langs die eetkamertafel sit en gesels. “Dokter Van Niekerk het seker vir jou pasiënte gelos? Jy’t mos nog nie spreekure gehad nie.”
Dit is skielik stil, almal luister toe Dieter begin praat. “Daar’s ’n spul operasies op die lys, so maak julle maar klaar vir ’n besige dag.” En aan Leandra: “Jy gaan seker ook vanmiddag preoperatiewe pasiënte ondersoek?”
Sy knik. “Ja.”
“Môreoggend kom daar ’n hele paar dagpasiënte in.”
Dit beteken sy gaan vir een of twee lokale verdowing of ’n epiduraal moet toedien, besef Leandra. Sy hoop nie Dieter meng in met háár besluite oor narkose nie.
“O, nee, asseblief nie, ek wil niks van die operasie sien of hoor nie,” sê die veertigjarige vrou.
Leandra is nie verbaas nie. Mevrou Venter, wat nou die ligte sedasie en pynblok weier, is môreoggend hulle eerste pasiënt. Leandra druk die X-straalfoto’s terug in die koevert en lees gou deur haar pasiënt se geskiedenis. Hmm, nie diabetes, hartsiekte of bloeddrukprobleme nie. Nou net haar narkosegeskiedenis en so ’n paar ander dinge uitvind.
“Geen probleem nie, mevrou, ek kan vir u algemene narkose gee.” Die pasiënt sit op die bed, geklee in nagklere. Leandra sit haar stetoskoop in haar ore en luister na die hart. “Haal vir my diep asem, in en uit.” Die longe raas en kraak omtrent. “Rook u of het u gerook?”
“Ek rook, ja,” sê sy effentjies uitdagend.
Ai, die rokers darem. Dis glad nie ideaal vir narkose nie. Maar nou ja, elkeen het seker maar sy plesiertjie, dis nie haar rol om vir die vrou oor die nadele te preek nie. Sy neem haar pasiënt se bloeddruk. Mooi, honderd en twintig oor tagtig.
“Het u voorheen enige probleme met narkose ondervind?”
“Hu-uh … Nee.”
“Enigiets anders wat medikasie vir pynverdowing betref?”
Sy dink ’n oomblik. “Ek’s allergies vir morfien. Ek het een keer daarvan gejeuk vir ’n vale, toe spuit ’n suster vir my iets in, maar sy’t nie gesê wat dit was nie.”
O aarde, en dit is juis so ’n pynlike operasie. Die plate wys daar gaan verskeie prosedures tegelykertyd aan albei haar voete gedoen word. Leandra maak ’n aantekening in die lêer. Petidien dan, eerder as morfien.
“Gebruik u tans enige medikasie?” Toe mevrou Venter huiwer, vra Leandra verder: “Antistolmiddels, aspirien? Dis baie belangrik dat ek weet, want dit kan gevaarlik wees.”
Die pasiënt knik. “Ek drink ’n slaappil, maar ek moet, regtig, anders maak ek nie ’n oog toe nie.”
“Goed. Drink dit vanaand op die gewone tyd. Geen kos of vloeistof ná tienuur vanaand nie.” Leandra glimlag. “Ek kom maak môreoggend gou weer ’n draai by u.”
Sy is op pad na ’n volgende pasiënt, toe Dieter van voor af aangestap kom. Sy vertraag haar pas. Hy staan stil toe hy regoor haar is en lig sy wenkbroue. “Is daar iets waaroor ons moet praat?”
Hy kan maar vergeet, sy vra g’n verskoning oor sy sy bakkie sleggesê het nie.
“Glad nie, dokter, als in orde.” Sy stap aan, maar ’n ent verder kom sy agter sy het verby ’n pasiënt se saal geloop. Sy draai om en swets onderlangs. Dis Dieter se skuld, hy het haar skoon van haar wysie af. Dis asof hy iets uitstraal, iets wat haar oorbewus van hom maak. Sy gaan die saal binne en skuif haar privaat sake vir eers opsy.
’n Ruk later, met haar saalrondtes afgehandel, stap sy ingedagte afdak toe na waar haar kar staan. Die geselskap by Suné-hulle ná ete was lewendig genoeg om Kevin se aandag te behou. Alles was rustig tussen hulle, maar ook net totdat hulle by haar huis terug was en sy vir hom gesê het hy moenie weer by haar kom kuier nie. Dis nie asof sy verwag het dit gaan maklik wees nie, maar wat toe gebeur het, het sy in haar wildste drome nie voorsien nie. Kevin het skoon hand uitgeruk. Hy wou nie aanvaar dat sy hom nie weer wil sien nie.
