werk moet neem.
IN DIE HAAI KAROO BEGIN JY WEER WONDER OOR ALLES
“Is ons nog die goeie ouens?”
In ’n tipiese western of die gemiddelde misdaadreeks op TV gaan niemand twee keer oor die antwoord dink wanneer een van die “goeie ouens” daardie vraag stel nie. Maar in die middel van Cormac McCarthy se Pulitzer-bekroonde postapokaliptiese roman, The Road (2006), galm daardie vraag soos ’n doodskoot. Die seuntjie wat só vra, is immers besig om saam met sy pa te dwaal oor ’n verskroeide aarde. Sy siek en al swakker wordende vader stoot hul laaste paar besittings in ’n ou supermarktrollie in ’n pad na nêrens. Alles lê onder ’n vaal laag as. Daar is geen elektrisiteit, werkende stede of infrastruktuur meer nie. Mense trek in kannibalistiese klein rowerbendes heen en weer op soek na enige vorm van kos en skuiling. Alles en almal wat die pa en seun teëkom, moet noodgedwonge geklassifiseer word as skadeloos, potensieel dodelik of van moontlike hulp in ’n nodelose stryd om oorlewing. Wanneer die pa dus sê: “Ja. Ons is nog die goeie ouens,” is sy antwoord so betekenisloos soos sy kind se vraag.
Dít het ek opnuut met ’n vreemde mengsel van skrik en verwondering besef op vakansie in die diep Karoo. Ons (ek en my lewensmaat en ons twee kinders van ses en sewe) het ’n paar nagte oorgebly in die korbeelhuisie op Droogeputs, ’n plaas tussen Williston en Carnarvon wat eens Johan van Rooyen, stigterredakteur van die De Kat-tydskrif, se geliefde Karoo-wegbreekplek was.
Korbeelhuise is tussen 1825 en 1875 deur pioniersboere in die Hantam-Karoo gebou. Dis ’n soort lae rondawel met baie dik mure en klein vensters – die soort skuiling wat jy prakseer wanneer jy jou soos die destydse setlaars in ’n byna boomlose omgewing sonder hout of dekriet bevind en klippe, dieremis en gras jou enigste boumateriaal is.
Op die tweede aand van ons verblyf was my sesjarige dogtertjie vuurwarm en slap van ’n grieperige koors. Terwyl daar nog in die plaasopstal gekuier is, het ek haar in die bed gaan sit langs ’n piepklein venster op die ysige, sterbesaaide winternag. Sy was knieserig en angstig. Ek het langs haar gaan lê tot sy met hortende asemhaling ingesluimer het; gelê en staar na die duiselingwekkende Melkweg buite my patryspoort op die heelal. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd was ek sonder selfoonsein en elektrisiteit in die middel van nêrens. Die afsydige Suiderkruis het nader gevoel as Kaapstad se see van nagliggies, nooddienste en swart snelweë.
In daardie korbeelhuisie se skamele skuiling langs my vurige dogtertjie kon ek my voorstel met watter kinderlike gebede ’n pionier sou pleit om die lewe van ’n kleintjie met maagkoors so ver van alle hulp.
Twee reëls uit Bruce Springsteen se “Hunter of Invisible Game” het aangemeld terwyl ek na Lea se effe benoude asemhaling lê en luister het: “Strength is vanity and time is illusion / I feel you breathin’, the rest is confusion”. Springsteen het hierdie liedjie op High Hopes (2014) blykbaar geskryf na aanleiding van die einste McCarthy se The Road – ’n boek wat ook die Boss deeglik geskud het.
In so ’n korbeelhuisie in ons wye, droewe land word dit moeilik om ’n duidelike idee te vorm van wie “ons” en die “goeie ouens” is; in ’n genadelose stryd om oorlewing vervaag kategorieë soos “goed” en “kwaad” in ’n waas van wilde vrees om eiebehoud. In so ’n pioniershut langs ’n siek kind op ’n snerpende Karoonag kan jy verstaan hoekom geslagte wit, swart en bruin ouers in hierdie land vir hul nageslag vertel het: “Ons is die goeie ouens,” terwyl hulle eintlik bedoel het ons gaan hopelik hierdie nag oorleef en verder sukkelend voortbestaan op hierdie woeste aarde.
Vreemd hoe ons op ’n gewone Saterdagoggend met ’n kind in die supermarktrollie deur een of ander enorme inkopiesentrum kan dwaal, ingestel op morsige, omgewingsverwoestende verbruik, maar diep onder die indruk dat ons die “goeie ouens” of ten minste onskuldig is.
