeer verander toe die eerste pasiënt die teater ingestoot is. Hy kon nie anders as om te hoor hoe mooi en lieftallig sy met die pasiënte praat nie. Hy skud sy kop vir homself en lag droogweg. Eerste indrukke, ou maat, dís wat tel. Leandra Muller is ’n verwende rissiepit, dis nou maar klaar.
Leandra vou haar arms en kyk vies na Kevin. “Luister, as jy nie meer wil saamgaan nie, kan jy ’n U-draai maak en my by my huis gaan aflaai. Ek sal my kar se tenk vol petrol gaan maak en alleen na Suné-hulle toe ry.” Kevin het gisteraand vir ’n derde keer ongenooid by haar aangekom. Hy het nie eens probéér bel nie. Wie hét haar adres vir die vent gegee? En sy het nogal gedink sy gaan rus.
“Ja, toemaar, ek weet jy’t my nie nodig nie,” sê Kevin met sy Jannie Jammergat-stemmetjie.
Sy moet haar inhou, liewer nie vir hom sê hy is in die kol met sy aanmerking nie. Hy wys te graag vir die wêreld sy sorge, en sy wil verhoed dat almal by Suné-hulle agterkom daar is fout. Dit maak haar ongemaklik as mense bespiegelend na haar kyk. Hoekom dink almal altyd ’n meisie móét ’n ou hê? Sy het nie tyd vir ’n vaste verhouding nie en is ook nie lus daarvoor nie.
Kevin trek te vinnig weg toe die robot groen oorslaan. Hy is lief vir spoed en wys graag hoe vinnig sy kar is. Dink verdomp altyd hy is op Kyalami se renbaan. As Kevin maar net een aand by ongevalle kan kom werk en sien wat spoed aan ’n liggaam doen.
Sy leun effens oor en kyk na die spoedmeter. “Jy’s oor die spoedbeperking, Kevin, ek haat dit as jy jaag.” Sy klink soos sy bleddie ma.
Hy maak asof hy haar nie gehoor het nie. “Ons sien mekaar hopeloos te min. Ek soek alleentyd saam met jou. Gisteraand tel nie, want jy’s bed toe en toe sluit jy jou kamerdeur.”
Wat? Het hy dan wragtig aan haar kamerdeur kom voel? Dis nes sy gedink het. Al wat hy wil doen, is om haar te probeer vry en op hierdie heilige Sondag in die bed te probeer kry. Gmf, die aap het ’n hoop. Sy slaap nie los en vas by mans nie. Oukei, sy is nie meer onskuldig nie, maar hy kuier op geleende tyd by haar. Sy loer na hom en sien hy is steeds dikbek. Laat sy liewer verby die onderwerp praat.
“Jy bly op ’n ander dorp, jy ry baie rond vir jou werk, dis logies dat ons mekaar min sien.” As hy maar weet hoe dankbaar sy daaroor is. Kevin het ’n paar drankies agter die blad gehad toe hy gisteraand onverwags by haar aangekom het. Sy kon hom seker uitgesluit het, maar sy is ook nie gevoelloos nie. Sy was boonop bang hy ry en maak ’n ongeluk en dan sterf daar onskuldige mense. Sy kon sy alkohol-aangedrewe geselskap nie verdra nie, om van sy brandewynasem nie eens te praat nie. Dit was nou rêrig die laaste strooi toe hy vryerig begin raak het. Sy is kamer toe en het die deur gesluit. Vanoggend toe sy stilletjies aangetrek het om te gaan draf, was hy nog aan die snork op ’n rusbank in haar woonkamer.
Leandra bekyk Kevin so ongemerk van die kant af. Hy het altyd klere en skeergoed in sy kar wanneer hy op ’n trip gaan, dus lyk hy heel skaflik. Sy bruin hare krul effens en hy is nogal aantreklik. Altans, dis nou as hy ’n keer opgeruimd is.
Kevin steek ’n hand na haar uit, en sy leun buite sy bereik. Hy kyk vinnig na haar. “Oukei, moenie dat ons baklei nie. Ek gaan mos saam. Hier sit ek dan langs jou. Maar kan ons asseblief voor drieuur groet en teruggaan na jou huis toe?”
“Ek kan maar net probeer. Suné se suster en haar man en hulle babadogtertjie is ook vandag daar. Jy’t mos gesien hoe hulle kan kuier en gesels.”
Sy moet vasbyt en deur vandag se kuier kom. Sy gaan Kevin vanmiddag belet om weer vir haar te kom kuier. As hy een keer te diep in die bottel gekyk het, kan dit weer gebeur. Sy is nie hard nie, maar Kevin hoef nie haar probleem te wees nie. Veral ná hy gisteraand amoreus wou raak en toe aan haar deur kom staan en voel het. Sy is nou nie eens meer veilig in haar eie huis nie.
Wie het nou kon dink dat Kevin haar in die toekoms sou pes toe sy by algemene chirurgie vir hom narkose gegee het nadat hy akute blindedermontsteking opgedoen het? Sy vermoed hy het haar adres by Suné gekry. Die susters in die algemene saal by die hospitaal sou nooit so iets gedoen het nie; daar is streng regulasies wat betref die verstrek van adresse en foonnommers.
Leandra drink water en sit die bottel regop in die deursakkie. Sy trek die sonskerm af en wend aarbeigeur-lipglans aan haar lippe terwyl Kevin in die oprit van Suné-hulle se huis stilhou.
Leandra het skaars uitgeklim toe Suné hulle met ’n breë glimlag tegemoet stap. “Haai, Leandra, hallo, Kevin. Kom ons loop sommer deur die garage agtertoe. Ons kuier onder die lapa.”
“Dit klink lekker,” sê Leandra so in die stap.
Tannie Magriet en haar man kom Leandra tegemoet en sy kry ’n drukkie van elkeen af. “Jy moet meer kom kuier, ons sien te min van jou,” berispe die tannie met ’n glimlag. “Hallo, Kevin. Kom ons gaan sit, dan drink julle iets. Ek wil hoor wat julle alles aanvang.”
Leandra lag. “Asof tannie nie als by Suné hoor nie.” Sy steek vas, dwing haar dan om nie dadelik om te tol nie. Dieter Erlank sit lewensgroot tussen die mense. “Ek moet gou badkamer toe, ek’s nou by tannie-hulle,” fluister sy en draai blindelings om, stap dan terug soos sy gekom het.
Suné kyk haar vraend aan, maar sy loop haastig verby haar in die gang af voorstoep toe. By die hospitaal