Joan Hambidge

Matriks


Скачать книгу

n>

      

      Matriks

      Joan Hambidge

      Human & Rousseau

      Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Matriks mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.

      Sommige vreemde karakters vertoon nie korrek op alle e-lesers nie.

      Vir Joost Heystek

      Om te leer om ’n digter te word, is om die lewe te ontleer.

      Michel Houellebecq

      The moon is the mother of pathos and pity.

      Wallace Stevens

      Matriks

      Ek is ek is op

      my eie sofa

      my eie analis

      luisterend

      na die analisant

      vis na klarigheid

      Ek is ek is

      op soek na stilte

      dansend derwies

      Rumi in ’n sirkel

      Ek is ek is

      op weg van pyn

      mis-

      lukking

      ingeslukte woorde

      my tong uitgesny

      Ek is ek is

      op pad om te sien

      hoe die digkuns

      se matriks

      die gietvorm

      moedervorm

      deur letterparades

      van die Ek

      ontset word

      I Chora

      A poet’s life:

      always awaiting mail.

      Erica Jong

      Ek skryf omdat ek moerig is

      ’n aweregse ars poëtika

      ’n Vrouedigter bely

      op ’n keer dat woede

      haar gedigte begelei.

      ’n Ander een bly

      in die verre vreemde

      en perk verlange in.

      ’n Ander is kinderloos

      en ongedurig aan’t stry.

      Een verdrink, so waar

      die Here weet, digby

      ónvergenoegd. ’n Vuur

      brand ’n heilige met ’n engel

      deur haar lyf;

      ’n ander draai taal

      monsteragtig op syn kop.

      Ylings, ylings gaan hul ons verby.

      Niemand kan jou leer,

      geen skryfskool óf handleiding,

      van die spanninge onblusbaar,

      wat die digkuns

      woordeloos

      laat ly.

      So hier

      of ondermaans

      hoor jy hul algar roep:

      dit was, dit was ter wille

      van die wrewel spui.

      Beyond the pleasure principle

      I can play hide and seek

      with my fears.

      Dusty Springfield

      Deesdae voel ek al hoe meer

      soos ’n aktrise afgeneem

      in ’n koue kleedkamer

      net vóór ’n bloedige vertolking

      van Lady Macbeth of Blanche DuBois.

      When all else fails, iets vir Loerbroer.

      “Sonder skuilplek, sonder skans”

      skryf Olga Kirsch tussen tale

      en met elke gedig terug

      na dit waarvan sy ylings wou ontvlug.

      When all else fails, iets vir Loerbroer.

      Deesdae klink my woorde

      soos ’n leë gebaar we must do lunch

      en meer shaken as stirred.

      Iewers in Robert Lowell staan dit reeds:

      getem deur Miltown nie deur poësie.

      When all else fails, iets vir Loerbroer.

      Hoe lank gelede, ja eendag, eendag

      my eerste winterverse aan haar

      uit ’n koue New Haven, óngekonnekteer,

      wat bloot opmerk, ja my moeder:

      ek kon jou handskrif nie dissekteer.

      Ars poetica

      “I will survive,” neurie my moeder

      onverwags nes Gloria Gaynor in daardie tyd

      lank voor die vlug van Air Malaysia

      met ’n lyk wat land in iemand se kombuis;

      twee jongelinge gevind nog met oorfone aan

      ’n horlosie, ’n speelding, skoene (die gewone)

      en in die diep nag youtube ek vir Gloria

      gedagtig aan háár en ons oorlewing:

      had ’n noue ontkoming terug van Hanoi

      met Air Malaysia na my moederland

      toe ’n ander vliegtuig soos sonmis verdwyn

      en nou is daar ’n trein met koeltrokke op pad

      om die reeds ontbinde lyke terug te neem:

      miskien het een van hulle geluister na

      “I Will Survive” en miskien was die toiletdeur

      se rooi liggie aan, ’n waarskuwingsteken

      vir die missiel so venynig so dwingend so finaal:

      die imperfektum van onthou ’n fratsongeluk

      met my moedertaal sonder ’n plusquamperfektum

      om presies dít wat my moveer by herhaling

      op verskillende maniere te iteratief-duratief.

      So dan

      Ek staan voor jou oop kis:

      hoe broos en klein lyk jy nie?

      Die begrafnisbrief, ’n laaste lykskouing.

      Soveel verydeling, soveel verdriet.

      Jou oë dra weerhake, jou mond gestop

      met watte en blinde kruissteek versier.

      Soveel verydeling, soveel verdriet.

      Jou hande dig gesluit op jou moeë bors,

      naels