Terwyl ek so wonder oor trekboere, kwynende natuurlike hulpbronne, die verbruikerskultuur en ’n moontlike armageddon, skrik klein Lea ylend wakker.
“Pappa! Pappa!” roep-huil sy. “Waar is jy?” vra sy verward.
Vir ’n oomblik weet ek self nie.
OP DIE TROJAANSE PERD SIEN JY VER
Van die lelikste wat ek en my pa ooit vasgesit het, was in my matriekjaar. Dit was in 1989 – ’n jaar nadat ek bekeer is tot Voëlvry en die Gereformeerde Blues Band in Grand Central (daai legendariese donker kelderkroegie in Kerkstraat, Pretoria). Ons onderhoof, mnr. Chaka van der Merwe, het gesê as ek nie my hare wil sny nie, moet ek my matriekeksamen by die polisiekantoor gaan skryf. Ek het gereken dis reg so. My pa kon nie verstaan wat met my aangaan nie.
“Volgende jaar kan jy jou hare so lank laat groei soos jy wil. Just step in line one more time,” het hy moedeloos gesê.
Daardie laaste sin was ’n sneller. “So asof jy al ooit uit jou ry marsjeer het, Pa!” het ek geantwoord. “In Nazi-Duitsland was ingenieurs soos jy die ouens wat die U-bote gediens het. In Stalin se Rusland het julle seker gemaak die verhitting in die Kremlin werk mooi. En in apartheid-Suid-Afrika sorg jy vir skoon swembaddens en suiwer drinkwater. I’m stepping out of line, right now, and I’m never stepping in line again.”
Ek en my pa het lankal vrede gemaak en ek het wel mor-mor my hare ’n laaste keer vir die skool gaan laat sny, maar my eie woorde vol bravade eggo dikwels as ’n aanklag na my terug. Ek het wel radikaal anders as my ouers en hul voorgangers probeer leef, maar dit was nie juis op enige vlak ’n klinkende sukses nie. ’n Beduidende invloed op die meedoënlose verloop van sake het ek ook nie gehad nie. Of jy nou die keiser teësinnig swetsend of met ’n lied in jou hart gee wat hom toekom, dit kom op dieselfde neer.
Wat presies van ons Voëlvry-generasie se hele klein rebellie geword het, is moeilik om te sê. In ’n dodelike ballade op Bleek Berus (2009) probeer Andries Bezuidenhout daardie vraag beantwoord.
Bernoldus en Kerkorrel is albei dood
En Kombuis se kinders is al amper groot.
…
Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie
En al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie.
Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry
Tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly,
Is ek deel van hierdie land met liefde en haat,
Het ek te veel gegee en te veel gevat
…
Om die donker, donker land nou te verlaat.
Ek stem saam met wat Bezuidenhout sing in “Net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry”.
Dis seker die mooi ideale van ons verlore, vermorste jeug wat ons gevange hou; ons nou daarvan weerhou om blymoedige, pragmatiese 21ste-eeuse wêreldburgers te wees. Doen ons maar wat ’n vroeër generasie ook gedoen het om die pot aan die kook te hou, maar in die wete dat ons meelopers geword het van ’n absurde, uitbuitende en omgewingsvernietigende stelsel waarvoor apartheid en sy manifestasies nie geblameer kan word nie?
Deels, ja, maar dié donker land is ook nie altyd so donker nie. Voëlvry het immers ook Oppikoppi gebaar, en een naweek in 2014 by die twintigste groot rock ’n’ roll-stofopskop het ek nou en dan gevoel dit was nie alles verniet nie.
Veral terwyl ek op die Trojaanse perd – ’n groot houtstier met rook wat uit sy neusgate kom – gery het. Dié Trojaanse bosveldperd is deur Jonah de Lange (’n gereelde medewerker van die Handspring Puppet Company) vir die Oppikoppi-organiseerders Carel en Retha Hoffmann op die rug van ’n ou lorrie geprakseer. Die gedierte het agterop staanplek vir omtrent tien mense en is natuurlik uitgerus met ’n magtige klankstelsel.
Wanneer jy met daardie perd deur Mordor (soos Oppikoppi se tydelike tentedorp bekendstaan) ry terwyl Edith Piaf se “Non, je ne regrette rien” oor vlaktes besaai met Pierneefbome dawer, berou jy regtig nie veel nie. So ver jy ry, waai en sing en speel al die mense saam (en in die laaste paar jaar het daar baie jong, swart en bruin gesigte bygekom).
“The gods do not