“The Dude abides.” En as alles regtig te veel raak, sê jy: “Dude, let’s go bowling.”
Woody Allen was waarskynlik reg toe hy geskerts het: “Life doesn’t imitate art, it imitates bad television.” Juis daarom het ons die teengif van oneerbiedige, vergewensgesinde komedies soos The Big Lebowski (en selfs Schuster) net so nodig soos goeie skole en meer werksgeleenthede. Maar ignoreer gerus – dit is maar net my mening, man.
WAT HET GEWORD VAN ROCK ’N’ ROLL?
My jeug is verby, maar dit was te verwagte. Toe ek jonk was, het ek egter soos miljoene ander graag saam met Neil Young gesing: “Hey hey, my my / Rock and roll can never die”. Maar nou is ook die musiek van my jeug klaarblyklik iets van die verlede.
“Dis die einde van die rock-era. Dis verby, nes die jazz-era verby is. Dit beteken nie daar sal nie meer goeie rockmusikante wees nie, maar rock as ’n dominante styl is deel van die musiekgeskiedenis,” het Paul Gambaccini, die Britse veteraanplatejoggie en sogenaamde “professor van pop”, aan die begin van 2011 verklaar.
Ek sou graag wou stry, maar die syfers ondersteun Gambaccini se stelling: In die Britse trefferlyste het rockliedjies in 2010 tot die laagste vlak in vyftig jaar gedaal en slegs drie het onder daardie jaar se tophonderd-treffers getel.
Bill Haley & His Comets se “Rock Around the Clock” (1955) word beskou as die eerste nommereen-treffer van die rock-era, maar ’n mens sou ’n sterk saak daarvoor kon maak dat rock al sedert die vroeë 1970’s een van die popkultuur se gunsteling- sterwende swane is. In Cameron Crowe se wonderlike tragikomiese rockfliek Almost Famous (2000) wat afspeel in die 1970’s, sê die kultusfiguur en rockskrywer Lester Bangs reeds aan die begin van die prent vir die groentjie-musiekjoernalis: “Well, your writing is damn good. It’s just a shame you missed out on rock and roll. […] It’s over. You got here just in time for the death rattle, the last gasp, the last grope.”
Daarom is Springsteen dan ook as die redder van rock gevier toe sy derde album, Born to Run, in 1975 onder dawerende lof uitgereik is. In die 1990’s was dit Nirvana en Pearl Jam wat dié (goue?) kalf weer uit die put moes trek, en in die nuwe millennium was The White Stripes, The Strokes en The Black Keys die noodartse.
Maar wat verloor ons wanneer die rock-era verby is en hoekom is daar soveel nostalgie rondom hierdie primitiewe vorm van opruiende musiek?
Die Skotse sanger-liedjieskrywer Sandi Thom se irriterende, pleitende nommereen-treffer van 2006 “I Wish I Was a Punk Rocker (With Flowers in My Hair)” som dié kollektiewe musikale versugting van ’n jonger generasie netjies op. Die idee dat ’n vredeliewende hippie en anargistiese punk saam brood sou breek, is absurd – ’n utopiese en distopiese wêreldbeskouing is tog twee teenpole. In sy skitterende popfilosofiese manifes Retromania: Pop Culture’s Addiction to Its Own Past (2011) wys Simon Reynolds egter daarop dat Thom doelbewus 1967 en 1977 laat saamsmelt om uiting te gee aan die vae nostalgie wat baie jong mense voel vir ’n goue era toe musiek nog skynbaar krag, invloed en integriteit gehad het.
Reynolds verklaar hierdie voortdurende verromantisering van die blommekinders se revolusie in die 1960’s en die radikale ontploffing van punk in die 1970’s met behulp van die Franse filosoof Alain Badiou se beskrywing van “The Event” as ’n historiese keerpunt, ’n oomblik waar tyd en ruimte as ’t ware skeur en iets nuuts in die wêreld verskyn. Die Westerse kultuur, meen Reynolds, hou aan hunker na daardie “Gebeurtenis” – iets aardskuddends soos die Franse Revolusie of die studenteopstande van 1968 wat alles skynbaar netjies in vóór en ná verdeel.
Maar wat tans hoogty vier, is ’n halfhartige hunkering, nie na iets waarlik nuuts of revolusionêrs nie. Dít het skynbaar ondenkbaar geword. Ons sit nou met die nostalgie vir ’n tyd toe ’n mens kon glo in die moontlikheid van ’n nuwe era.