Sy het later op haar horlosie gekyk en mooi gevra: “Trek weg jou kar, asseblief, Kevin? Ek moet by die hospitaal kom en ek sal eers petrol moet ingooi.”
Toe gooi die spiteful bliksem sy sleutels ’n paar keer uitdagend in die lug en vang hulle weer. “Ek sal ry as jy van besluit verander en sê ek’s welkom by jou.” Hy het sowaar gelag toe sy hom magteloos aangekyk het. Op die ou end het sy vir hom gesê sy gaan Bennie bel om hom weg te help as hy nie padgee nie.
Hy het dreigend na haar skouersak gekyk. “Probeer dit en ek vat jou foon.”
Sy het geweet sy staan nie ’n kans teen Kevin se krag en grootte nie. Hy sou haar sak maklik met geweld afvat om haar foon te kry. Toe klim sy vinnig in haar kar en sluit die deure van binne.
Deur ’n oop skrefie in die venster het sy gewaarsku: “Ek gaan jou kar uit die pad stoot as jy dit nie wegtrek nie.” Sy het die petrol getrap, die handrem gelig en koppelaarbeheer behou, toe net bietjie vir bietjie agtertoe beweeg om Kevin te wys sy is ernstig. Toe werk dit gelukkig en spring Kevin gou in sy kar in.
“Ons het nie klaar gepraat nie. Ons gesels volgende keer wanneer ek jou weer sien,” het hy deur sy oop venster geskree en sy kar se wiele gespin voor hy by die hek uit is.
Eers toe die adrenalienvlak in haar bloed weer normaal was, kon sy mooi dink.
En toe onthou sy … toe dit heeltemal te laat was … van die petrol. Gelukkig maak sy dit nog op genade …
Dis nog maar drie dae wat hy haar tydens hulle rondtes raakloop en dit begin al vir hom soos ’n blessitse gewoonte lyk, die uitkykery vir Leandra se Mercedes, mor Dieter binnensmonds toe hy uit die parkeerplek wat voorheen dokter Van Niekerk s’n was, ry en sien Leandra is reeds weg. Hy het netnou nog gehoor hoe sy met ’n pasiënt gesels. Sy neem haar werk ernstig op, gee om vir elke pasiënt, alles eienskappe wat haar ’n uitstekende narkotiseur maak, moet hy toegee.
Dieter kies ingedagte koers uitgang toe. Hy dink aan die etery by Suné en haar familie … en aan Leandra. Haar gevoelvolle oë doem voor hom op. Persblou oë wat duidelik wys wat sy dink. Haar oë praat kwaai wanneer sy haar vir haar boyfriend vererg. Kevin kan sy hande nie van haar afhou nie, maar wie kan hom kwalik neem?
Dieter hou by ’n rooi robot stil en tik ingedagte met ’n vinger teen die stuurwiel. Leandra het looks to kill, maar dit lyk asof sy niemand regtig na aan haar laat kom nie. Kevin kyk haar aan asof hy die krummels van die tafel af moet opvreet. Arme vent …
Die robot slaan oor na groen, en hy trek weg. Môreoggend begin hy amptelik werk. ’n Voetoperasie, knievervangings en ’n heupvervanging. Die teater is vanaf tweeuur geboek vir algemene snykunde … Hy het spreekure. Hy is in sy skik met die veranderinge in sy spreekkamer. Vir eers sal hy nog maar in die hotel moet bly … tyd vat om ander verblyf toe soek. Hy wil eiendom aanskaf, maar gaan nie oorhaastig wees nie.
’n Kar voor Dieter stop skielik. Agter hom word toeters gedruk. Hy kyk in sy spieëls vir uitkomkans, maar die bane is stampvol. In die baan regs van hom snork ’n vragmotor op ’n slakkepas verby met ’n spul karre op sy agterent. Dis ’n vierbaanpad in een rigting, maar die verkeer is swaar … Hoe kan dit anders op ’n Sondagmiddag? Aan sy linkerkant kom ’n volgelaaide taxi op ’n breë sypaadjie verby hom gery robot toe. Voor Dieter sorg ’n ou in ’n rooi kar dat hy ’n gaping na die regterbaan vat, en om ’n ongeluk te vermy, moet die kar agter die rooi motor vinnig stilhou. Idioot. Nog ’n voertuig voor Dieter druk stadig in tussen karre in die regterbaan. Nou eers kan hy sien wat die oponthoud voor hom is.
’n Wit Mercedes staan by die robot en ruk en vrek soos die bestuurder probeer om dit aan die loop te kry. Hy hoef nie langer te kyk nie, hy ken die donkerkop wat agter die stuurwiel sit.
Leandra Muller.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте