Danie Marais

Pruimtwak en skaduboksers


Скачать книгу

in Sex, Drugs and Cocoa Puffs. In “Toby over Moby” wys Klosterman daarop dat die meeste toptreffers se woorde vir gewone mense tel, en bitter baie ook. Kultuursnobs glo volgens hom poplirieke is: “(a) heeltemal irrelevant of (b) slegs relevant indien dit moeilik verstaanbaar is”. Maar, sê hy, dis nie hoe gewone mense dink nie – gewone mense wil meesal presies verstaan wat kunstenaars sê en dit word duidelik wanneer jy sien watter liedjies regtig inslaan buite hipsterneste soos New York, LA en Seattle.

      Die meeste mense, reken Klosterman, droom nie daarvan om soos intellektuele, boheme of kunstenaars hul lewe in iets dramaties, cool of metafories te transformeer nie. Hulle sien hul lewe as ’n werk wat hulle moet afhandel. Hulle wil hê hul lewe moet eenvoudiger wees as wat dit reeds is; dat hierdie lewe, anders as ’n goeie, genuanseerde gedig, net een betekenis moet hê.

      Wanneer hulle dus droom van ’n beter bestaan, is dit óf geheel en al verbeelde versugting (soos die waansinnig gewilde countrysanger Toby Keith se 19de-eeuse Lone Ranger-fantasie), óf dis die uitdrukking van ’n verbete praktiese finansiële of emosionele behoefte. Dink byvoorbeeld aan Whitney Houston se enorme treffer “I Want to Dance with Somebody (Who Loves Me)”.

      Klosterman kom tot die slotsom die rede hoekom country-popsterre soos Garth Brooks en Shania Twain al ongeveer 120 miljoen meer plate as Bob Dylan verkoop het, is nie omdat musiekkopers almal ’n klomp volslae idiote is nie. Dit is omdat Brooks en Twain beter daarin geslaag het om die menslike toestand onder woorde te bring: “Hulle mag minder talentvol wees, maar hulle verstaan meer mense.”

      En nou’s ek in die versoeking om saam met Klosterman te sê ek het darem een ding met die groot Bob Dylan gemeen: Nie een van ons verstaan die mensdom nie.

      Maar dit sou ’n halwe waarheid wees. Ek en baie van die grootste treffers verstaan mekaar uitstekend in al ons ingewikkelde, doodgewone menslike eenvoud – nes “Roar” my dogtertjie en miljoene ander begryp wat klein, onderdruk en magteloos voel.

      Dit het ek deeglik besef by Neil Diamond en U2 se konserte toe ek saam met die hele Kaapstad-stadion “I am I said to no one there” en “I still haven’t found what I’m looking for” gesing het. En toe Bruce Springsteen met “Dancing in the Dark” op sy eerste Kaapse konsert laat waai, het ek geroar nes Katy en klein Lea, maar niemand het my gehoor nie, want duisende ander het saam met my gebrul: “I wanna change my clothes, my hair, my face”. En: “You can’t start a fire worrying about your little world falling apart / This gun’s for hire / Even if we’re just dancing in the dark”.

      Ek vermoed Shakespeare en Tsjechof sou ook saamgesing het.

      DIE VIDA E-CAPPUCCINO-BLUES

      “So, jy wil regtig nie ’n hipster-haarsnit hê nie?” vra die haarkapper gemoedelik nadat ek die eerste keer in drie jaar my hare in die Kaapse middestad laat sny. “Nee, regtig nie,” antwoord ek effe verbaas oor die vraag.

      “Ek glo jou,” sê sy asof sy haar solidariteit met my in ’n lig beledigende kompliment verklaar. Sy lyk om en by veertig met gitswart gekleurde hare. Só asof sy ook in die 1990’s laas jonk en werklik oor haar haarstyl en klere begaan was. Jethro Tull se 1976-albumtitel, Too Old to Rock ’n’ Roll, Too Young to Die, som ons twee in ons generiese jeans en T-hemde netjies op. “Jy weet,” sê sy, “as ’n jong ou vra ek moet vir hom asseblief net nie ’n hipsterstyl sny nie, dan weet ek presies wat hy wil hê. Dan gee ek hom ’n absolute hipster-haarsny – kort aan die kant met ’n rockabilly-Elvis-eendstert bo – en hy gaan doodgelukkig huis toe.”