LCD Soundsystem se alternatiewe dansvloertreffer “Movement” (2004) het die koersloosheid van die 21ste eeu se nostalgie-gedrewe rockherlewing bytend verwoord: “It’s like a discipline / Without the discipline of all of the discipline / It’s like a movement / Without the bother of the meaning / It’s like a culture / Without the culture of all of the culture.”
Maar die filosoof Svetlana Boym herinner ons in The Future of Nostalgia (2001) dat rock, eens die klankbaan van ’n revolusie, se onvermoë om progressief te wees net deel is van ’n groter Westerse kulturele bankrotskap: “Die 20ste eeu het begin met futuristiese utopiese visies en geëindig in nostalgie. Die optimistiese geloof in die toekoms het outyds geraak, terwyl nostalgie, ten goede of ten kwade, nooit uit die mode gegaan het nie – dit bly onheilspellend kontemporêr.”
Wat nietemin ’n vreemde parallaksfout bly, is dat die toevallige klankbaan van dele van die jare sestig en sewentig met die inhoud van sekere utopiese en anargistiese bewegings verwar is. Want in rock was daar van die begin af iets anti-intellektueels en regressiefs en dis dalk juis waar die aantrekkingskrag, die primitiewe voedoe lê.
Die invloedryke musiekregisseur David Briggs, veral bekend vir sy werk saam met Neil Young, het dit só gestel: “With rock and roll, the more you think, the more you stink. […] Rock and roll is not sedate, not safe, has truly nothin’ to do with money or anything. It’s like wind, rain, fire – it’s elemental. Fourteen-year-old kids, they don’t think, they feel. Rock and roll is fire, man, FIRE. It’s the attitude. It’s thumbing your nose at the world. […] You can’t have it both ways. You’re a rock and roller. Or you’re not.”
Dis nie in aktivisme nie, maar in hierdie piromanie – Jerry Lee Lewis se “goodness gracious great balls of fire” en Little Richard se “A wop bop a loo bop, a wop bam boom!” – waar die charisma van alle rockers van Elvis tot Keith Richards en Hank Moody (David Duchovny) van die gewilde televisiereeks Californication lê. Miljoene mense hunker eenvoudig nog na die moontlikheid om “nee!” te sê en gehoor te word, om vir ’n verandering te doen wat hulle wil, om uit hul vel te ontsnap en saam met Elvis te sê: “You ain’t nothin’ but a hound dog.”
Rock as ’n herkenbare klank wat die treffersparade regeer, mag iets van die verlede wees, maar Neil Young was reg: Rock ’n’ roll was in ons en op ons lank voor Elvis en elektriese kitare en dit sal ook lank daarna nog met ons bly.
Twee jaar voor Bill Haley in 1955 die rock-era met “Rock Around the Clock” ingelui het, is The Wild One vrygestel – ’n kultusrolprent met Marlon Brando in die hoofrol as Johnny Strabler, die leier van die Black Rebels Motorcycle Club. In ’n beroemde toneel vra ene Mildred vir Johnny in ’n kroeg: “Hey, Johnny, what are you rebelling against?” Johnny gee haar ’n intense kyk en antwoord: “Whadda you got?”
Dié fliek het ’n jazz-klankbaan gehad, maar Johnny Strabler was die argetipiese rocker. Elvis en James Dean het hul bakkebaarde by Brando se Johnny afgekyk, maar sy rock ’n’ roll het nie in die kotelette, die swart leerbaadjie, motorfiets of klankbaan gelê nie. Dit was in die hele houding waarmee Johnny die noodlot, gesag, ja, die lewe en dood uitgedaag en getart het.
“THE PIÑA COLADA SONG” – DIE DROOM VAN ONTVLUGTING
If you like piña coladas and getting caught in the rain
If you’re not into yoga, if you have half a brain
If you like making love at midnight in the dunes of the cape
Then I’m the love that you’ve looked for, write to me and escape
Só gaan die refrein van een van my gunsteling- “one-hit wonders” – Rupert Holmes se nommereen-treffer uit die jaar 1979, “Escape (The Piña Colada Song)”. Daar’s iets onweerstaanbaars in die 70’s-kitsch van die klank en die oordrewe dramatiese ironie in die storie van die ou wat reageer op die bogenoemde persoonsberiggie net om uiteindelik vas te stel die vrou wat dit geplaas het, is sy eie lewensmaat – dié een met wie hy so verveeld was: “I was tired of my lady, we’d been together too long / Like a worn-out recording of a favourite song”.
Nadat my eerste digbundel, In die buitenste ruimte, in 2006 verskyn het, het ek “Escape” een aand weer op die Shrek-klankbaan raakgehoor en gedag, ja,