      Hipsters in stede is nie ’n nuwe verskynsel nie – Robert Lanham se satiriese gids, The Hipster Handbook, het al in 2003 verskyn. Dit het net besonder algemeen geword om hipsters te verpes – almal van my ouers tot ek en my Generasie X-vriende tot die ambassadeur van zef, Jack Parow, is deesdae dik geïrriteerd. In “Eksie Ou” spot Parow só met die Moederstad se hipsters wat in plekke soos Power and Glory, Superette en & Union uithang:

      ons dra brille sonder lense, bly in open plan flats

      vol bal-en-klou-tafels en opgerolde yoga mats

      side path hairstyles en sailor tattoos

      ons facebook vol geplak van foto’s van ons shoes

      rook net tabak deur ou-oom-pype

      dit proe dalk soos kak ma’ dit lyk baie greater

      nog ’n kak fotograaf, nog ’n Ice fokken model

      nog ’n graphic designer, nog ’n Valpré-bottel

      vintage fokken klere, ryk soos homeless shelters

      probeer almal different wees, ma’ lyk die fokken selfde

      praat met ’n aksent ma’ kom van die Kaap af

      jy kan ons drop in ’n music video straight vannie straat af

      …

      ons is almal self-conscious omdat niemand ons onthou nie

      Maar wat is dit aan die geaffekteerde hipster met sy effe aangeplakte groen houding, musiek-, koffie-, kos- en biersnobisme en boheemse pretensies wat mense so vreeslik laat kriewel?

      Dalk is dit omdat ons besef die selfbewuste hipster met sy voorliefde vir vintageklere, Apple-produkte, retrobromponies, sy geloof in individualistiese antiverbruikerskultuur-verbruik is ’n soort verpletterende parodie van simboliek en die moontlikheid van betekenis. Hipsters herinner implisiet hoe kosmeties en hol byna alle tendense en fenomene is wanneer jy dit van nader bekyk.

      Jack Parow weet hy hou hom simpel en speel ’n rol, maar hipsters lyk belaglik terwyl hulle blykbaar glo hulle is almal ’n paar treë vooruit. En hulle lyk nie belaglik in die naam van een of ander saak nie. Almal het geweet waarvoor en waarteen die eendsterte, hippies of punks gestaan het, maar hipsters staan vir niks nie behalwe om in die regte plek vir die korrekte koffie te wag. Hul anti-mode verskyn as ’n soort stedelike lugspieëling; ’n groot, volkome leë gebaar; ’n vertonerige fasade sonder ’n gebou.

      Die hipster se absurditeit rus op die aanname dat stilistiese verskille werklik belangrik is; dat stylvoorkeure en smaak reële gevolge het; dat die verkeerde antihoofstroom-styl dus as ’t ware moreel verwerplik is soos die eet van ’n vis op die rooi lys. Hipsters wys ons die meeste subkulture is in der waarheid smaakkulture.

      Maar toe kom ek tot ’n nuwe insig nou die oggend in ’n Kaapse koffieplek. Terwyl ek by Vida e Caffè wag vir ’n wegneem-cappuccino, sien ek ’n hipster met ’n sorgvuldig gestileerde woeste baard en ’n bolla (!?) in sy lang hare.

      Net voor ’n nare hipster-allergie my oorweldig, tref dit my: Ek leef in ’n gerusstellende simbiose met Kaapstad se hipsters. Hulle maak my bly, selfs innig dankbaar, dat ek 42 en al minder gespin is en ek laat hulle jonk en hip voel. As toegewyde rock ’n’ roll slacker in my twintigs met my lang grunge-hare, leerbroek en oorbelle het ek waarskynlik ’n soortgelyke guns aan ouer generasies bewys, maar by terugskoue was dit nie ’n plesier nie. Dit was harde werk om so selfbewus verlore te wees.

      Ek sal egter wat wou gee om weer soos die regte man op die regte plek te voel terwyl ek vir hopeloos te duur wegneemkoffie staan en wag.

      HOE KIES JY TUSSEN JOU KITAAR EN DAAI GEMMERKAT?

      As daar een groot klein fliek is wat by die 2014-Oscars in sy afwesigheid geskitter het, was dit die Coen-broers se Inside Llewyn Davis. Daar was weliswaar kopknikke in nominasies vir beste kinematografie en beste klankvermenging, maar in die groot kategorieë is hierdie noodsaaklike tragikomedie oor die hoof gesien. Nie eens die fliek se fenomenale gemmerkat, Ulysses, is as beste byspeler benoem nie.

      In verskeie opsigte is dit seker gepas, want die Oscars is vir wenners. Die ikone van die droomfabriek bevestig jaarliks met een lang uithanggeleentheid in Los Angeles dat roem jou erfdeel mag wees wanneer jy jou droom volg en jou passie uitleef. Inside Llewyn Davis gaan egter oor ’n merkwaardige verloorder wat sy droom nagejaag en sy passie gevolg het tot in ’n absurde klein nagmerrie-kruistog na nêrens. Dis ’n deeglik gefiksionaliseerde anti-bioprent gebaseer op die soort obskure